MAAK TOG VRIENDE MET HOM
… Job 22:24; Spr.18:21
‘Maak tog vriende met Hom dat jy vrede kan hê!’ En ons kan daar byvoeg – want Hý is jou beste Vriend!
In elke mens se hart is daar ʼn behoefte en drang na die teenwoordigheid, hulp en beskerming van ‘n ware, getroue en lojale vriend. Selfs in God se hart was daar ʼn droom … ʼn drang na vriendskap – na daardie soort wat gepaard gaan met ʼn liefde en vertroue waar alles gedeel en geniet kan word … toe skape Hy ….
Hierdie teks sê vir ons geweldig baie – dat die mens, die kroon van Sy skepping – nie sommer vanself ʼn vriend van God kan wees nie, maar dat hy/sy dit wel kan word! Want eers moet die middelmuur van skeiding en vyandskap as gevolg van die sondeval afgebreek word! Die vraag is egter – watter mens wil vanself graag naby God wees … Sy ware vriend wat begeer om elke dag intiem met Hom te wandel – niemand nie! Want die Bybel sê: daar is niemand wat na God vra nie! Die meeste wil net graag gou onder Sy oog uitkom … elkeen, om sy eie ding te doen!
En ons almal weet dat dit net op een plek en op een manier kan gebeur dat ʼn sondaar en vyand, kan begin om ʼn vriend van God te word, en dit is by die Kruis … as die sondaar en vyand van God, gewillig is om met ootmoed en berou by die Kruis neer te kniel; as hy/sy besef dat hy voor God skuldig staan en dat net die bloed van Jesus hom/haar met God kan versoen! Daarom gebruik die Bybel nie net die woord ‘vergewe’ vir wanneer ʼn sondaar gered en ʼn kind van God word nie, maar ‘versoening’ … hy/sy word met God versoen! Kol_1:21 Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen!
Baie min mense besef dat die mens nie maar net ʼn ‘arme sondaar’ is … een wat homself nie kan help nie … een wat deur homself en ander bejammer en maklik verskoon moet word nie, maar dat hy/sy in werklikheid ʼn rebelse vyand is wat sy God se hand van vriendskap doelbewus en opsetlik weggeklap het, en dit nog steeds doen … wat volgens Luk.19:14 uitroep: ‘ons wil nie dat hierdie man koning oor ons sal wees nie!’ En tot vandag toe wil elke mens God se juk afgooi, sy eie baas wees … en selfs sy eie ‘god’ wees … hy wil homself en sy eer kan verdedig en staan op sy sogenaamde ‘regte’ … daardie heel laaste ding wat hy aan God sal wil afteken … die reg op homself … die ‘reg’ wat hy in elk geval nie besit nie, want die enigste reg wat ons het, is om ons sogenaamde ‘reg’ aan die Here oor te gee! Daarom is daar versoening nodig as ons basies net wil begin om met God te wandel en Sy vriend te wees!
As twee vyande besluit om vrede te maak en versoen te word, moet hulle dit eers wedersyds besluit. Dan moet hulle ‘n afspraak maak om die vyandskap te beëindig. In Amos 3:3 sê God, ‘sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?’ As dit nie gebeur nie, is die haakplek nie by God nie, want nog altyd sê Hy,‘die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en teësprekende volk’ (Rom.10:21). En … ‘kom NOU en laat ons die saak uitmaak’ (Jes.1:18) … afhandel! Dit is asof ook hierdie roepstem uit God se hart, vandag vir elke mens helder weerklink – ‘maak tog vriende met Hom sodat jy VREDE kan hê’ (maar onthou: éérs oorgawe en versoening, dan vrede … en dan eers vriende). (‘Eers jou swaard, dan jou hand’ was die woorde van Admiraal Nelson na ’n veldslag toe die verslane vyand wat ’n bekende was, eers sy hand wou uitsteek om te groet, voordat hy oorgee!)
God soek nie net ‘engele’ in die hemel nie … Hy soek VRIENDE op aarde! Dit is Sy ‘droom’ en spesifiek daarvoor het God jou geskape – die wêreld geskape – as woonplek, werkplek en speelplek vir daardie spesiale wese – die mens – dit wat jy en ek is … hulle wat Hy na Sy beeld en gelykenis geskape het, nie om in die eerste plek vir die hemel gered te word nie, maar primêr om God se VRIEND te wees! Jy word nie net ʼn vriend van God deur met Hom ‘hand te skud’ nie – ons hele wese, houding en gesindheid teenoor Hom verander drasties! Jy deel in Sy natuur en aard en word ‘n nuwe skepping! Hy doen dit, maar Hy kan dit ook nie sonder jou medewete en hartlike toestemming doen nie, want God het te veel respek vir die mens wat Hy na Sy beeld, met ’n vrye wil geskape het! Hy dwing jou nooit!
Soos ons gesê het – die vyand moet eers versoen wees voordat daar ’n intieme, lojale verhouding kan wees met iemand wat lojaal en ’n ware vriend kan wees. (illustrasie van rebelse seun wat wegloop omdat sy Pa hom wegjaag – ontvang nuus, moeder op haar sterfbed – haar laaste begeerte, sy wil hom vir oulaas sien! Hy kom en sy reik haar vermaerde hande na hulle uit na waar hulle nog in bittere vyandskap aan weerskante van haar bed staan en voeg dit inmekaar oor haar sterwende liggaam! Dáár word hy met sy Pa versoen oor sy moeder se sterwende liggaam!) Vanaf Golgota steek God weer sy hand van vriendskap uit na mense … na daardie selfde vyande wat dit eens deurboor het! Daardie Hand is nog en bly nog na JOU toe uitgestrek! (Rom.10:21).