Skrif: Johannes 8: 48-59
Dit is en bly ‘n tragiese paragraaf in die Heilige Skrif: dat ons Here Jesus se éie mense – dié mense na wie Hy gekom het as Messias/Christus en verlosser – Hom uitkryt as “duiwelbesete”, Hom afmaak as ‘n Samaritaan – die half-Jode wat met heidene ondertrou het en wie die Jode so verag het (eintlik ‘n rassistiese skelwoord). Hoe tragies dat Jesus se eie mense klippe optel om Hom te stenig – vlgs Levit 24:16 die doodstraf wat vir Godslastering opgelê is.
Dis ‘n absolute wonder dat die Here Jesus nog enigsins verder met hulle praat – dat Hy hulle antwoord! Maar Hy leef nie vir Homself nie. Sy oog is op Sy Vader – nie op Sy eie eer/status nie. Daarom sê Hy: “’n Duiwel het ek nie, maar ek eer My Vader. Ek soek nie my eie eer nie, maar daar is Een wat eer vir my soek – en Hy is Regter.”
Met ander woorde: “Ek het nie nodig om myself te verdedig nie, want God die Vader soek my eer. As julle julleself téén my stel, stel julle julle teen Hóm. En dít sal julle nie eintlik graag wil doen nie, want Hy is die Een wat gaan oordeel”. (vv 49-50).
Hoe glashelder duidelik is hierdie woorde nie! Die manier hoe ‘n mens hier op aarde teenoor Jésus se woorde reageer, bepaal jou ewigheid. Om passief teenoor Hom te bly en die redding waarmee Hy jou volmaak op Golgota gered het, ter syde te stel, bepaal jou ewige toekoms.
Maar: op daardie oomblik hou die Here aan om Sy hande na hierdie mense uit te steek. Want Hy het nie as regter na die wêreld gekom nie, maar as redder (Joh 3:17). Hy het nie gekom om Sy rug op Sy vyande te draai nie. Hy het nie gekom om te verwerp/verdoem/verban/vervloek/veroordeel nie.
En daarom steek Hy Sy hande uit na hierdie mense wat Hom ‘n duiwel & samaritaan noem en skenk Hy hulle ewige onsterflikheid en oorwinning oor die dood en sê: “As julle my woorde ter harte neem, sal julle tot in ewigheid nooit sterwe nie.” (v 51). “Ek gee vir julle onsterflikheid – glo my net. Glo my woorde.”
Dit klink of dit hopeloos te maklik is, nie waar nie? Hoe kan hierdie mense wat moord beplan, wat die Here vervloek – hoe kan hulle sommer net so maklik-maklik onsterflikheid & oorwinning oor die dood kry deur net maar Sy woorde te glo? Kan so ‘n groot verandering sommer net só gebeur? Dit klink net te maklik – te goed om waar te wees. Moet hulle dan nie eers diep berou hê en dit wýs nie? Moet hulle dan nie eers probeer om hulle hele lewe aan Hom oorgegee kry nie? Moet hulle nie probeer om die volle beheer van hulle lewe aan Hom oor te gee nie? Moet hulle nie eers ‘n intiem-persoonlike verhouding met Hom aanknoop nie? Moet hulle nie eers die Here in hulle harte innooi nie? Moet die Here nie eers binne in hulle inkom nie? Moet hulle nie eers ‘n volle oorgawe probeer maak nie? Moet hulle nie eers die Here die middelpunt van hulle lewe maak nie?
Nee – hulle hoef nie. Volgens Jesus se eie woorde, hoef hulle nie. Tewens, hulle mág nie een van daardie goed doen nie. Want niemand ontvang onsterflikheid & oorwinning oor die dood & ewige lewe deur wetswerke/werke-van-die-wet na te kom nie. Niemand ontvang onsterflikheid deur dinge te doen nie. Niemand ontvang die lewe deur met die Here Jesus iets te probeer doen nie. Niemand ontvang onsterflikheid deur met God te identifiseer nie – dat Hy deel van jou moet word en jy deel van Hom moet word en Hy binne-in jou moet wees nie.
Ja, dit is wat ons dikwels dink. Ons dink om Sy woorde te glo weeg hopeloos te lig. Na ons gevoel het dit te min om die lyf. Dít alleen kan nie die knoop deurgehaak kry nie. Ons moet dit laai. Ons moet dit lyf gee. Ons moet ons geestelike hande uitsteek en Hom op ‘n manier binnehaal/inkry van iewers buite af tot binne-in ons. Ons moet Hom ingenooi kry. Hy moet deel van ons word. As ons dit reggekry het, dan voel ons: man, nóú glo ek regtig! Nou het ek darem ‘n ervaring/belewenis gehad, dit het darem nou gevoel of ek iets gedoen het. Nóú het ek seker ook onsterflikheid. Want ek en God is nou één. …
Terwyl ons vergeet dat dit die oerleuen is waarmee satan die eerste mensepaar mislei het: “julle sal soos God word…” (Gen 3:5). M.a.w “julle sal met Hom kan identifiseer.” Ons vergeet ook dat al hierdie swoeg en sweet niks anders is as die werke van die Wet nie. Want die Wet eis DOEN, DOEN: gee oor/ nooi in/ neem aan/ sterf aan jouself/ bely…. En ons vergeet dat niemand deur Wetswerke met God reggestel kán word nie (Gal 2:16) – dis totaal onmoontlik. En ons vergeet dat Wet en geloof mekaar totaal uitsluit (Gal 3:12). Die vervulling van die Wet is liefde, maar ons probeer die Lewe ontvang deur liefde aan die Here te bewys. Intussen is liefde wetsonderhouding en daardeur kan niemand die lewe ontvang nie!
Nee, Jesus sê: “Neem my woorde ter harte (dis wat GLO beteken) en julle sal in alle ewigheid nooit sterf nie.”
Met ander woorde: “Glo net my woord dat Ek julle dood oorwin het. Aanvaar dat ek julle uitgetrek het uit die dood. Aanvaar dat ek julle insluit by my oorwinning. Glo dat jý persoonlik ingesluit is. Glo wat ek oor Myself en oor My Vader sê…”
U sien: die krag lê nie in die glo nie. Die krag lê in Jesus self en in wat Hy sê/beloof. Ons hoef nie GLO swaarder te laai nie, want Jesus & die oorwinning waarmee Hy ons dood oorwin het, weeg heeltemal swaar genoeg. Ons hoef nie vir Hom op ‘n manier in te kry binne-in ons sodat ons en Hy één kan wees nie. Dan kan ons net sowel Boeddiste of enige ander afgodsdienaar wees. Afgodsdienaars identifiseer almal met hulle gode. Nee, los die Here Jesus maar net daar waar Hy is – aan die Regterhand vd Vader. Moet Hom nêrens heen nooi nie. Moet niks met Hom doen nie. Los Hom op die troon, maar neem Sy woorde persoonlik ter harte. En jy sal die dood nooit sien of proe nie. Dis wat Hy beloof. “Dit verséker ek julle”. Grieks: Amen, amen.
Wat ons moet raaksien is dat hierdie felle teenkanting van die Jode se kant, eintlik die grootheid van die Here Jesus belig & beklemtoon. Die hele ding gaan oor WIE die Here Jesus werklik is. En dit is die krag van hierdie paragraaf. Ons mag ons nie blindstaar teen die geweld & aggressie van die Jode nie – alhoewel ons eintlik in hulle ons eie aggressie herken – maar ons moet sien hoe die Here Jesus belig word. Die volstrekte Godheid van die méns, Jesus & die volstrekte onsterflikheid van Sy volgelinge is die twee groot aksente in hierdie paragraaf. God die Vader reken Jesus se oorwinning oor die dood toe aan álle gelowiges. ‘n Kind v God kan/sal die dood nooit sien nie. En dit het groot implikasies vir ‘n Christen se lewe.
Wat letterlik in verse 51 & 52 staan: “Julle sal die dood nooit SIEN nie.” En: “Julle sal die dood nooit PROE nie…” Soos Jesus vir Martha by Lasarus se graf sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook..” (Joh 11:25). Lasarus is al vier dae dood, maar volgens Jesus het hy nooit gesterf nie. Al sterf hy, sterf hy nie. Van die dogtertjie van Jaïrus het Jesus gesê dat sy slegs slaap. Wie glo, het alrééds van die dood na die lewe toe oorgegaan (Joh 5:24) dus hoe kan hy/sy sterf?
Hierdie lewe wat Christus skenk, kan per definisie nooit eindig nie! Wanneer die liggaamlike funksies tot ‘n einde kom, gaan die léwe wat jy van die Here ontvang het, net onverstoord voort! Daarom praat die NT soms van ‘n gelowige se doodgaan as “aan die slaap raak.” ‘n Mens is nie daarvan bewus dat jy aan die slaap raak nie. Dieselfde gebeur met die gelowige wat sterf: daar is geen bewussyn van: “hier sterf ek nou nie”. Dis nie angswekkend of pynigend of ‘n langsame proses nie. Dit is net soos om aan die slaap te raak. Binne ‘n breukdeel van ‘n sekonde is jy bewus van die lewe by die Here. Dit is wat die Woord sê. Die apostel Paulus sê in Filip. 1:23 > “Ek het ‘n verlange om heen te gaan en met Christus te wees.” En dink aan Stefanus – die eerste martelaar – wat met klippe doodgegooi was. Hy roep toe: “’Here Jesus ontvang my gees’. Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: ‘Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie.’ Met hierdie woorde het hy gesterwe.’” (Hand 7:60). Grieks: “het hy aan die slaap geraak.” Dit is soos wat die Here Jesus self dit sou beleef aan die kruis toe Sy menslike gees net na die Vader oorgegaan het (Luk 23:46).
Op hierdie geweldige dinge uit die Here Jesus se mond, kom die mense se bittere reaksie: “Nou weet ons jy het beslis ‘n duiwel, want jy matig jouself aan om iemand groter as Abraham en die profete te wees! Húlle het almal gesterf. Nou sê jy wie jou woorde glo sal nooit sterf nie. Verregaande! Dis aanmatigend.” (vv 52-53).
Waarop die Here antwoord: “Julle sê dat my Vader julle God is. Maar dit is vir mý wat Hy verheerlik. En ek ken Hom. Dit is nie ek wat myself kom aanmatig as iemand besonders nie. My Vader verheerlik my. Ek is duisend keer hoër as die sterflike Abraham. Alhoewel hy byna 2000 jaar gelede geleef het, het hy die dag van my koms vooruit gesien en hom daaroor verheug. En, nog meer: voordat Abraham gebore was, IS EK!”
Let op: “IS EK..” Jesus sê nie net dat Hy al daar was (bestaan het) voor Abraham se geboorte nie. Dan sou Hy die verlede tyd gebruik het: “ek was reeds daar nog voordat Abraham gebore is.” Nee, Hy gebruik die woorde: EK IS. “Nog voordat Abraham gebore was, IS EK…”
Dit is sekerlik die duidelikste aanduiding in die NT van wie Jesus Christus werklik is, naamlik gelykstaande aan God die Vader, JAHWE, die God van die Verbond. Want EK IS is Sý Naam. Dit is hoe Hy homself aan Moses bekendgemaak het by die brandende Braambos (Eks 3:14).
Die implikasie hiervan vir óns vandag is geweldig. Want omdat Jesus hierdie ontsaglike Persoon is: Abraham het Sy koms 2000jr tevore gesien, maar vóór Abraham se geboorte IS Jesus al – dus is Hy volledig gelyk aan God die Vader. DAAROM is Sy oorwinning oor die dood en is Sy woorde & beloftes absoluut 100% suksesvol! Dis die implikasie.
Wanneer Hý sê: Jy sal die dood nie sien nie en dit nie proe nie, dan sál jy die dood nie sien nie en dit nie proe nie! Dan kan jy werklik opgewonde & doelgerig begin leef. Want die groot laaste vyand is in jou geval irrelevant. Want Gód het gepraat en Sy woord sal nie misluk nie (Jes 46:10). Wat Hy belowe, werk alreeds. Ons geloof laat dit nie werk nie. Dit werk alreeds. Juis daarom mag ons geloof daarop rus. Sy woorde hou ons geloof en ons lewens stabiel en op koers.
Net ‘n laaste woord: Laat ek vir u iets lees:
“Aangesien ons mense van vlees en bloed is, het Jesus ook net soos ons mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig en om ons – wat uit vrees vir die dood ons hele lewe lank in slawerny was – te bevry.” (Hebr 2: 14-15).
Die grootste gros van die 6000 miljoen mense op aarde kners op die tande en hoop & dink maar net dat – as hulle tot sterwe kom, hulle darem ‘n goeie oorgang iewers heen sal maak. Maar niemand, niemand het daarvan sekerheid nie. Niemand! Geen, geen, geen godsdiens- of filosofiese sisteem het ‘n antwoord op hierdie finale vyand nie.
Daarom het die satan die mensdom in ‘n lewenslange ysterwurggreep van slawerny. En dit bepaal die mensdom se lewe en koers.
Dit is slegs Jesus van Nasaret wat kon sê: “Amen amen, as jy mý woorde ter harte neem, sal jy die dood nooit sien of proe nie.” En dit is slegs die mense wat op daardie woorde staan, wat vry is van die duiwel se dwingelandy.
Besef ons wat dit beteken: VRY van die duiwel se wurggreep!!
Daarom het die misleide windverwaaide mensdom so ‘n groot behoefte aan die vreesloosheid en moed van die Here Jesus se volgelinge – om deur hulle voorbeeld en getuienis ook by die Here Jesus se versekering uit te kom.