Skrif: Johannes 9: 13-34

Verlede Sondag het ons die eerste 12 verse van Joh 9 bestudeer en gesien hoe die Here Jesus op ‘n Sabbatdag die blindgebore man genees het deur klei aan sy oë te smeer. Hy het dit uit vrymagtige genade gedoen, sónder die man se samewerking.

Hierop volg daar toe ‘n klompie gesprekke: a) Die geneesde man en die Fariseërs (vv 13-17), b) Die Fariseërs en die man se ouers (vv 18-23), c) Die geneesde man en die Fariseërs (vv 24-34), d) Jesus en die geneesde man (vv 35-38). Ons sal volgende week in meer besonderhede na die 4de gesprek kyk in ‘n aparte boodskap.

Die inhoud van die eerste 3 gesprekke is kortliks die volgende:

a) Die geneesde man en die Fariseërs (vv 13-17) : Aanvanklik het die geneesde man se vriende & bure hom onder hande gehad en uitgevra wat gebeur het. Hulle kon nie glo dat iemand wat die een oomblik blind was en gebedel het, die volgende oomblik siende is nie. En dit net deur ‘n bietjie klei aan die oë en ‘n afwas in die Siloambad. En eienaardig: toe hulle hom vra waar Jesus is, weet hy nie! Mens sou dink dat hy onmiddelik sou begin om Jesus te volg. Maar dit is asof hy so uit die veld geslaan is, dat hy nog nie behoorlik tot sy sinne gekom het nie.

Toe bring hierdie vriende & bure die man na die Fariseërs toe. Waarskynlik omdat die Fariseërs die geestelik-kundiges was en die mense geweet het hoe die Fariseërs voel oor genesings wat op die Sabbat plaasvind. Op die Sabbat mag byvoorbeeld geen klei aangemaak word nie. En dis presies wat Jesus gedoen het. Nou moet die Fariseërs ingryp asseblief!

Die Fariseërs is egter onderling verdeeld: Sommige sê Jesus kan nie van God wees nie, want Hy skend die Sabbat. Ander sê: As Hy nie van God is nie, hoe kan Hy dan ‘n blinde genees? Daarom vra hulle die geneesde man wat hý sê wié hom genees het. Waar die man eers half onverskillig was, is dit asof sy oë begin oopgaan en hy antwoord: “Hy is beslis ‘n profeet.” Die volle lig sal eers vir hom opgaan wanneer Jesus met hom praat, maar dis asof die lig reeds begin deurbreek.

b) Die Fariseërs en die man se ouers (vv 18-23) : Die Fariseërs glo nie dat die man eers blind was nie, daarom roep hulle sy ouers en vra hulle uit. Maar – uit vrees vir die Jode – maak hulle of hulle niks weet nie. Hulle was bang hulle word uit die Sinagoge verban. Die Joodse leiers het immers al voorheen gewaarsku dat enigiemand wat die Here Jesus bely, uitgeban sal word. En om uit die Sinagoge verban is word, is dieselfde as om uit die gemeenskap verban te word. Niemand het daarvoor kans gesien nie, want dit sou beteken totale verlies van familie, vriende, finansiële inkomste – totale isolasie. In skrille kontras met hierdie vrese van sy ouers, kom die geneesde man se vreeslose vrymoedigheid na vore. Ons sien dit in sy tweede gesprek met die fariseërs:

c) Die geneesde man en die Fariseërs (vv 24-34) : Onbeskryflik dat ‘n arm bedelaar opstaan teen die gesiene opgevoede kerklui. Hy straal. In skerp kontras daarmee die Fariseërs se godslastering: “verheerlik God en noem Jesus ‘n sondaar” sê hulle – “OF ons ban jou uit die sinagoge.”

Waarop die man sy bekende antwoord gee: “Of Jesus ‘n sondaar is weet ek nie. Wat ek wel weet: Ek was blind, maar nou sien ek.” Deur die eeue van kerkgeskiedenis het hierdie woorde die getuienis van alle Christene geword. Die getuienis klink so: “Hoe presies dit gebeur het, weet ek nie, maar wat ek wel weet is dat ek siende geword het. Vroeër het ek nie gesien nie, nou sien ek.” Inderdaad, wanneer ‘n mens se oë daarvoor oopgaan dat God jou binne-in jou sondeverlorenheid met Jesus se kruisdood verlos het, raak jy werklik siende.

Kyk net hierna: Die man raak net al hoe meer & meer siende en die Fariseërs meer en meer blind. Die man se fisiese oë was blind, maar die genesing dáárvan lei verder tot geestelike sig. Die Fariseërs se fisiese oë kon sien, maar hulle is geestelik blind. En namate dit vir die bedelaar oopgaan wie die Here Jesus regtig is, raak hy al meer siende. Namate dit vir die Fariseërs oopgaan wie die Here Jesus regtig is, raak hulle al meer blind. Die volgende verse gee die rede waarom hulle so blind was. Kyk nou net hierna:

Die man het nou al soveel vrymoedigheid dat hy die Fariseërs trompop loop: “Julle wil tog nie ook volgelinge van Jesus word nie?”

Dit was die laaste strooi! Hulle begin op hom skel: “Ons is dissipels van Moses! Ons ken Moses, maar ons weet nie eens van waar hierdie man gekom het nie!” Dit is die rede waarom hulle Jesus nie kon herken nie. Hulle was dissipels van Moses, van die Wet. Die kern van hulle godsdiens was dat hulle geglo het dat hulle deur wat hulle doen vir God aanvaarbaar sou word: hulle liefde bewys/ liefdesverklarings/ Hom deel van hulle lewe maak ens. Lynreg teenoor Christus wat sê: Deur my lyding, dood en opstanding maak Ék julle vir God aanvaarbaar omdat ek julle daarby insluit.” Die bedelaar se oë het hiérvoor oopgegaan. Hy het ‘n volgeling van Christus (evangelie) geword terwyl die Fariseërs volgelinge van Moses (wet) was. Dit is die kern van die probleem & spanning.

Maar die bedelaar word nie afgeskrik deur die Fariseërs se skellery nie. “Dis darem eienaardig: God sal tog nie na ‘n verlore sondaar luister nie. Hoe kan Jesus ‘n verlore sondaar wees en tog my oë genees het?”

Dis toe dat die Fariseërs hom uitban uit die Sinagoge. “Jý is van jou geboorte af méér as net blind. Jy is die ene sonde. Óns is opgeleide teoloë. Wil jy óns kom leer?” En daarmee word die man uitgeban uit die Joodse samelewing. Hy bely dat hy slegs in Jesus glo as sy verlosser – en daarmee word hy van alle regte ontneem en uit die Joodse samelewing verstoot. Tot in ons dag is mense wat dissipels van Moses is, baie baie nydig en selfs wreed teenoor mense wat uit die Here se genade alleen wil leef. Mense wat self verantwoordelikheid vir hulle verhouding met God opgeneem het deur middel van hulle keuses/oorgawes/goeie voornemens en glo dat dít hulle redding is, is altyd vyandig teenoor mense wat slegs maar vertrou op Jesus se lyding/kruisiging/sterwe/opstanding. Die vraag is waarom? Kan die twee nie op ‘n manier versoen word nie? Is dit nie maar net twee aksente van dieselfde saak nie?

Kom ons fokus nou ‘n bietjie van naderby op wat presies hier aan die gang is in Johannes 9. Wie is hierdie Fariseërs en waarom haat hulle die Here Jesus met soveel minagting?

Deur al die eeue groei die koring en onkruid saam op die land. Binne die kerk was daar deur alle eeue ‘n vermenging van ware & vals kerk. Dit was ook só in die OT-kerk.

Gedurende die tyd van die Here Jesus se lewe op aarde, was daar die Fariseërs & Sadduseërs. Sáám het hulle die vals kerk verteenwoordig. Hulle was dissipels van Moses. Hulle het geglo dat hulle hulself vir God moes reg maak én reg hou d.m.v. bekerings, toewydings, gebede, keuses, besluite, ondernemings, goeie werke en noukeurige navolg van die Wet.

Die Fariseërs was die konserwatiewe, behoudende, vroom, geestelike mense. Hulle het nie een letter vd Bybel betwyfel nie, het mooi lewens geleef en was baie ernstig in hulle toewyding aan God. Hulle het geglo dat hulle deur hulle liefde en toewyding (hoe hulle hulle harte vir die Here gee) vir die Here reg is.

Die Sadduseërs was die liberales. Hulle kon nie ‘n godsdiens verdra wat nie 100% verklaarbaar is vir die mens se rede & logika nie. Daarom het hulle nie geglo in die bestaan van engele of die duiwel nie. Hulle het ook nie geglo in die liggaamlike opstanding nie. Hulle het in die Bybel gekies wat geglo kan word en wat nie.

Tog was beide groepe in een kerk verenig, want hulle het ‘n gemene deler gehad wat hulle saamgebind het. Die méns in sy selfgenoegsaamheid was die gemene deler. Gesamentlik het hulle die leuen geglo dat ‘n mens jouself vir God aanvaarbaar moet maak deur wat jy doen. Dit is wat hulle die vals kerk gemaak het. Ten diepste toe steun beide Fariseërs & Sadduseërs op die vrome godsdienstige selfgenoegsaamheid van die méns om voor God reg te wees en reg te bly. By die Fariseërs gaan dit oor hulle selfgenoegsame toewyding aan God. By die Sadduseërs gaan dit oor hulle selfgenoegsame rede & verstand wat bó die Bybel staan. Maar beide was dissipels van Moses – die dóén vd Wet. Daarom was hulle vals kerk. Daarom het hulle die ware kerk vervolg – soos hier in Joh 9.

Wie was die ware kerk? Dit was die minderheid mense wie se oë vir die Here Jesus oopgegaan het en besef het dat Hý as Persoon as hulle plaasvervanger hulle reg-wees voor God is. Dat hulle Hom slegs daarvoor kan glo/vertrou sónder om bekerings, ervarings, oorgawes, keuses, ondernemings, voornemens, aksies, gebede, toewydings, liefdesverklarings en selfkruisiging die grond van hulle verlossing te maak. Dit is die evangélie en nie die Wet nie. Daarom was hulle dissipels van Jésus, nie van Moses nie. Daarom was hulle ware kerk en nie vals kerk nie.

Aangrypend dat dit vandag nog presies dieselfde is. In één kerkdenominasie kry jy: a) Vals kerk bestaande uit Fariseërs (met hulle selfgenoegsame vrome harte) & Sadduseërs (met hulle selfgenoegsame logika/rede/verstand) b) Ware kerk bestaande uit mense wat slegs die Here Jesus se lyding/sterwe/opstanding glo as hulle reg-wees met/voor God.

Die probleem met die vals kerk is dat hy die evangelie as wet verkondig en glo. Dit is waarom die Here Jesus in Joh 8 vir die Fariseërs sê dat hulle die duiwel as vader het. Want die duiwel se mag lê net in twee goed: Aanklagte (Open 12:10) en leuens (Joh 8:44). Sy mag lê nie in ons sondes/ sondige aard/ okkulte/ satanisme nie. Sy mag lê in AANKLAGTE & LEUENS.

En vir beide gebruik hy die Wet vd Here as middel/wapen. Vlgs Rom 5:13 kan niemand van sonde aangekla word sonder die Wet nie! Ja, die middel waarmee die duiwel aankla & lieg is die Here se goeie en volmaakte wet! Want hy laat mense glo dat hulle deur wetsonderhouding met die Here reggestel word en hy kla hulle heeltyd aan en veroordeel en verdoem hulle omdat hulle dit nie reg genoeg doen nie. Jy is net nooit goed genoeg nie.

Jy is nog nie ‘n werklike Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n Geesvervulde Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n vurige biddende Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n kragvolle getuie vir God nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n bekeerde Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie daad-Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n nie-rassige Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n versoenende Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n ekumeniese Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n post-moderne Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n verligte redelike wetenskaplike Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie ‘n liefdevolle innige Christen nie, al glo jy in Christus; jy is nog nie spiritueel nie, al glo jy in Christus. Ten spyte van jou geloof in Christus, skiet jy net altyd te kort en bly jy as ‘n aangeklaagde vasgevang in jou skuld en in ‘n konstante siklus van mislukking. Dis die aanklaer in aksie! En hy gebruik daarvoor die Wet. Dit maak Christenwees ‘n groot las en pyn en veroorsaak dat duisende mense uit kerke wegbreek.

Verder mislei/belieg die duiwel mense met die Wet, deur die Evangelie met die Wet stil te maak. Hy hou die bevryding vd evangelie vir mense verborge, deur hulle te laat glo dat hulle ‘n stuk wetsonderhouding moet voeg bý geloof in dit wat Jesus gedoen het. Hy laat mense glo dat hulle volgens hulle liefde vir die Here en toewyding aan die Here vir die Here reg is. Glo PLUS wetsgehoorsaamheid. Glo PLUS liefdesverklarings teenoor die Here. Glo PLUS die Here ‘n plek in jou lewe gee. Glo PLUS jou hart aan die Here oorgee. Glo PLUS die Here ‘n plek in jou lewe gee. Glo PLUS die Here kroon as koning van jou lewe. Glo PLUS die doop. Glo PLUS IETS!!

Die krux van wat in Joh 9 aangaan: Onder aanvoering van die leuens van die duiwel leer & glo die Fariseërs dat ‘n mens deur wetswerke reggestel word met die Here en dat jy deur volgens die 10 Gebooie te leef jouself moet reg hou voor God. En daarom moet Jesus stilgemaak word! Daarom haat hulle Hom so. Die Evangelie moet stilgemaak word. Dis waarom hulle hierdie man uitgeban het uit die sinagoge. Dis die vals kerk teenoor die ware kerk.

Wat is die Evangelie? Dit is Gód se manier om sondaars met Homself reg te stel en reg te hou SONDER/ BUITE-OM die wet. Hoe doen Hy dit? Jesus word ons plaasvervanger en Hy word in ons plek aangekla & gestraf. As ons plaasvervanger is Hy ook die mens wat voor God reg leef. En God sluit ons by dit alles in net omdat Hy wil – om vertrou te word.

Gelowiges in die Here Jesus Christus is daarom totaal vrygemaak van die duiwel se aanklagte én leuens (Openb 12:11). Jesaja 54:17 > Géén wapen sal iets teen jou kan uitrig nie.

Kan glad nie weer aangekla word vir enige oortreding van die Wet nie. Dit is ook nie so dat jy éérs aangekla en daarná vrygespreek word nie. Nee, jy word hoegenaamd nie aangekla vir jou oortredings nie. Elke aanklag word uitgegooi omdat die Plaasvervanger in jou plek aangekla & gestraf was (Rom 8:33-34). Só is jy vir ewig vry van aanklagte en veroordeling. In God se oë is jy nooit ‘n Christen-pervert, ‘n Christen-dief, ‘n Christen-onreine, ‘n Christen-kwaadprater, ‘n Christen-wellusteling nie. Nee, God sien jou skuldvry en vry van alle aanklagte teen jou.

Daarby kan die duiwel jou ook nie meer mislei met die leuen dat jy reg moet leef deur die Wet te onderhou en dat jy die heeltyd onderdeur is en misluk nie. Waarom faal hierdie leuen? Omdat jy ingesluit is by die Here Jesus se reg-wees & reg-lewe & gehoorsaamheid & heiligheid. Daarom is jou lewe/toewyding/liefde vir God reg en goed en volmaak, al doen jy nog sonde. Hý hou jou reg vir Homself deur jou insluiting by Jesus se reg-wees. Wanneer jy voel of jou liefde te kort skiet, sê die Gees: Nee, jou liefde is reg en goed. Wanneer jy voel of jou gebede te kort skiet, sê die Gees: Jou gebede is reg & goed. Nooit hoef jy jouself vir Hom aanvaarbaar te maak nie.

Dít is die vryheid waarmee ons vrygemaak is:

Ek is ingesluit by Jesus se afgehandelde werk op die kruis EN ek is ingesluit by die lewe wat Hy nóú leef. Daarom is ek 100% vergewe, volkome onskuldig, grootliks geseënd, hoogs begunstig en word ek diep liefgehê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00