KAN NIE OF WIL NIE?

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

KAN NIE OF WIL NIE?

 

Dit is Sondag en almal in die huis is besig om gereed te maak vir die kerk. Pa help gou vir die jongste knaap om te bad. Hierdie jong knaap wil nie bad nie, vir die eenvoudige rede dat hy kan nie sit en speel in die water nie. Dit is ’n stryd om die knaap gebad te kry maar met al die gewoel en weerstand en gekla kry hulle tog klaar. Die knaap is skoon – ten minste die groot meerderheid – en pa gee die opdrag dat hy moet staan sodat hy afgedroog kan word en aangetrek kan word vir kerk. Dit is toe dat hy reageer met :- “Ek kan nie!”  “Wat bedoel jy jy kan nie?” vra pa. Hy kyk na sy pa en met ’n gesiggie wat trek – net soos ’n kind dit kan doen – kom dit weer: “Ek kan nie!”  Dit is toe dat pa besef dat hulle al voorheen deur die saak gewerk het dat hy vir die knaap sê: “Jy bedoel jy WIL nie?”  Dit is toe dat hy instemmend met die kop knik want hy wil in die bad bly sit en speel.

 

Is dit nie ook hoe ons as mens op God se roepstem en oproepe reageer nie? God kom na jou – Jy wat verklaar jy is Sy kind en oppad Hemel toe- en vra van jou iets om te doen. Jy antwoord dan :- “Ek kan nie!”  Nee Here ek is te oud …… Ek is te jonk…… Ek is nie gereed nie…….. Ek is te besig…… Ek het baie hooi op my vurk……. en so hou dit net aan en aan en aan!!!

 

Wat is dit wat jy eintlik hier diep in jou hart vir die Here sê?  Is dit nie:- “EK WIL NIE!!!!!”?   Ek wil dit nie doen nie………Ek wil nie verander nie…… Ek wil nie betrokke raak nie………. Ek wil nie uit my gemak sone beweeg nie…….Ek wil nie offer nie……..en so hou dit aan en aan en aan.

 

PREDIKER 9:10 “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

 

GEBED

 

Here ek buig in skaamte voor U! Hoeveel keer het ek gesê Ek kan nie maar eintlik diep in my hart bedoel Ek wil nie? Ag Here ek vra vergifnis en plaas my nou opnuut op U altaar! Here gebruik my want ek wil vir U iets beteken? Maak my gewillig sodat U verheerlik kan word?  AMEN 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00