LESSE IN ‘n APPEL!

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

 LESSE IN ‘n  APPEL!

 

’n Appel – rooies en geles en groenes – is altyd mooi om te sien en te eet. Dit gee kleur aan die vrugteslaai van my keuse.

 

Die appel wat ons so alledaags vind en op die tafel mooi blik lê in die bak was eens ’n bloeisel aan ’n boom.

 

Die boom was eens ’n saadjie in die koue nat grond.

 

Baie sien die appel op die tafel, sommige sien die seisoene en die jaar waarin dit ontwikkel het en baie min sien die saad in die koue nat grond , die klein boom , die bloeisel en die by wat daar rond vlieg.

 

Dan is daar nog die jaar waarin die appel gevorm word. Dit word gepluk , sommige vir die tafel , ander word gepers vir sap en dan sommige wat net van die boom val en verrot.

 

Ja, sommige word gesny vir die appeltert en ander beland in die vrugteslaai. Daar is so baie prosesse waardeur die appel moet gaan voor dit in die bak beland.

 

Die Vader het dit alles raak gesien en die Vader het dit beplan.

 

Daar was iemand wat die droom gehad het om met appels te boer. Die grond gekoop het, voorberei het, die saadjies geplant en die bome gespuit en beskerm het voordat die appels op die tafel beland het. Hoeveel tyd en inspanning het iemand nie ingesit om hierdie appel op die tafel te plaas nie?

 

Ons het die vermoë om die saad in die appel te tel, maar God het die vermoë om die appels in die saad te tel.

 

Ons is dankbaar vir die persone wat soveel werk ingesit het om die appels te produseer – vir ander om te geniet. Ons sal nooit weet van al die harde werk nie.

 

So is dit die begin van die lente en ek en jy moet werk inbou in mekaar om dae van nou af die vrugte te geniet. Die persoon wat jou liefde die nodigste het, verdien dit moontlik glad nie! Ons faal talle kere in optrede of woorde of wat ookal, maar dit help nie om daar te bly sit in jou wonde nie! Staan op! Kom uit! Word herstel en lewe vrugbaar vir die Here.  Vergewe dié wat jou beseer het!!

 

Soos die bloeisel die vrug voorgaan, so moet ons geloof die wonderwerk voorgaan.

 

JEREMIA 18:4 “En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.”

 

GEBED

 

My wonderlike Hemelse Vader, net soos die lente vandag begin, so wil ek met al my foute en tekortkomings na U kom, om my te neem en opnuut te herstel en te gebruik vir U koninkryk! Help my om positief in ander in te bou in plaas daarvan om hulle te beskinder en af te breek? AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00