JOU WAARDE IN CHRISTUS
Dr. Chris Saayman
24 April 2014
Ek is so bly en so dankbaar dat ons nie die Here hoef oor te haal om van ons te hou nie. Dat ons absoluut niks hoef te doen om in Sy oë kosbaar te wees en om in Sy oë aanvaarbaar te wees nie.
Toe die Here Jesus na die wêreld toe gekom het, het God vir jou in Hom aanvaarbaar gemaak en daarom is jy nou ten volle aanvaarbaar vir God en ten volle van waarde voor die Here.
Toe die Here Jesus na die aarde toe gekom het, was jy ingesluit by Hom. Het u al gekyk in die Nuwe Testament hoe baie praat die Nuwe Testament van “IN Christus”, “IN Christus”, “IN Christus”, “IN Christus”, daar’s honderde kere.
Daardie “IN Christus” beteken dat jy ingesluit is by Hom en dis iets wat jy nie self kon doen nie, dis iets wat God gedoen het.
Dis soos wat as ek nou water vat, as ek ‘n beker water het en ek gooi dit op hierdie man se kop uit, dan kan hy daardie water nie eens ontvang nie. Hy kan net binne in die realiteit daarvan lewe, dat hy nat is.
As ek water op hom uitgooi dan gee hy nie vir my toestemming nie, en hy ontvang dit nie eers nie. Hy kom net agter, aarde, hier is nou ‘n werklikheid, ek is nat en dan moet hy daarin lewe.
Het julle geweet dat die Bybel sê in Titus 3 dat God deur Jesus die Heilige Gees op ons uitgestort het. As die Heilige Gees op ons uitgestort is beteken dit dis iets wat ons nie eens kan in ontvangs neem nie.
Ek moet binne die werklikheid lewe dat die Heilige Gees op my lewe gekom het, toe Jesus Christus na die wêreld toe gekom het. Dis die beste nuus wat ‘n mens kan hoor.
Die beste nuus wat ‘n mens kan hoor is dat jy vergewe IS, of dat Jesus se bloed gestort IS en jy nie uitgesluit was daarby nie. Weet u wat sê Romeine 5:18? Romeine 5:18 sê die hele totale mensdom was ingesluit by Adam. Is daar een van ons wat toestemming gegee het en gesê het: “Ja, Adam, ek wil by jou ingesluit wees, wanneer jy in sonde val”? Is daar een van ons wat toestemming gegee het, of was ons net ingesluit?
Ons was net ingesluit by Adam en ons het dit later agtergekom. Nou sê Romeine 5:18, net so, het God ALMAL ingesluit by Jesus Christus en het ALMAL deur daardie insluiting, die LEWE gekry. U sal sê: “maar hoekom ervaar ek dan nie daardie Lewe nie?” Dis omdat jy dit nog nooit ontdek het nie.
Maar ons glo leuens in plaas van om vir God te glo. God het ‘n wonderlike ding met u lewe gedoen. Daarom sê die Bybel, God het ge-“Rus”. Het jy al in Hebreërs 4 gelees van daardie wonderlike “Rus”?
Dit is nie ‘n RUS as gevolg van moegheid nie. Dis die rus van ‘n skilder, wat perfek geskilder het en sy handtekening onder die skildery gemaak het en dan rus hy. Hy rus, hy kyk so terug na sy skildery dan sien hy hoe perfek het hy dit gedoen, dit wat in sy kop was, hoe perfek het hy dit op die seil op die doek neergesit het en dan rus hy. Hy vier die perfeksie van sy skildery.
As God Rus dan Rus Hy oor u perfeksie. As jou sonde vergewe IS, dan is jy volkome gemaak, en jou sonde is nie vergewe omdat jy vir God gesmeek het om dit te vergewe nie. Jou sonde is vergewe nog voordat jy gesmeek het, want jou sonde is op die kruis vergewe toe Jesus in jou plek gesterf het.
U moet eers vir my kom bewys dat Jesus nie in u plek gesterf het nie, dan sal ek glo dat u nie vergewe is nie. Daars nie een van ons wat dit kan bewys nie, so ons beter dit maar aanvaar, dat Hy in ons plek gesterf het. Nie “ons” nie, ek moet eintlik my vinger so vat en sê: “in MY plek gesterwe het”.
So ek kan tot rus kom binne in Sy Rus waarmee Hy Rus oor my, soos die skilder rus oor sy skildery wat so perfek is. Dis wat die Sabbat beteken, die Sabbat is nie eintlik ‘n dag nie, die Sabbat is eintlik ‘n 24/7 aksie van rus in God se Rus, wat ek ontdek het.
Baie mense dink aan God as so ou “grumpy” ou oom. Hy sit daar iewers bo die wolke met ‘n boekie en nou “check” Hy jou. Daars mos so simpel liedjie: “From a distance God is watching us”. Het jy al daardie liedjie gehoor? Dis die grootste klomp nonsens, dat God op ‘n afstand vir ons sit en kyk.
God het toe Jesus Christus mens geword het, alle afstand uitgewis. Daar is geen afstand meer tussen jou en God nie. Jesus het dit oorbrug toe Hy mens geword het in jou plek. Is dit nie die beste nuus wat ‘n mens kan hoor nie?
God het vir jou en vir my uitgehaal uit Adam uit. Jy en ek is niks meer van Adam nie, niks. Ons is nou alles van die laaste Adam, Jesus Christus. God het die hele mensdom uit Adam uitgehaal. Dit beteken ek is ingesluit en u is ingesluit by die laaste finale Adam, Jesus Christus. Moenie dink daar’s nog so ‘n naelstringtjie tussen jou en Adam nie. Daardie naelstringtjie is afgeknip, God het dit afgeknip, ek knip dit nie af nie, u knip dit nie af nie, God het dit afgeknip en daarom kan ons in volkome Vryheid lewe.
Daar is nie een persoon wat in hierdie saal is wat nie by die deure kan uitloop vanmôre in volkome Vryheid nie. U sê: “maar wat van my verlede, wat van my sondes, wat van dit, wat van dat, wat van my bitterheid, wat van daardie “grudge” wat ek nog teen daardie ou hou van 25 jaar terug? “
Wat daarvan? God het daarmee gehandel, as u daaraan wil vashou is dit u eie “stupidgeit”. U sien, ons moet na onsself begin kyk soos wat God na ons kyk, nie soos wat ons na onsself kyk nie, nie soos wat ons verlede vir ons sê wie ons is nie – jy is sleg, jy’t nie waarde nie, jy’s nie werd nie, jy’s dit, jy’s dat, jy’s daar onder man.
Dis leuens en hoe vinniger ons die leuens los.. die goeie nuus is natuurlik dat ek nie hoef te wag tot vanaand voor ek dit los nie, ek kan dit sommer nou los, want leuens bestaan nie, dis ‘n klomp twak. God se waarheid bestaan, dis realiteit. As ek hierdie man natgegooi het, dan IS hy in ‘n realiteit gestel. Wat se realiteit? Ek is nat. Maar wie het daardie realiteit op hom gestel? Ek! Met sy toestemming? Glad nie. Ontvang hy die water? Glad nie. Hy moet in die realiteit lewe, “ek is nat” en so moet ek en jy in die realiteit begin lewe – ons IS vergewe, ons IS aanvaar, ons IS waardevol, ons IS versoen met God en dis ‘n werklikheid wat klaar daar is.
Ek hoef nie hier uit te gaan, u hoef nie hier uit te gaan en te sê: “Oe, die Here het met my gepraat vanmôre, ek moet nou dadelik by iemand kom met wie ek kan gaan saambid en al my sondes bely en al my goeters gaan doen. U hoef nie ‘n pad te loop, u hoef nie na die berader toe te gaan om u vryheid te kry nie, dis ‘n Vryheid wat God klaar daar gestel het. Jy ontvang dit nie eers nie, net soos wat hy nie die water kan ontvang wat ek op hom uitgooi nie.
Die waarde wat u gehad het voor die skepping reeds, het God vir u teruggegee, die volle waarde. Weet u hoe waardevol was u gewees voor die skepping, voor die sondeval? Dink net gou ‘n bietjie, hoe waardevol was u gewees in God se “mind”, toe God oor u gedroom het. Want u weet mos dat u is uitgedroom uit God se hart uit, u weet dit almal. U kom nie uit u pa en u ma se handelinge nie. U is uitgedroom uit God se hart uit. Dink hoe volmaak was daardie droom gewees.
U sal sê: “maar die sonde het dit opgemors” maar God is groter as die sonde. Glo ons dat God groter as die sonde is? God het daardie VOLLE waarde weer vir u teruggegee deur Christus Jesus. Dis die lieflikste, mooiste, pragtigste boodskap wat daar is! Dis hoekom dit “evangelie” is, “goeie nuus”. Dit wat ek vanmôre vir u bring laat u ore eintlik “zzzzz”, want dis GOEIE nuus, dis “nice”. Ons harte is gemaak vir hierdie goed wat ek nou vir u vertel.
Jy weet, jy hoor hierdie goed wat ek nou vir u sê en dan resoneer jou hart met dit, hier binne iewers, jy weet ook nie waar nie, jy weet, binne in jou is daar iets wat net “ djoep”- saamstem. Jou hart vang dit net, is dit nie wonderlik nie.
Jy weet as jy ‘n muntstuk uit die grond uithaal, dan is daardie muntstuk vuil, hy lê al lank onder die sand, daardie muntstuk. Kom ons sê dis ‘n vyf rand. As jy daardie muntstuk uit die grond uithaal dan is hy vuil, jy kan nie eers omtrent sien dis ‘n geldstuk nie, maar het hy nog sy waarde wat hy oorspronklik gehad het, ja of nee? JA, PRYS GOD! Daardie muntstuk het nie soveel van sy waarde verloor omdat hy vuil is nie. Dis ons probleem, jy sien, ons kyk na ons vuilheid, ons kyk hoe vol modder ons is, ons kyk hoe lank lê ons daar en ons dink dit is wie ek is. U ken mos die verhaal van die muntstuk, Lukas 15.
Ons dink aan die verlore skapie. Het u geweet as u verlore is behoort u eintlik. As jy nie behoort nie kan jy nie verlore wees nie. Ek kan nie sê: “my selfoon is weg nie”, as die selfoon nie aan my behoort nie. Verlore mense “behoort”, mens moet net jou “behoort” ontdek. Jy behoort juis, anders kan jy nie verlore wees nie.
Ek lees vir u daardie pragtige vers, en dis nou die vers wat ek eintlik wil lees vanoggend, daardie pragtige vers in 1 Korintiërs 1:30 waar Paulus sê: “Dit is aan God te danke, dat julle by Christus ingesluit is.” Ons dink altyd dat Jesus moet by ons ingesluit word, maar Paulus sê nee, julle is by Hom ingesluit. Kan jy die verskil hoor, ek gaan dit illustreer.
As jy nou hierdie groen papiertjie vat en jy sê nou hierdie groen papiertjie is Jesus, en hierdie geel papiertjie is die mens, dan dink ons altyd Jesus is daar en ek is hier en ek is vol sonde en Hy’s vir my kwaad. Tot ek nou op ‘n dag – na 30 jaar – my knieë buig en Hom smeek en pleit en roep en vra en dan kom Hy aangehol en dan val Hy binne in my hart in.
Paulus sê dis net andersom, Paulus sê dis aan God te danke dat julle by Hom ingesluit is!!!!!Wat ‘n bevryding, en dan sê hy: “en HY het vir julle geword, die Verlossing.” Die verlossing is nie iets…kom ons neem nog ‘n papiertjie, kom ons sê hierdie is blou. Die verlossing is nie iets ekstra wat hier binne in Jesus is wat Hy daar hou en hier is ek en nou moet ek Hom smeek en pleit en dan – as Hy nou sagraak teenoor my – dan gee Hy vir my die verlossing en dan het ek nou die verlossing binne in my nie. Paulus sê Jesus is SELF die verlossing en dit is nie Hy wat by jou ingesluit word nie, dit is jy wat by HOM ingesluit IS. Hoekom, want dit is aan God te danke met ander woorde wie het dit gedoen? God. As hy sê: “aan God te danke, dan het Hy dit gedoen”.
Dit is darem wonderlik as ‘n mens kan besef dat jy ‘n totaal nuwe mens geword het. Jy’t ‘n totaal nuwe mens geword.
Jy weet daar in Pretoria, was daar jare gelede ‘n arend en die arend was vir tien jaar lank in ‘n hok aangehou, in Pretoria se dieretuin en toe op ‘n stadium besluit die owerhede hulle gaan die arend vrylaat. Daar in die Oos Transvaal by Graskop, by Bourke’s Luck en hulle vat die arend en hulle sit hom in ‘n houtkrat en hulle vervoer hom na soontoe en hulle gaan daar op ‘n krans in die berge en hulle maak daardie krat oop. Toe hulle die krat oopmaak, toe bly daardie arend net daarso so sit met sulke dowwe oë.
Hy’s vry! Die krat is oop! Maar die arend sit. Jy sien, want hy was in sy “mindset” nog altyd in Pretoria in die hok, wat ‘n leuen was. Maar in sy “mindset” was hy nog daar en daarom vlieg hy nie uit in vryheid nie. Hy’t niks gedoen om vry te raak nie, die owerhede het die besluit geneem en die owerhede het die krat oopgemaak en die hok oopgemaak en die hok afgebreek. Hy’t dit nie besluit nie, hy het nie permissie gegee nie. Hy moes sy vryheid ontdek en sy “mindset” verander en “shooo” vlieg!
Maar ou arend sit met daardie dowwe oë en toe skielik toe klink die geroep van ‘n ander arend daarbuite. Toe hierdie arend daardie stem van die ander arend hoor, toe is dit asof die oorspronklike arend binne-in hom ontwaak, lewendig word, en hy vlieg uit!
Toe Jesus Christus uit die dood opgestaan het, het God die krat oopgebreek en die hok afgebreek. U lewe word nie meer gedefinieër deur die mure van ‘n hok nie. U sê: “maar ek sit dan daar, ek sit binne-in ‘n hok!” Jy sit net in jou “mindset” binne-in die hok. Dis “hier bo” wat die probleem is. Die hok is oop, hy is wawyd oop en die oomblik wanneer ons die stem van die Here Jesus hoor, dan is dit asof daardie oorspronklike ek, in my ontwaak en ek besef wie ek eintlik is en ek vlieg uit in Vryheid.
Julle moet gaan kyk in Lukas 15 van die bekende gelykenis van die twee broers, die twee seuns. Die jongste broer tussen die varke en die oudste broer wat daar by die huis by sy pa gesit het. Julle moet bietjie gaan kyk na daardie gelykenis. Daar is ‘n baie groot waarheid in daardie gelykenis.
Daardie jonger boetie het ‘n siening van homself gehad wat verskil het van sy pa se siening van hom en dis hoekom hy by die varke gesit het. Die oudste boetie het ook ‘n siening van homself gehad wat verskil het van sy pa se siening oor hom. Wat sê die jongste boetie, wie is hy? Hy sê ek is.. “ek het nie waarde nie, ek is vuil, ek is nie werd om in pa se huis te wees nie”. Is dit nie wat hy sê nie? “Ek is eintlik ‘n dienskneg, maak my sommer ‘n slaaf”.
Maar toe sy pa met hom praat toe kom dit uit hoe sy pa hom sien. Sy pa sien hom as ‘n kind, ‘n seun, ‘n erfgenaam en ‘n fees werd. Hy moes net sy “mind” verander het. Hy het ‘n leuen oor homself geglo. Dit is ons grootste binding vriende, ons binding is nie die duiwel nie. Die duiwel is ‘n “non-faktor”, die duiwel is oorwin – ten volle. Ons probleem is nie die duiwel nie, ons probleem is die leuen wat hier tussen ons twee ore sit. Dis ons verblinding wat maak dat ons nie kan sien wat God regtig van ons gemaak het nie.
En die oudste broer se siening oor homself? Die oudste broer sit by sy pa en hy het alles wat sy pa het is syne maar wat dink hy? Hy dink: “ek is soos ‘n dienaar, ‘n slaaf hier in pa se huis.” En sy pa se siening oor hom is dat: “my kind, jy het alles wat ek het is joune, jy lewe net nie uit daardie “reality” nie”.
Jy sien liewe vriende, die evangelieboodskap konfronteer ons. Hy konfronteer ons met hoe God oor ons dink teenoor hoe ons oor onsself dink en Hy sê vir ons: “watter een van die twee gaan jy glo?”. “Vat daardie ding wat jy geglo het tot vandag en gooi hom in die snippermandjie en vat hierdie ding wat Ek vir jou sê, hoe Ek jou sien.”
Ek weet nie of dit sin maak nie. Wie van ons in hierdie saal sien nie onsself soos wat die jongste broer en die oudste broer hulleself gesien het nie? Ons is almal so..”ek is waardeloos, ek kan nie ‘n seun of ‘n dogter in die huis wees nie, ek is vuil, ek is eintlik maar net ‘n …jy weet. Dit is maar hoe ons almal.. want almal van ons se “mindset” lyk so van nature.
Dit is hoekom ons die blye boodskap moet hoor, wat God al die tyd van ons dink. Ons dink: “as ek verander dan sal God ook teenoor my verander”. Is dit nie die waarheid nie? Ons dink: “as ek verander, as ek hierdie ding en hierdie ding en hierdie ding doen dan sal God Sy “mind” oor my ook draai”. Hy sal vriendelik word, Hy sal nie meer so “grumpy” wees nie en Hy sal vir my begin “bless” en so. Dit is wat ons dink asof die Here Jesus op die kruis niks gedoen het nie.
Die blye boodskap wat ek vanmôre eintlik nie kon wag om te bring nie, ek kon nie wag nie, ek was te opgewonde! Die blye boodskap wat ek vanmôre vir julle kan kom bring is dat God Sy “mind” al klaar lankal verander het. Die oomblik wanneer jou oë oopgaan om dit te sien, dan verander jy self om soos ‘n seun en ‘n dogter voor Hom te wees.
Hoe lieflik is dit nie, hoe lieflik is die blye boodskap. Dis hoekom die engele toe Jesus gebore is gesing het, gesê het: “ons bring vir julle ‘n boodskap van GROOT blydskap..” Wat vir die “Jode” bedoel is? Nee! Wat vir ALLE mense bedoel is.
Halleluja! Prys God, is dit nie wonderlik nie!
Kom ons bid net:
Vader in die hemel, dankie dat dit die waarheid is wat ons gehoor het. Dankie dat dit die blye boodskap van die evangelie is wat ons gehoor het, dat ons..daar’s iets binne-in ons Here. Daar’s iets binne-in ons harte wat resoneer met hierdie boodskap. Diep, diep, diep in ons innerlike weet ons dis die waarheid. Dankie Here dat daar nie een enkele persoon in hierdie saal is, wat nodig het om uit te loop by hierdie deure vanmôre soos wat hulle ingekom het nie, nie een nie. Omdat ons al klaar in ‘n nuwe realiteit IS. Die Heilige Gees is oorvloedig op ons uitgestort. Ons kan net ons oë oopmaak om dit te sien en jubelend voor U te lewe. Wat ‘n wonder! Here, U hand op elkeen wat hier teenwoordig is vanoggend. AMEN!