Een van die
Een van die redes waarom ons in Tafelberg Gemeente verkies om op so ‘n tydsame manier ons pad vers-vir-vers deur Bybelboeke te werk, is omdat ons glo dat dit een van die beste maniere is om werklik te hoor wat die Here sê. Ons hanteer dus verkieslik nie selektiewe Skrifgedeeltes wat “lekker” is en maklik verstaanbaar is nie, maar ons wil probeer om die volle Raad v God verneem.
Dit veroorsaak onvermydelik dat ons ook by gedeeltes kom wat kontroversieel is en nie so lekker op die oor val nie, maar wat ons nie kan systap nie. Johannes 6: 41-51 is só ‘n gedeelte. Veral vers 44 waar die Here Jesus sê: “Niemand kán na My toe kom (m.a.w: dis onmoontlik vir enigiemand om na My te kom), as die Vader hom/haar nie trek nie. En ek sal hom/haar opwek in die laaste dag.”
Hierdie woorde bevat ‘n nie-kontroversiële komponent asook ‘n kontroversiële komponent.
Wat NIE kontroversieel is nie en waaroor bykans alle Christene vrede het, is dat die Here Jesus op die laaste dag álmal wat tydens hierdie aardse lewe werklik na Hom toe gekom het, uit die dood sal opwek. Ons het eintlik verlede Sondag reeds daarna gekyk, want dit word ook in vv 39-40 genoem.
Wanneer ‘n mens na Jesus toe kom, is jou ewige toekoms alreeds finaal bepaal: jou persoonlike toekomstige opstanding uit die dood & die totale ewige vernietiging van die dood as sulks. Dit is die nie-kontroversiële deel van vers 44 waaroor verreweg die meeste Christene saamstem en opgewonde is. En dit ís inderdaad iets om oor opgewonde te wees. Daar is absoluut geen sprake daarvan dat ‘n ware gelowige ná sy liggaamlike sterwe, dood is soos ‘n klip nie. Daar is ook geen sprake van reïnkarnasies tot ander lewens vorme nie. O nee, vir die Christusgelowige wag daar ‘n toekoms by God – nie as ‘n soort gees of spook nie – maar eg mens & eg liggaamlik. Prys Sy Naam. Dit staan alles in vers 44. Dis die nie-kontroversiële deel vd vers. Dis ‘n waarborg van ewige saligheid – die gelowige sál opgewek word.
Wat is dan die kontroversiële deel van vers 44? Dít: “Niemand kan na My toe kom as die Vader hom/haar nie trek nie.” Kyk mooi daarna. In vers 37 het Jesus dit eintlik reeds gesê (verlede Sondag het ons dit behandel): “Almal wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom…” Nou weer vers 44: “Niemand kan na My toe kom, as die Vader hom nie trek nie.” Die Vader GEE mense aan Sy Seun (v 37) – dit is juis húlle wie Hy TREK (v 44) – en álmal van hulle kóm na Jesus. Dit kan een van twee goed beteken:
ÓF: Niemand kan na Jesus kom nie, tensy God die Vader trek. Hy trek alle mense op aarde, maar almal kom nie. Dus veroorsaak die Vader se trek nie die “kom” nie, maar bied slegs die moontlikheid/hulpkrag om te kan kom, maar in finale instansie hang dit af van wat die mens besluit/kies. As die Vader álmal trek, en slegs sommige kóm, dan beteken dit dat die mens uiteindelik die hef in die hand het, want hy/sy kan téén die Here kies – al trek die Vader ook hoe hard. Sy trek-aksie kan misluk as die méns so besluit!
ÓF: Die Vader se trek veroorsaak die kom. Dit is ‘n onfeilbare trek-aksie. Wie Hy ookal trek, sál kom. Wie Hy ookal trek, se wil sal omgebuig word om na Jesus te kom! Dit sou dan beteken dat Hy nie alle mense trek nie, want almal kom dan nie! Dit beteken Hy kies wie Hy trek (en niemand verdien dit dat Hy hulle trek nie) en die ander laat Hy begaan op hulle selfgekose pad van ongeloof (almal verdien dit dat Hy hulle laat begaan en bewys Hy aan hulle geen onreg nie).
So die vraag is dus: Trek God die Vader álle mense, maar baie mense ondermyn dit deur Hom te dwarsboom? Of trek die Vader net sommige en is dit Sy trek-aksie wat veroorsaak dat hulle na Jesus kom sodat hulle álmal kom?
Is die Vader se trek-aksie feilbaar of onfeilbaar? Misluk dit by sommige of slaag dit altyd?
Hoe moet ons dit verstaan? ‘n Deel van ‘n mens se hart wil opsie 1 kies en die ander deel van jou hart wil opsie 2 kies.
Wel, die goue reël is altyd om te kyk wat die konteks sê. Nooit kan ons een vers opsigself neem en só probeer verstaan nie. Ons verstaan altyd ‘n vers binne sy konteks. Ook so ook in hierdie geval. Die onmiddelike konteks van 6:44 gee vir ons die verrassende antwoord.
EERSTE OPMERKING OOR DIE KONTEKS WAARBINNE 6:44 STAAN: Die onmiddelike konteks is die weerstand wat daar van Jode se kant af kom oor Jesus se uitspraak dat Hý die brood vd Lewe is. Hulle grom omdat Jesus sê Hy is die brood wat uit die hemel kom. Hoe kan dit? Hulle ken tog Sy ouers en familie. Hoe kan Hy uit die hemel kom as Hy heel duidelik uit Nasaret kom? Dit wat Hy sê en dit wat hulle oë sien, bots erg. Vandag nog is dít die twee aansprake van Jesus wat mense die meeste aanstoot gee: a) Dat Hy van God kom en b) dat Hy die énigste brood is wat honger stil.
In stede daarvan dat Jesus se woorde groter duidelikheid by die Jode bring, word hulle weerstand net groter & groter. Waarom? Die goed wat Hy sê, rym nie met hulle logika en hoe húlle dink wat moontlik is en wat nie moontlik is nie. Daarom grom en brom hulle so erg.
Die gromme gaan byna oor in ‘n geveg wanneer Jesus nóg iets byvoeg: “Die brood wat ek julle gee is my eie vlees. My eie vlees gee ek vir die lewe vd wêreld.” Hy bedoel Sy liggaam op die kruis. Sy offerdood.
Nou die belangrike is om te sien dat hierdie vers 44 – waaroor ons praat – Jesus se antwoord op hierdie gromme, bromme en weerstand is. Hoe meer weerstandig hulle raak, hoe meer eksplisiet/duidelik raak Jesus oor die feit dat hulle nóóit op hulle eie stoom in gebrokenheid/erkentlikheid/geloof na Hom toe kan kom nie. Dis menslik totaal onmoontlik. Die mens is dóód in sonde (Efes 2: 1-2) en daarom soek níémand vir God nie (Rom 3:11).
U kan dus die scenario in u geestesoog sien: Jesus sê ‘n klomp goed oor homself wat bots met die Jode se logika & hulle begin weerstand bied. Dan sê Jesus: “Niemand kán na My toe kom as die Vader hom nie trek nie.” Waarmee Hy dus sê: “Julle kan regtig maar julle gemor stop, want die redenasies en argumente van mense sal nooit veroorsaak dat enigiemand na my toe kom nie.” U sien Hy wil hulle uitskud uit hulle hoogmoedige, selfverheffende aannames van dit waartoe hulle dínk hulle eie wil hulle kwansuis kan bring. Hy wil vir hulle sê: “Julle het geen hoop tensy die Vader nie julle harte ombuig nie”. Die ingebore selfverheffing vd menslike hart moet verneder word & die lof en eer van God moet verhoog word.
TWEEDE OPMERKING OOR DIE KONTEKS WAARBINNE 6:44 STAAN: Onthou ons het gesê dat vers 44 aan 37 verbind is: “ALMAL wat die Vader My gee, sal na My toe kom…” Diegene wie die Vader TREK (v 44) is hulle wie Hy aan Jesus GEE (v 37). En kyk wie is dit volgens v 37: ALMAL! ALMAL wat Hy gee, kom! Die ALMAL kan dus nie alle mense op aarde wees nie, want die meeste kom nooit! Dieselfde geld dus ook van diegene wie Hy trek: ALMAL. Dit is totaal onmoontlik vir enigiemand om na Jesus te kom, sonder dat die Vader trek. En ALMAL wie Hy trek, kóm!
Verder aan in hoofstuk 6 – en dit is steeds deel vd konteks waarin v 44 staan – sê Jesus weer in vers 65: “Niemand kan na My toe kom, as dit hom/haar nie deur my Vader GEGEE is nie.” Dit sê Hy i.v.m. Judas wat Hom sou verraai & ander wat nie glo nie. Jesus sê dus: “Waarom is daar die ongelowiges en waarom die Judasse? Dis omdat niemand na My kán kom, as die Vader dit nie géé nie. ”
Indien die Vader álle mense op aarde sou trek en elkeen kies self watter kant toe, sou Jesus se woorde absoluut geen sin maak nie. Dit is beslis die Vader se trek-aksie wat die mens se kom-na-Christus onfeilbaar veroorsaak. Hy trek dus nie alle mense nie. Sommige láát bly Hy in Sy regverdige oordeel in die ongeloof wat hulle self verkies. Ander trek Hy – uit louter genade alleen. En wie Hy trek, kóm daadwerklik na Christus toe. Dis ‘n misterie vér so ons begrip. Wanneer jy die dag kies om na Jesus te kom, is dit ómdat die Vader jou trek.
En hoe trek die Vader mense? Vers 45 gee die antwoord: “In die profete (Jes 54:13 asook in Jeremia 31 en Esegiël) is dit geskrywe: En hulle sal almal deur God geleer wees.” En dan sê Jesus: “Elkeen wat van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.”
Die trek-aksie van God die Vader vind plaas deur onderrig in die Woord vd Waarheid. Dit korreleer 100% met Paulus se woorde in Romeine 10:17: “Die geloof kom uit die hoor vd Woord van God. En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (v 14). Daar is ‘n direkte verbinding tussen God se trek-aksie en die hoor van behoorlike Woord-onderrig. Die prediking/onderrig veroorsaak die kom-na-Christus.
Let weer op (v 45): “ELKEEN wat deur die Vader geleer word, kom na My toe.” Wat beteken dit, want ons weet baie mense word in die Skrifte onderrig wat níé na Christus kom nie? Waarom ELKEEN?
Beide Jesaja en Jeremia praat van die toekomstige dag (waar ons nóú is) wanneer die onderrig nie meer net uiterlik op die oordromme van mense sal val nie, maar in die hart geskryf word. Verwysende na die tyd van die Nuwe Verbond. Ja, baie mense hoor steeds die onderrig net met die uiterlike ore. Maar daar is diegene by wie die Heilige Gees die onderrig ingraveer op die tafels van die hart (vgl Jer 31:33). Hierdie mense kom álmal na Christus toe. Dis ‘n innerlike trek-aksie van God wat onfeilbaar resultate lewer. DIT IS DIE ENIGSTE REDE WAAROM DAAR WARE GELOWIGES IN HIERDIE EREDIENS EN IN HIERDIE STAD TEENWOORDIG IS. As dit nie vir hierdie onfeilbare innerlike trek-aksie van God was nie, sou ALMAL verkies het om ongered, ongelowig in selfliefde voort te strompel tot by die helse oordeel. Ék sou dit beslis verkies het en ú sou dit verkies het. Ons het werklik álles te danke aan die vrye genade van God. Soos ‘n deur aan ‘n skarnier hang, hang ons aan Gods vrye genade – dat Hy voor die skepping (Efes 1:2) besluit het om óns na Jesus toe te trek. En dat daardie trek-aksie ons wilskeuse in beweging gebring het sodat ons ons kon/wou oorgee aan Jesus se heerskappy. Al wat oorbly is die versekering van vers 47: Wie in My glo hét die ewige lewe.
Die effek wat hierdie waarhede op ons het:
1 Dit stem ons nederig. Óns het nie die impuls voorsien wat ons tot by die Here Jesus Christus gebring het nie. God het. Ons het gekom, as gevolg van Hom. Was dit nie vir Sy effektiewe trek-krag nie, het ons verlore gebly.
2 Vul ons met oorstelpte dankbaarheid. Alles maar alles is God se gawe. Ons kom-na-Christus is Gods gawe. En om te dink dat ons deur en deur verdien het dat God ons moes laat bly het waar ons was!
3 Versekering. Want indien Hy ons uit vrye genade getrek het, volgens Sý besluit – dan sal Hy ons tot die einde bewaar en behou. Verruklike sekerheid.
4 Hoop vir die bekering van diegene oor wie ons besorg is asook diegene wat lyk of hulle reeds oor die afgrond is. Niks is vir Hom te moeilik nie. As Hy die dooies roep, word hulle onfeilbaar lewendig. As Hy Sy uitverkorenes versamel, kan niemand/niks dit keer nie. Ons het dus hoop vir mense. Ons het vrymoedigheid om vir hulle te bid en met hulle te praat.
5 Alle eer aan God, niks aan onsself nie. Die vrye genade waarmee God werk, besorg aan Hóm ál die eer en absoluut niks aan onsself nie. Dit stroop die mens van sy gewaande kroon en gee aan die drie-enige God al die eer.