Skrif: Johannes 4: 43-54
Ons het verlede week vinnig daarna verwys dat die mense van die veragte Samaritaanse dorpie Sigar 100% beter op die Here Jesus se woorde gereageer het as die mense van Nasaret – die dorpie waar Hy grootgeword het. “’n Profeet ontvang geen eer in sy eie vaderland nie.” Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh 1:11). In die oë van die mense met wie Hy van kinds af saamgekom het, Sy eie mense (en in Galilea oor die algemeen) was Sy punte laag. Maar in die veragte Samaritane se dorp Sigar – het ons verlede Sondag gesien – het daar byna ‘n soort herlewing uitgebreek.
Daarom dat verse 43 & 44 so vreemd is: Jesus vertrek na Galilea WANT (die rede waarom) dáár (in Galilea) het die mense Hom verwerp. Hy verlaat die plek waar die mense in groot getalle tot bekering gekom het en waar die mense daarop aandring dat Hy vir ewig by hulle moet bly OM na ‘n plek te gaan waar die mense niks van Hom wil weet nie! Hoe vreemd! Voeg daarby vers 45: “Toe Hy in Galilea kom (waar Hy onbemind was) het die Galileërs Hom… ontváng!!” Dít sou mens nie verwag nie. Tog gee die res vd vers ‘n leidraad: …”want hulle het die tekens gesien wat Hy in Jerusalem gedoen het.” Hulle “ontvang” van Jesus was nie aan die buitekant wat dit aan die binnekant was nie. Die Galileërs het Hom nie op dieselfde manier ontvang as die Samaritane van Sigar nie. Húlle het Sy WOORDE geglo en hul bekeer. Vir die Galileërs was dit net lekker & voordelig om ‘n wonderdoener in hulle midde te hê. Geensins wou hulle Hom met alle mag VOLG nie. Hulle het Hom bloot bewonder.
Maar waarom sou Hy dan júís na Galilea wou gaan wetende dat Hy by hulle min punte het? Waarom gaan Hy met opset na ‘n plek waar Hy verwerp sou word en die mense net op wonderwerke teer?
Die antwoord is heel eenvoudig: dit was die Vader se plan van die begin af: dat Hy Homself sou gee & gee & gee & gee aan Sy eie mense wat Hom verwerp en uiteindelik sou oorgee om gekruisig te word. Dis presies wat Hy hier doen: Hy GEE Homself nogeens aan diegene wat Hom ten diepste teëstaan en net wonderwerke soek. Is dit nie asemrowend nie? En onthou: Die Heilige Gees werk dieselfde gesindheid ook in ons!
In Galilea, gaan Jesus toe weer na Kana – die plek waar Hy by die bruilofsfees die water in wyn verander het. En dis net toe, wat daar ‘n sekere koninklike beampte na Jesus kom. Hy kom van Kapernaum – omtrent 35km van daar. 35 km was ‘n ver afstand in daardie dae – veral as jy dit te voet moes aflê.
Waarskynlik was hierdie man ‘n beampte van Herodus Antipas. Nie Herodus die Grote wie die seuntjies laat doodmaak het in die tyd van Jesus se geboorte nie. Hý het kort ná Jesus se geboorte gesterf. Antipas was een van Herodus die Grote se seuns en sy jurisdiksie was slegs oor ‘n beperkte area – hoofsaaklik slegs Galilea. Dit was hierdie Herodus wat Johannes se kop laat afkap het en wat nog in die omgewing was tydens Jesus se kruisiging.
Die probleem met hierdie koninklike beampte was dat sy seun ernstig siek was in Kapernaum. Nou smeek hy die Meester om soontoe te kom om die seun te genees. In Galilea, ‘n streek waar die mense op wondertekens geteer het, was dit nie ‘n vreemde versoek nie. Op die oog af lyk dit of hierdie man ook maar net ‘n wonder-soeker is. En Jesus se antwoord bevestig dit: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle ook nooit glo nie.”
‘n Mens moet – tussen hakies – iets goed verstaan: Daar is 4 soorte ongeloof in die Bybel. Ons het al vier reeds in die eerste 4 hoofstukke van Johannes ontmoet. 1) Ongeloof wat slegs die wonderskoonheid van wie/wat Jesus Christus is moet ontdek, dan verander dit in geloof (byvoorbeeld die eerste klompie dissipels) 2) Ongeloof wat die woorde van die Here Jesus moet hoor en verstaan, dan verander dit in geloof (byvoorbeeld die Samaritane van Sigar) 3) Ongeloof wat ‘n wonderteken moet sien, dan verander dit in geloof (byvoorbeeld die Galileërs met wie Jesus hier praat) 4) Blatante ongeloof wat nóóit tot geloof kom nie, al gebeur wat ookal (byvoorbeeld die Jode wat alles wat Jesus doen en sê aan die duiwel toeskryf).
Op die oog af lyk dit of hierdie man ook behoefte het aan wondertekens en wanneer die Here Jesus hom so half afjak en sê: “Julle sal ook nooit glo as julle nie wonders sien nie”, dan TOETS Jesus hom eintlik. Kyk net, hy antwoord glad nie op Jesus se afjak nie, maar kom net wéér met sy dringende versoek. Hy is desperaat. Hy gooi sy vertroue oor op Christus, maak nie saak hóé hy afgejak word nie! Hy is vasberade. Byna soos die Kananese vrou in Matteus 15.
Hou nou mooi dop wat gebeur: Jesus begin nie die 35 km reis na Kapernaum toe nie. Hy gee die man net een belofte/toesegging: “Jou seun leef”. Die man neem Jesus daar en dan op Sy woord en die bewys daarvan is dat hy huistoe gaan. Sy seun is gesond en hy gaan huistoe. By die huis gekom vind hy dat sy seun genees is op dieselfde moment wat Jesus hom die toesegging gegee het! Dit bring hom tot dieper vertroue en lei tot sy hele huisgesin se bekering.
Kyk weer: Belofte/toesegging (gaan voorop) > glo (haak aan belofte) > aksie ASOF…. > beleef realiteit.
Ek kan nie beskryf hóé belangrik hierdie Skrifwaarheid is nie. Dit is die manier hoe ‘n mens op ‘n geldige wyse kontak maak met die onsigbare koninkryk van God (geestelike realm): Belofte > glo > aksie > belewenis.
Ons sien dit in die OT geïllustreer wanneer die volk Israel by die Jordaanrivier kom, gereed om die beloofde land in te gaan. God het beloof dat Hy hulle deur die Jordaan sal neem, maar die water vloei volsterkte. Hoe nou gemaak? Eers biduur hou en God aan Sy beloftes herinner? Nee, die Leviete wat die Ark dra en wat voor stap begin net eenvoudig in die water inloop ASOF dit droog is. Tóé beleef hulle hoe die water opdam en ‘n wal vorm die rivier droog word (Josua 3).
Meesal verstaan mense nie wat geloof is nie. Mense dink dit is die mens se aandeel aan die verlossing. Dit is die deeltjie (1%) wat die mens moet bydra. Dit sou egter beteken dat Christus ons nie volkóme verlos het aan die kruis nie! Eerder is geloof die leë hand waarmee ons die volle verlossing in Christus (wat Hy aan ons toesê) lontvang.
Uit die bloute en onverdiend géé Jesus hierdie man van Kapernaum net een woord: ‘n belofte/toesegging: “Gaan, jou seun lewe.” Slegs dit. ‘n Goddelike belofte is nie ‘n onsekere onvervulde hoop dat iets iewers in die toekoms sal gebeur nie. ‘n Belofte van God is reeds ‘n werklikheid omdat Hy lewe! Omdat Hy dit gesê het. Die hele Bybel is ‘n genadige belofte. Die belofte: “God het jou die ewige lewe in Sy Seun gegee.” (saamgevat in 1 Joh 5:11). Dit is die kleed waarin Christus altyd oor en oor na ons toe kom. Beloftekleed. Dit is Sy werksmetode. Hy volg altyd hierdie metode.
Tussen hakies: As jy wil weet wát hierdie belofte (wat die hele Bybel is) is, kyk na die Twaalf Artikels. Dis ‘n kernagtige opsomming van Sy belofte/toesegging van hóé Hy jou verlos het:
God het Hom as Vader aan jou verbind 2) God het Sy Seun Jesus as HERE oor jou lewe aangestel 3) Jesus se geboorte bedek jou skuld 4) Jesus se lyding onder Pontius Pilatus verlos jou van ewige geestelike lyding onder Gods toorn 5) Jesus se sterwe, begrafnis verlos jou van ewige dood 6) Jesus het ter helle neergedaal sodat jy nooit daar sal kom nie 7) Jesus se opstanding gee jou die nuwe lewe 8) Jesus se wederkoms is jou toekoms 9) Die Heilige Gees is in al Sy volheid aan jou gegee 10) Die HG maak jou deel van kerk 11) Die HG verseker jou van sondevergifnis 12) Die HG verseker jou van jou fisiese opstanding en ewige lewe.
Sien u dat dit presies dieselfde werksmetode is wat Jesus volg in hoe Hy met hierdie man werk? Sy belofte gaan voorop: “jou seun is gesond.”
Wat doen die man? Hy GLO hierdie Woord van Jesus en hy GAAN na die seun toe. Hy ag die belofte betroubaar en waar. Hy neem dit aan. Hy glo die belofte is alreeds ‘n realiteit. En, onmiddelik bewys sy dade dat hy glo: Hy GAAN na die seun toe, wetende dat hy leef.
Toe hy in Kapernaum kom, merk hy dat die seun herstel het op dieselfde oomblik as wat Jesus die woord gegee het. Let op: dit het gebeur op die oomblik toe Jesus die woord gegee het en nie toe die man geglo het nie!! Die vastigheid lê dus in die belofte en nie in die geloof nie! Daarop kan ons altyd weer terugval. Geloof is nooit eerste nie en dit vermag absoluut niks!! God se belofte is eerste en vermag alles. Die vastigheid van Sy trou – dís wat eerste is. Dit is – tussen hakies – die rede waarom (in die OT) babatjies van 8 dae oud – wat nie kón glo nie – vir eeue en eeue lank die gelóófsteken (Rom 4:11) vd besnydenis ontvang het! Dit was om te illustreer dat God se belofte-wat-alreeds-waar-is (wat deur die sigbare teken gewaarborg is) vóórop gaan en nie die mens se geloof nie.
Soms faal ‘n gelowige se geloof so erg. Wat dan gemaak? Soms oorval hewige twyfel die gelowige. Soms kom daar twyfel óf die Bybel werklik die enigste waarheid is. Ons ontmoet mense wat in totale ongeloof leef, maar hulle is so oulik, fatsoenlik, ordentlik, respektabel. Doen geen vlieg kwaad. Dan wonder ons: is hulle regtig so verkeerd? Sal sulke mooi mense werklik verlore gaan buite Jesus? Is ons ooit reg. Is die Skrif die enigste waarheid?
Twyfel en swakheid kan ‘n gelowige baie skielik aangryp. Die ware geloof is maar baie broos. Of dalk is daar sondes waarmee geworstel word. Sukkel so opreg en ernstig, maar dit lyk asof daar nie lig deurbreek nie. Hoe nou? Is ek dalk vals? Is ek dan ‘n huigelaar? Is my geloof vals? Hoe kom ‘n mens weer uit ‘n moeras uit?
Dan is ons Skrifgedeelte ‘n bemoediging. Om te mag weet: my ewige sekuriteit lê vasgeanker in God se beloftewoord. Heeltemal rotsvas – buitekant myself – geanker in Hom! My geloof vertrou dáárop, al is dit soms hoe swak. Ek kom juis weer uit my twyfelmoeras uit, deur weer terug te gaan na Hom en Sy Woord – soos dit persoonlik aan my gewaarborg is in – nie my besnydenis nie – maar my doop. Die enigste krag van verlossing lê in Hom en Sy Woord.
‘n Mens wat worstel, moet juis weer gaan LUISTER na die Woord. Geloof beteken om te LUISTER. ‘n Luisterhouding bring ook uiteindelik die egte geestelike ervaring mee!
Dink aan hoe ons soms die erediens benader (daar waar die Belofte verkondig word). Die erediens raak ons soms nie. Dit laat ons koud. Want, ons verwag dat die predikant deur ‘n pakkende preek ons in beweging moet bring. Die erediens moet so ingeklee word dat dit fantasties is. Iets moet gebeur. Ons wil voel dat ons getref word. U sien: ons plaas die ervaring eerste.
Maar, hoe wil die Gees werk? In OT tabernakel-erediens, was alles verborge vir die volk. Hulle kon nie eens binne-in die tabernakel sien nie! Waar kon jy meer droog en vaal kry? Hulle moes GLO wat die Levitiese priesters verkondig! Die Gees wil dus geloof skenk aan die aandagtige luisteraar. Die een wat, tydens die erediens, ingefokus is op die belofte vd Evangelie wat verkondig word! Dáár werk die Gees in harte die geloof. Só ontstaan ook meteens die egte ervaring! Terwyl ‘n mens LUISTER na die verkondiging, kom die Gees om jou harde hart sag te maak. Om lig in duisternis te laat skyn. Om dood met lewe te vervang. Hy werk dan die geloof wat CHRISTUS vasgryp en sê: “Ek is ook Syne, want Hy het my op die kruis Syne gemaak. Hy beloof dit dan swart-op-wit!”
Ware geloof laat nie vir Christus op ‘n afstand bly om bewonder te word nie – soos Nasaret se mense gedoen het nie! Soos ‘n mooi ornament in jou vertoonkas nie! Nee, ware geloof maak HOM jou eie ómdat Hy éérste aan jou beloof het dat Hy jou Syne gemaak het op die kruis! Dit lei eventueel tot egte belewenis, ervaring, emosie ensovoorts.
Mag die Here hierdie Skrifwaarhede vir ons lewend maak in ons daaglikse ervaring.