Skrif: Johannes 1: 35-51

Na my beste wete kom die woord “evangelisasie” nêrens in die Bybel voor nie. Evangelisasie was nie ‘n spesifieke georganiseerde aksie van die vroegste kerk nie. Daar was nie sprake van spesiale “uitreike” om mense na die Here te lei nie.

Hoe dit gewerk het was soos volg: Mense het die Here Jesus Christus ontdek en ontmoet (of eintlik: Hy het hulle ontmoet – Gal 4:9) en dan kon hulle dit net eenvoudig nie vir hulleself hou nie! Hulle was só opgewonde oor die nuutgevonde Waarheid, dat hulle dit spontaan met ander gaan deel het. Met die gevolg dat nóg en nóg mense tot bekering gekom het. Brandende, vurige harte het daartoe gelei dat nóg en nóg mense na die Here toe gekom het. So eenvoudig soos dit. Reg van die begin af het dit só gebeur. En van daardie begin lees ons in Joh 1: 35-51!

Joh 1: 35-51 is ‘n wonderlike paragraaf in die Bybel. Baie eenvoudig en tog baie diepsinnig. Kom ek sê eers vir u in ‘n neutedop wát daar staan en dan kyk ons in meer diepte daarna.

Johannes die Doper was in die Jordaanvallei besig om te preek en te doop en het getuienis afgelê wie Jesus regtig is. Ons het verlede week daarna gekyk. Hy het ook volgelinge gehad. Mense wat belanggestel het in sy prediking. Twee van hulle was Andreas en Johannes (die latere apostel en skrywer van die evangelieverhaal wat ons tans bestudeer). Johannes noem nooit sy eie naam nie, soos ons verlede keer gesien het. Daarom weet ons dit is hý na wie so anoniem verwys word.

Dus, wat gebeur hier? Andreas en Johannes staan by Johannes die Doper net toe Jesus verbyloop en Johannes die Doper sê: “Daar is die Lam van God, waarom volg julle mý, volg Hóm”. Daar is soveel geestelike dors & honger in Andreas & Johannes se harte, dat hulle onmiddelik vir Jesus begin volg.

Andreas se eerste reaksie was om sy broer, Simon (Petrus) te gaan soek en hom te vertel dat hy die Messias ontmoet het. Toe lei hy vir Simon na Jesus en Jesus verander sy naam na Petrus (rots).

Die volgende dag ontmoet Jesus vir Filippus (sonder dat Filippus Hom soek) en roep hom met ‘n kragtige woord: “Volg my”. Daardie woorde verander vir Filippus in ‘n volgeling.

Eerste ding wat Filippus doen is om met Natanael te gaan praat oor Jesus – die Een van wie die hele OT praat. Natanael byt egter nie sommer nie en redeneer eers. “Ag nooit, kan Hy uit Násaret kom?” Nietemin neem Filippus vir Natanael na Jesus toe. En wat ‘n verrassing kry hy nie? Jesus sê vir hom: “Ek het jou lánkal geken.” Skielik ontspring daar geloof in Natanael se hart: “U is die Seun v God.” Waarna hy nog meer verrassende woorde hoor: “Jy het pas die enigste ware ewige toegang tot God ontdek – dis Ék”.

Kom ons kry net die prentjie: Johannes die Doper verwys vir Andreas en Johannes na Jesus. Andreas bring sy broer Simon Petrus na Jesus. Jesus ontmoet vanuit eie inisiatief met Filippus. Filippus bring vir Natanael na Jesus.

Dit was die eerste Christene. Onmiddelike spontane groei, gebore uit spontane onderlinge evangelisasie, gebore uit brandende vurige harte – wat vir Jesus ontdek het.

Daar is sóveel wat ons uit hierdie gedeelte kan leer. Ter wille van tyd, sal ons ons slegs tot die volgende beperk:

Eerstens: Daar is net één manier hoe ‘n gemeente werklik groei & seën kan beleef en dit is wanneer die mense in die gemeente werklik met die Here Jesus ontmoet en só opgewonde daaroor raak dat hulle spontaan ander mense begin nadertrek en na die Here lei omdat hulle net eenvoudig nie dít wat hulle ontdek het, vir hulleself kan hou nie. Geen formeel- georganiseerde aksies en uitreike kan ooit die effek hê, wat spontane, Geesvervulde informele getuienis het nie. Só kom daar ware Heilige Gees-gedrewe herlewing in ‘n gemeente. Alles begin waar mense werklik die Here Jesus ontmoet en vervul word met die Heilige Gees en opgewondenheid. Dis die heldere boodskap van Joh 1: 35-51! Nou weet ons waarvoor ons vir Tafelberg Gemeente moet & mág bid.

Tweedens: Wanneer ‘n mens vir die eerste keer gered word en ‘n volgeling van Jesus word, is daar ‘n geweldige dinamika werksaam. Dit voel vir ‘n mens in jou eie belewenis of alles van jouself afhang, of dit jou besluit is. Dis jý wat wil hê jou hele lewe moet aan Christus behoort. Dis jý wat siek en sat is vir ‘n lewe van onsekerheid, leegheid, sonde en skuldgevoelens. Dis jý wat kies en die Here reageer op jóú toenadering. So voel dit.

Later lees jy egter die Bybel en ontdek tot jou stomme verbasing dat dit eintlik alles Sý werk was. Dat Hy jou voor die skepping reeds uitverkies het om Sy kind te mag word. Dat Hy in jou hart gewerk het. Dat Hy jou verlossing op die kruis reeds volbring het. Dat Hy jou geken het, toe jy Hom nie wou ken nie.

U sien, op die een of ander manier – wat ons nooit sal verstaan nie – skakel al hierdie fasette soos legkaartstukkies by mekaar in. Ons sien dit so pragtig in ons teksgedeelte wanneer ons sien hóé elkeen van hierdie 5 persone die Here Jesus ontmoet het:

Andreas & Johannes: Hulle het iemand (Joh die Doper) nodig gehad om hulle te wys op Christus en ‘n waarheid aan hulle te verkondig (Hy is die Lam v God). Tóé begin hulle agter Jesus aanloop, maar nog nie oortuig nie. Hulle wil eers hoor of hulle ‘n bietjie met Hom kan gesels (“waar gaan U tuis?”) waarop Jesus antwoord: “Kom saam, dan sal julle sien.” Letterlik: “julle sal síén”. Ná daardie kuier, stap hulle as Christengelowiges daar weg.

Simon Petrus: Word ook deur Andreas na Jesus gebring. Gelei. En sy kontak met Jesus verander hom. Jesus verander sy naam na Petrus (rots). Lewensveranderende ontmoeting.

Filippus: In sy geval is dit Jesus wat sý pad kruis en hom roep. Filippus soek nie. Hy stel nie belang nie. Hy kies niks. Niemand praat met hom oor Christus nie. Die inisiatief gaan van die Here uit. Christus soek hom en nie andersom. En die roeping waarmee Jesus hom roep, het krag, want dit ontlok ‘n onmiddelike reaksie by Filippus.

Natanael: Word deur Filippus van Jesus vertel. Maar Natanael byt nie sommer nie. Hy redeneer eers. “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Hy twyfel. Maar, ín sy twyfel, is daar ‘n stuk eerlikheid/opregtheid, want toe hy nog so aankom, sê Jesus: “Hierdie man is sonder bedrog. Niks van Jakob, die bedrieër, is in hom nie.” Jesus ken hom vooruit en Hy hou van die eerlikheid in Natanael se hart, selfs al twyfel hy.

Nog meer: Natanael ontdek met verbasing dat Jesus hóm geken het lank voordat hy vir Jesus geken het! “Voordat Filippus jou geroep het, het ek jou al gesien” (v 48). Die uitverkiesing gaan voorop. Wanneer ons nog geen gedagte het om ‘n Christen te word nie, is Sy gedagtes op óns! Is dit nie asemrowend nie? En dit is die éíntlike oorsaak waarom Filippus vir Natanael na Jesus gelei het en hy Jesus kon ontmoet het.

Nog meer: Jesus voeg by: “Ek verseker julle julle sal die hemel oop sien en julle sal sien hoe die engele op- en afklim op die Seun vd Mens (letterlik).” Min twyfel dat die Heiland hier sinspeel op die visioen wat Jakob gehad het van die leer wat tot in die hemele strek met engele wat op- en neerklim (Gen 28). Jakob het gedroom van die dag dat daar volmaakte toegang tot die hemel (tot God ) sal wees. Kyk wat sê Jesus vir Natanael: Die “leer” waarop die engele opgaan is Christus self! Dis nie ‘n leer nie, maar ‘n Man! Wat Jesus dus sê is: “Natanael, is dit vir jou wonderlik dat ek jou geken het nog voor jy my ontmoet het? Jy gaan iets nog meer wonderlik ontdek en dit is dat jy permanente toegang tot God het – deur mý!”

Sien u die dinamika werksaam wanneer ‘n sondaar sy/haar verlosser ontmoet? Sit nou al hierdie legkaartstukkies bymekaar, dan sien u die volle prentjie: Die feit dat iemand jou na Jesus lei, of teenoor jou getuig, of jy die waarheid vd evangelie hoor en jy onrustig begin voel en jou behoefte ontdek en tot ‘n keuse kom – dit alles – is die resultaat van Hom wat jou verkies het, jou ken, jou trek na Homself. Die eerlikheid in jou hart – selfs al verstaan jy nie alles nie of al twyfel jy – is die resultaat van Sy inwerking in jou lewe. Geen wonder dat Hy jou so graag ontvang nie! En daarby veránder Hy jou. Amper asof jou naam verander word. En jy verkry permante toegang tot God – deur Christus. Kyk maar na al die voorbeelde in ons teksgedeelte en oortuig uself.

Derdens: Die heel belangrikste fokuspunt van 1: 35-51 is nie die 5 mense wat die eerste volgelinge van Christus geword het nie. Die heel belangrikste fokuspunt is Christus self. ‘n Mens sien hoe die heerlikheid van die Here Jesus Christus straal. Wanneer jy dit sien, gee dit jou soveel genade en hoop.

1. Die heerlikheid van die Lam van God te wees (v 36). Die Een wat sonde & sondeskuld verwyder en die mag van sonde breek. Dink daaraan: Hy is die enigste persoon in die heelal wat dít kan doen. En sonde is die mens se grootste probleem. Die Lam van God hanteer die mens se grootste nood. Daarin sien ons Sy heerlikheid.

2. Die heerlikheid van die gee van geestelike insig (v 38). Andreas & Johannes vra vir Jesus waar hy woon, maar Hy antwoord: “kom en julle sal SIEN.” Wat eintlik daarop wys dat hulle geestelike oë sal oopgaan. En wat daarop volg bewys dat hulle geestelike oë oopgegaan het, want hulle lei ander na Christus. Ons sien Jesus se heerlikheid in die feit dat Hý geestelike insig gee, wat op ‘n ander vlak lê as bloot intellektuele insig.

3. Die heerlikheid van die Een wat ‘n mens se innerlike identiteit verander (v 42). Jesus het die gesag om vir Simon te sê: “Jy sal Petrus word.” Rots. Daardie naamsverandering het Petrus se toekoms bepaal. Geweldige gesag. Daarin sien ons Jesus se heerlikheid. Hy het werklik die gesag om ‘n mens grondig te herskep en jou eindbestemming te verander. Wonderbaarlik!

4. Die heerlikheid van die Een wat ons trou aan Hom eis (v 43). Vir Filippus kon Jesus net eenvoudig beveel: “Volg my”. Daarin sien ons Sy heerlikheid, nie waar nie? Dat Hy alle gesag in hemel en op aarde het om van ons te EIS dat ons Hom sal volg.

5. Die heerlikheid van die Een wat ons hart & omstandighede so goed ken (vv 45-48). Vooraf weet & ken Jesus twee dinge van Natanael: Wat binne-in hom aangaan en wat buite hom aangaan! Voordat Hy vir Natanael gesien het, het Hy geweet dat Natanael onder ‘n vyeboom gesit het (buite) en verder weet hy dat Natanael ‘n baie eerlike soeker is. Hy is nie ‘n tweegesig nie, selfs al twyfel hy nog (binne). Ons sien Jesus se heerlikheid daarin. Nog voor jyself behoorlik weet wat binne-in jou eie binneste aangaan, weet Hy dit. Hy ken ook jou uiterlike omstandighede. Al is jy stoksielalleen en in gevaar en geen mens weet dit nie, weet Hy dit. Hy ken ons so goed. Die heerlikheid van die Een wat verstaan. Dis darem wonderlik om in ‘n verhouding te lewe met Iemand wat jou volkome verstaan. Lekker om te weet jy is nie alleen in enige omstandigheid of innerlike stryd of emosie nie. Daar is ‘n Man wat Sy kind perfek verstaan. Die Man van Nasaret. Jesus die Christus.

‘n Mens ontvang genade wanneer jy die heerlikheid van die Here Jesus Christus begin sien.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00