LEES DIE WOORD.
Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE tjcloete@absamail.co.za
LEES DIE WOORD.
Daar was ’n man gewees wat sy sonde toestand besef het en sy lewe met die Here reg gemaak het. Hy het by elke geleentheid die Bybel gelees en het baie mooi Geestelik gegroei.
Hierdie man is by sy werk in ’n ontploffing ernstig beseer. Hy het albei sy oë verloor asook sy voorarms. Sy grootste probleem was , hoe sal hy weer die Bybel kan lees.
Hy het gehoor van ’n vrou wat ook blind was en ook haar voorarms verloor het en sy het die Bybel in Braile met haar lippe gelees. Hy het dadelik die Bybel in Braile bestel en ook Brail aangeleer. Hy het die Bybel probeer lees met sy lippe maar toe besef dat die senuwees in sy lippe, as gevolg van die ontploffing by die werk, ook beskadig is. Hy kon glad nie lees nie maar eendag per ongeluk – as daar so iets is – met sy tong die letters gevoel.
Hierdie man het binne ’n jaar die hele Bybel deeurgelees deur sy tong te gebruik.
Jy kan lees!! Wat ’n voorreg!! Besef ons al die voorregte wat ons het?
LEES JY DIE BYBEL? In die tyd waarin ons lewe word daar gesê dat mense nie meer die Bybel lees nie. Indien ons na die wêreld kyk kan ons dit bevestig omdat die mensdom verder van die Here beweeg. Mense ken nie meer die standaard van God se Woord nie! Mense volg nie meer die Woord se voorskrifte nie! Ja, die mens gaan ten gronde as gevolg van ’n gebrek aan die Woord van God!
PSALM 119:105 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
1 JOH. 2:5 Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.
PSALM 119:11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
GEBED
Here, ek sal U Woord lees en dit in my hart bêre sodat ek nie teen U sondig nie. AMEN