MISMOEDIGHEID

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

MISMOEDIGHEID

Daar word vertel dat die duiwel op ‘n keer bankrot gespeel het

en dat hy al sy gereedskap sou verkoop aan enigeen wat bereid was

om die regte prys te betaal.
Op die aand van die vendusie was al die gereedskap pragtig uitgestal

en het die hele bose lot daar gelê:

Daar was jaloesie, afguns, haat, onsedelikheid, owerspel, moord, vyandskap, woede, en al die ander bose stukke gereedskap, elkeen met sy prys.
Maar aan die een kant, apart van die ander gereedskap het ‘n stuk gereedskap gelê wat duidelik al baie gebruik was.

Dit het ‘n prys gehad wat baie hoër was as al die ander.
Iemand vra toe vir die duiwel watter stuk gereedskap dit dan was. Die antwoord was: Dit is Mismoedigheid.

Nou waarom is dit dan so duur, wou die persoon weet.

Omdat hy vir my baie meer nuttig is as al die ander, het die duiwel gesê.

Met mismoedigheid kan ek iemand se bewussyn oopdwing en binnedring

wanneer ek dit nie kan doen met enige van die ander gereedskapstukke nie.
En as ek eers binne is, kan ek hom gebruik net soos dit my pas.

Die stuk is al so gehawend, want ek gebruik dit op byna elke mens.

Want sien, baie min mense weet dat mismoedigheid eintlik aan my behoort.
Al wat ek kan sê is dat mismoedigheid se prys so hoog is, dat die duiwel dit nog nooit kon verkoop nie..

Hy besit en gebruik dit nog steeds. Op die vooraand van Sy kruisiging sê Jesus vir Sy dissipels in Johannes 16:33:

In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed, Ek het die wêreld klaar oorwin.
Dikwels word ons so oorweldig deur ons omstandighede, ons skuldgevoelens en ons lyding

dat ons ophou om te glo, dat ons moed verloor.

Dinge kan soms vir ons so moeilik raak, die wêreld kan ons so druk dat ons nie meer wil glo in God nie

Soms is dit so erg dat ons begin om God te blameer vir wat met ons gebeur..

Dan wil ons niks meer met God te doen hê nie..

Jesus het geweet dat daar sulke dae vir ons oppad is.

Hy het geweet dat daar tye sal kom wanneer ons sal verval in mismoedigheid, wanneer ons met die hande in die hare sal sit en uitroep,

Here waarom? Here, waarheen nou? Here, ek kan nie meer nie.

Dit is waarom Hy vir ons vandag sê, Hou goeie moed! Moenie moed verloor nie.
Moenie toelaat dat die duiwel jou wysmaak dat daar nie ‘n einde of ‘n uitweg is nie.

Ek is hier en Ek het die wêreld reeds oorwin.
Hy het alreeds die oorwinning vir jou behaal aan die kruis.
Hy het alreeds jou smart, jou lyding, jou swaarkry, jou probleme, jou bekommernisse op Hom geneem en die prys daarvoor betaal.

Daar is hoop vir jou, want Hy lewe!

Roep Hom vandag aan en Hy sal jou laste opneem. Hou net goeie moed! 

GEBED
Here, help ons om nooit mismoedig te word nie! AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00