Skrif: Johannes 9: 35-41
Die vorige twee Sondae het ons die eerste gedeelte van Johannes 9 bestudeer en gesien hoe Jesus die blindgebore bedelaar genees het en hoe hierdie genesing gelei het tot ‘n klompie gesprekke.
Gaandeweg gaan óók die geneesde man se gééstelike oë/geloofsoë oop vir wie die Here Jesus werklik is – net soos wat sy fisiese oë siende geword het. Die genesing van sy fisiese blindheid was net ‘n prentjiesbeeld van sy éíntlike genesing: hy word geestelik siende. Sy geloofsoë word aangeraak. Terselftertyd word die Fariseërs en Joodse leiers – wat fisies siende was, net meer en meer geestelik blind.
Uiteindelik vind die laaste gesprek plaas waar die Here Jesus sélf met die geneesde bedelaar ontmoet en met hom praat. Dit is hierdie gesprek waarop ons vanoggend fokus. Ons wil graag sien watter belangrike beginsels die Heilige Gees in hierdie stukkie Skrif ingebou het – wat vir óns as Woord van God aanspreek.
Vers 35 is so verruklik asemrowend mooi: “Toe Jesus hom kry..” Nie: “Toe hy vir Jesus kry” nie, maar “toe Jesus hom kry…”
Wanneer ‘n mens sê “Ek het die Here gevind”, dan bedoel jy eintlik: “Ek het gevind Hy het my gekry”. My keuse vir Jesus is om te be-aam dat Hy my gekies het. Dit is waarom die apostel Paulus vir die Galasiërs skryf en dan sê hy: “noudat julle Hom leer ken het OF LIEWER noudat Hy julle ken..” (Gal 4:9). Die apostel bedink homself onmiddelik en besef hy het dit verkeerd gestel – dit is nie dat ons Hom ken nie, maar dat Hy ons ken. Ons ken van Hom is die ontdekking dat Hy ons ken/gekies het/gesoek het/gevind het (op die kruis).
En só sien ons ook hierdie genade in Joh 9:35. Dit is die Here Jesus wat die inisiatief neem en die geneesde bedelaar gaan opsoek toe Hy hoor dat die Fariseërs hom uit die Sinagoge verban het. Dit is nie om dowe neute dat net die volgende hoofstuk (10) handel oor die Here Jesus as Herder wat die skape soek en versamel nie!
O, wat ‘n verruklike besef is dit nie: Hý het mý kom vind toe ek Hom glad nie gesoek het nie (sien Jesaja 65: 1-2). Ek het die ewige lewe te danke aan die feit dat Hy my gekies het. My lewe háng aan die genadige uitverkiesing. As dit nie daarvoor was nie, sou ek net verder en verder weggedwaal het tot in die duistere ewige wanhopige hooplose verderf.
En wat is die gevolg/vrug/resultaat van hierdie oopmond verwondering en dankbaarheid? Aanbidding. Dit is waarvoor ons as mense gemaak is: Om die ewige enigste ware God te aanbid. Dis presies wat met hierdie bedelaar gebeur (v 38). Hy aanbid die Here Jesus. Sy menswees kom vir die eerste keer tot sy volle reg. Vir die eerste keer kom hierdie man by werklike ménswees uit : om as KIND aan die Vader se voete in aanbidding te lê en nie meer net op jouself gefokus te leef nie. Dis die essensie van ware ménswees.
Tussen hakies: Hier is nóg ‘n kragtige bewys dat Jesus werklik God is: Hy aanvaar hierdie man se aanbidding. Slegs God alleen aanvaar aanbidding. Dis net die duiwel wat wederregtelik aanbidding begeer, maar daar is voorbeelde in die Skrif waar mense/engele die aanbidding van hulleself verwerp (sien Hand 10: 25-26; Open 19: 10-11). Maar Jesus aanvaar aanbidding. Omdat Hy God is. Hy is tans steeds ware mens, maar ook ware God.
‘n Christen-gelowige is ‘n mens wat glo dat Jesus is wie Hy sê Hy is en vertroue op Hom oorgeplaas het (nommer 1) en wat deur Hom gekies en gevind is (nommer 2) en daarom Hóm aanbid en nie meer die eie self nie (nommer 3). Mense wat nie tot hierdie ontdekking kom nie, blý in die blindheid waarin hulle kragtens die sondeval gebore is.
U sien, die Here Jesus se verlossingswerk is soos ‘n lem wat brood sny. Die lem sny sodat iemand ‘n snytjie brood te ete kan kry, maar in die proses bly die res van die brood agter. Met een-en-dieselfde sny-aksie kom ‘n eetbare sny brood los én die res van die brood bly agter.
Die Here Jesus se verlossingswerk/aksie deur Sy lyding/kruisiging/sterwe/opstanding maak sommige mense se oë oop & skep geloof, maar diesélfde verlossingsaksie veroorsaak dat diegene wie se oë nie oopgaan nie, blind bly in die blindheid waarin hulle in elk geval was.
Dit is wat die Here bedoel met die woorde in vers 39: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ‘n beslissing sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien (dit is: die wat sê/dink dat hulle sien), kan blind word.” Sy koms is die lem wat verdeel. Die één koms van Jesus veroorsaak dat sommige siende word en ander blind bly – dié wat dínk dat hulle sien.
Alle mense is as gevolg van die sondeval, die erfsonde & erfsmet geestelik blind gebore – maar sommige ontdek & erken hierdie blindheid en vlug na die Here Jesus se verlossingsaksie op Golgota en word siende. Ander ontken hulle blindheid en hou vol dat hulle eintlik siende is en glad nie blind nie en daarom blý hulle blind. Tragies inderdaad.
Die lem wat die twee groepe skei, is Jesus se koms in die wêreld en Sy reddingswerk op die kruis en Sy opstanding uit die dood.
Daarby is dit ook belangrik om te sien dat – wat betref die mense wat volhou om te ontken dat hulle blind is en gevolglik blind bly – dat dit alles hulle eie skuld is. Hulle is self verantwoordelik vir hulle blindheid. Hulle is self aanspreekbaar vir hulle passiwiteit t.o.v Christus se verlossingsaksie.
MAAR: diegene wat ontdek dat hulle blind is en dit erken en na Jesus se verlossingsaksie vlug, word nie siende omdat enigiets aan húlle te danke is nie. Hulle het alles te danke aan die Here wat hulle verkies & geroep het.
Ongeloof is te wyte aan jouself. Geloof is te danke aan God.
Diegene wat blind bly, bly blind a.g.v. hulle eie skuld. Diegene wat siende word, word siende slegs o.g.v. die Here se uitverkiesende genadewerk.
Dit is belangrik om hierdie dinge só uit te spel, want die vraag kan maklik ontstaan: As die Here so soewerein handel en as Sý-keuse-vir-mý, my-keuse-vir-Hom oorskadu & in die lewe roep – het ek as mens dan nog enige verantwoordelikheid? Kan die mens aanspreeklik gehou word vir sy sonde en ongeloof? As die mens geestelik blind gebore is, hoe kan hy/sy daarvoor verantwoordelik gehou word dat hy nie sien nie? Moet die blinde nou maar sit en wag totdat die Here op ‘n goeie dag die skille van sy oë laat afval? Of het die blinde die verantwoordelikheid om op te staan en daadwerklik te reageer op die blye boodskap van Christus se reddingswerk en te erken dat hy/sy blind is en te begin vertrou op Christus se verlossingsaksie? Die antwoord is eintlik voor die hand liggend.
Dis presies dit wat in verse 40-41 aan die orde kom, want die Fariseërs sê vir die Here: “Óns is sekerlik nie blind nie..” Waarop Jesus antwoord: “Júís omdat julle julle blindheid ontken en volhou dat julle siende is – daarom bly julle blind. En julle is sélf skuldig daaraan. Julle is self verantwoordelik vir julle opstandigheid, want julle weier om in te breek en toe te gee dat julle blind is en dat julle ingesluitwees by my lyding/sterwe julle enigste hoop is om siende te word”.
Niemand kan sê: “Ag ek is nou eenmaal maar in blindheid gebore, ek sal daarom maar sit en wag totdat die Here besluit om my te kom siende maak” nie. NEE!! Jy moet inbreek en jou blindheid erken en raaksien dat Jesus jou van jou blindheid genees het met Sy lyding & sterwe en jou geloofsvertroue op Hom oorplaas. Moenie passief bly nie. Moenie neutraal bly nie. Vertrou Hom dat Hy jou blindheid verwyder het met Sy verskriklike kruisdood en siende gemaak het deur jou in te sluit by Sy opstanding uit die dood.
Kyk mooi na die heldere eenvoud van Joh 9: 35-38. Toe Jesus die man kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die Mens?” “Wie is dit, dat ek in Hom kan glo” vra die man. Jesus sê: “Jy kyk nou na Hom. Dis Hy wat met jou praat.” Die man sê: “Ek glo Here” en hy het Hom aanbid.
Is hierdie beskrywing nie kinderlik helder verstaanbaar nie? ‘n Mens is geneig om te wil vra: Sjoe, kán dit so maklik wees? Is dit nie té maklik nie? Is daar nie dalk ander Bybelgedeeltes wat ‘n mens moet byvoeg om dit ‘n bietjie meer ingewikkeld te maak nie? Wat van goed (voorvereistes) soos “bekering, hart vir die Here gee, Here innooi in jou hart, hele lewe totaal oorgee aan Hom, die Here koning maak van jou lewe”? Die Here Jesus sê dan absoluut niks van sulke goed vir hierdie bedelaar nie. Niks. Totaal níks! Al wat Hy sê is: “Glo jy in die Seun van die Mens?”
Dit mag vir u ‘n groot skok wees, maar begrippe soos “hart vir die Here gee”, “Here innooi in jou hart”, “hele lewe aan die Here oorgee”, “die Here op die troon van jou hart plaas”, “die Here koning van jou lewe maak”, kom glad nie in Johannes-evangelie óf in die hele Bybel voor nie! Dit is totaal onbybelse begrippe. Dit is begrippe wat met verloop van tyd in sekere kringe binne die Christendom ontstaan het omdat mense gevoel het dat die manier waarop die Bybel praat, te min om die lyf het/ te maklik is en die Bybel te min maak van die méns se inset.
Eintlik gaan dit alles oor ‘n groot misverstand. Dit is vir ons uiters swaar om te verstaan dat die egtheid van die redding nie in die mens se gelóóf lê nie, maar in die Here Jesus (as ons plaasvervanger) se lyding/sterwe/opstanding. Hierdie misverstand lei daartoe dat ons voel dat as ons net iemand daartoe kan bring om “régtig sy/haar kant te bring deur iets geweldig te dóén” die persoon ‘n beter kans staan om régtig gered te word en nie net kopkennisgeloof/vormgodsdiens te hê nie. Ons wil nie hê mense moet valslik gerus wees nie. Ons wil net sekermaak dat mense régtig gered word. Ons vertrou egter nie heeltemal die krag van Jesus se reddingswerk – dat dít ‘n mens régtig red nie, daarom laai ons die méns se kant met voorvereistes wat eers goed genoeg gedoen moet word. Die hárt moet beweeg word, nie net die kop nie.
Alles berus op ‘n tragiese misverstand. Ons moet net weer in die Bybel ontdek dat geloof/bekering/oorgawe/keuses & beslissings glad nie red nie. Ons moet ontdek dat God self gered het deur Jesus se sterwe & opstanding en dat Hy dit perfek gedoen het en dat dít kragtig genoeg is om ‘n sondaar régtig te red – en dat ons persoonlik daarby ingesluit is. Dis waarvan die doop in alle tale getuig.
En hierdie verlossing ONTVANG ons net deur dit te glo. Ons kan dit op geen ander manier ontvang as om nét die Here daarvoor te glo nie.
En dit is ook ons bekering. Bekering beteken “draai”. Wanneer ons op ‘n punt kom waar ons erken dat ons blind is en dat ons die Here se kruisredding nodig het en ons hou op om vol te hou dat ons siende is – en ons glo die Here vir ons redding deur Sy lyding/sterwe/opstanding, dan draai ons outomaties weg van al ons eie menslike pogings om onsself met God reggestel te kry deur middel van ons eie onbybelse self-doen skema’s. So eenvoudig soos dit. Ons soek dan nie meer sekerheid in die kwaliteit van ons geloof nie, maar ons vind sekerheid in die kwaliteit van dit wat Jesus in ons plek gedoen het (en steeds doen) – waaróp ons bou met ‘n vertroue wat maar hóé wankelmoedig kan wees. Dit gaan nie oor hoe wankelmoedig ons vertroue is nie! Dit gaan oor waaróp die wankelmoedige vertroue bou, naamlik die Here Jesus se verlossings-aksie op die kruis. En dís nie wankelmoedig nie!
Wanneer ‘n mens dit verstaan, verstaan jy onmiddelik die eenvoud van Jesus se woorde aan die bedelaar. “Glo jy in die Seun van die Mens? Dit is Hy wat nou met jou praat.” Die man sê toe: “Ek glo Here!” En hy het Hom aanbid.