‘n Voetpaadjie
n Voetpaadjie – maar smal en rof
Lei by my voordeur langs verby
Die lig daarop skyn soms maar dof
Maar ek moet volg, Sy stem roep my
Ek word getrek – loop op Sy spoor
Sy voete is vir my deurboor
En oral sien ek – dis Sy bloed
Dit bring rus vir my gemoed
Soms roep baie ander stemme ook
Waar hulle woon is digte rook
My siel haat daardie wêreldsgees
En ook die dade van die vlees
Kom, my beminde- roep Hy weer
Ek het my aangesig na Hom gekeer
Soms is die pad so eensaam vir my siel
Maar as ek dikwels by Sy kruis kom kniel
Sal ek mos naby Hom kan bly
En vreemde paaie kan vermy
Want wat is daar wat ek meer vrees
As om in duisternis te wees!
Die voetpad lei by kranse langs
Waar wrede aasvoëls soek na vangs
Soms sien ek hulle skaduwee
Maar ek vertrou Hom elke tree
Want op die Rots is plek vir my
Waar ek by Hom veilig bly
Die paadjie het net plek vir twee
Hy is voor, moet leiding gee;
En as my pad ten einde loop
Van alle aardse goed gestroop
Dan sal ek graag vir Hom wil sien
Sy bloed het my ‘n plek verdien!