Skrif: Johannes 13: 1-20
Verlede Sondag het ons in die laaste paragraaf van hfst 12 gesien op watter noot die Here Jesus se 3,5 jaar openbare bediening afgesluit het.
Vanaf hfst 13 val die fokus op dít wat die Here met Sy intieme dissipelkring gedeel het die dag voor Sy sterwe, vlak voor die aanbreek van die paasfees. Daar was elke jaar paasfees, maar Hy het geweet dat dit op híérdie paasfees sou wees wat Hy self as die groot Paaslam geslag sou word en na Sy Vader sou teruggaan. En in Sy hart was daar ‘n brandende passievolle liefde vir Sy mense. ‘n Liefde wat tot die uiterste uiterstes sou gaan: Hy sou in hulle plek gaan sterf en hulle met Sy dood red & vergewe & heilig.
Hy sou nie van hulle verwag om Hom eerste lief te hê nie. Sy liefde was éérste. Éérste! Sy liefde vir ú is éérste (1 Joh 4:19)! En dis ‘n uiterste liefde! Moenie bang wees dat u foute en tekortkominge u dalk sal laat uitval of dat dit u diskwalifiseer nie! Hy het u liefgehad toe Hy vooraf reeds alles geweet het wat u nog sou aanvang. Sal Hy nóú omdraai? Hoe kán Hy omdraai as die DNA van Sy wese, liefde is?
Die Here het u nie net lief nie. Die DNA van die Here se wese ís liefde (1 Joh 4:8). Die Here besit/het nie net liefde nie. Hy IS liefde. En Hy hét tot die uiterste gegaan in Sy liefde vir ú. As ons dít maar net kan verstaan en ophou luister na al die stemme wat vir ons vertel van ons verlede, ons sondes, ons tekortkominge, ons stryde, ons probleme, ons bekommernisse, ons komplekse, ons afwykinge – en ons kan besef dat die Here ons binne-in dit alles liefhet.
Dis so aangrypend dat, net nadat daar in vers 1 staan dat Jesus Sy mense tot die uiterste liefhet, vers 2 sê: “die duiwel het vir Judas op die gedagte gebring om vir Jesus te verraai.” Wat ‘n skrille kontras! Maar hoor die blye boodskap daarin: dít het nie Jesus se liefde geblus nie. Sy liefde is nie selfgesentreerd nie. Dis gerig en gefokus op ánder – wat ver benede Hom is – selfs op Sy skynheilige dissipel wat besig is om Sy moord te bedink.
Dink net vir ‘n oomblik aan wat hier gebeur: Die Here Jesus het geweet hoe gróót Hy is. Hy het geweet wat Sy posisie is. Hy het geweet dat die Vader álles in Sy hande gegee het. Hy het geweet dat Hy van God gekom het en dat Hy binnekort na God teruggaan. Geen groter posisie moontlik nie.
En vanuit die besef van watter geweldige posisie Hy beklee, neem Hy die posisie van ‘n slaaf/bediende in en begin húlle – wat dit glad nie werd is nie en wat ver benede Hom is – se voete was. Dit is net Hy – wat die hoogste posisie beklee – wat só laag kon buk. Dit is tewens die merkteken van ware grootheid!
Ons weet dat voetewas ‘n algemene gebruik in die ou nabye ooste was. Dit was eintlik ‘n gebaar van gasvryheid teenoor besoekers. En dit was destyds die taak van die mins belangrike bediende in die huis om die voetewas-werk te doen. En dit is hierdie posisie (laagste bediende) wat die Here Jesus kom inneem – Hy wat die hoogste posisie in die heelal beklee! Die Een aan wie alle mag gegee is, begin om – as laagste bediende – die voete van Sy dissipels te was. Ook Judas s’n! Ja, Hy kniel voor die man in wie die duiwel ingevaar het en Hy was sy voete. Binne ‘n klompie ure sal letterlik álmal Hom in die steek laat en weghardloop – en Hy weet dit vooraf. Tog was Hy hulle voete. Dis was nie net Judas wat Hom sou verkoop vir geld nie en dit was nie net Petrus wat Hom 3X sou verloën nie. Álmal het Hom in die steek gelaat sodat Hy uiteindelik stoksielalleen na die kruis moes gaan. En nou was Hy hulle almal se voete. Liefde wat tot die uiterste gaan.
Daarom kan élkeen van u weet dat Hy vir ú tot die uiterste liefhet. Dit maak nie saak wat u in die verlede aangevang het nie. Al het u Hom ook gruwelik in die steek gelaat. Of al voel u nou op hierdie oomblik kilometers van Hom verwyder en voel u Hom só onwaardig. Voel dan welkom in die dissipelkring – waar almal Hom in die steek gelaat het!
Nou wil ek vir u wys – wat ek glo – wat éíntlik hier gebeur het. Ek glo die Here Jesus was hier besig om te demonstreer wat die groot doel van Sy missie na die aarde was. Hy het gedemonstreer hoe Hy – as tweede Adam – dit wat die eerste Adam verkeerdom gedraai het, reg-om kom draai het.
Wat het die eerste Adam verkeerdom gedraai? Dalk moet ons nog verder teruggaan en vra wat die Satan verkeerdom gedraai het. Hoe het die satan tot ‘n val gekom? Ons lees iets daarvan in die OT in Jesaja 14 en Esegiël 28. Satan was naamlik geskep as ‘n beeldskone engel/Cherub wat die hemele in aanbidding gelei het. Maar, hy het ontevrede geraak met sy ondergeskikte posisie aan God en wou opklim om soos God te wees. Hy was vervul met hoogmoed. En dit het daartoe gelei dat God hom neergewerp het. Hy wás onder, maar wou bó kom, toe word hy neergewerp.
Toe Adam op die toneel kom, het die satan hom verlei om dieselfde pad te loop as wat hyself geloop het. Lees dit in Genesis 3. Die mens het tot ‘n val gekom deur bó God te wou kom en is daarom neergewerp. Dit is die gif/smet waarmee ons almal op die aarde aangekom het en wat ons almal van nature ook self kies. Ons liefde is eerstens op onsself gerig en nie op God nie. Tóg strewe ons om soos God te wees. Letterlik al die chaos in die wêreld en in verhoudings asook in ons eie lewens, is die wrange vrug hiervan. En, ons weet dat ons magteloos is om onsself hiervan te bevry. Ons is in ‘n magtelose en hopelose kringloop vasgevang – tensy ons bevryding van iewers buite onsself kan kry.
En dis presies hier waar die Tweede Adam – Jesus Christus – in die prentjie kom. God die Vader het ons eiehandig losgemaak in Sy Seun Jesus Christus. Net omdat Hy ons jammer gekry het. Hoe het dit gewerk?
Jesus het die mens se afwaartse spiraal na die hel omgedraai. Hou in gedagte wat satan & Adam (en ons almal) gedoen het. Pleks van ondergeskik te wees, wou ons bó God & naaste wees. Kyk nou wat doen Jesus. HY WAT DIE SEUN VAN GOD IS, is bereid om af te klim & af te klim. Om Sy hoë posisie te verlaat. Hy doen presies die teenoorgestelde as wat satan & Adam gedoen het. Hy het nie Sy eie Godheid gesien as iets waaraan Hy moes vasklem nie. Hy was bereid om Homself te verneder en die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. Maar, dit was nie genoeg nie. Hy was bereid om gehoorsaam te wees tot in die dood vd kruis. DAAROM het God Hom verhef tot die hoogste eer. En Hom ‘n Naam gegee bo elke naam (Filip 2: 5-11).
Die satan en die mens wou hulleself verhef. Daarom het hulle geval en alles verloor. Jesus kom draai dit om. Hy kom gee ons weer terug wat ons verloor het en maak dat ons alles wen. Hy kom herstel dit wat verwoes is. Hoe? Deur Sy selfverloëning. Deur Sy selfverloëning van 2000 jr gelede hét Hy dáár met óns iets gedoen, want Hy is ons Plaasvervanger.
Sien u hoe hierdie hele voetewas-ritueel ‘n uitbeelding is van die magtige universele werk wat die Here Jesus kom doen het? Die mensdom gaan van laag tot hoog en word neergewerp. Die Here Jesus gaan van hoog tot laag en word verhef! Die Here Jesus ís op die troon van God, maar Hy kies om Homself te verneder deur ‘n dienskneg te word, ónder die gevalle mens te kom inbuk en die gevalle mens se dood te sterf. Dit lei daartoe dat die Vader Hom verhoog tot die hoogste posisie. En deurdat Jesus die gevalle mens se Plaasvervanger is, is die gevalle mens ingesluit by alles wat Jesus kom doen en op daardie manier plaas Hy die mens weer terug in sy regmatige posisie voor God.
Nou is die mens – wie se oë oopgegaan het vir hoe Jesus die herstelwerk gedoen het en dit glo en daarop vertrou – in ‘n posisie om Christus se verteenwoordiger/ambassadeur te gaan wees in die wêreld. Dis presies wat Hy in vers 20 sê: “Ek verseker jou: Iemand wat vir jou ontvang, ontvang My en wie My ontvang, ontvang die Vader.”
‘n Ambassadeur vir Christus openbaar dieselfde gesindheid as wat Hy openbaar. Omdat jy ingesluit is by Christus, is jy in staat om Sy voorbeeld te volg. Jy probéér nie tandeknersend Sy voorbeeld volg omdat jy bang is Hy raak met jou ongelukkig as jy dit nié doen nie. Nee, jy volg dit byna spontaan – omdat jy glo dat jy ingesluit is by Hom en dat Hy jou nooit sal verstoot as jy Hom faal nie. Jy besef jou posisie wat jy in Christus het. Jy besef dat jy onvoorwaardelik liefgehê word. Jy besef dat jy herstel is deur hoe Hý onder jou ingebuk het. Maar hierdie besef maak jou nie hoogmoedig nie. Dit maak nie dat jy op ander neersien nie. Dit maak dat jy ook onder ander mense inbuk. Die gees & gesindheid van jou Plaasvervanger is nou ook in jou hart. En so word mense deur jou toedoen gehelp. Dít is hoe dit gaan met mense wat Christus se ambassadeurs is.
Die vraag is hoe ‘n mens maak wanneer jy Hom faal. Wat maak ‘n Christengelowige met sonde op ‘n daaglikse basis? Dis ‘n belangrike vraag. As dit so is dat ‘n gelowige nooit weer gestraf sal word vir die sondes wat hy/sy doen nie. En as dit so is dat Christus se kruisdood met al jou sondeskuld van verlede/hede/toekoms klaargespeel het. En as dit so is dat Hý jou verhouding met Hom regmaak/reghou en reg laat wees. Is dit dan nog enigsins nodig om oor sonde bekommerd te wees? Sal ‘n mens nie nou maar lig omgaan met sonde nie?
Die Here Jesus beantwoord hierdie vraag wanneer Petrus terugdeins en weier dat Jesus sy voete was. Hy voel meteens aan hoe onvanpas dit is. Maar Jesus sê: “As ek jou nie was nie, het jy geen deel aan my nie.” Petrus skrik hom boeglam en sê: “Here was dan sommer my hele lyf.” Waarop Jesus antwoord: “Nee Petrus, as ‘n mens eenmaal klaar gebad het is jy heeltemal skoon, jy maak verder net jou voete skoon.”
In God se oë is ‘n gelowige heeltemal skoon, want die bad waarin jy gebad is, is Jesus se kruisdood en dit misluk nooit. Daaraan het jy deel net deur dit te glo. Jy laat jou bad deur daarop te vertrou dat jy op Golgota gebad is. Judas het dit verwerp, daarom sê Jesus dat hy nie gebad is nie (v 11). Punt is: ‘n gelowige bad nie weer nie, hy bly skoon voor God – vir altyd. Maar sy/haar voete raak vuil en dit moet hanteer word.
Daarom hoef ‘n gelowige nie deur ‘n proses van boetedoening te gaan wanneer hy/sy sonde doen (voete laat vuilword) nie. Jy MAG NIE soos volg voel nie: “Ek voel die sondes wat ek gedoen het, staan tussen my en die Here. Daarom is my vrymoedigheid daarmee heen. Ek voel my verhouding met die Here is nie reg nie. Ek is té skuldig, ek kan Hom nie in die oë kyk nie. Ek voel van Sy liefde vervreem. Ek sal eers met Hom hierdie sonde moet gaan deurworstel in urelange gebed. Ek moet aan Hom beloftes maak dat ek nie weer dit sal doen nie. Dan sal ek beter voel. Ek voel die oordeel van die Here druk swaar op my. Ek kan voel hoe die Heilige Gees my aankla. Ek is in ‘n worstelstryd.”
Nee! Jy hoef nie weer te bad nie. Sondebelydenis is nie ‘n verklaring van hoe swak dit tussen my en die Here gaan nie. Dis nie ‘n skuldkompleks nie. Dis nie ‘n mosie van wantroue in Sy liefde nie. Dit is nie ‘n ineenkrimp onder ‘n swaar lading van beskuldigings wat die Heilige Gees kwansuis op jou laai nie.
Wat is Christelike sondebelydenis dan? Dit is om – vanuit / op grond van die altydgeldende sekerheid dat jy reeds gebad is en heeltemal skoon is en vir ewig skoon blý – jou voete te was wanneer jy agterkom dat dit vuil geword het. “Voete” is tog simbolies van jou daaglikse lewenswandel in die wêreld.
Jy bely nie sondes om vergewe te wórd nie, maar omdat jy vergewe ís! Jy lewe 24 uur van elke dag binne die “atmosfeer/dampkring” van totale aanvaarding, totale vergifnis. Binne hierdie atmosfeer leef jy oop & eerlik voor die Here omdat jy weet Hy sal jou nooit verstoot wanneer jy iets erken nie.
1 Joh 1:7 – ‘n Christen lewe in die realm van die LIG waarin God self is. Binne hierdie lig reinig die bloed van Jesus voortdurend en outomaties. Dis soos ‘n waterval waaronder die Christen lewe. Onder hierdie waterval kan & mag ons eerlik met die Here wees.
Hoe maak ‘n mens jou voete skoon? Jy erken jy is verkeerd. Dis al. Jy stem met God saam. Jy leef nie asof ‘n verkeerde ding reg is nie. Vanuit die sekerheid van Sy liefde, erken ek ek is verkeerd en dat Hy reg is. Terwyl Hy my so vashou in Sy liefde vind ek dit onuithoudbaar om voor te gee dat verkeerde goed reg is.
Ons lewe nie sonde-bewus nie. Ons lewe nie van sondebelydenis tot sondebelydenis nie. Ons lewe vergifnis-bewus. Ons lewe Christus-bewus. Ons lewe regwees-bewus. Ons is bewus van Hebreërs 10:14 wat sê dat één offer op Golgota ons eens en vir altyd en VOLKOME van sonde vrygemaak het – álle sondes: verlede/hede/toekoms. Dit is 2000jr gelede op die kruis gestraf en die saak is afgehandel. Op die kruis is ek totaal, algeheel, absoluut en ten volle ALLES vergewe.
Die gevolg is dat ons ‘n lewe van oorwinning begin ervaar. Ons kom los van hardnekkige gewoontes en goed waardeur ons nooit kon loskom deur aanhoudende sondebelydenis & boetedoening nie. Hoe meer ons bely dat ons volkome reg is met God – deur dit wat Jesus gedoen het, hoe minder vatplek het die sonde op ons. Maar as ons vuil & onheilig voel en dink die Here is nie met ons tevrede nie, kom ons nooit los uit die bose spiraal van sonde nie.
Nee, wanneer u agterkom dat u u voete vuilgemaak het, praat dan met die Here en sê iets soos die volgende:
Here Jesus baie dankie vir U wonderlike werk op die kruis en dat dit ‘n perfekte werk was wat ál my sondes verwyder het – óók hierdie sonde waarvan ek nou bewus geword het. Ja, selfs dít is deur U volmaakte offer verwyder. Dankie vir die Heilige Gees wat aanhou en aanhou om – veral wanneer ek faal – my te oortuig dat ek – in Christus – volkome reg is met God.