Skrif: Johannes 4: 1-42

Groot is die versoeking om te dink dat dit in Joh 4 oor die bekering van die Samaritaanse vrou gaan. Joh 4 is inteendeel niks minder nie as ‘n openbaring van die majesteit van ons Here Jesus Christus: hoe Hy wegvlug van enige roem wat dalk na Sy kant toe kon kom, hoe Hy binne Sy Vader se tydskedule beweeg, hoe Hy die uitverkorenes onweerstaanbaar roep & verlos, hoe Hy mure van skeiding tussen mense afbreek en grense oorsteek, hoe Sy liefde nie bepaal word deur hoe sleg die mens is nie, hoe Hy die randfigure vd samelewing opsoek, hoe Sy reddingsgenade sterker is as die mens se weerstand, hoe Hy die mens se binneste en verlede ken, hoe die verlossing van één mens Hom meer versadig as wat voedsel kan doen, hoe Hy in beheer is, hoe Hy lewens impakteer ensovoorts.. dit alles en nog baie meer is in Joh 4 ingebed. Vers 26 is die kern: “Dit is ek. Ek is die Messias wat sou kom.” Daar is soveel krag in hierdie Christus dat Hy die onverskilligheid, die onkunde, godsdienstige verwardheid, immoraliteit, selfgesentreerdheid en materialisme vd menslike hart totaal oorwin. Al hierdie dinge was in die Samaritaanse vrou se hart.

Die gevalle natuur vd mens hou daarvan om raakgesien te word/ om “iets” te wees. Maar wanneer Jesus verneem dat mense dink dat Hy suksesvol is, gee-pad Hy Galilea toe (v 3). Net wanneer mense Hom in die kollig kan plaas, verdwyn Hy. Letterlik staan daar: Hy MOES deur Samaria gaan.

Wel, geografies moes Hy, want die pad het so geloop. Maar die Jode het die Samaritane só gehaat dat hulle ‘n ompad ontwerp het om nié deur Samaria te gaan nie. Na regte moes Jesus dus – as Jood – die ompad gevat het wat al die Jode gereis het. Maar, Hy wou nie omdat Hy vir die Jode ‘n boodskap gehad het. ‘n Boodskap waarvoor hulle Hom sou verag het, naamlik dat Hy die haat en vyandskap tussen hulle en die Samaritane veroordeel. Daarom gaan Hy nie met die Jode se ompad nie. Daarom MOES Hy deur Samaria gaan.

Daar was egter ‘n ander rede waarom Hy deur Samaria MOES gaan en dit was dat daar ‘n goddelike afspraak was wat nagekom moes word. Daar was ‘n veragte, uitgestote Samaritaanse vrou wat tot redding moes kom en so-ook ‘n hele klomp inwoners van Sigar. Die Vader het hulle voor die skepping reeds aan die Seun gegee en nou móés hulle Hom ontmoet. Hy MOES deur Samaria gaan. Volgens God se tydskedule móés Hy! En Hy móés ‘n vereensaamde vrou gaan ontmoet, wat uitgestoot was deur haar familie & vriende.

Ek wens ek het die tyd & vermoë gehad om vir u te verduidelik wat hierdie aksiestap van Christus alles ingehou het. Dit het die Jode se vooroordele, haat, vyandskap, bygelofies, tradisies, vormgodsdiens, rassisme & diskriminasie absoluut blootgelê vir wat dit regtig was!

Laat ek begin deur vir u te sê wie/wat die Samaritane was. Die Samaritane en Jode was half-broers. In 740vC het die Assiriërs die 10 noordelike stamme van die volk van Israel in ballingskap weggevoer – vanwaar hulle nooit weer teruggekeer het nie. Maar, die Assiriërs kon dit nie regkry om ál die Israeliete weg te voer nie. Daar het ‘n klompie agtergebly en húlle het ondertrou met ander nasies en uiteindelik die Samaritane geword. Hulle het die ware geloof verwerp. Hulle het byvoorbeeld die hele OT, behalwe die eerste 5 boeke, verwerp. Die gevolg was dat die Jode van die suide – wat in Jerusalem die ware geloof in stand gehou het – hierdie Samaritaanse mengelmoes verag het. Hulle het die noordelikes net nie meer as mede Israeliete aanvaar nie.

Gaandeweg het die haat en vyandskap en diskriminasie skrikwekkende afmetings aangeneem. Dit is waarom die Jode die ompad ontwerp het sodat hulle nooit deur die landstreek van Samaria hoef te gereis het nie. Hulle het ook allerlei wette & reëls gehad wat hulle diskriminasie regverdig het. Byvoorbeeld: Wanneer daar ‘n muur omgeval het en ‘n Jood stap verby en hoor ‘n gekreun onder die klippe, moes hy die klippe verwyder totdat hy kan sien op wíé die muur geval het. Indien dit ‘n Samaritaan was, moes hy die klippe terugpak, die Samaritaan vervloek en verder stap. U sien in watter haglike toestand die Jode en Samaritane se verhouding was.

Voeg nog hierby die posisie wat ‘n vrou (laat staan nog ‘n Samaritáánse vrou) in die destydse samelewing gehad het. ‘n Man mag nie in die openbaar met ‘n vrou praat nie. Nie eens met sy eie vrou of dogter nie. Die enigste uitsondering: eie ma. Verder mag ‘n man nie met eetgerei eet of uit ‘n beker drink wat ‘n vrou gebruik het nie. ‘n Godsdienstige leier mag glad nie met ‘n prostituut of ‘n vrou van twyfelagtige moraliteit praat nie.

Sit al hierdie dinge bymekaar en kyk wat doen die Here Jesus: Hy verbreek letterlik élke reël en élke muur van skeiding. Hy reis nie met die Joodse ompad nie, maar gaan reguit deur Samaria. Dink die reaksie van die inwoners van Sigar toe die geselskap Joodse mans (Jesus en Sy klompie volgelinge) daar aankom! Hulle het digby die stuipe gekry! Daarby reik Jesus uit na ‘n uitgestote vrou wat nie net ‘n klompie keer geskei was nie, maar in ‘n saamwoonsituasie was met ‘n man met wie sy nie getroud was nie. En as Rabbi mog Hy nie met só iemand praat nie! Voeg nog daarby dat Hy bereid was om water uit haar beker te drink. Verskriklik. En die ergste van alles natuurlik: Dat Hy ‘n Jood was en sy ‘n Samaritaan. Dat Hy ‘n man was en sy ‘n vrou.

Jesus haat diskriminasie. Hy breek mure van skeiding. Hy veroordeel dit. Hy verbrysel vyandskap en haat en vooroordele. Bo alles: Hy het lief. Hy het lief. En Sy liefde stel nie voorwaardes nie. Menslike liefde sê: “ek het jou lief want ek hou van wie/wat jy is.” God se liefde sê: “Ek het jou lief op grond van wie/wat EK is.”

Ons sien ook so pragtig vir Jesus hier in Sy ware, egte mensheid: Hy is warm, moeg, dors en sit by Jakob se put – op die grond wat Jakob vir Josef gekoop het en waar Josef begrawe was.

Dis toe dat die vrou daar aankom om water te haal. Die dissipels is intussen Sigar toe om te gaan kos koop. Waarom sou sy ‘n kilometer ver uit die dorp stap om water te kry? Wel, dit wys vir ons hóé uitgestote sy was. Sy was verworpe.

Onmiddelik begin die Here grense oorsteek en mure afbreek. Hy het nie ‘n skepding nie, daarom vra Hy vir haar ‘n bietjie water om te drink. Sy is uit die veld geslaan. Hy is ‘n man. Hy is ‘n Jood. En Hy praat met haar! “Jode en Samaritane gaan nie met mekaar om nie.” Grieks vir “omgaan” beteken: “om saam te gebruik”. Sy sê dus: “Jode en Samaritane gebruik nie iets saam nie.” Sien, sy kon nie glo dat Jesus bereid was om haar beker saam met haar te gebruik nie! Maar Hy vernietig alles wat skeiding maak tussen mense. Wat ‘n liefde!

Maar hou nou dop wat gebeur: Aanvanklik is Jesus die dorstige en die vrou beheer die bron van water. Skielik word sý die dorstige en Hý is die bron van lewende water. Die Fontein kom vra vir die Samaritaanse vrou iets te drinke en verklaar dan dat sý eintlik nodig het om by Sý fontein te drink! “As jy geweet het watter geskenk God gee en as jy geweet het Wie dit is wat nou met jou praat, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” (v 10). So eenvoudig soos dit. In daardie woorde is die hele Bybel saamgevat.

Dis egter duidelik dat sy nie verstaan nie en dink die Here praat van fisiese dors en water. Daarom sê Hy: “Ja, drink ons hierdie water uit Jakob se put sal ons weer dors kry. Maar die water wat EK jou sal gee om te drink sal veroorsaak dat jy in ewigheid nooit weer dors kry nie. Dit sal binne-in jou ‘n fontein wees wat opborrel en jou die ewige lewe gee.”

Haar ore moes behoorlik getuit het. As half-Jood het sy ook geweet en geglo dat die Messias eendag sal kom. En wat sy hoor wil-wil klink of dit te goed is om waar te wees. Maar dit dring nog nie deur nie. Daarom is daar nou een ding nodig: sy moet haar nood besef. Sy moet sondebesef ontwikkel. Sy moet geestelike dors ontwikkel. Sy moet besef dat sy verlossing nodig het.

Daarom druk die Heiland met Sy vinger binne-in haar groot seer. “Gaan roep jou man en dan kom julle hier.” Wetende dat sy in ‘n saamwoonsituasie is. Hy weet egter als van haar. En sy raak al hoe meer benoud. Met wíé het sy hier te doen? “Ek het nie ‘n man nie” fluister sy.

“100% in die kol” antwoord die Meester. “Jy praat die reine waarheid, want jy is 5 keer geskei en jy is nie getroud met die man met wie jy nou saamleef nie.” U sien, Hy wil haar haar dors laat besef. Sy moet haar sonde-nood en skuld ontdek. Dit moet haar uitdryf na die lewende water. Wie sal tog water drink sonder ‘n besef van dors?

Sy raak koud van haar kop tot by haar tone. Sy besef Jesus weet alles van haar lewe. Om egter níé haar sonde te erken en in te breek nie (want haar ingebore hoogmoed verhoed dit), gryp sy na ‘n godsdienstige strooihalm. Want kyk, sy ís darem godsdienstig. Sy besef Jesus is ‘n rabbi of iets. En die Jode sê mos die ware aanbidding kan nét in Jerusalem by die tempel geskied. Dalk, as sy nou ‘n argument met Hom dáároor kan uitlok, dan kan sy Sy aandag weglei van haar sonde af. O ja, sy besef dat sy haar sonde moet regmaak, dus waar sal sy gaan aanbid om dit te doen: waar die Samaritane gaan of in Jerusalem?

So tipies van ons almal nie waar nie? Soos Adam agter selfgemaakte vyeblare skuil toe God hom roep. Pleks van om in te breek en oop kaarte te speel en van die Here Jesus lewende water te drink – nee – wat doen ons? Ons raak al hoe meer godsdienstig! Raak al hoe meer aktief in die kerk. Vlug in godsdiensdienstigheid in, pleks van na Jesus self! Die menslike hart is uiters slu en skelm. Godsdiens is nie die oplossing vir ons diepste nood nie. Die lewende Persoon van Jesus Christus is die oplossing.

Jesus sê vir haar: “Weet jy, binnekort gaan dit nie ‘n dooie duit saakmaak wáár jy aanbid nie. God is Gees. Hy is nie aan ‘n plek verbonde nie. Binnekort gaan alle ware aanbidders/kinders vd Here Hom in Gees en waarheid aanbid. Dit is ware aanbidding. Om – met die kristalheldere waarheid vd Woord v God as fondament onder jou voete & die Heilige Gees wat in jou woon en wat jou lei in gebed – te aanbid. Dit het absoluut niks met godsdiens en moets & moenies te make nie. Dis wáre godsdiens waar jy Mý ken, van mý lewende water gedrink het en die Heilige Gees die beheer oor jou lewe oorgeneem het en jy die Waarheid vd Woord die begronding van alles maak. Binnekort gaan die voorhangsel in die tempel skeur, dan is dit verby met tempels & plekke & rituele & feeste & offers ….

Ná alles breek die lig egter nog nie ten volle tot die vrou deur nie. Sy is steeds verward. Sy sê: “wel, hoe dit ookal sy, een ding weet ek: Die Messias gaan kom en Hý sal vir ons alles klinkklaar duidelik maak.” Onthou sy was half-Joods en het ook geweet van die beloofde Messias.

En dan die dinamiese konfrontasie: Jesus sê: “Jy is 100% reg. Dis die Messias wat nou hier voor jou staan. Dis ek wat met jou praat.”

Op daardie oomblik kom die dissipels terug van die dorp af – stom verbaas dat Jesus met ‘n vrou praat. Maar sy los haar kruik net daar (vir Jesus om te drink, want dis wat Hy aanvanklik gevra het) en hardloop dorp toe om vir die mense te gaan vertel Wie sy ontmoet het. Toe Jesus sê: “Ek is die Messias”, moes die skille plotseling van haar oë afgeval het, want haar reaksie wys dat sy die nuwe lewe ontvang het. As ‘n mens spontaan wil begin om mense by die Here te kry en ‘n brandende begeerte ontwikkel dat mense gered moet word, is dit gewoonlik ‘n goeie aanduiding dat die lig vir jou opgegaan het. Ook so in háár geval. In daardie kultuur het ‘n vrou nie sommer vir mense – waar daar mans teenwoordig is – gaan bydam met mededelings nie. En onthou, sy was ‘n uitgestotene. Daarby is daar nie aan vroue as sulks se getuienisse veel waarde geheg nie. In daardie kultuur is vroue nie eens toegelaat om in ‘n hof te getuig nie. Maar skielik het hierdie vrou groot vrymoedigheid en gaan skaamteloos aan die babbel. Die lig het beslis deurgebreek. Die onweerstaanbare genade, krag en werking van die Here Jesus, het haar weerstand afgebreek, haar onkunde opgeklaar en haar hart oorwin.

Ons moet baie mooi na verse 27-42 kyk, want daar sien ons dat Jesus régtig die Messias is. In vers 26 sê Hy vir die vrou dát Hy die Messias is. En in vv 27-42 word dit duidelik dát Hy dit inderdaad is. Dis so pragtig om dit te sien. So ryk en so kragtig. Ek wys u net kortliks daarop:

1 Jesus is regtig die langverwagte Messias/Christus, want kyk hoe beheers Hy alles. Die dissipels arriveer presies op die regte oomblik nét toe Jesus aan die vrou bekendmaak Wie Hy regtig is. Hulle moes dit hoor. En hulle moes sien hoe Hy na ‘n heidense vrou uitreik en dat die verlossing nie meer net vir die Jode is nie. Hulle moes sien hoe Hy die grense oorsteek en skeidingsmure tussen mense afbreek. Het hulle ‘n minuut later gekom, was die vrou al weg. Het hulle ‘n minuut vroeër gekom, het hulle die klimaks van die gesprek verongeluk. Hulle reistyd is deur Hom beheers. Hy beheers als. Hy is regtig die Messias!

2 Jesus is regtig die langverwagte Messias/Christus, want kyk hoe impakteer Hy die Samaritaanse vrou se lewe. Haar skuldgevoel is weg. Haar sonde is weg. Haar verlede is weg. Sy gaan vertel vir die mense in Sigar: “hierdie man het vir my alles vertel wat ek gedoen het.” Sjoe, mens sou dink sy sou liewer ‘n gordyn oor alles wil trek, want die mense het haar in elk geval juis dáároor verwerp. Maar sy is net eenvoudig vry. Sy is bevry. En sy trek baie mense uit die dorp na Jesus toe en hulle kom tot geloof (v 39). Die dissipels was ook in die dorp, maar hulle bring niemand na Jesus nie. Maar die vrou bring báie. Die Heilige Gees bekragtig haar, want andersins sou niemand hulle aan haar steur nie. Wat ‘n omwenteling in een mens se lewe! Sy is geïmpakteer. Dit bewys dat Jesus regtig die Messias is.

3 Jesus is regtig die langverwagte Messias/Christus, want daar is ánder dinge wat Hom versadig as gewone kos. Toe die dissipels aandring dat Hy iets eet, sê Hy vir hulle dat Sy voedsel is om Sy Vader se wil te doen, naamlik om die uitverkorenes te verlos – soos byvoorbeeld die Samaritaanse vrou. Haar verlossing, dís Sy voedsel. Dít versadig Hom – om te sien hoe die lig vir iemand opgaan. Dit tel meer punte as om elke etenstyd aan tafel te wees. Wat Sy honger stil, Sy dors les, Sy moegheid wegneem – is om iemand tot geloof te sien kom. Dit oortref alles by verre.

4 Jesus is regtig die langverwagte Messias/Christus, want Hy sien dáár waar Sy dissipels nog nie kan sien nie. Daar is ‘n oes van siele wat uit Samaria ingebring moet word waarvan die vrou net die eerste gerf is. Wat die dissipels nie kon sien nie, was hoe die mense uit Sigar stroom om na Jesus te kom. Dít is die oeslande wat wit is vir die oes. Die fisiese oes op die lande kon nog nie ryp wees nie, die lande was nog groen, want dit was 4 maande te vroeg. Maar, die oes wat Jesus sien, is ryp. Want terwyl Hy so oor die groen lande kyk, sien Hy die Samaritane aankom met hulle spierwit klere. Die klere wat die Samaritane gedra het was wit. Hy sien die oes, terwyl die dissipels dit nog nie kon sien nie. Maar Hy sê vir hulle: Moenie hier sit nie, gáán, daar is ‘n oes wat ingebring moet word waaraan julle nie ‘n steek gearbei het nie. Dis alles God se werk. O, hoe baie voorbereide harte is daar nie daar buite nie, wat wag dat iemand Christus met hulle kommunikeer!

5 Jesus is regtig die langverwagte Messias/Christus, want kyk wat ‘n indruk maak Hy op die Samaritane (die witryp oes wat inkom). Hulle wil met alle mag hê dat Hy by hulle moet bly. In teenstelling met Sy grootword-dorp Nasaret waar almal negatief was. Dit was letterlik Jesus se woorde self wat die geloof in die Samaritane se harte geskep het. Vers 41: “baie meer het op grond van Sy woord geglo.” Die vrou se getuienis het hulle na Jesus gebring, maar Sy eie woord het hulle lewens verander. Sy woorde het skeppingsmag. ‘n Mens doen jouself ‘n guns om jou doelbewus onder Sy woorde te stel.

Kan ons twyfel dat Hy regtig die Messias/Christus is?

En kan ons twyfel dat Hy vandag nog dieselfde is en dieselfde doen? (Hebr 13:8).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00