Skrif: Johannes 2: 13-22
Johannes-evangelie bestaan uit 21 lywige hoofstukke! Maar eintlik is daar net één lyn wat deurloop – één sentrale boodskap. Johannes se doel met sy skrywe is om aan te toon dat die 100% méns, Jesus van Nasaret, werklik GOD is, 100% gelyk met God die Vader!
Jesus is nie net ‘n goeie leermeester nie, want goeie leermeesters maak nie daarop aanspraak om God te wees nie. Jesus is nie net ‘n briljante voorbeeld nie, want briljante voorbeelde meng nie met sondaars, diewe en prostitute nie. Jesus is nie ‘n godsdienstige fanatikus nie, want fanatici besit nie sulke onvoorwaardelike liefde en heldere gedagtegang nie. Jesus is nie die produk van vroom mense se verbeelding nie, want sprokieskarakters het nie bloed om op ‘n kruis te stort nie. Jesus is nie ‘n godsdienstige bedrieër nie, want bedrieërs staan nie uit die dood op nie. Jesus is nie ‘n mite nie, want mites kan nie ‘n ganse mensdom se geskiedenis en kalenders bepaal nie.
Wie is Hy dan? Jesus is 100% God – wat in 100% menslike gestalte na die aarde gekom het om a) vir ons te wys wie/wat God regtig is en b) om almal wat die Vader aan Hom gegee het, vir tyd en ewigheid te verlos & te red. Dis Johannes die Apostel se passie om dít met ons te deel. Selfs in 2: 13-22, is dít die Apostel se passie.
In 2: 13-22 gaan dit oor twee goed: a) Ons Here Jesus se passie vir Sy Vader se eer en b) Ons Here Jesus se opstandingskrag. Ons sal nou sien wat dit beteken. Belangrik is om te verstaan dat ons dáárin sien dat Jesus waaragtig God is. Dat Hy die Seun van God is. Die síén daarvan, trek ons soos ‘n magneet na Hom toe!
Ná die wonderteken van die verandering van water na wyn – wat in die dorpie Kana plaasgevind het – het Jesus en Sy handjievol volgelinge vir ‘n kort rukkie na Kapernaum gegaan (2:12) en vandaar na Jerusalem waar dit byna die Joodse Paasfees was (2:13). Elke manlike Joodse persoon bó 12 jarige ouderdom moes daar wees. Daar is geleerdes wat reken dat daar op daardie stadium meer as 2 miljoen bymekaar was.
Hoe dit gewerk het is soos volg. Op ‘n gegewe datum – tussen 15h00 en 18h00 moes almal ‘n manlike lam slag en daarna is fees gehou. Dit is genoem die Pasgafees (“pass over”) om die nag te herdenk toe die doodsengel by alle huise waar daar ‘n lam geslag en die bloed aan die deurkoesyn geverf was, verbygegaan het en die eersgeborene nie gesterf het nie (Eks 12). Dit het daartoe gelei dat die Farao die volk Israel toegelaat het om uit Egipte te trek na die beloofde land Kanaän. Die groot uitredding. In die OT was hierdie reddingsgebeure-deur-offerbloed die gróót vooruitwysing na die uiteindelike redding deur Jesus se bloed. Hý was die finale Lam. En die fees is jaarliks gevier. Drie jaar ná híérdie fees in Johannes 2, sou Jesus self die Lam wees wat op die kruis geslag word op die presiese tyd wat die Jode die lammers slag.
Dit was dus vanselfsprekend dat Jesus en Sy volgelinge juis nou na Jerusalem sou gaan, want hulle moet ook aan die Pasga deelneem. Hulle was deel van die reuse skare van miljoene mans wat in Jerusalem saamgedrom het.
Omdat daar egter so baie offerdiere gekoop moes word en buitelandse Jode hulle geld moes wissel, was daar diegene wat hierdie gulde geleentheid gebruik het om geld te maak. Niemand wou diere oor lang afstande na Jerusalem bring nie. Hulle wou sommer daar koop. Met die gevolg dat dit ‘n miernes van mense, winkels en blêrrende diere was.
En wáár het al die bedrywighede plaasgevind? Wel, by die tempel! Die plek waar die fokus op God moes wees. Nie in die tempel sélf nie, want die eintlike tempel was twee kleinerige kamers wat genoem is die heiligdom en die allerheiligste. Dáár mog slegs die priesters kom. Maar in die buitehof – wat ook “tempel” was – sowel as die paleisgronde (wat eintlik een kompleks was) was dit ‘n miernes van koop en verkoop te same met die gepaardgaande geraas van mens & dier, malende massas, buitensporige winste, wedywering ens. ‘n Tipiese chaotiese markplein. En dit alles vlak by die allerheiligste waar die Shekinah-heerlikheid van die lewende God bokant die verbondsark teenwoordig was! Hier was nou ‘n fokus op geld, nie op God nie! Gierigheid, nie aanbidding. Mammon word in die Vaderhuis aanbid!
Dit is op hierdie situasie wat die Here Jesus afkom. En ‘n heilige toorn kom oor Hom. En toe, met onbeskryflike gesag & outoriteit, dryf Hy (man-alleen) met ‘n sweep almal uit. Bo-menslike vermoë. Hy maak die voorhof van die tempel skoon. “Vat hierdie goed hier uit en moenie van die huis van My Vader ‘n besigheidsplek maak nie.” Beslis nie die sagte liewe Jesus van die kinderbybels nie!
Wat presies daar afgespeel het, kan ons ons nie voorstel nie. Onthou, niemand het geweet wie Jesus is nie. Vir 30 jaar het Hy in Nasaret gewoon en nooit in die openbaar bedien nie. Sy openbare bediening het pas begin. Vir almal daar, was Hy net ‘n gewone man tussen duisende ander. Maar, met ‘n sweep in die hand, begin Hy net eenvoudig slaan. Hy begin links en regs moker – mense en diere. Almal loop deur. Nie diegene wat wou koop om te offer nie, maar diegene wat vérkoop het en wat op geld fokus in die plek waar daar aanbidding moes wees. En bó die geweldige geraas, skreeu Jesus: “Vat hierdie goed hier uit! En hou op om van My Vader se huis ‘n markplein te maak!!!” Hy moes ‘n ongelooflike stem gehad het. Met sóveel gesag, dat almal padgee! Mens kan jou dit nie indink nie. Mens kan jou nie voorstel met hoeveel majesteit & outoriteit die Meester hier opgetree het nie. Hy het as die gesalfde Messias opgetree en opgekom vir Sy Vader se eer wat deur die gepeupel in die grond vertrap is. En toe Hy optree, toe reageer die mense en gee hulle pad! Wanneer die Messías werk, dan bewéég mense!
Wat hier gebeur het, was natuurlik ‘n vervulling van die profesie in Maleági 3:1: “Die Here sal skielik na Sy tempel kom en wie kan standhou as Hy verskyn?”
Maar is die Here Jesus dan nie net een bol liefde en deernis nie? Mens kan jou nie voorstel dat Hy mense met ‘n sweep moker nie! Natuurlik is Sy wese liefde. Maar Hy is terselftertyd ook heilig. En mense is nie ontvanklik vir Sy liefde alvorens hulle nie hul sonde, skuld, ellende en nood ontdek het nie! Daarom gaan staan die Heiland nie tussen die blêrrende skape en begin die mense van God se liefde vertel nie! Maar Hy neem ‘n sambok en open hulle oë vir hulle behoefte aan verlossing. Hy wys hulle hoe hulle die Vader se eer skend, hoe min hulle Hom eerbiedig & vrees, hoe skynheilig en selftevrede hulle is waar hulle geld maak uit God se heilige dinge, hoe materialisties hulle is, hoe blind & afgestomp hulle is vir geestelike dinge. Die werklikheid van God se liefde is betekenisloos en dring nie tot ‘n mens deur alvorens jy nie ontwaak het vir jou eie persoonlike diepe sonde-ellende nie!
Maar let fyn op hoedat Jesus se ewige Godheid deurskemer in hierdie gebeurtenis. Ons sien dit in: a) die feit dat Hy so geweldig opkom vir Sy Vader se eer wanneer daar nie eerbied & vrees vir God is nie, b) die woordjies “die huis van MY VADER…” (v 16). Wie se Seun is Hy dus? Geen ander profeet het ooit só gepraat nie, c) die feit dat Hy die Maleági 3 profesie vervul. Hy is dus die langverwagte Messias!
Ons sien egter Jesus se ewige Godheid ook in Sy opstandingskrag, Sy mag oor die dood – waaroor slégs Gód beskik. Dit blyk uit die antwoord wat Hy die Jode gee wanneer hulle kom vra (in my eie woorde): “wie gee jou reg om dit te kon doen? Gee ons ‘n teken as bewys van jou outoriteit.” U sien?
Hulle het vermoed Hy is een of ander profeet. En omdat hulle ongelowiges/onbekeerdes was, wou hulle ‘n teken hê. Ongelowiges wil altyd tekens en wonders en aksie en beweging en roering sien. En aan die einde van Jesus se 3 jaar bediening – ná AL die tekens wat Hy verrig het – sê hulle: “Hy doen dit deur die duiwel”!! (Mat 12:24). Tipies van die onbekeerde mens: hy wil tekens sien en wanneer hy dit sien vind hy natuurlike verklarings vir als!
Die antwoord wat Jesus die Jode gee, is in versluierde taal wat hulle glad nie verstaan nie. Hulle het tewens 3 jaar lank absoluut niks verstaan wat Hy sê nie. Nou sê Hy vir hulle: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal ek hom oprig.” Daarmee verwys Hy na die werklike tempel wat Hy sopas gereinig het met die sambok, want deur ware aanbidding te vervang met handeldrywery, was hulle (onwetende?) besig om die tempel te vernietig.
Maar Hy verwys ook na die tempel van Sy eie liggaam (v 21). Geweldige diepsinnige woorde. In my eie woorde: “Wil julle ‘n teken hê? Ek gee julle híérdie teken: Deur die tempel te vernietig, vernietig julle My. Deur My te vernietig, vernietig julle die tempel. Julle sal mý liggaam vernietig. Maar, deur mý te vernietig sal julle julle eie tempel vernietig. Maar ek sal uit die dood opstaan en dan sal Ekself die nuwe tempel wees (“iemand groter as die tempel is hier”! Mat 12:6) EN sal ek ‘n nuwe tempel oprig: gelowiges versprei oor die hele aarde!” Ons kan nie vinnig oor hierdie woorde hardloop nie. Ek wil dit stadig verduidelik:
Ons Here Jesus het die tempel twee maal met ‘n sambok gereinig: Aan die begin van Sy 3 jaar openbare bediening (Joh 2: 13-22) en weer aan die einde van Sy bediening (die ander Evangelieverhale berig daarvan). Daar was egter min begrip en reaksie aan die kant van die kerklui. Tewens, aan die einde van Sy bediening praat Jesus van “júlle huis (tempel) sal ‘n puinhoop word” (Mat 23:38). Nie meer “my Vader se huis” nie. Twee keer – met ‘n 3 jaar periode tussen-in – het Hy die “huis” skoongemaak, sonder dat daar bekering gekom het. Toe sê Hy: “Dis nou klaar. Dis nie meer my Vader se huis nie.” En toe Hy kort daarna op die kruis sterf (toe die tempel van sy liggaam afgebreek word) toe is die fisiese tempel ook daarmee heen, want toe skeur die voorhangsel. En toe die voorhangsel skeur, is die tempelrituele en aanbidding vir ewig verby. En 70 jr later het die Romeine die tempel met die grond gelyk gemaak en dit is tot vandag nog nooit weer herbou nie.
Maar, op die 3de dag het Jesus uit die dood herrys en Sy opstanding het ‘n nuwe tempel in die lewe geroep… Hy het self die nuwe tempel geword, Immanuel God-met-ons. Deur Jesus het niemand meer nodig om ‘n pelgrimsreis na Jerusalem te onderneem om in ‘n aardse tempel te aanbid nie! En Sy wêreldwye gemeente/kerk van bekeerde gelowiges in wie die Heilige Gees kom woon het (1 Kor 3:16) het die tempel geword. Deur Sy opstandingskrag bou Hy ‘n nuwe tempel, nie waar nie? “Breek hierdie tempel af en ek sal hom in drie dae oprig.”
Maar, die Jode verstaan nie wat Hy sê nie. Vers 20: “Ses en veertig jaar is daar aan hierdie tempel gebou en U sal dit in drie dae oprig!??” Drie jaar later, toe Jesus valslik beskuldig word voor Pilatus, het die Jode nog weer hierdie woorde voor Sy kop gegooi. Hulle het absoluut niks verstaan nie.
Maar weet u, ook Jesus se handjievol volgelinge (Johannes, Petrus, Andreas, Natanael, Filippus) het dit nie verstaan nie. Toe hulle sien hoe Hy die mense pak slae gee, het hulle selfs bang geword, want hulle het aan Dawid gedink – hoe Dawid ook verteer was met ‘n passie vir God se huis en hoeveel moeilikheid en teenstand hý gekry het as beloning vir sy ywer (vgl vers 17 met Psalm 69:10). Hulle kon nie anders as om te vrees vir wat met Jesus gaan gebeur (en met hulleself) nie. Hulle het ook maar nie regtig geweet wat aangaan nie, ten spyte van die wonderteken wat die Here net kort te vore (voor hulle oë) in Kana verrig het en ten spyte van die geloof wat tóé in hulle harte wortel geskiet het.
En nou, toe Jesus praat van die afbreek & oprig van die tempel, het hulle dit vir drie jaar lank nie verstaan nie. Dit was eers ná Sy opstanding wat hulle weer aan Sy woorde gedink het en tóé het die lig vir hulle opgegaan. Tóé – ná Jesus se opstanding (v 22). Tóé kon hulle Sy woorde in verband bring met die OT Skrif (bv Pss 16, 22). En toe verstaan hulle. Wat ‘n geweldige krag het die lewende opgestane Jesus nie in ons lewens nie!
Dit is die lewe van die opgestane Here Jesus wat in elke kind vd Here werk (Efes 1:19-20), wat veroorsaak dat ons groter dinge doen as wat Jesus gedoen het (Joh 14:12). Die passie vir die eer van God, die passie vir ware aanbidding, die ywer vir die Here, die bevryding van mammon & geld, die 24 uur toegang tot God deur die nuwe tempel wat Jesus is, die ervaring van sélf tempel van die Heilige Gees te wees, die openbaring en ware lig uit die Skrif ontvang, die geloof, vertroue en lewensverandering ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. AL hierdie dinge is as gevolg van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het. Dit is die krag van Sy opstanding wat in ons werk. Dít is ware lewe.