Skrif: Johannes 8: 12-20
Die tempel in Jerusalem het bestaan uit verskillende vertrekke. Die éintlike tempel was maar betreklik klein en het slegs bestaan uit die “heiligdom” en die “allerheiligste” – vanmekaar geskei deur die voorhangsel, die massiewe dik gordyn wat uiteindelik van bo na onder geskeur het op die oomblik van die Here Jesus se sterwe.
Vóór die ingang tot die heiligdom (m.a.w aan die teenoorgestelde kant van die allerheiligste), was daar egter nog ‘n binnehof wat genoem is die “binnehof vir die priesters” en vóór dit was ‘n verdere binnehof genoem die “binnehof vir die vroue”.
Die heel buitenste area – aan die verste teenoorgestelde kant van die allerheiligste – was die “buitehof”. Die buitehof was al area waar die nie-Jode kon kom. Hulle kon nie verder gaan nie. Die “binnehof vir vroue” was weer die enigste area waar vroue kon kom. Hulle kon slegs die “binnehof vir priesters” betree om ‘n dier te neem wat geoffer moes word. Toegang tot die “binnehof vir vroue” is verkry deur die “Mooipoort”.
Dit was in die “binnehof vir vroue” waar die tempelskatkis gemonteer was. Die skatkis het eintlik bestaan uit 13 houers wat soos omgekeerde trompette/tregters gelyk het, met die smalkant wat boontoe wys, waarin die geld geplaas is. Die idee was dat jy geld kon ingooi, maar nie uithaal nie. Die geld kon dus nie gesteel word nie.
In die eerste twee trompette het álmal hulle verpligte half-sikkel tempelbelasting geplaas. En onthou, dit was die werklik toegewyde en ernstige Jode wat hier gekom het. In die derde en vierde trompette is geld geplaas wanneer jy duiwe koop vir offerhandes. In die vyfde trompet is geld geplaas vir hout vir ingeval jy wou bydra om die vuur op die altaar brandende te hou. Trompet ses was vir geld vir wierrook. Trompet sewe was vir geld vir die instandhouding van die verskillende bedieningsartikels/meublement in die tempel. In trompette agt tot dertien kon jy geld plaas wat jy as ékstra offerhande – bo en behalwe wat reeds gegee is – wou gee.
Hierdie 13-voudige skatkis was dus in die “binnehof vir vroue” gehuisves.
Dit was ook in die “binnehof vir vroue” waar die finale seremonie van die jaarlikse Loofhuttefees plaasgevind het. Die Loofhuttefees was ‘n verpligte 7 dae lange fees waartydens die volk Israel se woestyntog vanaf Egipte tot by die beloofde land Kanaän herdenk is. Die water wat uit die rots gekom het toe Moses dit met sy staf geslaan het, is uitgebeeld in die “water seremonie” waar die hoëpriester water uit die Bad van Siloam op die altaar gestort het. Dit het op die 7de dag van die fees plaasgevind. Dit was ten tye van hierdie seremonie wat Jesus uitgeroep het: “Drink van mý en strome lewende water sal uit jou binneste vloei.”
Die aand van die 7de dag van die Loofhuttefees, ná afloop van die water-seremonie, is ‘n seremonie in die “binnehof vir vroue” gehou wat genoem is die “verligting van die tempel.” Dit was ‘n herdenking van die vuurkolom/verligte wolk wat gedurende Israel se woestyntog voor hulle uit gegaan het om hulle te lei en die omgewing te verlig. Dit was God self. Bedags was dit ‘n wolkkolom, snags vuur.
Tydens hierdie “verligting van die tempel” seremonie is ‘n reuse kandelaar in die “voorhof van die vroue” opgerig en die lig daarvan het letterlik Jerusalem verlig – die hele nag lank. Dit was werklik skouspelagtig. Omdat die binnehof nie ‘n dak gehad het nie, het die ligglans die hemelruim verlig.
Met hierdie agtergrondsinligting in gedagte, kan ‘n mens Johannes 8: 12-20 baie beter verstaan. Jy kan die impak daarvan voel. Kyk wat sê vers 20: Jesus het by die skatkis in die tempel gestaan terwyl Hy gepraat het. Hy was dus in die “binnehof vir die vroue”. En volgens 8:2 was dit die dag net ná die afsluiting van die Loofhuttefees. Die reuse kandelaar wat net die vorige nag gebruik is vir die “verligting van die tempel” seremonie, het dus nog lewensgroot daar in die “binnehof vir die vroue” gestaan. Die ligglans was nog in almal se gedagte. En onthou, al die toegewyde Jode het – tydens die lig-seremonie – Jesaja 42:6/ 49:6 in hulle gedagtes gehad. Dit is twee groot Messiaanse profesieë waar God beloof dat Hy ‘n lig vir die nasies gaan stuur. Dit dui op die Messias wat sou kom.
Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus dan sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal sekerlik nie in duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (8:12). Dink aan die geweldige impak wat dit moes gemaak het – juis op daardie spesifieke plek waar Hy gestaan het toe Hy dit gesê het en op die spesifieke tyd wat Hy dit gesê het. Hýself is die vervulling van die “verligting” seremonie. Hý is die vervulling van Jesaja se profesieë. Hý is die langverwagte Messias. Hý is die Son van geregtigheid waarvan Maleági gepraat het.
Nou kyk, vir ‘n gewone mens om daar te staan en sulke goed te sê, was kranksinnig. Dit is ‘n verstommende aanspraak om van jouself te maak! Net iemand met wie daar ernstig ‘n skroef los is, sou so iets sê. Óf Jesus het dus ‘n skroef losgehad óf Hy ís werklik wat Hy sê Hy is. Dit is die radikale keuse wat ons elkeen moet maak wanneer ons met hierdie Jesus gekonfronteer word. Sy aansprake laat eenvoudig geen ruimte vir neutraliteit nie. Ís Hy die lig van die wêreld of is Hy nie?
Dink net daaraan: Net soos die geweldige lig van die kandelaar tydens die “verligting vd tempel” seremonie die nagtelike hemelruim bo Jerusalem verlig het, só is hierdie Man – Jesus van Nasaret – die lig wat die duisternis van die mens se bestaan op aarde verlig! Dis ontsettend!
Daar kan nie baie twyfel wees dat die wêreld waarin ons leef nag-donker is nie. Bedoelende die duisternis wat om die gees van die mensdom saampak. ‘n Moreel-geestelike duisternis waarin elke mens wat op aarde is onwillekeurig vasgevang is. Die nagevolge van die sondeval. Dink maar aan die onreg en korrupsie. Die dwingendheid in die mens se binneste om aanhoudend te sondig/’n lewenstyl van sonde te handhaaf en homself sodoende meer en meer van God te vervreem. Die onophoudelike geneigdheid om te faal & te misluk. Die vrees vir die onbekende toekoms. Die doolhof waarin miljoene mense vasgedraai sit omdat hulle hulle lewe lank soek na groot waarhede en sin & betekenis in die lewe. Sommige mense spandeer hulle hele lewe om die een groot waarheid te ontdek wat nog nie ontdek is nie. Sommige soek dit in die wetenskap, ander in die filosofie. Gedurigdeur dryf en dryf die mens se innerlike aptyte en luste hom meer en meer in dieper duisternis in. Sonder om dit ooit te vind, soek die mens die “goeie lewe” dáár waar dit nie te vinde is nie. Dis asof die mens die duisternis probeer ontvlug deur in dieper duisternis in te gaan. Sommige mense vlug weg van die duisternis van sonde/ droefheid/ hopeloosheid/ doelloosheid/ eensaamheid/ verwydering en gaan verdrink in die dieper duisternis van seks/ dwelms/ alkohol/ okkultisme/ duiwelaanbidding en uiteindelik selfmoord.
‘n Mens sou dink dat as die mens dán hoor dat daar Lig is en dat dit Jesus Christus is, die mens onverwyld na Hom sal hardloop. En tog gebeur dit nie. Want Jesus het gesê die mens het die duisternis méér lief as die lig (Joh 3:19). Onbegryplik, maar dit is wat die sonde aan die mens gedoen het. Die mens het die duisternis wat hy haat, eintlik baie lief. Hy haat die duisternis, maar in stede van na die lig te kom, vlug hy dieper die duisternis in. Dis soos ‘n sterwende man wat sy terminale siekte – wat sy sterwe veroorsaak – koester.
‘n Mens sien dit so duidelik in die reaksie van die Fariseërs & Skrifgeleerdes op Jesus se verklaring dat Hý die lig is. Hulle reaksie wys hoe lief hulle die duisternis het. Hulle is spookbang vir die lig, want die lig gaan hulle ware innerlike ontbloot en gaan hulle ware toestand aan die kaak stel.
U sien, daar is ‘n beginsel in die OT – in Deut 19 & Num 35 – dat ‘n belangrike uitspraak (soos ‘n beskuldiging teen iemand) gestaaf moet word deur 2/3 getuies. Nou haak die Fariseërs daarby aan en sê: “Hoe kan u – sonder enige getuies – só ‘n uitspraak maak (Lig vd wêreld)? Dis ongeldig.” Hulle sê eintlik hulle kan nie die Here Jesus op Sy woord neem nie – daar moet stawende getuienis wees vir wat Hy sê. Na ál die tekens wat Hy gedoen het. Sou hulle regtig oortuig word indien daar twee ouens sou kom wat alles bevestig wat Jesus sê? Nee. U sien, ongeloof kan nooit oortuig word nie. Getuienis op getuienis sal nooit ongeloof oortuig nie. Die mens wat daarop uit is om die Here Jesus te betwyfel, Hom af te kraak, foute in die Bybel te soek, te kritiseer en te spot, sal NOOIT die waarheid ontdek nie!
Wat antwoord die Meester hulle? “Al sê ek dit sonder getuies, is dit die waarheid – op grond van 3 redes:
No 1: Ek weet waar ek vandaan kom. Ek ken myself. Ek weet waarheen ek op pad is. Maar julle is onkundig. Julle het nie daardie kennis nie. Julle beskik nie oor Goddelike alwetenheid nie. Julle onkunde is tragies en goedkoop. Julle kritiseer alles omtrent My en wys alles af, maar eintlik beskik julle nie oor die feite nie. Julle sien maar net die uiterlike. Julle oordeel o.g.v die uiterlike. Julle is selfs bereid om ‘n oordeel oor God te fel, terwyl ék geen mens oordeel nie. Dit kom eers by die wederkoms, maar nou is Ek nie hier as Regter nie, maar as redder.
No 2: My intieme eenheid met my Vader. Wat ek oor myself sê is die waarheid omdat ek dit nie op my eie sê nie, maar die Vader is saam met my want ek en die Vader is één. Saam met Hom, is ek God. God die Vader praat altyd die Waarheid en ek en Hy is één. Ek praat nie op my eie nie.
No 3: Ja, dit staan inderdaad in die OT geskryf dat die getuienis van 2 waar is. Ek en My Vader is die 2 getuies wat die Wet vereis.
Daar is die 3 redes: 1 > Jesus weet alles, 2 > Jesus en die Vader is een, 3 > Jesus en die Vader is die twee getuies wat vlgs die OT vereis word.
Nooit kon die Fariseërs só ‘n antwoord verwag nie! Dit bevredig hulle ook nie. “Wáár is jou Vader?? Ons kan Hom nie sien nie. Bring Hom, dat ons Sy getuies kan hoor.”
Waarop Jesus dan sê: “As julle Mý geken het, sou julle Hóm geken het. Maar selfs al sou Hy hier voor julle kom staan en sê “DIT IS EK” sal julle Hom nie ken nie. Dit is wat so tragies is. Julle het julle lewe spandeer om die Vader te ken en die OT-Bybel te bestudeer, en tog ken julle Hom nie, omdat julle MY nie ken nie.”
Ons moet baie mooi na hierdie woorde luister, want daar is ‘n algemene idee in omloop dat dit wel moontlik is om God te ken al kan jy nog nie vir Jesus 100% plaas nie. Party mense weet net van “die vader”, “die oubaas”, die “almagtige”, die “skepper”, die “man van Bo”. Party mense kan nie eens die naam JESUS behoorlik op hulle lippe neem nie. Mens hoor soms iemand wat sê: “Ek praat met God wanneer ek probleme het..” Of: “ek glo net in gebed.” Wel, ‘n Boeddis kan dit ook sê. Mense is ook geneig om te sê: “Waaroor so besorg wees oor die Moslems, Hindoes, Boeddiste? Hulle dien almal vir God – net op hulle eie manier. Dis net verskillende paaie na een en dieselfde plek.”
NEE!!! Niemand ken die Vader behalwe deur JESUS nie! Al klink dit hóé eng en nougeset. Dalk moet ons besorg minder wees oor hoe eng dit is en meer besorg wees oor wat WAARHEID is en wat leuens en misleiding is. Waarheid is in elk geval altyd eng.
Omdat Jesus en die Vader één is, sê Hy: “Ek is die lig van die wêreld. Wie my volg, sal nie in duisternis wandel nie, maar sal die lig vd lewe hê.”
Kyk net mooi na hierdie belofte: Die oplossing vir die chaotiese duisternis is nie iets nie, dis iemand! Dis ‘n Persoon. Dis Christus. En Hy is aan die beweeg. Hy is nie ‘n lig wat stilstaan op een plek nie. Net soos die vuurkolom voor die volk Israel uit beweeg het en hulle dit gevolg het, so ook die Here Jesus. Hy beweeg – dag en nag. Die mens wat Hom volg, moet ook bereid wees om te beweeg en te volg waar Hy lei. En as jy Hom volg, sal jy nóóit weer in die duisternis leef soos die tyd voordat jy ‘n volgeling van Jesus geword het nie. Nooit weer nie. Dit is Sy belofte. Inteendeel: Jy sal léwe hê. Die duisternis is vir ewig verby. Sy lig is die lig vd léwe. Wat ‘n verskil!
Maar wat presies beteken dit om Hom te vólg? Waarvan praat ons as ons praat van volgelingskap van die Here Jesus Christus?
Die Griekse woord vir “volg” wat hier in v 12 gebruik word, kan nie minder nie as 5 betekenisse hê (ryk, soos die Griekse taal is). En daardie 5 betekenisse sê presies wat dit beteken om Hom te volg:
‘n Soldaat wat sy offisier volg. Wanneer die offisier ‘n sekere bevel gee, sal die soldaat nooit in die teenoorgestelde rigting gaan nie. Nooit. Die offisier dink vir die soldaat se part.
‘n Slaaf wat Sy eienaar/meester bedien/dien en volg. En wat ‘n wonderlike meester is Jesus nie! Om Hom te volg beteken om Hom met blydskap te dien/bedien.
Iemand wat wyse raad volg. Christus is ons wonderbare Raadsman, sê Jesaja 9. Hy beskik oor die wonderlikste advies. Hy wéét. Hy kén. Van nature dink ons altyd dat ons die beste weet. Tot jy ontdek dat om dinge op die Here se manier te doen, áltyd die beste is.
Iemand wat die standaarde volg wat die owerheid daargestel het. Word wat Jesus is, volgens Sý standaarde. Word verander tot Sý beeld.
‘n Leerder wat ‘n onderwyser se onderrig/argument volg. Wanneer ‘n onderwyser of dosent besig met ‘n uiteensetting, moet die student dit noukeurig volg en probeer om tot dieselfde konklusie te kom. Luister, is die wagwoord. Noukeurig luister.
Om Jesus te volg beteken dus om Sy advies na te speur in die Bybel. Om noukeurig te lúíster. Nie eie kop te volg nie. Bereid te wees om te volg en te dien. En bereid te wees om verander te word na Sý beeld.