JOHANNES-REEKS NO 45
Tema: Oor Christus en die mens
Skrif: Johannes 18:1 – 19:15
Dit is nog steeds die Donderdagaand net voor die Here Jesus se inhegtenisname. Hy het pas Sy groot gebed uitgespreek. Nou beweeg Hy en die Elf deur die Kidronspruit tot by die Tuin van Getsémane. Wat dan volg, word in 18:1 – 19:15 beskryf.
Dis ‘n baie lang gedeelte, maar vorm tog ‘n eenheid. En opvallend dat dit bestaan uit nie minder nie as 21 vrae wat gevra word. 1 Vraag deur die hoëpriester se beampte aan Jesus, 3 vrae aan Petrus, 6 deur die Here self en 11 deur Pilatus.
As ‘n mens vinnig die vrae beluister, kom jy agter wat die kern/hartklop van hierdie hele gedeelte is:
18:4 “Wie soek julle?” Hierdie rebel – Judas – bars in wanneer die Meester in Getsémane met Sy dissipels alleen is. “Jesus van Nasaret” en dan die antwoord “dit is Ek”. Skielik val almal agteroor op die grond – so asof hulle omgeblaas word. Tweede keer: “Wie soek julle?” Antwoord “Jesus van Nasaret”. Petrus is ywerig om Sy Here te verdedig, sy swaard verskyn en Malgas se oor beland op die grond. “Sit jou swaard terug Petrus. Sal ek nie die beker drink wat my Vader my gee nie?” En dan gryp die gepeupel vir Jesus en storm na die hoëpriester se huis. Eers na Annas – die hoëpriester se skoonpa – en dan na Kajafas die hoëpriester. En dan begin ‘n reeks onregverdige verhore.
18:17 “Is jy nie ook een van hierdie man se volgelinge nie?” Petrus het daarin geslaag om in die huis te kom. Die vrou by die deur vra hom of hy ‘n Christen is. Daarna word dit nog twee keer gevra deur ander mense. Hy ontken egter dat hy ‘n Christen is. En toe, soos die Here voorspel het, kraai die haan.
18:21 “Waarom ondervra u mý?” vra Jesus die hoëpriester. “Vra die massas mense wat onder my bediening was. Húlle weet die beste. Húlle het my eerstehands gehoor. Waarom vir mý vra?” Een van die wagte kom klap toe die Here deur die gesig. “Praat jy só met die hoëpriester?” Jesus sê: “As ek verkeerd gepraat het, bewys dit, maar as ek reg gepraat het, waarom slaan jy my?” Die man swyg, want hy is in sy gewete aangespreek. Dan word Jesus na Pilatus geneem.
18:28 “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man?” vra Pilatus vir die Jode. Die skynheilige Jode wou nie in Pilatus se huis ingaan nie, want dit was Paasfees en dan mag geen Jood hom besoedel deur in ‘n nie-Jood/heiden se huis te kom nie. Pilatus kom daarom na hulle toe uit. “As hy nie ‘n krimineel was nie, sou ons hom nie hierheen gebring het nie. En ons Jode het nie die mag om doodstraf op te lê nie. Ú moet dit doen.”
18:33 Pilatus vra vir Jesus: “Sê of jy regtig die Koning vd Jode is.” Jesus sê: “Kom daardie vraag uit u eie hart of het iemand u opgesteek om dit te vra? Onthou my koninkryk is nie van die wêreld nie. As dit was, sou my vriende vir my geveg het. Ek is op aarde om die Waarheid bekend te maak & almal wat die waarheid liefhet, luister na my.” “Ag toggie, wát is waarheid nou eintlik?” vra Pilatus – nes vandag se post-moderne teoloë.
18:39 Dan gaan Pilatus terug na die Joodse owerhede toe en vra: “Dis paasfees. Wil julle nie dat ek die Koning vd Jode vrylaat nie? Dis mos ons gebruik om tydens Paasfees ‘n gevangene vry te laat.” Waarop die skare antwoord: “Nee! Nie Hý nie. Laat Barabbas vry. Gee vir ons eerder ‘n moordenaar en maak hierdie vent dood.” Toe word Jesus wreed geslaan met die Romeinse kats, gespot en ‘n spot-doringkroon word op sy kop gedruk. Hy word soos ‘n Koning aangetrek en gespot. Dan word Hy na die skare uitgebring en Pilatus sê: “Kyk, die mens!” Blykbaar het Pilatus gedink dat die skare tevrede sou wees as hulle sien hoe swaar Jesus gepynig is & hoe bloedbelope Hy is. Maar hulle was nie. Hulle wil Hom gekruisig hê.
19:10 “Antwoord jy my dan nie?” Pilatus het weer vir Jesus alleen. Die Jode het gesê Jesus sê Hy is die Seun v God. Pilatus is bang, want dalk kom sy eie posisie in gedrang as hier skielik ‘n ánder koning opduik. Daarom vra hy Hom waar Hy vandaan kom. Maar Jesus antwoord hom nie. “Besef jy nie dat ek die mag het om jou te dood en dat jou toekoms in mý hand is nie?” Jesus sê: “Jy sou geen mag gehad het as dit jou nie van Bo gegee is nie.” Ja, Pilatus was in werklikheid in Jesus se hand!
19:15 “Sal ek julle Koning kruisig?” vra Pilatus vir die Joodse skare. Want die Jode het vir hom gesê: “As jy hierdie man vrylaat is jy ‘n vyand van die Keiser.” Hulle sal dinge vir hom onaangenaam maak in Rome. In sy vrees en swakheid en liefde vir homself gee Pilatus in en handig Jesus oor om gekruisig te word.
U sien hoe sake daardie Donderdagaand & vroeg Vrydagoggend verloop het. Jesus is gearresteer, Hy is onregverdig verhoor en Hy is oorgegee.
Daar is ‘n paar groot waarhede wat ons uit dit alles moet leer vanoggend:
EERSTE: ONS LEER IETS OOR DIE WARE GODHEID VAN ONS HERE JESUS CHRISTUS.
18: 4-6 Waar die Here in die tuin besig is om te bid, kom hierdie gepeupel daar aan. “Ons soek Jesus v Nasaret.” Hy antwoord: EK IS (Grieks). “Egoo eimi”. Die presiese woorde wat God van Homself gesê het in die OT. By die brandende bos het Moses dit gehoor: “Ek is wat ek is”. God se groot Naam is EK IS. Hy is die oorsprong van Sy eie bestaan. In Hom is daar slegs ‘n teenwoordige tyd. Hy bestaan nie in tyd nie. Tyd bestaan in Hom.
Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde word die sluier opgelig en hierdie skepsels met hulle swaarde & stokke sien die glorie van God self in Jesus se twee woorde: EK IS. En hulle val agteroor op die grond. Vir ‘n oomblik sien hulle Sy ware identiteit en in Sy identiteit sien hulle hul eie identiteit. Die plotselinge bekendmaking boul hulle letterlik plat! Net ‘n paar sekondes van Sy glorie! En dit is deur net twee woorde wat Hy met Sy mond sê waarin hulle Sy heerlikheid sien. Niks anders as twee woorde nie. Alles wat van God na ‘n mens kom, kom deur woorde & die hoor van woorde. Dit hang net af hoe akkuraat jy hóór – dan sien jy ook Sy heerlikheid & in Hom sien jy jouself, hoe God jou in Hom herskep het, hoe Hy jou ontsondig het – en dit verander jou lewe, jou manier van dink, jou lewensuitkyk, jou alles. Alles hang net af hoe akkuraat jy hóór.
TWEEDENS: DIE GEDEELTE LEER ONS OOK IETS VAN DIE WARE MENSHEID VAN JESUS
Kyk na 18:7 > “Wie soek julle?” “Jesus van Nasaret.” Niks kon meer menslik wees nie. Onthou baie ander mense in Palestina het ook die naam “Jesus” (selfde as Josua) gehad. Mense se vanne is nie gebruik nie. Daar is maar na hulle beroepe of een of ander eienskap verwys om mense met dieselfde name te onderskei. Híérdie Jesus was van die doodgewone dorpie Nasaret. Hy was ‘n mens-mens.
19:5 > Een van die mees klassieke Skrifgedeeltes wat Jesus se mens-wees aandui. Jesus is liggaamlik byna vernietig deur die katshoue en die dorings. Hy lyk pateties en oes. En hoe verwys Pilatus dan na Hom? “Kyk die mens!” Die grote God wie se glorie mense laat omval, word aangedui as “die mens”.
Hoe kan dit wees dat een en dieselfde Persoon wat op aarde rondloop beide God én mens kan wees? Nie Godheid wat afgebring is na mensheid nie. Nie mensheid wat opgepomp is tot Godheid nie. Nie ‘n vermenging van beide. Nee, Hy IS volledig God en alles wat dit impliseer en Hy IS mens en alles wat dit impliseer. In net een Persoon. En Hy is dit presies net so vandag nog.
Dis hierdie Persoon wat beskryf word as die een wat ly. Ons sien hoe Hy gearresteer en geboei word. Sien Sy onregverdige verhoor. Ons sien hoe God-in-die-vlees deur ‘n nietige skepsel in die gesig gekláp word. Ons sien hoe Hy gegésel word. Ons sien hoe sondige skepsels ‘n spot-doringkroon in die ewige God-in-die-vlees – wat die enigste ware Koning is – se kop inkap en hoe Sy onskuldige bloed vloei. Ons sien hoe helverdiende sondaars Sy profetiese amp bespot, Sy koninklike amp bespot en Hom verag. En uiteindelik vat hulle Hom en spyker Hom aan ‘n stuk hout vas.
Die man met wie die mens dit alles doen, is die Man voor wie se voete hulle eens geval het toe Hy Sy ware identiteit bekend gemaak het. Dit bewys dat Sy gaan-na-die-kruis vrywillig was. Niemand kon Hom slaan, spot en kruisig teen Sy wil nie. Niemand het die mag daartoe nie. Hy kon hulle in ‘n ewige war bring as Hy wou. Maar Hy weerhou homself. Hy móét hierdie pad stap. “Sit weg jou swaard Petrus. Sal ek nie die beker drink wat die Vader my gegee het om te drink nie?” Daar is ‘n bitter beker wat Hy móét drink. Maar dis nie die Joodse gepeupel wat Hom die beker gee nie. Dis die Vader! Sy gehoorsaamheid aan Sy Vader sal volmaak wees.
DERDENS: DIE GEDEELTE LEER ONS IETS OOR DIE MENS
18:12 – Dieselfde mense wat die een oomblik op die grond val omdat hulle iets van Christus se heerlikheid ontdek, staan op, gryp Hom en gaan vernietig Hom! Dieselfde mense. Hulle harte verkies eerder dat daar ‘n moordenaar vrygelaat word as wat Jesus bly leef. Hulle verruil hulle verlosser vir ‘n moordenaar. Die mens se hart wéét wat die waarheid is – maar is steeds teen Sy liefde gekant.
Kyk na die man wat vir Jesus klap omdat Hy kwansuis nie beleefd genoeg met die hoëpriester praat nie. Hierdie man het sy bevooroordeelde idee oor Christus nog voordat hy die feite het. Nie gewillig om verder te luister nie. Blinde vooroordeel. Só klop die mens se hart teenoor Sy Here en Koning wat hom so liefhet.
Verse 29-32 > Die skare is gedetermineerd om van Hom ontslae te raak alhoewel hulle geen gronde het nie.
Vers 33-40 > Pilatus in aksie. Oorvloed van vrae. Hy is nuuskierig, maar het geen begeerte om hom aan die waarheid oor te gee nie. Hy vra en vra en vra en luister na wat die Here sê, maar daar stop dit. Hy wil kennis hê, maar niks verder nie.
19:8-10 > Pilatus se gewaande mag oor Christus. So tipies algemeen menslik om te dink Christus is in jou hand en jy kan met Hom maak wat jy wil. Die waarheid is die teenoorgestelde.
19: 5-6 > Jesus verskyn, bloed stroom, been steek uit. Niks swakker en meer pateties. Tog roer dit nie die verbondsvolk se harte nie. Hulle wil Hom gekruisig hê.
18:10 > Petrus: hý sal die Here se kant kies al kos dit wat! Hy is vasbeslote. Hy gee nie om wat gebeur nie. Hy is bereid om die Here se vyande te vermink. En tog: dieselfde Petrus bewe voor die diensmeisie en ontken dat Hy die Here ken. Dit is hoe ons innerlike menswees is. Wisselvallig, gemaksugtig en bang. Dit is die duisternis van die menslike natuur.
Die goeie nuus is egter dat God, wat mens/vlees geword het, presies hierdie duisternis tot in sy kern binnegedring het en dit vernietig het. Christus is nie om dowe neute ware MENS nie! Want dit is ú menswees wat Hy aangeneem het en steeds besit. Hy het ú menswees aangeneem en ú diepste duisternis/vervreemding/ontaarding binnegedring d.m.v Sy lyding en sterwe. In Sy lyding en dood het Hy ú eensaamheid/vrees/isolasie/verlies/skuld/hartseer/frustrasie/
woede/angs/bitterheid/depressie met u kom deel en dit dood gesterf. HY het nie vir u kom veroordeel nie, maar dit alles met u kom deel en deurleef. En ná Sy dood het Hy as Mens teruggekeer tot die sirkel van die gemeenskap van die Drie-eenheid. ‘n Ware méns is in hierdie oomblik in die Godheid teenwoordig – in die Persoon van Jesus Christus. Waarom? Omdat Hy vir ú ingetrek het by daardie heerlike lewe. Ú word daar verteenwoordig.
Daar is net een manier waarop u & ek van die sondeval in Adam kon oorgeskuif word tot by die onderlinge lewe van die Vader/Seun/Gees (waar ons hoort): Die hele gevalle Adamiese ras moes sterf. Die sondeval moes ongedaan gemaak word. Die menslike ras moes teruggebuig word tot by God se lewe. Daar was net een manier: ‘n Wettige verteenwoordiger moes dit namens almal doen. Deur Sy dood. Jesus is die verteenwoordiger. Toe Jesus sterf, toe sterf die sondeval van Adam saam met Hom. Dit was die donkerste oomblik in die geskiedenis van die kosmos, maar ook die helderste oomblik. Ons het ‘n passievolle Vader wat niks anders begeer as dat ons Sy aanvaarding/omhelsing van ons in Christus, sal aanvaar nie. Hy sit nie soos ‘n valk en be-loer ons en hou boek van die kwaad om te sien wanneer ons die reëls verbreek nie. Hy dans van blydskap oor ons.
Die nagmaalbrood- en wyn is die helderste bewys daarvan. Die brood en wyn is nie onheilspellende tekens wat slegs deur díé wat klaargespeel het met die sonde gebruik mag word – of anders….. nie. Dit is jubelende vreugdetekens wat sê: Jý is ingesluit! Weet dit verseker. Christus se liggaam & bloed het jou saak met God reggemaak. “As Een vir almal gesterf het, dan hét almal gesterf”.
Wanneer jou oë dáárvoor oopgaan en jy glo dit, sal jou lewe nie weer dieselfde wees nie.