Skrif: Johannes 7: 1-24
Of ons dit nou wil erken of nie, ons loop maar almal die een of ander tyd met innerlike vrae soos: “hoe kan ek met sekerheid wéét die Bybel (en veral die NT) se getuienis oor wie/wat Jesus is, is absoluut waar/eg? Hoe kan ek weet die prentjie van Jesus in die NT is eg & waar en dat die skrywers dit nie self uitgedink het nie? Om Christen te wees beteken tog dat ek my hele lewe aan Hom en Sy Woord toevertrou. Wel, dan moet ek tog doodseker wees dat ek Hom kán vertrou! Sê nou maar net ek het al die jare gedínk ek glo, maar dan was dit op die ou end nooit werklik geloof nie!”
Die eerste 24 verse van Johannes 7 kan vir ‘n mens nogal lig laat opgaan indien jy met sulke tipe innerlike vrae worstel. Kom ons kyk ‘n bietjie van naderby daarna. Ons werk eers deur die gedeelte en kyk wat stap-vir-stap gebeur het en daarna kyk ons na die boodskap wat dit vir ons het.
Ons Here Jesus se ma (Maria) was ‘n maagd toe sy Hom ontvang het deur die werking van die Heilige Gees (Mat 1:18; Luk 1:35). Maar, daarná, het Josef & Maria nog ander kinders gehad soos Jakobus, Josef, Simon en Judas asook dogters (Mat 13:55). Hulle was dus die Here Jesus se (streng gesproke stief-) bloedbroers & susters.
Op ‘n stadium, toe die jaarlikse joodse Loofhuttefees op hande was, kom Jesus se 4 broers na Hom en wil hulle hê Hy moet na die fees gaan om wonderwerke te gaan doen sodat groot getalle mense dit kan sien en Hy oral bekend kan word. Hulle was opgewonde oor Sy wondertekens en het werklik geglo dat Hy dit kan doen.
Maar dan staan daardie skokkende woorde in v 5: “Selfs Sy broers het níé in Hom geglo nie.” Dit was hulle óngeloof wat gemaak het dat hulle Hom oral bekend wou sien! ‘n Mens sou dink dat dit juis hulle gelóóf was wat hulle gedryf het en dat óngeloof eerder iets sou sê soos: “Ons dink Sy wondertekens is net rook & wind. Ons wil nie daarmee geassosieër word nie.” Maar nee, dit was óngeloof wat sê: “Sjoe, ons is só beïndruk met die wonders dat ons wil hê Hy moet oral bekend word”. Hoe moet ons dit verstaan?
Jesus antwoord toe sy broers: “Die wêreld hou van julle, want julle hart klop nes hulle s’n. Nes die wêreld, jaag julle na die eer/lof/aansien van mense. Maar die wêreld haat my, want my hart verskil totaal van hulle s’n en dit laat hulle besef hoe verkeerd hulle is. Ek jaag na die eer van God, nie dié van mense nie. Gaan julle maar fees toe, my tyd om na die fees te gaan, het nog nie gekom nie.”
En dan, nadat die broers fees toe vertrek het, het Jesus self ook gegaan, maar in die geheim, nie openlik nie. Dit sê ‘n mondvol, want daardeur sê Hy eintlik wat verkeerd is met Sy broers se geloof. Hulle het gesê: “Maak jou openlik bekend” (v 4), maar Hy gaan “onopvallend” (v 10). Deur só te maak, keer Hy hulle wens onderstebo.
U sien dit is die verskil tussen Jesus en Sy broers: Hulle is lief vir die eer vd mens en wil wonders sien en deur mense gesien word. Hý is dood vir mense se eer en soek net Sy Vader se eer. Pleks dat Hy by die fees gaan wondertekens doen, gaan gee Hy onderrig, gaan leer Hy die mense.
En wát leer Hy hulle? ‘n Man wat niks voel vir die lof/goedkeuring/applous van mense nie, maar beheers word deur ‘n begeerte vir God se eer – só ‘n man is geloofwaardig en betroubaar. Jy kan só ‘n man glo. Hy is eg. En nog meer: As jy jouself verneder en ook só ‘n gesindheid kry, sal jy onmiddelik sien en verstaan wie Jesus regtig is en sal jy weet of Sy Woord die waarheid is of nie. Maar die mens wie se hart geslote bly vir God se eer en wat net ingestel is op die wêreld en die méns – so ‘n mens sal nie Jesus se ware skoonheid sien nie en sal nie weet dat die Woord waar is nie.
En wat antwoord die Joodse skare op hierdie lering wat Jesus gee? “Jy het ‘n duiwel” (v 20). Want u sien, hulle wou Hom dood hê (v 1). En hulle was al vyandig teenoor Hom vanaf hoofstuk 5 se genesing van die man wat 38jr verlam was – vir wie Jesus op die Sabbat genees het. En dit mag nie, want hulle Jode het die Wet onberispelik onderhou. Só het hulle gedink. En nou sê Jesus vir hulle: “nie één van julle onderhou die Wet nie.” (v 19). “Julle is ontsteld omdat iemand op die Sabbat genees is en tog besny julle julle kinders op die Sabbat. As iemand op die Sabbat besny mag word, waarom mag iemand se hele liggaam nie op die Sabbat genees word nie?”
Dis toe dat hulle vir Jesus sê Hy is duiwelbesete. Hóé kan Hy sê hulle onderhou nie die Wet nie? Maar hulle hoor nie wat Hy regtig sê nie. Hy sê hulle wetsonderhouding was hulle manier om self-eer te kry. Hulle wetsonderhouding was gebore uit trots – want hulle het die goedkeuring en eer van die mens gesoek. Presies soos die broers die eer vd mens gesoek het – net op ‘n ander manier.
As ons Jesus se broers met die Joodse skare sou vergelyk, lyk dit so verskillend. Sy broers is opgewonde oor Sy wondertekens en wil hê Hy moet beroemd word. Die Jode voel bedreig deur Sy wondertekens en wil Hom dood hê.
En tog is die kernsonde van die broers & die Jode se harte presies dieselfde: vir almal gaan dit oor self-eer. Die broers is verwonderd oor die wondertekens, want dit kan Hom (en vir hulle) roem besorg. Die Jode is verwonderd oor Jesus se lering, want dit is so geleerd. Dit maak intellektuele indruk. Hulle kyk in die uiterlike dop van geleerdheid vas en hoor nie die geestelike waarheid van wat Hy sê nie. Net soos die broers ook in die uiterlike dop van die wondertekens vaskyk en nie ontdek wie die Persoon ágter die wondertekens is nie.
WIE is die Persoon agter die wondertekens en agter die leringe – wat nie die broers óf die Jode kon eien nie?
Hy is die toonbeeld van skoonheid en prag. Nie uiterlik nie, maar innerlik. Hy het absoluut niks gedoen vir eie eer nie. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie. Sy passie en hartsbegeerte was om Sy Vader eerste te stel. Sy hele bestaan was gefokus op die leegmaak van Homself om sodoende Sy Vader te verheerlik en sondaars te red.
Só is die menslike hart van nature níé. Die menslike hart is net mooi die teenoorgestelde. Ook die 9 skrywers van die NT-boeke – wat hierdie prentjie van Jesus geteken het – se eie harte was net mooi die teenoorgestelde van wat Syne was. Watter mens se hart sou só ‘n Persoon kon uitdink – ‘n Persoon wie se beskrywing juis direk indruis téén dit wat die mens se hart wíl uitdink!? Hulle kon dus onmoontlik dié Jesus wat hulle beskryf, self uitgedink (self gefabriseer) het. En daarom is die NT 100% betroubaar en waar en eg.
Sien u? Dis wanneer ‘n mens die ware/egte/betroubare Jesus ágter die wondertekens ontdek, wat jou vertroue in die foutlose betroubaarheid van die Bybel/NT ook toeneem & groei! Jy ontdek nie die ware Jesus nadat jy éérs die betroubaarheid vd NT aanvaar het nie. Maar andersom: jy ontdek die waarheid vd NT nádat jy die kosbare skoonheid & prag vd Here Jesus leer ken het.
En nou vir die uitklophou: Twee van die nege skrywers van die NT-geskrifte was Jesus se einste broers! Jakobus en Judas. Die Jakobus-brief en die Judas-brief in die NT is geskryf deur twee van Jesus se 4 bloedbroers. Hulle was deel van die groep broers wat in ongeloof wou hê dat Hy Homself aan die wêreld moes gaan vertoon om roem op te bou. Jy kan mos vir jouself indink hoe skepties hulle was oor hulle eie broer wat saam met hulle in dieselfde huis grootgeword het! Hoe sou u & ek gevoel het?! Stel jouself voor jy moet jou eie bloedbroer as God begin aanbid en jou vertroue in hóm stel om die ewige lewe te hê!!! Banaal!
Maar, iets geweldigs het intussen met Jakobus & Judas gebeur. Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood het hulle oë oopgemaak. Soveel so dat hulle deel was van die groep gelowiges was saamgebid en gewag het op die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 1:14). En Jakobus het ‘n kern-leier in die Jerusalemse gemeente geword. Hoor hoe noem Jakobus vir Jesus aan die begin van sy brief: “Van Jakobus: ‘n dienaar vd Here Jesus Christus” (Jak 1:1). En hoor hoe noem Judas Hom: “Van Judas: ‘n dienaar van Jesus Christus en ‘n broer van Jakobus” (Judas 1:1). Niks van: “Ons twee is mos Jesus se bloedbroers nie.” Nee, hulle familiebande het verdwyn. Hulle is nou Sy dienaars. Hy is hulle Here. Wat ‘n onbeskryflike ommeswaai en verandering!
Wat is dit wat so ‘n geweldige verandering by Jakobus en Judas kon meebring? Net een ding: Jesus het werklik uit die dood opgestaan. En hulle oë het oopgegaan vir Sy wonderskoonheid. En daarom skryf hulle die waarheid. En hulle geskrifte is betroubaar. En dis deel van die Nuwe Testament. En die res van die NT praat presies dieselfde taal. Die hele NT is dus die waarheid en is 100% betroubaar.
Die obstruksie wat mense soms ervaar wanneer hulle nie die egte Jesus kan ken nie en nie die waarheid van die NT kan glo nie, is nie ‘n kop-obstruksie nie. Dis ‘n harts-obstruksie. Ons natuurlike liefde vir onsself/wêreld/eer van mense maak dit haas onmoontlik om ‘n Persoon te volg wie se hele bestaan fokus op selfverloëning en die nastreef van Sy Vader se eer.
Hoe vermeerder ‘n mens jou geestelike aptyt vir die eer van God, vir die ken van die egte/ware Jesus en vir die onfeilbare Woord van God?
Wel, hoe maak jy as jy jou liefde vir klassieke musiek wil verbeter? Jy studeer dit. Jy lees daaroor. Jy spandeer tyd saam met ander mense wat dieselfde liefde het. Jy luister en luister en luister daarna.
Hoe maak jy as jy jou liefde vir die ruimte/sterre/planete wil verdiep? Jy lees en nogmaals lees. Jy kry ‘n teleskoop en kyk/bestudeer die sterrehemel elke liewe aand. Jy spandeer tyd saam met ander wat dieselfde liefde het. Jy wend alle beskikbare middele aan.
As ‘n mens – ten spyte van die onsekerheid & twyfel & woelinge in jou hart – van harte gewillig raak om jou aan Hom te onderwerp, sál jy baie gou weet of Hy en Sy Woord die waarheid is of nie …. dit is Sy belofte.