Skrif: Johannes 10: 1-21

Kan ons die Fariseërs kwalik neem dat hulle gedink het Jesus is mal – soos v 20 sê? Wat sal óns sê van ‘n man wat daarop aanspraak maak dat hy volmag het om sy lewe af te lê (dit is moontlik) én weer op te neem (dis totaal onmoontlik & ondenkbaar)?? As ‘n mens fisies dood is, het jy geen volmag om jouself lewend te maak nie!

Daar was net een man op aarde wat só iets van homself kon sê: Jesus van Nasaret. Hy alleen het volmag om – ná die dood – Sy lewe weer op te neem. “Ek wás dood, maar kyk: Ek leef vir ewig..” (Open 1:18).

Die Fariseërs het besef dat hulle nie kan draadsit wat betref hierdie Man nie. Óf iemand wat sulke goed van Homself sê, is mal – óf Hy ís werklik wat Hy sê Hy is: die Seun van God. Daar is niks tussen-in moontlik nie. Die kerkleiers kies toe ongelukkig om te glo dat Hy mal is en ‘n duiwel het.

Wat ons egter nie moet miskyk nie, is wát die Here Jesus eintlik gesê het. Hy het vir hulle verduidelik hóé (deur middel waarvan) Hy – as Herder – Sy skape vergader (na aanleiding van wat so pas met die geneesde bedelaar gebeur het). Hy vergader Sy skape deur Sy lewe af te lê & weer op te neem: Sy dood en opstanding, dus. Sy dood & opstanding is die aksie waardeur Hy Sy skape versamel. Want die skape is almal ingesluit in Sy dood & opstanding. Met Sy dood & opstanding stel Hy Sy skape reg (versoen) met God. Verkondigers/predikers/getuies verkondig die blye boodskap van hierdie afgehandelde versoening aan alle mense wat bereid is om te luister. Ónder hierdie skares is daar die skape. In húlle harte werk die Heilige Gees onweerstaanbaar & skep die geloof om die versoening te omhels & só word hulle reggestel met God in hulle eie ondervinding. Húlle en nét húlle herken die Herder se stem wanneer hulle die prediking hoor en húlle alleen gee daadwerklik daaraan gehoor.

Wie presies is hierdie skape? Is dit mense wat die Here se skape word ómdat hulle glo OF glo hulle ómdat hulle Sy skape is? Vers 26 (waarby ons in ‘n volgende boodskap kom) gee die leidraad: “Julle glo nie, want julle is nie my skape nie.” Hy sê nie: “Julle is nie my skape nie omdat julle nie glo nie.” Hy sê: “Omdat julle nie skape is nie, glo julle nie.” Die skape is dus nie skape omdat hulle glo nie. Hulle is skape nog voordat hulle glo. Hulle kom juis tot geloof omdat hulle skape is. Wie op aarde is hulle dan?

Dit is die mense (uit Jode én nie-Jode) wie God die Vader voor die skepping reeds verkies het om Sy kinders te wees (Efes 1:4). Hulle is skape kragtens die verkiesing. Voor die skepping het die Vader hierdie mense aan die Here Jesus gegee (Joh 10:29). Uiteindelik kom die Seun na die aarde om almal wat die Vader Hom gegee het, met Sy dood & opstanding effektief te red. Met Sy dood & opstanding stel Hy hulle reg met God die Vader. Sy hele sending na die aarde is om hierdie skape te verlos (die kruis) en in een kudde te versamel (pinkster – die Heilige Gees). Die betekenis van Pinkster is dat die Gees die skape (wat op die kruis gered is) in een kudde versamel. Hierdie proses duur reeds 2000jr!

Jesus sterf dus spesifiek vir hierdie skape (v 10 = “die Herder lê Sy lewe af vir die skape”). Sy dood is effektief toegespits op die skape. Met Sy dood beveilig/verseker Hy die skape se verlossing. Hy maak dit vas. Wanneer Hy sterf, weet Hy presies vir wie Hy individueel sterf en Hy weet presies wie se verlossing Hy beveilig. Toe Hy sterf, het Hy elke skaap se naam geken.

Dít is die boodskap wat die predikers deur die eeue verkondig – aan almal sonder onderskeid. Almal wat ore het, hoor dit, maar slegs die skape gee regtig gehoor aan hierdie boodskap en glo/omhels dit. So ontvang hulle lewe & oorvloed. En die Herder lei hulle.

In kort is dit waaroor Joh 10: 1-21 gaan. Dit is prentjiestaal/beeldende taal (prentjie met woorde geteken) waarmee die Here Jesus vir die Fariseërs – vir die soveelste keer – verduidelik wie/wat Hy regtig is en waarom Hy na die wêreld gekom het. Hy verduidelik vir hulle wat Hy vir die blinde bedelaar gedoen het. Vir die soveelste keer reik Hy vir die Fariseërs die hand. Terwyl hulle Hom uitskel vir alles wat sleg is, reik Hy hulle oor en oor die hand. Die mees wonderbaarlike Herder wat daar is.

Wat is die prentjie wat die Here voor hulle oë skilder? Dis die prentjie van ‘n skaapkraal, skape, ‘n herder, ‘n ingang, ‘n vreemdeling (wat eintlik wil steel & verwoes), ‘n huurling (wat maak of hý die herder is maar geen gevoel vir die skape het nie) asook ánder skape van ‘n ánder kraal.

Wat beteken dit? Die skape is God se uitverkorenes uit die Jode – van wie die geneesde bedelaar een was. Dis die mense wat die Vader aan Sy Seun gegee het. Die Herder asook die ingang/deur is die Here Jesus self. Die vreemdeling (wat dief & rower is) asook die huurling (valse herder) is die Fariseërs & kerkleiers. Die ander skape vd ander kraal is die uitverkorenes uit alle nasies (die nie-Jode) – wat veral ná die uitstorting vd Heilige Gees versamel word – soos beskryf in die boek Handelinge en soos dit gebeur tot in ons dag.

Die blindgebore man (hfst 9) wie se fisiese én geestelike oë siende geword het, was een van God se skape – een van miljoene – wie God voor die skepping tot Sy kind verkies het & aan Christus gegee het om op die kruis te verlos. En Jesus versamel hom tot die kudde. Want Hy is die ware Herder wat diegene wat skape is, op die naam ken & roep. En die skape ken Sy stem en volg Hom. Hy loop voor en hulle volg Hom. Dit is wat die geneesde man gedoen het. Hy het beleef dat Jesus nie net die Herder is wat hom by die kudde versamel nie, maar dat Hy self ook die ingang/hek is. Deur sy vertroue op Jesus te plaas, het hy onmiddelik toegang tot die kudde. Daar is slegs die één ingang, geen ander. Slegs Christus, niemand anders. En onmiddelik beleef die man léwe & oorvloed = vrede, vreugde & reg-wees met God (Rom 14:17). Hy kry weiding.

Daarenteen het die geneesde man weggevlug van die Fariseërs en Joodse leiers – die vals profete. Juis ómdat hy ‘n skaap is, ken hy nie hulle stem nie en luister nie na hulle nie. ‘n Ware skaap slaan nie ag op ‘n vals profeet nie. Want hulle is valse herders wat nie ‘n hart het vir die skape nie, maar vir wie dit om eie belang gaan. Hulle is selfaangestelde herders. Hulle sal nie die kudde teen die wolwe beskerm nie. Hulle het nie wettiglik by die skaapkraal ingekom nie, maar onwettig ingeklim om te steel en te roof.

Die Here is vir die afgelope 2000 jr besig met ‘n wêreldplan. Dit is om ‘n enorme wêreldwye gemeente/kerk/liggaam/kudde te versamel uit Jode sowel as nie-Jode. Die taak & werk gaan voort totdat die laaste uitverkorene tot geloof gekom het. Dan sal Jesus verskyn op die wolke vd hemel en sal die voleinding plaasvind. Al rede waarom Hy steeds vertoef om te kom, is omdat daar nog skape is wat versamel moet word. Die wêreldplan is nog nie voltooi nie (vgl Mat 24:14).

Die diepte & troos van hierdie waarhede, ken geen perke nie. Ek wys op drie:

1 Vir die mens wat op die Here Jesus se kruisdood vir verlossing vertrou, bied dit onuitspreeklike vastigheid & sekerheid om te weet dat jou geloof & jou kindskap vasgeanker is in God se ewige keuse vir jou. Dat ek nou & hier ‘n skaap is, is só omdat ek voor die skepping reeds ‘n skaap was wie die Vader aan Sy Seun gegee het. Daar kan kwalik groter troos wees as dit.

2 Joh 10: 1-21 speel klaar met ons ingebore hoogmoed en selfverheffing. In ons verwaandheid dink ons dit is ons reaksie op die Here se roepstem wat van ons Sy skape maak. Maar Hy sê dis andersom: Dis slegs indien jy ‘n skaap is wat jy enigsins kán reageer op Sy roepstem! U sien: dit stroop ons van die veronderstelling dat die finale uitkoms van ons lewe in óns mag lê.

Stel uself voor ‘n Fariseër sou na Jesus se woorde in Joh 10 luister en by homself dink: “Hy moet seker kêns wees om te dink dat ék my gaan laat insuig in Sy groepie – om saam met sondaars en tollenaars te wees. Nooit. Ek besluit self wat ek wil en wat ek nie wil nie.”

Maar stel u voor die Here Jesus lees die man se gedagtes en sê vir hom: “Dink jy jý is in beheer van jou lewe? Waarlik, ek sê vir jou: die rede waarom jy nie glo nie, is omdat my Vader jou nie by Sy skape reken nie.”

Sien u? Johannes 10 sny alle roem en selfverheffing by die wortel af en sit ons behoorlik op ons plek. En wat bly oor? Ons roem net in die Here alleen.

3 Vir almal wat op watter manier ookal die Blye Boodskap aan ander mense probeer bring – hetsy deur persoonlike getuienis, gesprekke, voorbidding – of sending/evangelisasiewerk – gee dit die gerustheid dat daar óral, uit alle nasies en groepe, skape is wat gehoor sál gee. Die versamelwerk is nie óns werk nie, dis God se werk. Daar is altyd nog ánder skape van ‘n ánder kraal wat versamel moet word. Ons sendingwerk en voorbidding vir mense sál vrug dra – omdat daar skape is wat tot geloof sál kom. Wanneer hulle die Herder se stem hoor, sal hulle dit herken en Hom begin volg. Ons taak is om Sy stem hoorbaar te maak en voorbidding te doen. 2 Tim 2:10 > “Ek verdra alles t.w.v die uitverkorenes sodat hulle ook die saligheid wat in Christus is, kan verkry (hulle het dit dus nog nie).” Presies in lyn met Joh 10!

‘n Laaste vraag: Hoe kan ék seker weet dat ék ‘n skaap is en dat die Here mý Herder is?

Wanneer Hy vir jou brood & wyn in die hand gee en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam vir jóú gebreek. Só het ek jou gered. Só het ek met jou sondeskuld klaargespeel.”

Glo dit!

Plaas jou persoonlike hartsvertroue daarop!

Draai weg van jou eie skema’s om jouself in die hemel te kry.

En moenie weer omkyk nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00