Skrif: Johannes 9: 1-12
‘n Bergklimmer se voet gly en hy val ‘n klompie meter. Hy breek albei arms en albei bene. Hy kan nie ‘n vinger verroer nie. Die lewensredders kom en laat ‘n tou afsak. Die man moet nou gered word d.m.v. twee gelyktydige samewerkende aksies: hy moet die tou vasgryp en aan die tou vasklou terwyl die lewensredders trek. Sinergisme = samewerking.
Maar toe ontdek die lewensredders ‘n enorme probleem: Die man se arms is gebreek en so-ook sy bene. Hy kan glad nie die tou gryp en vashou nie. Hy is eenvoudig nie in staat tot enige samewerking nie. Sinergistiese redding is buite die kwessie.
Daar is net een alternatief: Monergistiese redding. Die lewensredder sal dit alleen moet doen, sonder die beseerde se samewerking. Daarom klim die lewensredder af tot by die beseerde, bind hom aan homself vas en dra hom uit tot redding. En die beseerde aanvaar dit dankbaar.
Dit is die wonder wat ons in Johannes 9: 1-12 raaksien. Vers 1: Jésus sien die man wat (van geboorte) blind was en gaan staan by hom stil. Die blinde kan die Here Jesus nie sien nie, selfs al gaan staan Hy vlakvoor die man. Hy kon die Here nie eien nie.
Maar Jesus sien hóm. Jésus neem ook die inisiatief om klei aan die man se oë te smeer. Hy neem die inisiatief om hom te genees en Hy doen alles alleen. Die blinde vra/smeek nie vir genesing nie. Hy beur nie na Jesus toe en smeek: “Asseblief Rabbi genees my, genees my” nie. Nee, hy ontvang die genesing van A-Z sonder dat hy dit verdien óf dit vra.
Nadat Jesus hom aangeraak het, gaan was hy die klei af in die Siloambad, wat slegs illustreer dat hy vir Jesus op Sy Woord vat. Hy glo Hom. Dis al. En só ontvang hy sy sig. So eenvoudig soos dit.
Geestelik is ons almal blind gebore. Ons kan nie die Here Jesus en Sy voltooide volbragte redding herken nie. Ons kan dit nie sien nie. Ons besit geen kapasiteit daartoe nie. Volgens 2 Kor 4:4 word ons oë verblind. Ons het by die krans afgeval en ons arms en bene gebreek. Eintlik is dit baie meer radikaal. Volgens Efes 2 is ons geestelik morsdood, nie net beseer nie. Ons het absoluut géén lus/begeerte/wil/vermoë om siende te word nie. Ons kan nie ‘n vinger verroer om te glo of ons te bekeer nie.
Die wonder is dat die Here óns (vir ú) gesien het. En na u afgeklim het in Betlehem en u op Golgota aan Homself vasgebind het en u tot ‘n nuwe lewe gebring het met Sy opstanding uit die dood. Hy het ú vasgebind aan Homself en met u na veiligheid geklim. Só het Hy ú volmaak en perfek verlos en met God versoen. Die Vader het u ingesluit by Jesus se reddingsdaad op die kruis – en die waterdoop wat u eens ontvang het, waarborg/sertifiseer dit swart op wit. Die doop waarborg: jý is ingesluit.
Dit is nie so dat Hy Sy deel gedoen het en nou moet ons ons deel doen nie – dat ons met Hom moet saamwerk (sinergisme) nie. Dit is nie so dat ons die tou moet gryp en vashou deurdat ons Hom die middelpunt van ons lewe probeer maak of ons berou te toon of ons aan Hom oorgegee moet kry nie. Ons kan nie ons deel doen nie. Ons arms & bene is af. Ons is blind gebore. Hý het die redding alleen volbring (monergisme). Hoe? Deur óns dood as ons plaasvervanger op die kruis te sterf.
Wanneer die skille einde ten laaste van ons oë afval en ons ontdek ons redding, dan glo ons dit – ons begin ‘n vaste vertroue daarop ontwikkel. Hierdie vertroue is wat bekering is. Bekering beteken DRAAI. Ons draai weg van al ons pogings om met eie dade tot bekering te kom ná geloofsvertroue in voltooide redding in Christus. Wanneer ons ontdek dat die Here ons – net so binne-in ons sonde-blindheid op die kruis aan Homself vasgebind het en siende gemaak het en aangeneem het – dan plaas ons ons persoonlike vertroue dáárop. Ons hang daaraan vir lewe en dood.
Dit is wat dit beteken om die Here Jesus aan te neem (Joh 1:12): dit is om Sy woorde te glo. “Jesus aanneem” beteken nie om Homsélf beet te kry met Hom iets te doen en Hom in te kry binne-in ons nie. Dit is nié wat dit beteken om Jesus aan te neem nie. Maar dit beteken om Sy beloftewoord te glo, om Hóm te vertrou as Hy vir jou sê dat Hy jou binne-in jou blindheid siende gemaak het op die kruis. Want Hy kom altyd in die kleed van WOORDE na ons toe. En as ons die woorde aanneem, neem ons Hóm aan.
Dit is wat hierdie blinde man doen wanneer hy hom in die Siloambad gaan was. Dit is nie sy eie stukkie aandeel in sy genesing nie! Hy het geen aandeel nie! Hoe kan ‘n blinde saamwerk tot eie genesing? Dis onmoontlik. Die genesing is God se werk van A-Z (vers 3: die werke wat God doen). Wat die man doen is om die Here Jesus op Sy Woord te neem. Hy glo Hom. Hy vertrou Hom met die daad. Die wassery is die bewys daarvan. En wat is die gevolg? Hy belééf sy nuutgevonde sig!
U kan sien dat dit eintlik die kernboodskap van die hele Bybel is wat hier in Joh 9 afgebeeld word. Wat met die blinde man gebeur, is ‘n prentjiesbeeld van die Blye Boodskap, die evangelieboodskap.
Daar is egter ook ‘n tweede saak wat uit hierdie 12 verse na ons toe kom: Dit is die kwessie van siekte & genesing en hoe die Here by dit alles betrokke is. Siekte is een van die moeilikste dinge in ons gevalle wêreld. Veral ook iets soos gestremdheid – selfs vanaf geboorte. Die kroniese langtermyn lyding – wat baie meer mense as net die sieke/gestremde raak – is ontsaglik. Die Bybel loop nie verby ons ergste nood nie. Die Skrif hoor ons vrae en stryde en antwoord dit.
Ons as mense wil altyd ‘n verduideliking hê wanneer dit kom by siekte, lyding, rampe en dood. “Waarom? Hoe kon dit? Wat is die verklaring hiervoor”? Ons vermoede is gewoonlik dat siekte & lyding ‘n soort straf is vir een of ander sonde of oortreding. Dis maar net menslik om so te redeneer. Terwyl ons vergeet dat God se toorn en straf reeds ten volle uitgewoed het op die Here Jesus aan die kruis. Die Middelaar ís as ons plaasvervanger gestraf. Die straf is nou vir ewig weg. Nooit weer sal God strawwe uitdeel d.m.v siekte, lyding, rampe en dood nie.
Tog kan ons die dissipels se vraag so goed verstaan: “Rabbi, deur wié se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is? Sy eie of sy ouers s’n?” M.a.w: Wat is die oorsaak hiervan? Wie se skuld is dit? Gee vir ons asb ‘n verklaring hiervoor.
Ten diepste toe is alle ellende in die wêreld die gevolg van sonde, die oorspronklike sondeval. Lees Romeine 8: 18-25 en oortuig uself. God het nie oorspronklik siektes & dood in Sy skepping ingebou nie. Iets geweldig het gebeur. Die mens het wegbreek uit God se liefde. Daardie verskriklike opstand het God se vloek op die skepping gebring (Gen 3:17).
Maar, dit is níé so dat elke spesifieke siekte veroorsaak word deur spesifieke sonde nie. Die Here sê: “Nie sy of sy ouers se sonde het hierdie blindheid veroorsaak nie. Moenie na die verlede kyk vir ‘n verklaring nie. Kyk na die toekoms, na God se bedoeling.” In plaas van ‘n verklaring, gee die Here die bedoeling. Wat dit veroorsaak het is nie so belangrik soos wat God se toekomstige bedoeling is nie! Daar is ‘n goddelike plan met hierdie blindheid, ‘n goddelike ontwerp. Bó sy ouers se sonde, bó sy eie sonde, bó die blindheid opsigself, bó die lyding wat dit veroorsaak – staan die soewereine God. En die blindheid het nie by Sý wil & plan verbygeskuur nie. Psalm 139:13. Die werke van God sal in hom gesien word.
Dit is eenvoudig net onmoontlik om enige sin in lyding te ontdek buite-om die Here God. Buite Hom is alle lyding totaal sinloos. Ons Here Jesus sê dit so duidelik: “Hy is blind sodat die groot werke van God in Hom gesien sal kan word.”
In die geval van hierdie blinde man, word die groot dade van God gemanifesteer in sy daadwerklike genesing. Hy ontvang sig. Die groot dade van God word gemanifesteer in die manier waarop die Here Jesus hier belig word. Die Here Jesus word verhoog & opgelig. Hý is immers die lig vir die wêreld. Hý is die sig waarsonder ons stokblind is. Dit is die Here Jesus wat verhef word in hierdie paragraaf. Hý is ook die Here van die Sabbat. Dit is waarom Hy die genesing verrig met klei/modder, want dit was in die Jode se oë ontoelaatbaar om op die Sabbat deeg te knie of klei te maak. Hy maak dit dus met opset om te wys dat Hý Here vd Sabbat is. Hý vertoon die groot dade van God deur die man se blindheid weg te neem.
Maar in die geval van die Apostel Paulus se doring in die vlees, word God se groot dade op ‘n ánder manier gemanifesteer. Paulus ontvang nie verligting nie, maar sy swakheid & lyding word die kanaal waardeur God se krag tot uiting kom en die manier hoe God hom dra & onderhou (2 Kor 12:9). Sodoende word God steeds verheerlik deur Sy groot werke – net op ‘n ander manier.
Dus: genesing dien tot Gods eer en nie-genesing dien ook tot Gods eer. Want die Here Jesus het alle lyding in Sý Golgota-lyding opgevang en dit omgekeer tot God se eer. Kyk maar na vers 4: “So lank as wat dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het, want die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.”
Wat beteken dit? Die Here Jesus sê: “Binnekort sal my genesingsbediening vervang word deur ‘n sterwensbediening en dan sal ek ingesuig word in die sonde & lyding van die wêreld. Binnekort kom die nag, my lyding & sterwe, daarom moet ek nóú werk en hierdie genesing verrig, terwyl dit dag is. Maar ek doen dit nou, op grond van dit wat gaan gebeur wanneer die nag van my lyding & sterwe kom.
Sien u? Die begronding van alles is Jesus se lyding & dood as ons plaasvervanger. In/met Sy lyding & dood het Hy ons lyding & siektes opgevang en omgedraai sodat God se werke daarin gesien kan word. Ons hoef nie eens daarvoor te bid nie. Dit is klaar gedoen.
Die groot werk van God is die sonde-reinigende, oordeel-draende, vloek-verwyderende, skuld-vernietigende, geregtigheid-skenkende, lewe-gewende lyding & sterwe van Christus. Dáár het God Sy finale woord oor alle lyding gespreek. Dáár het God ons eiehandig ingesluit. Ons is mét ons siektes & swaarkry ingesluit by Jesus se lyding & sterwe. God het dit eiehandig gedoen. Maar ons is ook ingesluit by Sy opstanding uit die dood. En daarom kom daar nuwe moontlikhede uit ons lyding & siektes.
Dit is die basis vir gedeeltes soos 2 Kor 4: 17-18 en Openb 21:4.