Skriflesing: Filippense 3: 4-12
Titel: ’n Nuwe manier om reg te leef
In Filip. 3 gee die apostel Paulus sy getuienis van hoe hy tot geloof gekom het. Hy lê belydenis van geloof af – voor die hele gemeente van Filippi (per brief). Maar dit klink heel anders as die getuienisse wat ons soms hoor. ’n Mens hoor soms hoe mense getuig dat hulle omgedraai het van ’n verkeerde manier v lewe ná ’n regte manier v lewe. Maar DIT is NIE die soort ommeswaai waarvan Paulus getuig nie. Hý het omgeswaai van een manier van reg wees/leef na ‘N ANDER manier van reg wees/leef .
Daar was nooit ’n tyd in Paulus se lewe wat hy nie reg geleef het nie. Vanaf kinderjare: passie om toegewyd aan God te lewe. Altyd probeer om opreg & vroom te wees. Trouens: So was ál die Joodse Fariseërs. Nie verkeerde/slegte lewens. Paulus verklaar eerlik dat hy ONBERISPELIK volgens die WET geleef het.
Net een yslike probleem: Hy het gedink hy moet homself verlos kry deur hierdie onberispelike toewyding aan die Here. Dat sy toewyding maak dat God van hom hou. Hy het gedink die ERNS & opregtheid van sy toewyding – tel punte by die Here. Kry regmerkies. Here glimlag vir hom omdat hý so toegewyd was. En, oënskynlik wás Paulus op die regte pad, want hy het altyd REG gelewe! TOTDAT hy die ontdekking gemaak het wat sy lewe heeltemal omgekeer het. Hy het ontdek dat – al hét hy reg gelewe – die MANIER waarop hy reg gelewe het, verkeerd was. Watter MANIER? SELF DOEN. Al hét hy “reg” gelewe, was PAULUS al die pad in die middelpunt – die EIE SELF wat so mooi presteer – en daarom het hy eintlik hopeloos verkeerd gelewe al het dit gelyk asof hy reg lewe!
En toe ontdek Paulus ’n nuwe manier van reg lewe/reg wees met God: Om te AANVAAR dat Gód alles gedoen het. Om te aanvaar dat God hom (Paulus) EEN GEMAAK het met Jesus Christus. Om te RUS in die eenheid met Jesus wat God al klaar bewerkstellig het.
Paulus getuig daarvan in soveel woorde. Hy sê hy VERWERP nou die manier hoe hy van kleins af probeer reg lewe het. Dit is waardeloos. Want daar het skille van sy oë afgeval. Hy het ontdek dat God hom EEN GEMAAK HET MET JESUS voordat hy nog sy toestemming kon gee. Hy het ontdek dat hy 100% VRYGESPREEK is omdat God hom een gemaak het met Jesus. En DIT gló hy nou. EEN met die krag van Sý opstanding. EEN met Sý lyding. EEN met Hom in Sý dood. Nou lewe hy reg, deur DIT te glo. Hy sê: Dit is reeds myne, daarom maak ek dit myne. Ek maak dit myne omdat Hy my reeds Syne gemaak het!
Geloof is om te AANVAAR dat God my heeltemal reg gemaak het/ regmaak/ sal regmaak OMDAT Hy my EEN gemaak het met Jesus se geboorte/lewe/onskuldige lyding/verhoor voor Pilatus/sterwe/begrafnis/opstanding. Ek is reg/ Ek leef reg OMDAT ek vasgebind/ingebind is in Christus. Gód het my aan Hom vasgebind. Ek is REG, want ek is vasgebind – en GOD het die vasbindwerk gedoen!
Laat ek ’n beeld gebruik : ’n Man loop op ’n kabel wat tussen twee kranse gespan is. Hoe kom hy oor? Hy sorg dat hy tree vir tree sy voet op die kabel neersit. En selfs al val hy af, val hy hom nie te pletter nie, want hy is ook met ’n tou vasgebind aan die kabel.
Dit is die nuwe manier van reg leef. Wanneer ek ’n lewenstree neem, sit ek my voet neer op die kabel/ op Christus. Ek sit nie my voet neer op: EK presteer en daarom kry ek regmerkies nie. Ek sit my voet daarop neer dat ek ingebind is in Christus. Ek AANVAAR dit. Ek AANVAAR: Ek is heilig .. Ek is aangeneem … Ek is ontsondig … Ek word liefgehê … Ek is onberispelik … Ek is vrygespreek …. Ek is sonder smet voor God. En DAAROM leef ek uit dankbaarheid ernstig toegewyd aan God.
En wanneer ek teen my sin val, val ek nie af (te pletter – afgrond af) nie, want ek is vasgebind. Gód het die vasbindwerk gedoen. Wat Syne is, is myne. Hy het my Syne gemaak. Daarom val ek, maar ek staan weer op, want ek is vasgebind. Ek val nie in die vervloeking & veroordeling van God nie, want ek is vasgebind aan Jesus wat voor Pontius Pilatus in my plek veroordeel was EN in my plek ter helle neergedaal het.
Sien u die nuwe manier van reg wees/lewe? Ek aanvaar dat wat Syne is, myne is. En weet u wat is die verrassende resultaat hiervan? Ek ontdek nou: EK KAN! Wanneer ek lewe vanuit die aanvaarding dat God my vasgebind het aan Christus, dan ontdek ek: EK KAN! EK KAN met Hom lewe. EK KAN in oorwinning oor sondes lewe. Paulus sê: Nou KAN ek die wedloop loop. Ek is nie meer bang dat ek my te pletter sal val nie. Ek vrees nie meer die oordeel nie. Die Vader het my volkome vrygemaak toe Hy my in Jesus ingebind het – toe Jesus na die wêreld gekom het. DIT aanvaar ek: Daarom KAN ek nou met Hom lewe – niks hou my meer terug nie, maak nie saak wat my omstandighede is nie.
Ester, wanneer jy binne enkele oomblikke openbare belydenis van geloof kom aflê en kniel om gedoop te word, getuig jy nie oor jousélf nie. Jy getuig nie van jóú vroomheid en krag nie. Jy kom getuig van ’n ONTDEKKING wat jy gemaak het. Die ontdekking van ’n nuwe manier van reg wees/lewe. Die ontdekking dat jy voor God reg is/lewe omdat HY jou ingebind het in Christus se dood & opstanding. Dit is presies waarvan die doop getuig. In die doop is dit nie jý wat iets doen/ getuig nie. Dit is GOD wat aan jou Sy belofte onderstreep. Watse belofte? Die belofte dat jóú skuld en sonde op Golgota se kruis weggewas is. DIT aanvaar jy en dáárom KAN jy in toewyding aan Hom lewe.