SKRIFLESING: NEHEMIA 6:10-15
SKRIF VIR OORDENKING NEH:6:11(a), 15
TEMA: SUKSES
INLEIDING:
Wat die Kerk vandag nodig het is nie meer en beter masjienerie; nie nuwe organisasies of nuwe metodes nie, maar manne en vroue wat die Heilige Gees kan gebruik; manne of vroue van gebed, magtig in gebed. Die Heilige Gees vloei nie deur metodes nie, maar deur manne en vroue. Die Heilige Gees kom nie op masjienerie of metodes nie maar op mense. Die Heilige Gees salf nie planne nie, maar mense om die planne uit te voer; mense van gebed.
As spanning en druk van die tyd ons dwing om lam in die knieë te word, moet ons miskien toelaat dat ons knieë heeltemal knak en terwyl ons dan in daardie posisie knielend is, sommer ernstige gebed doen.
Nehemia het volgens hoofstuk 1:4 en 2:1, vier maande lank getreur, gevas en gebid. Die tyd van gebed was langer as die tyd wat die werk geneem het. Dit was die geheim van die sukses.
WAT WAS DIE REDE VIR DIE SUKSES?
1. Nehemia het geweet Wie God is. Hy was bewus van die grootsheid van God. (Neh 1:5) “Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou—“
Hy het geweet dat God die Here is van die leërskare. Die God van Abraham Isak en Jakob. Die God wat wonders gedoen het vir Sy volk en steeds sal doen.
Groot- verwys na die feit dat God wonders doen.
Gedug – Die God wat die swaarste oordele oor die volk kan uitstort weens hulle ongehoorsaamheid, soos alreeds in die verlede.
Deur hierdie woorde bewys Nehemia ook die vrees wat hy gehad het vir die Naam van God.
2. Nehemia kon uitroep “Sal ‘n man soos ek vlug?”
Hy het die hart van God geken soos dit deur die raad van God regdeur die Bybel openbaar word.
“wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou—“ Nehemia 1:5
Deur hierdie kennis van God het hy ook dan onderskeidingsvermoë gehad.
(Neh 6:12) Want ek het duidelik gemerk dat God hom nie gestuur het nie, maar dat hy die profesie oor my gespreek het, omdat Tobía en Sanbállat hom gehuur het.
Semaja het probeer om vrees te kweek by Nehemia en daardeur probeer dat hy aan God ongehoorsaam sou wees.
Weereens het die kennis van God Nehemia gewis in geloof laat optree met onderskeidingsvermoë.
(Núm 18:7) Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As ‘n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word.
Nehemia het geweet dat indien hy sou toegee aan hierdie versoek van Semaja hy aan God ongehoorsaam sou wees.
Maar Nehemia het nie net God geken nie, maar hy het ook geweet wie en wat hy is in God.
God is sy toevlug en beskutting. Waarom sou hy dan vlug en die beskutting opsoek wat feilbaar is en daardeur ongehoorsaam wees aan God.
Ek glo dat Nehemia na die 4 maande van gebed en vas voor die aangesig van God, ’n definitiewe visie van God gehad het van die herstelde mure en poorte van Jerusalem.
Sal iemand dan soos u en ek vlug? Sal ons vlug as ons weet ons beskutting en instaat stelling is God sélf?
Sal ons vlug as ons voor God se aangesig gevas en gebid het met betrekking tot sake wat vir ons na aan die hart moet wees; die redding van siele; die opbou van ons geestelike mure in die gemeente?
Deut 33:27 Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg!
Rom 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
3. Nehemia het die belangrikheid van skuld en sonde belydenis verstaan
(Neh 1:6) laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.
Nehemia het die belangrikheid verstaan van sonde en skuldbelydenis. Nadat hy gevas en gebid het, het hy die sonde genoem en bely. ’n Belangrike aspek van enige kind van God; in enige voorbidding is dit belangrik.
Sondebelydenis gaan gepaard met ’n terugkeer na God.
Daar is vandag so ’n misverstand en geringskatting van berou oor sonde. Ware berou, waar daar voor God gebuig, geween en gebieg word. Dit is wat sonde belydenis behels. Wanneer laas het u voor God gebuig, gebieg en ware berou gehad oor u sonde en die sonde toestand van ons volk? Voor God gebuig, gebieg en ware berou oor die toestand van ons kerk en gemeente?
Nehemia het hierdie belangrikheid besef en dit moet ’n ware les wees vir ons as kinders van God.
4. Nehemia het die Woord van God geglo.
(Neh 1:6) laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag,
Opmerksaam, oë oop en luister is woorde, attribute van God vervat in die verbond naam van God naamlik Jehova Shama. Die God wat hoor en verhoor.
(Deu 4:7, 29) “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.”
Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
2Ko 7:10 Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.
(AMP) “For godly grief and the pain God is permitted to direct, produce a repentance that leads and contributes to salvation and deliverance from evil, and it never brings regret; but worldly grief (the hopeless sorrow that is characteristic of the pagan world) is deadly [breeding and ending in death].”
5. Nehemia het gevas en gebid:
(Neh 1:4) En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel
Ongeveer vier maande het Nehemia gevas, geween en gebid voor die aangesig van God. Hy was nie haastig nie; hy het gewag op ’n Goddelike ingryping, die Voorsienigheid van God om die deure oop te maak; om die geleentheid te skep.
Wat belangrik is dat hy gereageer het toe die tyd reg was.
Iemand het gesê “God guides the going man as you guide a boat. You cannot steer a boat that has no going in it or any way on it. Make a move; make an effort; step forth in some way or another; and. God will certainly give you guidance.”
6. Nehemia het gewerk, gewaak en gebid.
Neh. 4:4-6 “Hoor, onse God, dat ons ‘n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ‘n land van gevangenskap. En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers. Maar ons het die muur opgebou, en die hele muur is tot op sy helfte herstel; en die volk was met hulle hart in die werk.”
Daar is baie werk in die wingerd van God, Daar lê baie harde werk voor vir die gemeente. Elke kind van God moet betrokke raak. Maar terwyl ons werk sal daar gebid moet word. Voortdurend in gebed tot God terwyl die mure herstel word.
Teëstand sal daar wees van die vyand; ook vanuit eie geledere.
(Neh 4:10-11) “Maar Juda het gesê: Die krag van die lasdraers beswyk, en die puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie. En ons teëstanders het gesê: Hulle mag niks weet en sien nie totdat ons tussen hulle inkom en hulle doodslaan en ‘n einde maak aan die werk.”
(Neh 4:16) “En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk, en die ander helfte het die spiese en die skilde en die boë en die pantsers gehou, terwyl die owerstes agter die hele huis van Juda gestaan het.”
(Neh 4:21) “En ons het die werk gedoen, terwyl die helfte van hulle die spiese vashou vandat die rooidag uitkom totdat die sterre verskyn.”
(Neh 4:23) “Maar ek self en my broers en my mense en die manne van die wag wat my gevolg het, het nooit ons klere uitgetrek nie—elkeen met sy wapen en water.”
Mar 14:38 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
Mazzini het gesê: “Action is the Word of God; thought is but His shadow.” Die versoekings en toetse van Nehemia en van die volk was soos wat die vuur is vir die smelter en reiniger van silwer. Dit het sy karakter gevorm en gereinig. Die toetsing van ons geloof is meer kosbaar as goud.
7. Die muur is voltooi, wat nou?
(Neh 6:15) En die muur is voltooi op die vyf en twintigste van Elul, in twee en vyftig dae. Maar wat nou?
Walter Hilton skryf “When your enemies see that you are so determined that neither sickness, fancies, poverty, life, death, nor sins discourage you, but that you will continue to seek the love of Jesus and nothing else, by continuing your prayer and other spiritual works, they will grow enraged (al hoe meer woedend word) and will not spare you the most cruel abuse.”
Daarom dan dat Nehemia die volgende stappe neem
(Neh 7:1-3) “En toe die muur gebou was, het ek die deure ingesit, en die poortwagters en die sangers en die Leviete is aangestel. En ek het my broer Hanáni en Hanánja, die owerste van die vesting, oor Jerusalem aangestel—want hy was ‘n getroue man en godvresend bo baie— en ek het vir hulle gesê: Die poorte van Jerusalem mag nie oopgemaak word voordat die son warm is nie; en terwyl hulle nog op wag staan, moet die deure toegesluit word, en julle moet dit dig grendel; en julle moet van die inwoners van Jerusalem wagte uitsit, elkeen op sy pos en elkeen teenoor sy huis.”
As die kinders van God nie dit wat hulle vir God en Sy koninkryk gedoen en bereik het, beskerm nie, kom die Satan in en neem dit oor.
Nehemia het getroue en godvresende mense verantwoordelik gemaak vir belangrike take in die stad. Hy het strukture daar gestel om die stad te bewaak en toesig te hou. Om seker te maak dat die vyand nie inkom en die werk vernietig nie.
Gaan lees maar gerus Nehemia hoofstuk 7 tot en met 13 en u sal die hervorming sien wat hy ten goede ingestel het. ’n Terugkeer tot God en Sy insettinge.
Daar was weer opgewondenheid oor die Woord van God toe hulle by die Waterpoort byeengekom het en Esra die Woord bedien het.
O, vriende het u nie vanoggend ’n verlange, ’n begeerte in u hart om weer betrokke te raak by die werk van God in die gemeente nie. Wil u nie vanoggend terugkeer tot dit waarvoor ons geroep en geplaas is in Brakpan nie.
Wie is daar wat vanoggend saam met my sal opstaan ongeag wat mense gaan dink of sê; en daardeur bewys dat ek gewillig is om betrokke te raak, gewillig is om die mure en die poorte te herstel wat in puin lê.
Mag die Here ons genadig wees.