Skrif: Johannes 10: 22-42
By ons vorige boodskap het ons die eerste 21 verse van Joh 10 bestudeer en gesien hoe die Here Jesus die vyandige Joodse kerkleiers nóg ‘n keer die hand reik deur vir hulle met behulp van ‘n prentjiesbeeld te verduidelik waarom Hy na die wêreld gekom het – wie Hy is en wat die doel van Sy koms na die wêreld is. Prentjiesbeeld: Herder wat skape versamel.
In kort: Voor die skepping reeds het God die Vader besluit om bepaalde mense in hulle hellevaart te stuit en hulle deur Jesus Sy kinders te maak. Hierdie mense het Hy op die naam – voor die skepping – aan Sy Seun (ons Here Jesus Christus) gegee. Dit is die skape. Jesus is die Herder en het daarom op ‘n spesifieke tydstip aarde toe gekom, mens geword as hierdie uitverkorenes/skape se plaasvervanger en met Sy kruisdood & opstanding húlle (en nét hulle) met die Vader versoen en hulle effektief gered. Predikers gaan sedertdien deur die wêreld en verkondig die blye boodskap van hierdie afgehandelde redding aan almal wat bereid is om te luister. Die Heilige Gees werk egter in besonder in die skápe se harte sodat hulle die volbragte redding deur geloofsvertroue omhels. Só versamel Hy die skape tot een, wêreldwye kudde. Die implikasie hiervan is dat die mens wat tot geloof in die Here Jesus kom, dit te danke het slegs aan die ewige verkiesing. ‘n Baie baie vaste rots onder die gelowige se voete.
In kort is dít die boodskap van Joh 10: 1-21 (binne die konteks van Johannes-evangelie en die res van die NT).
Die spesifieke aksent wat ons in verse 22-42 moet hoor, is dat die versamelde skape bewaar & vasgehou word tot die einde toe.
U sal sien dat die Jode weer die prentjiesbeeld van die Herder & die skape aan die orde stel in hulle hernude gesprek met Jesus. Dit moes hulle diep geraak het. Al het hulle nie daaraan gehoor gegee nie, het dit in hulle koppe vasgesteek.
Die gesprek van verse 22-42 is nie dieselfde as 1-21 nie. Daar was ‘n tydsverloop tussen-in. Weet nie hoe lank nie. Kon etlike maande gewees het. Vers 22 sê dit was die tyd van die fees van die tempelwyding. Dit was ‘n volksfees wat die Jode jaarliks einde Desember (hart vd winter) gehou het ter nagedagtenis aan die herstel vd tempel nadat die Siriër Antiochus Epifanus dit in ongeveer 170vC verwoes het. Al was dit net ‘n volksfees (iets soortgelyk aan ons Geloftediens van 16 Desember), het Jesus dit bygewoon en was Hy in die tempel toe ‘n klompie Jode Hom weer bydam met die storie van die Herder & skape nog in hulle agterkop.
Nou vra hulle Hom reguit: “Moenie vir ons langer in onsekerheid hou nie: ás U die langverwagte Messias is, sê dit vir ons prontuit.” Met “Messias” word bedoel: Die verlosser wie se koms vir 4000jr OT beloof is, die gesalfde.
Nou is dit waar dat – in die hele Johannes-evangelie tot op hierdie punt – Jesus nog nooit prontuit gesê het dat Hy die Messias is nie, behalwe vir die Samaritaanse vrou by die put van Jakob in Joh 4:26. Maar, alles wat Hy gedoen het, Sy dade, het bevestig dat Hy die Messias is. Ons weet tog dat dade harder praat as woorde. Wat jy doen tel meer gewig as wat jy sê. En dit is wat Jesus vir hierdie mense sê: “die dáde wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys tog wie ek is, maar julle glo dit nie.” (v 25).
Die rede waarom talle mense die dade van Jesus sien en steeds nie hul vertroue op Hom oorplaas nie, is omdat die Vader voor die skepping reeds besluit het om hulle in hulle verharding te laat begaan – soos wat hulle verdien dat Hy moet doen. Hulle is nie Sy skape nie. Dáárom volhard hulle op die pad van verharding – die pad waarop alle mense in elk geval uit eie keuse is (v 26).
Alle mense verdien dat God hulle sal laat begaan op hulle selfgekose pad van opstand, verharding, ongeloof en verlorenheid – en aan hulle gee wat hulle so bitter graag wil hê. Maar in Sy onbeskryflike goedheid het Hy – voor die skepping reeds – besluit om tóg aan ‘n baie groot getal dít te gee wat hulle hoegenaamd nie verdien nie en ook nie voor gevra het nie – naamlik om hulle te stuit op hul pad van verlorenheid & hulle harte tot geloof om te buig. Dít is die “skape” wie die Vader voor die skepping aan Sy Seun gegee het. Dít is die skape vir wie Jesus kom sterf het. Dit is die “baie” van wie Jesus praat wanneer Hy die nagmaal instel: “hierdie wyn is my bloed wat vir baie gestort word tot vergifnis van sonde” (Mat 26:28).
Hierdie skape luister ook na die prediking van die Blye Boodskap net soos al die mense daarna luister, maar die Herder ken hulle by name en húlle ken die Herder se stem, gee daaraan gehoor en begin Hom volg (v 27) terwyl die wat nié van voor die skepping reeds skape was nie, nie werklik die prediking ter harte neem nie. Hulle herken nie die Herder se stem nie en ploeter rustig voort op hulle verlore pad.
Dit wat die Here Jesus dan in verse 28-30 sê, volg eintlik net logies uit bogenoemde, naamlik dat hierdie skape nooit verlore sal gaan nie. Hulle sál vasgehou word. Dit spreek byna vanself. Indien a) die Vader die skape voor alle tye aan die Here Jesus gegee het b) die Here Jesus hulle op die kruis met God versoen het c) Sy bloed spesifiek vir húlle gestort is en d) die Heilige Gees hulle deur die prediking tot geloofsgehoorsaamheid gebring het – dan sal Hy hulle sekerlik end-uit vashou?!
Dit is presies wat vers 28 sê: “Ek gee hulle (die skape) die ewige lewe en hulle sal in ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Dit is húlle wie die Vader my gegee het. En niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek & die Vader is een.”
Die vraag is nie hoe sterk ek Sy hand vashou nie. Die vraag is: hoe sterk Hy my hand vashou. Dit is Sý vashou, wat my vashou tot gevolg het en aan die gang hou. My vashou is gebou op Sy vashou! Juis die feit & wete dat Hy my nie los wanneer ek Hom los nie, maak dat ek Hom nie wil los nie! Die feit dat – indien ek Hom los – Hy nooit in ‘n woedebui oor my losbars OF vir twee weke nie met my praat nie (omdat die woedebuie teenoor my alreeds in my Plaasvervanger op die kruis uitgewoed het), veroorsaak dat ek aan Hom wil vashou!
Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom/haar vashou sal ooit wil los nie! Geen gelowige wat weet hóé sterk die Here hom vashou sal ooit sê: “Ag nou hoef ek nie meer om te gee nie, Hý hou my mos…” Nee!! Daarom sê die Here uitdruklik in vers 27: “dit is húlle wat My VOLG…” Die feit dat ek absoluut seker is dat ek nooit verlore sal gaan nie en dat Sy hand my vashou, het tot gevolg dat ek Hom (wil) volg! So seker as wat ek hitte sal voel wanneer ek in die son kom, so seker veroorsaak Sy vashou van my, my vashou van Hom – maar ruk ek tog wel uit Sy hand, los Hy my nie – juis daarom wil ek nie uitruk nie! Juis omdat Hy my nie straf/veroordeel/verstoot wanneer ek losruk nie, wil ek nie losruk nie.
U sien wanneer die Vader die skape in die hand van die Here Jesus gee, is hulle nog steeds in die Váder se hand! (vers 29). Want die Here Jesus en die Vader is een (vers 30). Hulle is wel twee verskillende persone, maar hulle is een God. Dit is wat die Here Jesus hier sê: “My en die Vader se eenheid is die skape se sekuriteit en ewige veiligheid, want is hulle in Sý hand, is hulle in Mý hand en is hulle in Mý hand, is hulle in Sý hand. En watter sonde of watter duiwel of watter omstandigheid of watter stryd & moeite is groter as die Vader? Nooit, Hy is groter as almal. Daarom kan niks jou uitruk uit Sy hand & my hand nie – al gaan dit soms met stryd, trane en naels-kou gepaard!
Die Jode het presies reg gehoor wat die Here sê, want hulle tel onmiddelik klippe op om Hom dood te gooi (vers 31). Hy verdien doodstraf. Waarom? Godslastering (vers 33). Hy – wat ‘n mens is – verklaar Homself tot God. Wanneer Hy sê: “Ek en die Vader is Een”, verklaar Hy Homself tot God. Só hoor hulle dit.
Hulle het 100% reg gehoor. Dit is beslis wat Hy gesê het. Maar, dit was nog nie die Vader se tyd dat Hy sterf nie en steniging was nie die Vader se metode waardeur Hy moes sterf nie en daarom speel Hy as’t ware vir tyd en wil Hy nog ‘n laaste uitnodiging aan hulle rig en lei Hy hulle gedagtes weg deur iets te sê soos:
“Julle weet, elke woordjie in die Bybel is God se Woord en kan nooit verander word nie. Alles is deur die Heilige Gees ingegee. Nou staan daar in Psalm 82:6 dat God vir hemelwesens wat níé gode is nie (engele byvoorbeeld) “gode” noem. Goed, ons weet dat die woord “gode” nie letterlik bedoel is nie, maar dat dit ‘n aanduiding is van hulle verhewenheid en die feit dat hulle by God woon. Maar nogtans: As God só ‘n woord vir nie-gode gebruik, is dit dan godslastering wanneer Hý wat uit die ewigheid by die Vader was en na die wêreld gestuur is, van Homself sê dat Hy die “Seun van God” is? Goed, goed – as julle nie glo wat ek sê nie, glo dan minstens my wérke en sien in dat die Vader in my en Ek in die Vader is.”
Hoor u daardie laaste uitnodiging wat Jesus tot die hardnekkige Jode rig? Die argument oor Psalm 82:6 is eintlik Jesus se manier om hulle aandag van die steniging af te lei en nog ‘n laaste hand na hulle uit te steek: “Wíl julle nie maar nadink oor wat Ek alles gedoen het nie en begin INSIEN dat ek regtig is wie ek sê ek is?”
Wat ‘n Herder!! Tot die laaste oomblik pleit Hy by die mense. Hy sê nie vir hulle – “ag omdat julle nie kragtens die uitverkiesing skape is nie (en hulle was nie!) is dit van geen nut dat ek langer met julle karring nie, want julle sal in elk geval tog nie tot geloof kom nie.” O nee! Solank as wat Hy asem het, pleit Hy by hulle, voer Hy alle argumente aan om hulle te oortuig! Maar, hulle neem nie Sy woorde ter harte nie.
Maar kyk nou die kontras: Wég van Jerusalem af, oorkant die Jordaanrivier, waar Johannes die Doper destyds gedoop het – dáár was baie mense wat in alle eenvoud gesê het: “Johannes die Doper het nooit wondertekens gedoen nie. Niks sensasioneel nie. Maar, wat hy oor Jesus gesê het, is alles die waarheid.” En hulle het op grond dáárvan hulle vertroue op Jesus oorgeplaas (vv 40-42).
Sien u die kontras? Toe die Jode vir Jesus wou gevange neem, ontglip Hy hulle en gaan na die streek oorkant die Jordaanrivier. En dáár tref Hy toe hierdie klomp mense aan wat bereid was om in alle eenvoud slegs die getuienis wat Johannes die Doper aangaande Jesus gelewer het, ter harte te neem. Geen wondergenesings nie. Geen tekens nie. Geen duiweluitdrywing nie. Net maar die woorde van ‘n man wat al dood was – deur Herodes onthoof. Maar daardie woorde onthou hulle en glo dit en fokus op Christus alleen.
Dit is súlke mense wat vir ewig vasgehou sal word. Hulle is die skape. Alles sal nie altyd maanskyn en rose wees nie. Soms sal hulle selfs losruk uit die Here God se hand. Om maar net te ontdek dat die Here Jesus se hand en die Vader se hand één is en laat die skape tot in ewigheid nooit los nie.