Skriflesing: Psalm 121
Titel: ’n Greintjie van God is genoeg
Die heel eerste man, wat in sy ruimteskippie in ’n wentelbaan om die aarde was, was ’n Rus met die naam Yuri Gagarin. Nadat hy veilig terug was op die aarde, was daar ’n personderhoud. Die verslaggewer vra toe vir Yuri Gagarin: “Het jy dalk vir God daar bo iewers gesien?” Yuri Gagarin het geantwoord: “Nee, ek het orals rondgekyk. Al wat ek gesien het, was onmeetlike ruimtes – ontelbare hemelliggame. Maar, ek het nie eens ’n greintjie van God iewers gesien nie.”
Dit is natuurlik absoluut moontlik om op só ’n manier te kyk en te sien wat Gagarin gesien het. Dit is tewens so eg menslik. Jy kan met ’n IK van 180 haarfyn na die lewe kyk en elke detail intens & sekuur waarneem. Jy kan kennis van alles hê. Jy kan met arendsoë ALLES sien – behalwe die Here God. Só ’n manier van kyk/sien is tipies menslik. Dit lê in ons almal se gevalle wese en aard. Dit geld nie net vir Yuri Gagarin nie.
Ons almal het die ingebore neiging om te dink dat die SIGBARE die enigste waarheid en werklikheid is. Ons almal kan onsself vereenselwig met die bang-vraag waarmee Psalm 121 begin: “Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” AL wat ek sien, is die berge. Selfs opregte kinders van die Here is geneig om vas te kyk teen SIGBARE dinge en diep, diep te wonder OF die Here nie geheel afwesig is nie. Ja, jy ervaar gewoon net nie die realiteit (werklikheid) van die lewende Christus nie.
Dit is seker die grootste vloek wat die mensdom getref het – die ontsaglike belang wat SIGBARE dinge vir die mens het. Soveel so dat ons hele lewe gedomineer word deur die sigbare. So ontsaglik moeilik om innerlik bevatlik te raak vir die ONSIGBARE dimensie. Want, ons geestelike oë is van nature totaal geslote. Geestelike realiteit is vaag en ver. Dit wat saakmaak is wat ek nou/hier kan sien/voel – wat ’n impak/ tasbare invloed op my lewe het. Die BERGE. Die BERGE. Die BERGE. WÁÁR sal my hulp vandaan kom?
Dit is die rede waarom iemand soos ESAU so maklik sy eersgeboortereg vir ’n bordjie lensiesop kon verruil. Die honger van die oomblik. Die reuk van die sop. Die geweldige belang van kos – OORHEERS die feit dat hy, as eersgeborene, dalk die MESSIAS kon voortbring (wat ’n onsigbare GELOOFsaak was). Hoe dikwels verruil ’n mens nie jou eersgeboortereg vir ’n potjie sop nie. Ons sal GOD verruil vir die BERGE! Soos die Here uitroep in Jeremia … Só klop die gevalle natuur van die mens. Daarom klou ons so vas aan alles wat sigbaar is en verkies ons altyd die sigbare dinge BO die geestelike. Sal byvoorbeeld eerder TV kyk as Bybelstudie doen. Onsigbare, geestelike, Goddelike, ewige realiteite voel vir ons vaag en ver. Berge en lensiesop is van fundamentele belang. Dit is die groot, magtige vervloekte leuen waarmee die MEDIA ons elke dag bombardeer: Alles gaan net oor die hier en die nou. In die proses is die satan self besig om mense in hul miljoene te mislei en te verlei. Dit is dieselfde misleiding waarmee hy na Jesus gekom het (Luk 4) – BROOD. Hierteenoor die bevrydende waarheid van 2 Kor 4:18. (Brei uit).
Psalm 121 = Pelgrimslied. Dit was deur die gelowiges gesing op reis na Jerusalem en die tempel. Eintlik is die “berge” rondom Jerusalem maar net heuwels in vergelyking met SA standaarde. Hoegenaamd nie te vergelyk met bv Tafelberg nie. TOG was hierdie berge rondom Jerusalem berug vir sy gevare: glibberige draaitjies, gapende afgronde, plunderende struikrowers. Die heuwels was die plekke waar die AFGODE gedien is/ valse duiwelse altare. Jy kon heel maklik Godverlate voel in hierdie berge. Omring deur berge en boewe en gode.
So eg menslik om jou blind te staar teen die BERGE. Dalk is dit ’n realiteit in ons gemoed hier aan die begin van 2006. Die aanbreek van die nuwe jaar bring maar altyd sy kwota kwellinge. Ons eie broosheid raak maklik sigbaar wanneer die jare wissel. Ons raak bewus van die verbygaande aard van hierdie lewe. ’n Mens wonder onwillekeurig of álmal wat hierdie afgelope Kersfees om die tafel was, weer daar gaan wees. ’n Mens wonder of jyself nog daar sal wees.
By die aanbreek van die nuwe jaar kan ons onsself so maklik blindstaar teen berge en lensiesop. Ons oë kan so maklik verblind word deur kwellinge/kruise/krisisse. Die realiteite rondom ons kan ons so maklik oorval. Die onsekerhede oor 2006 kan ons geestelik blinddoek. Dit is dán dat ons voel: “Ag, net ’n greintjie van God sal vir my genoeg wees.”
Die mag van geestelike stompheid en blindheid sit só diep in ons lewens, dat net God dit kan breek. Slegs HY kan ons oë oopmaak en ons die ONSIGBARE dinge wys. Dink u dit is moontlik?? Wel, in Psalm 121 gebeur dit regtig. En, dit gebeur nog steeds in Januarie 2006. Daar vind ’n dramatiese ommeswaai in Ps 121 plaas. Die digter kyk & sien die realiteit van die berge, maar hy kyk ook deur/oor die berge. Hy sien waaragtig IEMAND wat triomfeer oor die berge/onsekerhede/demone & gode/ons bange harte. Hy sê: My hulp kom van die HERE. Sien u die geloofsdeurbraak? Wat die ommeswaai in Ps 121 nog meer dramaties maak: Die digter sien die Here as Iemand wat Hom inlaat by MENSE. Hy is verlossend NABY. Verbond aangaan. Immanuel van Kersfees. Beskermer van Israel. Hierdie woord BESKERMER is ’n sleutelwoord. Want dit beteken Hy is die Een wat verlossend NABY is. Hy regeer nie vanuit die verte nie. “From a distant, He is watching us.”
’n Mens moet hierdie saak egter goed verstaan. ’n Mens moet verstaan hoe/op watter wyse die Here verlossend NABY is en op watter wyse Hy beskerm. NIE soos ’n mens ’n porseleinpoppie in watte toedraai en in ’n glaskassie sit nie. Die berge sink nie sommer in die aarde weg en verdwyn wanneer die Here beskerm nie. Die kruise verdwyn nie noodwendig soos mis voor die son nie. Ons kom nie altyd deur die krisis sonder letsels nie. Ons spring nie altyd die skermutselings met die struikrowers vry nie.
Wat beteken dit dan dat God beskerm? Watter waarde het dit? Dit beteken: Hy is binne-in die krisis. Soos in die geval van Daniël se vriende wat in die vuuroond was. Die berge is rondom Jerusalem, maar God is in Sy tempel. Hy sluimer nie. Hy slaap nie. Hy is binne-in ons huise/kantore/kinderkamers/klaskamers/dodekamers/vrese/frustrasies/voorspoed/
ondergang.
Om DIT te kan SIEN, is ’n geloofsdeurbraak wat die Gees in ons lewens kom skep. Nie WIL skep nie, maar SKEP. Dit veroorsaak ’n enorme ommeswaai in jou hele waarneming van alles.
Maarten Luther skryf oor Psalm 121 dat die Here hier eintlik aan ons onmoontlike dinge beloof. Die mens se hart dink dit is ydele leuens, want WAAR is die Here se beskerming wanneer daar aan ons onreg gedoen word? Wanneer die duiwel ons uitput? Wanneer die Seun van God gekruisig word en Johannes die Doper onthoof word? Soos dit soms vir ons lyk, verontagsaam die Here ons soms.
Ja, so lyk/voel dit vir ons wanneer ons deur die gewone menslike fisiese oë kyk. Maar die Heilige Gees kom skep in ons die vermoë om met geloofsoë te kyk. En dán sien jy wat dit eintlik beteken dat God beskerm. Dat Hy die Verbondsgod is wat IN jou krisisse teenwoordig is en Hom aan jou vasbind. Dán beleef jy dinge wat Yuri Gagarin nie beleef het nie. Natuurlik beleef jy jou af dae/ donker dae. Dikwels kan die sielevyand jou diep moeg maak. Elia wat onder besembos gesit het.
Tóg sien die gelowige mens dinge wat ander nie sien nie. Daar is geen ander manier om 2006 binne te gaan nie.
’n Sekere Amerikaner was ook op ’n ruimtereis. Ook ’n perskonferensie ná sy terugkeer. Ook die vraag: Het jy God iewers gesien? En toe kom sy antwoord: “Nee, ek het nie vir God gesien nie. Maar dit was ook nie nodig nie. Voordat ek nog my ruimtepak aangetrek het en opgestyg het, HET ek Hom reeds gesien. Ek het Hom op aarde gesien. Ek het Hom gesien in Sy ywer om aarde toe te kom. Ek het Hom in ’n krip in Betlehem sien lê. Ek het Hom tussen ons mense sien loop/leef/lag/ly. Ek het Hom vasgespyker aan ’n kruis sien hang. Ja, ek het God gesien. Die volle God. Die ware God. Nie net ’n greintjie nie.”
God is so wonderlik in Jesus Christus – dat net ’n greintjie van Hom genoeg is. MAAR: Ons ken nie net ’n greintjie van God nie. ..