Skrif: Johannes 3: 22-36
Ek lees van ‘n sekere leraar in die VSA wat ‘n baie suksesvolle bediening gehad het. Maar toe kom daar ‘n nuwe leraar by ‘n buurgemeente net laer af in die straat. Geleidelik begin die mense oorloop na die buurgemeente en die nuwe prediker toe. Gaandeweg raak die dienste leeg soos die mense wegloop na die buurgemeente toe. Een aand, by ‘n aanddiens, toe daar byna niemand teenwoordig is nie, sê die predikant toe: “Kom ons gaan vanaand almal na daardie gemeente toe en gaan ondersteun daardie man. Die Here seën en gebruik hom en dis duidelik dat die Here se hand op hom is. Daarom verdien hy ons ondersteuning.” Hulle het gegaan en die uiteinde van die saak was dat hierdie predikant en almal wat in sy gemeente oorgebly het, ten volle deel van die buurgemeente geword het! Wat ‘n stuk geestelike volwassenheid & Christusgesindheid! Onder totale beheer van die Heilige Gees.
Toe letterlik AL die mense van Johannes die Doper af wegloop om na Jesus se bediening oor te gaan (v 27) & toe Johannes besef dat sy bediening verby is, toe sê hy: “Nou is ek met blydskap vervul. My vreugde ken geen einde nie. Hý moet meer word en ek minder.” (3: 29-30).
Kyk, so iets is hoegenaamd nie eie aan “koning mens” se ingebore natuur nie! Om al hoe meer opgewonde & vreugdevol te word namate iemand ánders in die kollig kom en jyself in die niet verdwyn! Die strooijonker verdwyn en die bruidegom verkry die kollig. Die stem van die bruidegom het die stem van die strooijonker vervang. Binne enkele maande sal Herodes se swaard die strooijonker se stem finaal stil maak. Jesus is die bruidegom en Johannes die Doper is die strooijonker/vriend vd bruidegom.
En wat is Johannes die Doper se respons? Oorweldigende vreugde. Ons logika sê: Hoe meer ekself word en hoe minder iemand anders word, hoe meer word my vreugde. In werklikheid is dit net andersom. Wanneer die Heilige Gees die beheer oor ‘n mens se lewe oorgeneem het, beleef jy wat Johannes die Doper beleef het: Hoe meer Jesus word en hoe minder jy word, hoe groter jou vrede en blydskap. Dit is die werking en vrug vd Heilige Gees wat iemand soos Nikodemus byvoorbeeld nie beleef het nie, maar Johannes die Doper wel: die wind waai waar Hy wil…
Dit is natuurlik baie maklik om hier te sit en te dink: “Maar natuurlik is ek bly om minder te word sodat Christus meer word.” Dis die regte soort ding om in die kerk te bely. Klink so vroom. Maar, in die praktyk werk dit dikwels anders. Wanneer ons beproef word of onregverdig van goed beskuldig word of besteel word en ons eie-ek word in ‘n blik gedruk, dan kom ons baie gou agter hoe graag ons méér wil word i.p.v. minder. Maar dit is die getroue Heilige Gees wat in/met ons werk om ons innerlik totaal te verander. En hoe briljant is dit om te kan agterkom: “ek verander regtig! Dis nie sommer net praatjies nie. Die Here leef!”
Maar laat my nou eers toe om vir u te verduidelik wat presies in hierdie paragraaf aangaan, want dit is tog belangrik om dit te verstaan.
Joh 3: 22-36 funksioneer as ‘n soort brug. Dit wys vir ons hoe die oorgang plaasgevind het vanaf die Ou Testamentiese bedeling (waarvan Johannes die Doper die laaste profeet was) en die Nuwe Testamentiese bedeling (waar alle fokus op Christus is).
Joh 3: 22-36 wys vir ons hoe Jesus met opset doelbewus gekom het en – waarskynlik nie ver van waar Johannes die Doper besig was nie – ook begin het om mense te doop. Nie net begin die meerderheid mense toe na Jesus oorgaan nie, maar daar ontstaan ‘n stryery/ stuk konflik, want mense sien die dopery en dit herinner hulle aan die Joodse reinigingsrituele wat almal goed geken het. Die Joodse reinigingsrituele het gewoonlik plaasgevind waar daar heelwat water was, want die mense is somtyds in die water gedompel en ander kere met water begiet, afhangende vd omstandighede. Die kruike by die bruilofsfees in Kana was juis hiervoor gebruik (sien 2:6). Johannes die Doper en Jesus se dopery het die Jode sterk híéraan herinner. En nou wil hulle weet wat Johannes en Jesus se dopery beteken. En veral: waarom beide Johannes en Jesus (eintlik Sy dissipels vlgs 4:2) doop. Wie s’n is nou die belangrikste? Wie is reg? Waarom beide?
Hierdie stryery is presies wat Jesus wou gehad het, want nou sal die oorgang plaasvind wég van Johannes die Doper af ná Jesus toe. En dit is dan ook presies wat gebeur. Meer en meer mense stroom na Jesus toe en Johannes die Doper besef dat sy bediening verby is en hy gee sy laaste boodskap. Die Ou Testamentiese bedeling is nou finaal verby. Die nuwe het gekom. Die vervulling van álles waarna die OT bedeling vooruitgewys het, staan nou lewensgroot voor hulle oë: Jesus van Nasaret.
Die woorde waarmee Johannes die Doper reageer op die mense se stryery oor sy en Jesus se dope, is terselftertyd ook Johannes se afskeidsboodskap. Sy laaste woorde. En dit is woorde van OORGANG – oorgang na die nuwe bedeling.
En in Johannes die Doper se woorde, sien ons die skerp kontras met die vorige paragraaf waar Jesus met Nikodemus oor die wedergeboorte gepraat het. Want alles wat nie vir Nikodemus sin gemaak het nie, wat hy nie verstaan het nie en nie beleef het nie en nie geken het nie, juis dit verstaan/beleef/besit Johannes die Doper. Die vrug/uitwerking van die wedergeboorte en die resultaat van die werking van die Heilige Gees is so duidelik sigbaar in Johannes die Doper, want die reuse groot eerste liefde & prioriteit & fokus van sy lewe is Jesus! Of sy eie gemeente leegloop en almal na Christus oorgaan, skeel hom min. Dit is mos hoe die Heilige Gees werk. Hyself bly op die agtergrond, maar Hy stoot met alle mag vir Jesus op die voorgrond. En wanneer die Gees van u en my lewe besitneem, dan gebeur presies dít in ons lewens. Die massiewe groot eerste liefde en fokus en prioriteit van jou lewe word Jesus en alles wat oor Sy koninkryk gaan. Dit is die groot merkteken dat die Heilige Gees in iemand se lewe ingekom het.
Hou nou net dop hoe reageer Johannes die Doper op die stryery wat aan die gang is:
Hy sê: “’n Mens kan niks aanneem (besit geen bevoegdheid om iets te doen NAV) as dit hom nie uit die hemel gegee is nie. Die rede waarom almal na Christus stroom, is omdat God hulle aan Hom gee. Wat het jy wat jy nie ontvang het nie? (1 Kor 4:7). Wat ons is wat ons is deur die genade/geskenk van God (1 Kor 15:10). Buitendien, dit kom mý nie toe om die bruid (kerk van gelowiges) te hê nie. Dit kom die bruidegom toe. Ek is maar net die strooijonker/vriend van die bruidegom. Julle weet mos hoe werk dit hier in ons Hebreeuse kultuur. By die huwelikseremonie neem die strooijonker die bruid se hand en plaas dit in die bruidegom se hand en eers dán mag die bruidegom praat. En die strooijonker verdwyn net. Sy taak is dan voltooi. Hy sit nie en huil omdat die bruidegom die bruid het nie. Sy taak was dan juis om die bruid se hand in die bruidegom s’n te sit. Dis al wat ek – Johannes die Doper – moes kom doen. Noudat ek sien hoe die bruid na die bruidegom toe gaan, verbly ek my mateloos. Want dít is waaroor alles gaan. Jesus se stem moet my stem vervang. Wanneer die bruid se hand in Syne is, sal Hy begin praat. En ek sal stil raak.”
Sien u waarom sê ek dat ‘n mens by Johannes die Doper alles sien wat níé by Nikodemus was nie. Jy sien die resultaat/uitwerking van die “waai van die wind”, die nuutmaakwerk van die Heilige Gees, in Johannes die Doper se algehele selfverloëning en sy fokus/blydskap wat in Christus is. Dit is glad nie eie aan die natuurlike mens nie.
Johannes die Doper sluit sy laaste boodskap af met 5 redes waarom ons Here Jesus Christus die Oppermagtige is (‘n mens kan dit gebruik in vandag se konteks waar so baie mense Jesus se Godheid en Sy volstrekte oppermagtigheid in twyfel trek):
1 Hy is van hemelse oorsprong (31). Hy kom direk van die hemel. Hy is bó almal en alles.
2 Hy ken die Waarheid eerstehands (32). Suiwer Waarheid van die troon van God af.
3 Sy getuienis is ten volle in lyn met wat God sê (33). Jy kan nie Jesus en God die Vader van mekaar skei nie.
4 Die Heilige Gees is ten volle op/in Hom (34). Hy besit die Heilige Gees sonder enige beperking.
5 Net omdat God so sê en God Hom die oppermag gegee het (35).
En nou kan die strooijonker nie anders nie. Hy sluit sy heel laaste boodskap af met ‘n ope uitnodiging (36). Hy verdwyn nie van die toneel af sonder om eers ‘n evangelistiese uitnodiging te maak nie. Want sien, jy kan maak wat jy wil, maar wanneer jy gekonfronteer word met wie/wat die Here Jesus Christus is, staan jy outomaties voor ‘n keuse. Sy oppermag maak ‘n appél op jou. Dit is onvermydelik.
Wat is die appél? Wat is die uitnodiging?
Kyk na vers 36: Van nature, vanaf die oomblik toe jy in moederskoot gevorm is, was die straf van God alreeds op jou. Jy hoef niks te doen om onder die straf te kom nie. Jy hoef niks te doen om ‘n ongehoorsame te word nie. Jy hoef nie van die pad af te dwaal nie. Jy kies nie om verlore te gaan nie. Jy kies nie tussen twee opsies nie. As mens uit Adam, is jy reeds ongehoorsaam en onder die straf en van die pad af.
Jou ewige redding is om wakker te skrik en jou toestand te besef en dan te ontdek dat Jesus jou volkome bevry het op Golgota se kruis. En jy dan jou vertroue op Hom oorplaas as enigste verlosser. Dan wéét jy dat jy die ewige lewe hét. Alles het nuut geword. Jou fokus verskuif soos Johannes die Doper s’n verskuif is.
‘n Mens se natuurlike reaksie is om te voel dat dit te goed is om waar te wees. Baie mense loop die ewige lewe mis omdat dit alles te eenvoudig klink. Of omdat hulle nie wil erken dat hulle onder Gods straf is nie.
Dit is waarom die Here ons die nagmaal gegee het – om vir ons met sigbare, persoonlike tekens te verseker dat die redding waar ís. Dis nie ‘n illusie nie. Soos die brood gebreek word, is Jesus op die kruis in my plek gebreek en soos die wyn geskink word is Sy bloed vergiet sodat myne nie vergiet sal word nie.