Skrif: Johannes 8: 2-11
Dalk het u ookal gewonder waar die Bybel vandaan kom. Is die oorspronklike perkament waarop Johannes geskryf het, dalk iewers te sien? Dalk in die Britse museum? Is die perkament waarop Paulus die brief aan die Romeine geskryf het, iewers te sien? Die antwoord is nee. Al die oorspronklike manuskripte het verlore gegaan, want die gebruik in die ou tyd was om alle belangrike geskrifte noukeurig oor en oor en oor met die hand te kopieer. Onthou die boekdrukkuns het eers 1500 jr ná Christus die lig gesien. Die heel eerste gedrukte NT – wat uit ‘n drukpers gekom het – was in 1516. Vir 1500 jaar is die NT geskrifte van geslag tot geslag oorgelewer deur getroue, hardwerkende oorskrywers!
Nou hoe kan ons dan so seker wees dat dít wat ons in ons Bybels het, die presiese woorde is wat Johannes en Paulus geskryf het? Omdat daar letterlik 1000e antieke vroeggedateerde kopieë van die NT (en dele van) beskikbaar is, wat met mekaar vergelyk word sodat met 99,5% presiesheid gesien kan word wat in die oorspronklike teks geskryf was. Hoe meer kopieë daar is, hoe beter kan ‘n mens sien wat die oorspronklike was. Indien jy 20 kopieë van ‘n bepaalde geskrif het, waarvan 18 ‘n sekere paragraaf bevat en 2 nie die paragraaf bevat nie, kan jy redelik seker wees dat die paragraaf wel in die oorspronklike teks was. Hoeveel te meer as jy duisende kopieë het!
Die feit is dat, van alle ander antieke geskrifte wat ons vandag nog besit, die oorspronklike tekste ook almal verlore gegaan het, maar dat daar kopieë is wat behoue gebly het. Tog is die aantal kopieë van die NT radikaal meer as van alle ander antieke geskrifte. Van Julius Ceasar se GALLIC WARS (geskryf in ongeveer 55nC) het ons slegs 10 kopieë wat ons kan vergelyk en álmal van hulle dateer eers uit die 10de eeu! Dus ‘n 1000jr tydsverloop tussen die oorspronklike en die kopieë! Van Titus Livius se HISTORY OF ROME (wat gedurende Jesus se aardse leeftyd geskryf is) is daar slegs 20 kopieë beskikbaar. En tog sal niemand die inhoud van hierdie geskrifte betwyfel nie. Van Plato se geskrifte besit ons slegs 7 kopieë met 1200 jr tydsverloop tussen die oorspronklike en die kopieë!
Maar weet u hoeveel vroeggedateerde handgeskrewe kopieë is daar van NT of gedeeltes van die NT? 5801!! Alles word in biblioteke regoor die wêreld bewaar. (Statistiek van Instituut vir Nuwe Testamentiese Teksnavorsing in Münster: http://egora.uni-muenster.de/intf/index_en.shtml). 5600 van hulle se tydsverloop tussen die oorspronklike en die kopieë is 100jr en minder!! (http://carm.org/manuscript-evidence).
Tussen hierdie kopieë is daar soms verskille wat betref sekere woorde en selfs paragrawe. Met die eeue se oorskrywery is daar onvermydelik geringe oorskryffoute gemaak. Soms is daar selfs doelbewus klein dingetjies weggelaat of ingevoeg. Die voordeel van die 5800 manuskripte is egter dat hulle (deur ‘n wetenskap wat TEKSKRITIEK genoem word) met mekaar vergelyk word sodat daar heel maklik gesien kan word wat in die oorspronklike manuskrip geskryf was. Soms is daar wel onsekerheid en dan word die wissellesings in die meeste Bybelvertalings onderaan die bladsy aangedui. Die totale % van die teks van die NT waaroor daar twyfel bestaan tussen sekere woorde/paragrafies (en daar wissellesings moontlik is) is egter minder as 1%!! En dit raak op geen manier enige leerstelling nie. Wonderbaarlike sorg waarmee die Here die oorlewering van Sy Woord begelei het deur die eeue!
Omdat geen wissellesing ooit enige leerstelling of belangrike waarheid in gedrang bring nie, kan ons sê dat ons dus in ons Bybels ‘n uiters betroubare weergawe van die oorspronklike manuskripte het. Die TEKSKRITIEK help ons om die grootste vertroue te hê in die inhoud van ons Bybel.
Met hierdie inligting in gedagte, verstaan ons die voetnota by Johannes 7:53 – 8:11: “volgens die gebruikte grondteks is 7:53 – 8:11 eers later ingevoeg.” Dit beteken dat daar tussen die baie honderde antieke manuskripte van Johannes-evangelie verskille is oor óf 7:53 – 8:11 enigsins daar moet wees en/of dit op ‘n ander plek binne Johannes-evangelie geplaas moet word. Daar is selfs een antieke kopie wat dit in Lukas-evangelie plaas!
Daar is egter nie ‘n oorweldigende meerderheid kopieë wat die paragraaf totaal weglaat nie. Daarom is die vertalers onseker of dit werklik deel was van die oorspronklike Johannes-evangelie en of dit later bygevoeg is (anders as in die geval van 5:4 waaroor daar redelike sekerheid is dat dit weggelaat moet word). Daarom word 7:53 – 8:1 ingevoeg, maar met ‘n voetnota by.
Die groot vraag is nou: is hierdie paragraaf deel van die geïnspireerde Woord v God of nie? Moet ons dit weglaat of dit lees? Mag ons dit verkondig as Woord v God? Indien dit ‘n latere invoeging was, is dit tog net bloot mensewoorde.
Die wonderlike is dat 7:53 – 8:1 absoluut niks toevoeg tot die NT wat nie alreeds in die NT staan nie. Dit doen ook geensins afbreuk aan enigiets wat in die NT staan nie. Dit weerspreek ook niks. Tewens, dit bevestig/onderstreep juis op ‘n aangrypende manier die kernboodskap van die NT.
Persoonlik dink ek dat hierdie insident werklik plaasgevind het. Die Here Jesus en die vrye genade van God word op só ‘n manier beskryf dat dit net nie eie aan die méns se natuur is om dit te kon fabriseer nie. Dit is net presies soos die res van die NT vir Jesus beskryf. Miskien is dit juis waarom sommige oorskrywers dit weggelaat het – omdat die vrye genade van God só kragtig gedemonstreer word dat dit amper lyk of die Here sonde goedpraat! Ons weet nie.
Die beste manier om hierdie paragraaf te lees is om te probeer raaksien hoedat die verhaal punt vir punt raakpunte met die res van die NT het en hoe dit die boodskap van die NT versterk. Kom ons kyk daarna.
Net eers weer ‘n samevatting van die verhaal:
Jesus is vroegmôre na die tempel om onderrig te gee. Die Skrifgeleerdes & Fariseërs bring ‘n vrou – teen haar sin – na Jesus toe. Hulle sleep haar na Hom toe. Sy is in egbreuk/owerspel betrap. En Moses het in die Wet geskryf dat só ‘n vrou (én die betrokke man) met klippe doodgegooi moet word (Dt 22:22; Lev 20:10). Seksuele aktiwiteite buite-om die wettige huwelik, was die dood skuldig. Die feit dat die Fariseërs nie die betrokke man saambring nie, wys hoe hulle maar net die vrou én die wet misbruik om vir Jesus ‘n valstrik te stel. In hulle eie harte is daar géén agting vir die Wet nie, en géén droefheid omdat die Wet verbreek is nie, want daar is geen genade, liefde, medelye in hul harte nie. En die Wet word nie vervul in klippe wat reën nie, maar in liefde (Gal 5:14; Mat 7:12).
Nou wil die Fariseërs by die Here Jesus weet wat Hý sê: Moet hulle die Wet gehoorsaam en haar met klippe doodgooi of moet sy vrygespreek word? Hulle wil Hom in ‘n hoek kry sodat Hy dalk iets sê wat hulle as ‘n beskuldiging teen Hom kan gebruik. Hulle staan eintlik al met die klippe gereed. Hulle wag net vir Sy woord.
Maar Jesus is in beheer van die oomblik, nie hulle dwingende emosies nie. Hy skryf met Sy vinger op die klipvloer van die tempel en antwoord niks. Dis byna asof Hy wil sê: “Weet julle dan nie dat Ek die outeur van die Wet is nie? Het God dan nie só (soos ek hier doen) die Wet met Sy vinger op klip geskryf nie? Julle wil My op die Wet vastrek, maar Ek staan bó die Wet.”
Toe gaan staan Jesus regop en sê vir die Fariseërs: “Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.” Toe buk Hy weer en skryf op die grond. Wat weet ons nie. Hy wag vir hulle antwoord. Maar hulle is só in hulle gewetens aangespreek. Sy woorde het met soveel gesag gekom. Dit het hulle diep in die hart getref. Dit was woorde vergesel met Gees en krag. Skielik besef hulle hoe sondig hulle self is. En hulle stap een vir een weg. Totdat Jesus alleen by die bewende vrou agterbly. Sy weet: Daar is één wat die klippe mág gooi en dis Hy wat hier by haar staan. Sy wag vir die klippe. Nou is dit klaarpraat. Haar sonde het haar ingehaal.
In plaas van klippe, hoor sy woorde wat sy nog nooit uit iemand se mond gehoor het nie. Dis byna onmoontlik om te glo. Dis net eenvoudig te goed om waar te wees. Sy weet sy is die dood skuldig. En sy het geen berou nie. Die Fariseërs het haar gedwing om na Jesus te kom. Sy is nie uit vrye wil by Jesus nie. Sy wil nie vir Jesus volg nie. Sy wil terug na haar sonde toe. Sy wil nie ‘n Christen wees nie. Sy glo nie in Hom nie. Sy bekeer haar nie.
En tóg vee Jesus haar sondeskuld van die tafel af. Sommer net so. Sy voldoen vooraf aan absoluut geen voorwaardes nie (inteendeel!!), maar Hy sê vir haar: “Soos niemand hier jou veroordeel het nie, doen ek dit ook nie. Jy is vry. Gaan nou huis toe en moenie weer sondig nie.”
Jesus plaas Homself bó die Wet, neem as die owerspelige vrou se plaasvervanger in Sy eie liggaam op die kruis die voorgeskrewe straf van die Wet wat haar toekom op Homself, en herstel haar oombliklik in die regte verhouding met God op grond van vrye genade!! Vrye genade: Sy kry onverwags wat sy glad nie verdien nie óf ooit op gehoop het nie! Glad nie! Want sy het aan géén voorwaarde voldoen nie. Sy glo nie eens nie! Voordat sy glo word sy vrygespreek! Op grond van die vryspraak glo sy! En verander haar lewe – sy gaan sondig nie meer nie. Nie omdat sy steniging vrees nie, maar omdat haar hart deur genade verander is! Jesus sê nie: “Ek veroordeel jou nie, want owerspel & egbreuk maak nie saak nie, dis nie so ernstig nie.” O nee! Hy sê: “Ek veroordeel jou nie en hierdie geen-veroordeling-meer-nie verander jou hart teenoor my en daarom wíl jy nie meer owerspel pleeg nie.” Jesus vergoeilik nie haar sonde nie, maar deur die vrye geskenk van geen-veroordeling-nie, verander Hy haar hart sodat haar hart nie meer die sondepad wil loop nie.
En dit is die kern van die NT (hele Bybel) se boodskap!
Hierdie verhaal demonstreer die waarheid vd hele NT, naamlik dat God mense wat Sy vyande is, agter hulle rug en sonder hulle toestemming, met Homself versoen het (hulle saak met Hom reggemaak het) deur Jesus se offerdood op die kruis! Klink dit bietjie vergesog? Wel, lees Romeine 5:10 (waarby daar geen voetnota is nie!!). Daar staan dit in soveel woorde. “Terwyl ons nog Sy vyande was, ís ons met God versoen deur die dood van Sy Seun.” Die dood van Jesus ís die versoening. Wat met die owerspelige vrou in Joh 8 gebeur het, is ‘n prentjiesbeeld van Rom 5:10.
En wanneer hierdie verruklike blye boodskap (naamlik dat Hy hulle saak met Hom reggemaak het) aan God se vyande verkondig word, en hulle gló dit werklik, dan draai hulle sonder versuim om na God toe – níé terug na die sonde toe nie, maar na Gód toe.
‘n Mens glo op grond van die vryspraak (die goeie nuus wat aan jou verkondig word). Jy glo nie om vrygespreek te wórd nie! Dis nie jou GLO wat maak dat God van jou begin hou nie. Dis presies soos dit was met die owerspelige vrou! Jesus se vryspraak-terwyl-sy-nie-glo-nie, het die geloof & bekering tot gevólg. Wonder, wonder, wonder genade. Onbeskryflik groot. Dis nie net genade nie. Dis vrýe genade.
Ek weet nie van iets wat hierdie genade beter uitbeeld as die kinderbesnydenis/kinderdoop nie. Want die water van die doop wys op die kruisbloed van Jesus en dit waarborg aan die dopeling op sy/haar naam: “Só is jý op die kruis vrygespreek!” Maar die dopeling voldoen aan geen vooraf voorwaardes nie! Nes die owerspelige vrou! Sy ondergaan as’t ware die kinderdoop – as volwassene! Want álle doop is ten diepste kinderdoop. Ook wanneer ‘n volwassene gedoop word, is dit kinderdoop, want die doopwater getuig van God wat die mens voorgespring het op die kruis. U sien? Éérs die vryspraak. En die doopwater verseker my dáárvan – dat die vryspraak op die kruis gegee is. Daarom éérs die doop en dan kom die glo en die bekeer, mosterd na die maal. Ek glo die blye boodskap van my vryspraak en gevolglik draai ek om na God toe en wég van die sonde, die wêreld, wêreldse lewenstyl en wêreldse gewoontes! Ek glo op grond van (die inhoud van) my doop. Dit is dieselfde: op grond van die kruisversoening! Om op grond van jou doop te glo OF om op grond van die kruisversoening te glo, is presies dieselfde ding. Want die doopwater wys maar net heen na die kruisbloed waardeur ek vrygespreek is toe ek nog Sy vyand was!
Soms hoor ons prediking wat sê: God bied jou ‘n geleentheid, nou moet jy jou kant bring. Hoe ver is dit verwyderd van die weergalose blye boodskap van Christus wat ons red terwyl ons Sy vyande is. ‘n Redding wat hartstogtelik vertróú mag word en wat lei tot lewensverandering. Dít is die Christus wat die owerspelige vrou ontmoet het.