Skrif: Johannes 1: 19-34
Dis belangrik om te onthou wat die Apostel Johannes se oogmerk was met die skryf van sy evangelieverhaal: hy wou net een ding doen, hy wou alle getuies wat hy kon, inspan om te getuig dat Jesus die Seun v God is. Dat Hy regtig waarlik volwaardig Gód, in volwaardige menslike gestalte is. Letterlik alles wat Johannes sê, is dáárop gefokus. Hy wil getuienisse opstapel om Jesus as Seun v God te stel en dan almal wat ore het, op te roep om Hom te glo en sodoende die lewe te ontvang (20:31).
Die heel eerste getuienis wat die Apostel inroep, is Johannes die Doper. Elke keer wat jy die naam “Johannes” in Johannes se evangelieverhaal raaklees, verwys dit NIE na die skrywer (apostel Johannes) nie, maar na Johannes die Doper. Dit kan nogal verwarrend wees, maar belangrik om dit te weet.
Na homself verwys die skrywer slegs as “die dissipel” of “die dissipel vir wie Jesus liefgehad het.” Baie nederig. Wil al die fokus op Christus plaas.
Hierdie hele perikoop (1: 19-34) is ook net so briljant geskryf – dat die fokus op Christus val. Hy brei byvoorbeeld nie uit op Johannes die Doper se dopery nie, ook nie op Jesus se eie doop nie. Alle moontlike onnodige detail word weggelaat, sodat hy uiteindelik net kan sê: Jesus is die Lam van God wat met die Heilige Gees doop. Dus is Hy waarlik die Seun van God. Is dit nie goddelik nie? Kyk die laaste sinnetjie van 1: 19-34 > Johannes die Doper getuig: “Hý is die Seun v God”. Dis waaroor alles gaan.
Dit is – terloops – altyd die stempel van egtheid op alle geskrifte wat deur die Heilige Gees as Woord v God ingegee is: die totale afwesigheid van detail wat die menslike natuur graag sou wou weet & prikkel, met die hooffokus op Christus alleen. Wonderbaarlik! Die Bybelboeke is deur mense geskryf, maar totaal anders as wat ‘n méns dit sou skryf. Die hand van die Heilige Gees rus swaar op letterlik elke woord. Dit net terloops.
Waaroor gaan 1: 19-34? Johannes die Apostel, roep vir Johannes die Doper in as eerste getuie om te getuig dat Jesus Christus waarlik God is. Jy kan nooit na Jesus toe kom met enigiets mínder nie. Hy is nie net ‘n wonderlike profeet nie. Hy is nie net ‘n uiters goeie man nie. Hy is nie net ‘n briljante leermeester nie. Hy is nie net só ‘n goeie man dat God hom iewers langs die pad met ‘n knypie goddelikheid toebedeel het nie. Nee, as ons die lering van 1: 19-34 nie verstaan en aangryp nie, kan ons die Christelike Geloof as geheel verwerp en die Bybel weggooi. Ons moet Johannes die Doper se getuienis baie goed verstaan en vasgryp. Kyk baie mooi: Johannes die Doper het – uit homself – self ook nie verstaan wie Jesus werklik is nie – al was hy Sy eie neef en het hy 30 jaar lank saam met Hom gekom! Waarom? Want God het dit nie aan hom geopenbaar nie. Johannes die Doper se getuienis van wie Jesus is, kon nie kom deur sy eie natuurlike insigte en begrip nie – selfs al het hy Hom 30jr geken as neef. Kyk na vers 33: “Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar Gód het vir my gesê…” Hy het sy insig in wie Jesus is, van God ontvang. Daarom is dit baie dom om sy getuienis te minag.
Wat ‘n fasinerende karakter was Johannes die Doper nie! Ons weet dat hy ‘n redelike opskudding veroorsaak het. Onthou vir 400jr ná Maleági was daar geen profeet nie. Die mense was geestelik honger. Toe Johannes die Doper op die toneel verskyn, het die mense in massas gaan luister. Hy was vurig, dinamies en vervul met die Gees van moederskoot af. Mense het vanaf stede en dorpe na hom toe uitgegaan in die Jordaanvallei. Vir die meeste mense was dit ‘n lang reis. Maar hulle wou graag hoor wat hy sê. Die Gees v God het ‘n honger en dors na die Doper se prediking in die mense se harte geskep. Bonatuurlik. Dat hulle soveel moeite doen om na ‘n woestynstreek te reis om te hoor hoe ‘n eienaardige prediker staan en met harde stem preek en sonde op die naam noem! Die Doper het werklik geweldig aandag getrek. Hy was ‘n nasionale fenomeen. Opvallend dat hy hom met die armer mense geïdentifiseer het. Springkane en heuning was die tipiese dieët van die armer mense wat in die woestynstreek gewoon het. Sy klere en sy dieët was dié van die armer mense.
Die gebeure wat in ons teksgedeelte beskryf word speel af nádat Jesus deur Johannes gedoop was en Jesus in die woestyn deur satan versoek was. Nou is Johannes besig om in die Jordaanvallei by Betanië te preek. Dit was ongeveer aan die einde van die jaar 26nC. Dis ‘n ander Betanië as die Betanië naby Jerusalem waar Martha/Maria/Lasarus gewoon het. Johannes die Doper is besig om die volk geestelik gereed te maak vir die uiteindelike bediening van Christus self.
Nou volg ons die teks vanaf vers 19, want Johannes die Apostel stel nou vir Johannes die Doper aan die woord en hy beskryf vir ons wat op 3 spesifieke opeenvolgende dae gebeur het. Dit was 3 dae wat vol betekenis was. Ons kyk vandag na die eerste twee van die drie dae.
Johannes die Doper preek in die Jordaanvallei en dit was nie lank nie, of die kerklike godsdienstige leiers besef dat hulle redelik haastig aandag moet gee aan die saak en moet uitvind wíé hierdie man voorgee om te wees (v 19). Daarom stuur hulle ‘n afvaardiging priesters & leviete na Johannes die Doper om hom net een vraag te vra: “Wie is jy?”
Johannes weet baie goed wat agter die vraag sit. Elke Israeliet het daagliks geleef in die verwagting dat die langverwagte Messias sy verskyning sal maak (v 20). Agter hulle vraag, skuil die éíntlik vraag: “Is jy dalk die Messias, die beloofde verlosser?” Waarop Johannes reguit erken: “Nee, ek is nie die Christus nie.”
Hulle ken egter die OT Skrifte en weet dat Maleági gesê het dat, vóórdat die Dag vd Here aanbreek, ELIA sy verskyning sal maak. Daarom vra hulle: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia (wat uit die dood opgestaan het)?” NEE. Hy was nie ‘n herleefde Elia nie, alhoewel hy in die krag en gees van Elia opgetree (Luk 1:17). “Nou wie is jy dan? Is jy die profeet?” Hulle weet immers dat Deut 18:13 sê dat God ‘n groot profeet soos Moses sal stuur. NEE, sê Johannes!
Nou het hulle ‘n probleem. Want hulle kan nie na Jerusalem teruggaan en rapporteer wat Johannes die Doper NIE is nie. Hulle moet gaan sê wie/wat hy IS! Daarom sê hulle in v 22 (lees).
Vers 23 (lees). “Julle ken Maleági en julle ken Moses. Maar julle ken blykbaar nie Jesaja 40 nie. Daar het Jesaja gepraat van ‘n man wat die pad vir die Messias sal voorberei. Hy sal letterlik net ‘n groot STEM wees wat in die woestyn uitroep. Wel, dit is ek. Dit is wie ek is. Ek is net ‘n stem wat roep.”
Hoe maklik kon Johannes gesê het: “ek is Sagaria, ‘n vername priester, se seun.” Of: “ek is die Messias se voorloper.” Of: “ek is die grootste onder die profete.” Of: “Van geboorte af is ek met die Gees vervul. Super-geestelik.” Maar wat sê hy? “Ek is niks. Ek is meneer niemand. Net ‘n stem. Christus is alles. Vergeet van my. Vergeet van die water waarmee ek doop. Fokus op Hóm en op die Gees waarmee Hy doop.”
Tog is die Jerusalemse kerklike afvaardiging nog nie tevrede nie. Daarom die volgende vraag (v 25): “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Messias/Elia/profeet is nie? Watse gesag het jy om te doop?” U sien hulle het nie van Johannes gehou nie. Vormgodsdienstige religieuse kerklike hiërargie het nog nooit gehou van bedieninge wat aandag trek nie! Hulle het nog nooit gehou van iemand wat nie één van húlle is nie! “Wie het jou die gesag gegee om die mense te doop?” Hulle weet wat die antwoord is. Die voorloper van die Messias het die taak om die mense voor te berei vir die Here se koms. Die mense moet versekering kry van vergifnis van sonde. Die doop getuig daarvan. In Esegiël 36, 37/ Sagaria 13 lees ons dat – met die koms van die Messias, daar een of ander vorm van reiniging sal plaasvind. Daarom het die Jode altyd die idee gehad dat die Messias die een of ander soort waterdoop sal toepas.
Maar Johannes die Doper argumenteer nie met hulle nie. “Ek doop wel met water. Ek verdedig nie myself nie. Ek verkondig Christus. Maar, daar is iemand wat hier tussen julle is, wie julle nie ken nie! (V 26). Hy is hier tussen ons, maar julle oë kan Hom nie herken nie. Hy was lank voor mý. En ek is nie werd om Sy sandale los te maak nie.” In daardie tyd was dit die laagste slaaf in die huishouding se taak om skoene los te maak. Johannes die Doper ag homself laer as dít. Almal het geweet wat hy bedoel.
Dit was die eerste betekenisvolle dag. Johannes die Doper maak dit duidelik dat hy níé Elia of Moses is nie, maar slegs ‘n STEM wat preek van ‘n ongeïdentifiseerde Man wat tussen hulle rondbeweeg, wat reeds bestaan het lánk voordat enigeen van hulle daar was, maar wat hulle nie herken nie.
DIE TWEEDE DAG (v 29 ev) speel af net die volgende dag. Johannes die Doper sien Jesus na hom toe aankom. Johannes het toe presies geweet wie Jesus was. Want met Jesus se doop, wat eintlik Sy kroning as Koning was, het die Heilige Gees soos ‘n duif uit die hemel gekom en Hy het permanent op Jesus geblý. In die OT tyd het die Gees net tydelik op profete en konings gekom om hulle te salf vir bepaalde take. Maar op Jesus blý die Gees. Toe Johannes dit sien, het hy besef wie Jesus is, want God het dit vir hom gesê (v33). ‘n Klompie weke tevore het Johannes verkondig dat Christus as Regter die onbekeerdes soos droë hout gaan uitkap, maar nou verander sy aksent. Nee, die Sondelose gaan die plek neem van die sondiges. Soos die paaslammers vir eeue lank tydens die pasgafees geslag is. Vir eeue lank het die Jode verstaan dat ‘n onskuldige offer in die plek van die sondaar moet sterf om die sondaar te vergewe. Jesus is die Lam v God.
Waarom noem hy Jesus die Lam v God? Wel, ál die Jode sou dit verstaan, nie waar nie? Hulle het geweet van die eeue wat Israel lammers geoffer het. Hulle het geweet van Abraham en Isak en waar God vir Abraham gesê het dat Hy ‘n lam sal voorsien. Hulle het die Pasga geken waar ‘n lam geslag is en die bloed aan die deur geverf is om lewens te red. Hulle het geweet hoe – in die tempel lammers geslag is as brandoffer vir sonde en versoening van sonde – élke oggend en élke aand, élke dag, jaar na jaar, dekade na dekade, eeu na eeu. Hulle het dit alles geweet. Die Jode het geweet wat Jesaja gesê het dat daar ‘n man gaan kom wat soos ‘n lam geslag sal word. Nou sê Johannes die Doper: Hier is Hy! Die finale offer. Die Jode wou ‘n profeet hê, maar God voorsien ‘n Lam. Hulle wou ‘n koning hê, maar ontvang ‘n Lam. Want godsdiens beteken niks alvorens ‘n mens nie in ‘n lewende verhouding met God gekom het nie. Maar so ‘n verhouding met die heilige God is onmoontlik vir ‘n sondaar. Soos olie & water kan die twee nie meng nie. Solank sonde & sondeskuld die pad versper, is geen verhouding moontlik nie. Die Lam moes geoffer word in die plek vd sondaar om die versperring te verwyder en die verhouding met God heel te maak. So eenvoudig soos 2 plus 2 = 4.
Jesus sal – as sondelose – die plek neem van die sondaar. Só stel Hy die sondaar in die regte verhouding met God. En nog iets: Hy sal met die Heilige Gees doop (v33). Hy verwyder sondeskuld en Hy vul met die Heilige Gees. As sonde weg is, kan die heilige God Sy intrek by die mens neem. Daarom géé Hy Sy Gees inwonend. Die grootste Godswonder denkbaar!
Om saam te vat: Johannes die Doper getuig dat Jesus die Seun van God is. Om by daardie konklusie uit te kom, maak hy 4 uitsprake.
1 – HY IS HIER > Vers 26 < “Tussen julle staan daar Iemand…” Hy is teenwoordig in jou wêreld. Kom tot die besef dat Jesus leef, dat Hy in jou lewensbestaan ingekom het.
2 – KYK NA HOM/ SIEN HOM vir Wie Hy is > Vers 29 (in Grieks): “KYK, die Lam v God.” KYK! Sien Hom vir wie Hy werklik is. Soos wat die Heilige Gees jou oë aanraak en salf, kan & sal jy dit sien.
3 – DIE LAM VAN GOD (v 29). Wie/wat is Hy? Hy het in jou plek as offerlam gesterf en alle versperrings tussen jou en die heilige God verwyder.
4 – HY DOOP MET DIE HEILIGE GEES > Vers 33. Hy ís die Lam v God, maar wat dóén Hy? Hy skenk die Gees in jou lewe om jou nooit weer te verlaat nie. Hy maak jou deel van Sy wêreldwye liggaam. Hy maak jou Sy woonplek, Sy tempel.
As u mooi kyk, sal u sien dat hierdie 4 waarhede die weg tot saligheid uitspel. Wanneer hierdie 4 waarhede ‘n realiteit word in ‘n mens se lewe, dan word jy spontaan ‘n volgeling van Jesus. Dis presies wat in vv 35-51 gebeur. Dit beskryf wat op die 3de dag van die 3 dae gebeur het – die eerste mense het Christus begin volg. Ons kyk volgende week daarna.
Maar vir vanoggend: kyk goed na die 4 kernwaarhede waarvan Johannes die Doper getuig: 1) Hy is hier, Hy leef regtig 2) Sien Hom vir wie Hy is 3) Wie is Hy? Die Lam v God wat die versperrings uitgewis het 4) Wat doen Hy? Hy doop jou met die Heilige Gees. Jy word ‘n nuwe mens en die lewende God kom woon by jou.
Kan u werklik getuig dat u oë al regtig oopgegaan het vir wie Jesus is, dat u na Hom begin kyk het en dat u die Heilige Gees ontvang het?