Skrif: Johannes 7: 25-39

Die skare aan wie die Here Jesus besig is om onderrig te gee tydens die Joodse Loofhuttefees, is verdeeld. Hý is die verdelende faktor. Oor wat Hy van Homself sê én oor wat Hy van húlle sê. En oor die feit dat Hy glad nie lyk soos hulle gedink het die komende Messias sal lyk nie. Hulle het gedink die Messias sal sommer so van nêrens af verskyn, maar hierdie Jesus kom tog van Nasaret en almal ken Sy familie (v 27). Ag nee wat, Hy kan nie die Messias wees nie.

Dus: die Jode was verdeeld. Sommige wou Hom arresteer en doodmaak. Ander was baie meer positief (v 31). Hulle was beïndruk deur Sy wondertekens.

Maar toe verdiep die verdeeldheid en die vyandigheid van die vyandiges. Dit verdiep omdat hulle erg aanstoot neem aan wat die Here Jesus sê. Wat Hy oor Homself sê, maar veral wat Hy oor húlle sê (vv 28-29). Onthou hulle was die godsdienstige, mees bevoorregte verbondsmense, deeglik onderrig in die Woord, vroom, ernstig. Húlle was die volk bó alle volke wat die Woorde van die lewende God besit het – in hulle Bybels. En vir húlle sê Jesus: “Julle ken nie vir God nie, omdat julle Mý nie ken nie.” (einde van v 28). Vir mense wat absoluut oortuig was dat hulle vir God ken, sê Jesus dat hulle glad nie vir God ken nie!! Eina!! En dan sê Jesus: “Omdat julle nie vir God ken nie, herken & erken julle Mý nie.” En net daar ontplof die dinamiet.

Tot vandag toe is dít steeds die groot aanstoot. Tot vandag toe sal enigeen van óns ook erg ongewild raak en dalk selfs kwaai teenstand kry, indien ons sê dat iemand wat die Here Jesus verloën, glad nie vir God ken nie en glad nie die ewige lewe het nie. Soos die Here Jesus self oor hierdie waarheid vervolg is en doodgemaak is, so sal dit ook met ons gaan indien ons getrou wil wees aan die Waarheid van Sy Woord.

Deur alle eeue was en bly dít die groot aanstoot: Jou godsdiens is waardeloos, jou toewyding bring jou nêrens, jy ken glad nie vir God nie, die duiwel is steeds jou vader – indien jy die Here Jesus Christus, sóós Hy in die Bybel geopenbaar word, verloën. Daar is géén ander manier/godsdiens/verlosser/filosofie waardeur enige mens die ewige lewe kan verkry nie. Dis eksklusief slégs Jesus van Nasaret! Alle ander opsies is futiel.

Tog was daar mense in hierdie Joodse skare wat níé aanstoot neem nie en wat positiewe geluide oor Jesus maak. Toe die Fariseërs dit hoor, besluit hulle om dadelik ‘n plan te maak en Jesus te arresteer. Om Sy mond vir altyd stil te kry (v 32).

En hoe antwoord Jesus hulle? O, soos die Een wat waarlik die Seun v God is, die ewige Majesteit op die troon, die Een wat alles en almal in Sy hand hou. Met die grootste kalmte en gesag sê Hy vir hulle: “Julle kan probeer om My te arresteer, maar Ek sal besluit waar ek gaan, wanneer ek gaan en wie my sal volg. Julle kan my nie voor die tyd arresteer nie. Dit is nie in julle mag nie. Julle kan my nie vashou indien ek besluit om te gaan nie. En julle kan my glad nie volg waar ek gaan nie. Julle planne is nikswerd. Ek het gekom om My Vader se wil te doen, nie julle s’n nie. En dit sál end-uit gedoen word. Presies op tyd. En soos Hý dit beplan het.”

Dit is waarom daardie onbeskryflike woorde in vers 30 staan: “Niemand kon die hand aan Hom slaan nie. Omdat Sy tyd nog nie gekom het nie.”

Nou weet die skare nie watter kant toe nie. Hulle het net nie ‘n idee waarvan die Here praat nie. Hulle het nie ‘n antwoord nie. Hulle verstaan eenvoudig nie! Die skare het gehoor dat hulle nie vir God ken nie. En die Fariseërs het gehoor dat hulle komplot teen Jesus van geen krag of waarde is nie. Dis omtrent ‘n skaakmatsituasie.

En toe gebeur iets wat vir ons so briljant wys hoe/wie/wat ons Here Jesus is & hoe Sy hart klop – ja dat Hy die gans andere is.

‘n Dag of twee ná hierdie gesprek, breek die laaste van die 7 dae van die Loofhuttefees aan – en ‘n paar eeue tevore het die tradisie begin posvat dat die Hoëpriester op die laaste dag van die Loofhuttefees ‘n goue houer met water van die Bad van Siloam – as deel van ‘n prosessie – na die tempel dra. In die tempel word die water dan op die altaar gegiet en aan die Here ge-offer om genoeg reënval vir goeie oeste te vra. Die Wet van Moses het dit nie voorgeskryf nie, maar dit was ‘n Joodse tradisie wat posgevat het.

Dit is klaarblyklik op die oomblik toe hierdie water-ritueel plaasvind, wat ons Here Jesus by Jesaja 55:1 aanhaak en op ‘n manier praat wat geen mens nog ooit gepraat het nie (v 46). In Jesaja 55 staan daar … “almal wat dors het, kom na die waters. En wie geen geld het nie, kom koop sonder geld…”

En nou sê Jesus vir daardie skare wat Sy bloed soek, die mense wat Hom misverstaan, wat Hom haat, wat Hom wil dood hê: “Ek sal vir julle water gee, en as julle dit verniet kom drink, sal strome lewende water uit julle binneste vloei.” Hy sê níé vir hulle: “die oordeel van die verderf gaan julle tref omdat julle my haat” nie. Hy sê: “Kom drink by my en strome lewende water sal uit julle vloei.” Net soos wat Hy later vir Júdas die brood & wyn gegee het – terwyl Hy weet dat Judas Hom gaan verraai – en vir hom sê: “My liggaam is vir jóú, my bloed is vir jóú..”

Hoor wat sê Hy (vv 37-39) en onthou vir wíé Hy dit sê: “As enigiemand van julle dors het, kom na My toe en drink. Want met dié een wat in My glo, soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uit sy/haar binneste vloei.”

En dan lewer Johannes daarop kommentaar: “Dít het Jesus gesê van die Heilige Gees wat élkeen sal ontvang wat in Hom glo. Want die Heilige Gees was op daardie stadium nog nie daar nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie.”

Dit beteken dat die Heilige Gees op ‘n sekere manier nie daar was voordat Jesus met Sy opstanding & hemelvaart verheerlik is nie. Dat Hy wel daar wás, staan die hele OT vol. Maar Hy was op ‘n sekere manier nie daar nie! Hy was nooit daar soos ná Pinkster (tot vandag) nie. En hoe is dit?

Ná Jesus se opstanding/hemelvaart/pinkster, maak die Heilige Gees woning binne-in die lewe van élke mens van elke nasie, wat sy/haar vertroue op Jesus Christus stel vir verlossing en redding. En deur Sy permanente ononderbroke inwoning, woon Jesus sélf in so ‘n mens! So-iets was ondenkbaar in die periode vóór Jesus se koms! En, omdat die ewigdurende máker van lewende water IN jou woon, vloei die strome lewende water uit jou uit. Want die BRON daarvan is nader aan jou as jou eie asem. Goddelik!

En kyk mooi wat daar staan: ELKEEN wat tot hierdie geloofsvertroue in Jesus kom, ontvang die Heilige Gees op so ‘n manier! Dit is onmoontlik om in die Here Jesus verlos te wees en nié die Heilige Gees inwonend te besit nie. Sien ook Romeine 8:9.

Maar, daar is ‘n voorwaarde vir dit alles: Dors. Daar moet ‘n behoefte-besef wees. “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink”. Kyk na die woordjie “as”. Dis ‘n voorwaarde. ‘n Mens sou kon sê die énigste rede waarom mense nie die Here Jesus ontmoet en vervul word met die Gees nie, is omdat daar nie ‘n dors/behoefte-besef is nie. Die oomblik as die dors daar is, spat die vonke.

Sonder water ontwikkel ‘n mens se liggaam ‘n dors en dit lei daartoe dat die liggaam water drink – net so ook met die menslike gees. Die menslike gees is gemaak vir God. En lós van God, ontwikkel dit ‘n dorstigheid. ‘n Mens is méér as ‘n fisiese liggaam. Jy het ‘n gees en as die gees nie drink van die lewende God nie, sterf dit vd dors.

Die probleem is dat die mens nie die sieledors van die menslike gees herken nie, want van nature regverdig die mens altyd hom/haarself. Psalm 36:3 sê die mens se hart vlei homself. Onderdruk & ontken die dors.

Maar deur Gods genade vlam die dors op en dan moet daar ten alle koste water gedrink word. En JESUS is die water – wat absoluut niks kos nie. Wat daar betaal moes word, het Hý betaal. Nou is die water ‘n vrye gawe. Drink dit net – eenvoudig soos dit.

En die Heiland sê self in vers 38 wat DRINK beteken. Dis ‘n sinoniem vir GLO. Jy drink deur te glo. Jesus hét nie net wat ons siele nodig het nie. Hy ís wat ons siele nodig het! En die dors wat die Heilige Gees in ‘n mens se menslike gees skep, drýf jou na Jesus toe. Jy kóm letterlik na Hom toe. En dan werp jy jou op Hóm as jou fontein in die woestyn, jou fees, jou skat & rykdom, die voedsel vir jou siel. Dit is wat dit beteken om te “kom en te drink.” Nie net eenmalig nie, maar aanhoudend, lewenslank.

Die wonderlike dinamika hierin lê in die bediening & werking van God die Heilige Gees – die feit dat Hy van jou besitneem, dat Hy inwoon, dat Hy beheer neem en Sy vrugte begin produseer. Dit is ‘n baie lewende werklikheid.

En dit alles is in die Skrif vasgesement. Die OT Skrif het vir eeue & eeue lank dit alles voorspel. En die NT Skrif sê vir ons hoe dit presies werk. Alles skarnier aan die Skrif. Kyk na vers vers 38: “Hy/sy wat in My glo, soos die Skrif sê: Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”

Uiteindelik is ons geloofsvertroue op die Skrif en die Skrif alléén vasgebout. Nie op ervarings of emosies nie. Wanneer ek die siele-dors beleef, dan weet ek: Dit is in lyn met die Skrif. Wanneer ek my op Christus werp, dan weet ek: Hy het in die Skrif beloof dat Hy niemand wat na Hom kom sal wegstoot nie (Joh 6:37). Wanneer ek na Hom kom, dat weet ek: Die Skrif sê die Heilige Gees kom neem van my besit en ek kan verwag dat strome lewende water sal begin vloei. Nié omdat ek so voel nie, maar omdat die Skrif sê. Die Skrif, die Skrif en nogmaals die Skrif.

En dit is ook op hierdie vaste basis wat Janél vanoggend gaan kom en voor en in hierdie gemeente (vir wie sy so lief is) bely dat die Here dit wat Hy hier in Joh 7: 38-39 beloof het, in haar lewe begin waarmaak het. Soos die Skrif sê!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00