LIEFDESLAAF Ek.21
Hier het ons die beskrywing van ’n merkwaardige voorskrif hoe die eienaar van ’n Joodse slaaf wat, volgens wet, na ses jaar diens vrygelaat moes word, aan sy slaaf se begeerte moes voldoen wanneer hierdie slaaf, uit eie keuse, verkies om liewer lewenslank as sy slaaf aan te bly! Dan verskaf só ’n slaaf ook die rede waarom hy so ’n ongelooflike keuse wil maak … ’n keuse wat vandag nog deur die wêreld as dwaasheid beskou sal word, want watter mens wil nie graag VRY wees nie … watter mens wil nie graag sy EIE BAAS wees nie … en watter mens sal nie alles wil gee, as hy net bo alles die REG OP HOMSELF kan uithou nie?
DIE SLAAF SE KEUSE: Sy keuse het vereis dat hierdie slaaf dit eers moes verklaar dat hy homself vrywillig wil verbind om die REG op homself, lewenslank amptelik en voor getuies, af te teken! Rede: ‘ek WIL nie vry weggaan nie … want ek het my heer LIEF! Só ’n kwaliteit slaaf het dan die naam gekry van liefdeslaaf … hierdie O.T. tipe van die liefdeslaaf vd N.T… Grieks ‘doulos’ … Afr. ‘dienskneg’ Eng. ‘servant’!
DIE SLAAF SE KENTEKENS: Ek.21 gee ons ’n duidelike beeld van dit wat dan met daardie Christen gebeur wat op die Here Jesus verlief geraak het, wat by die kruis wil kniel en ’n definitiewe, VOLKOME en onvoorwaardelike OORGAWE aan Hom wil maak: Soos dit met daardie liefdeslaaf gebeur het, gebeur dit dan ook met ons:
’n PYNLIKE ONDERVINDING: Nie maklik of ’n grap nie wanneer die ‘els’ van God se Woord, waarheid en standaard – waar Hy ALLES van jou vra – eers jou ‘oor’ en hart deurboor en dit in die ‘hout’ vd Kruis vaspen … as jy gewillig geword het om daardeur die REG op jouself, vrywillig en vir altyd aan Hom af te teken!
’n PUBLIEKE OORGAWE: Dit moes voor lewende getuies by die hout-poort van die stad geskied. “laat ons dan uitgaan na Hom toe tot buitekant die laer en Sy smaad dra …” Die Here Jesus het geen geheime dissipels nie!
’n PERMANENTE OOREENKOMS: Vir altyd! Daarvan is daar twee stille, maar kragtige, permanente getuies – (i) die permanente ‘merk’ in jou oor … as jy Sy stem ken (my skape KEN my stem). (ii) die permanente ‘gat’ in die hout waar die merk van die els is en waar die bloed ingetrek het – wat bewys – jy was ook reeds ’n besoeker by die Kruis!
Enigste REDE – ‘ek WIL nie vry weggaan nie … want ek het my heer LIEF! Treffend – Ek.21 is die eerste voorskrif ná die WET van Ek.20! Want sonder God se eie liefde – daardie waardeur Hy ons eerste liefgehad het – wat Hy in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees, sal NIEMAND die wet kan gehoorsaam of volbring nie! Die WET van Ek.20 sê – jy moet! Die VRYE KEUSE van Ek.21 Sê – WIL JY? Heerlikste DAG wanneer God ons ‘MOET’- godsdiens verander in ’n ‘EK WIL …’ godsdiens! Dan word jy Sy liefdeslaaf, op wie Hy kan staatmaak!
In die eerste jare van Amerika was ’n sendeling besig om aan die jong opperhoof van die Rooi Indiane wat daar eenkant gesit het, die Evangelie te verkondig. Hy het aandagtig geluister en die verhaal hoe Jesus Christus sy heerlikheid verlaat het om na die aarde te kom, het hom so diep getref dat hy opgestaan en sy strydbyl gaan oorgee het, met die woorde – Rooi Indiaan gee sy strydbyl vir Jesus! Toe het hy weer gaan sit. Die verdere verhaal van hoe Jesus geleef, gewerk en met sy voete geloop en hoe mense Hom behandel het, het hom vir die tweede keer laat opstaan, sy perd los te maak en te sê –Rooi Indiaan gee sy perd vir Jesus. Die klimaks van die kruis en opstanding het sy hart so ontroer dat hy weer vorentoe gegaan en gesê het – Rooi Indiaan gee nou homself vir Jesus!