Skrif: Johannes 6: 22-40

Verlede Sondag het ons in die vorige perikoop gesien hoe Jesus in Galilea, in die noordelike gedeelte van die land Palestina – bedien & hoe Hy omtrent 10000 mense met brood en vis voed. Daarná – en dit was reeds aand – bly Hy alleen agter terwyl Sy dissipels met die enigste skuit wat daar was, na Kapernaum vertrek. ‘n Stormwind teister hulle egter en Jesus loop op die water om hulle te help. Die oomblik toe hulle Hom in die skuit neem, lê die skuit ‘n paar kilometer binne sekondes af en arriveer onmiddelik by die bestemming waarheen hulle op weg was. Die Here se teenwoordigheid was hulle versadiging en hulle redding.

Die volgende dag besef die skare wat Hy gevoed het, dat Jesus nie daar is nie. Hulle het geweet Sy dissipels is weg met die enigste skuit en dat Hy agtergebly het om te bid. Maar toe ontdek hulle met verbasing dat Hy ook weg is. Hoe Hy oor die water beweeg het, weet hulle nie, want daar was net een skuit. Intussen het daar ander skuite van Tiberias aangekom en die skare gebruik dit toe om in Kapernaum te kom om na Jesus te gaan soek. Daar was dalk nie genoeg skuite om 10000 mense te vervoer nie, dus het almal waarskynlik nie gegaan nie. Ons weet nie, want die Skrif sê dit nie. Feit bly dat ‘n groot groep Hom gaan soek het.

Eerste ding wat hulle egter wou weet toe hulle vir Jesus kry (waar Hy besig was om in die Sinagoge onderrig te gee) is natuurlik hoe Hy daar gekom het – sonder skuit. Maar Hy antwoord nie hul vraag nie. Lyk nie of Hy hulle vraag baie positief beleef nie. Hy antwoord botweg: “Julle agtervolg my, nié omdat julle Mý heerlikheid gesien het wat uit die wonderteken van die brood & vis geskyn het nie, maar omdat julle lekker verniet kos gekry het. Julle het in die wonderteken vasgekyk en nie ópgekyk en MY gesien nie.”

Dis nes jy sien hoe die prag van die son se strale ‘n landskap kleur, maar jy nie in staat is om van die strale terug te gaan en die son sélf sien nie. Die mense het nie die vermoë gehad om ágter die vermeerdering van die brood, vir Jesus sélf te sien as die ware Brood van die lewe nie. Hulle was verwonderd oor die PRODUK van die wonderteken, maar het die PERSOON agter die wonderteken misgekyk. Wat saakmaak is nie die heerlikheid van die gawes nie, maar die heerlikheid van die Gewer. En die natuurlike mens is net eenvoudig té afgestomp om dit te kan sien. Brood wat net jou tydelike liggaamlike honger stil, kan op geen manier vergelyk word met die ewiglik-bevredigende Brood vd hemel wat vir altyd jou innerlike sielshonger stil nie.

Dit is die kern van wat die Heiland die mense antwoord in vers 27: “Moenie werk vir kos wat vergaan nie, maar vir kos wat vir ewig bly, wat Ek julle sal gee, want God die Vader het Sy seël van gesag & outoriteit op Mý geplaas.”

U sien? Die Here Jesus gebruik die brood waarmee Hy hulle die vorige dag gevoed het en dan swaai Hy dit om na die blye boodskap van die evangelie en wys vir hulle hoe HYSELF die eintlike brood is, wat méér as bloot tydelike honger stil. God die Vader het immers Sy seël op Jesus (en niemand anders nie) geplaas. Eksklusief nét op Jesus. M.a.w Hy het aan Hom die outoriteit gegee om die ewige lewe aan mense te gee. Dink maar aan Jesus se doop: “Dit is My geliefde Seun in Wie ek ‘n welbehae het.” (Mat 3:17). Dit is Sy kroningsplegtigheid waar Sy Vader Sy seël op Hom geplaas het. Jesus het die volmag ontvang! Nooit hoef ons in ‘n stuk twyfel te verval óf ons werklik IN JESUS die lewe ontvang het of nie nie. Nee, God het self Sy seël op JESUS (en niemand anders nie) geplaas.

Maar wat beteken: “Moenie werk vir voedsel wat vergaan nie” en “werk vir die voedsel wat blywend is”?

Wat dit níé kan beteken nie: 1) Bedank jou werk want jy mag nie geld genereer vir jou daaglikse brood nie. Moenie vir tydelike brood werk nie. Sit by die huis en tel tone 2) Probeer die ewige lewe verwerf deur werke/ dit wat jy doen & presteer.

Waarom nie? 1) 2 Thes 3:10 & Efes 4:28. 2) Galas 2:16 & Rom 3:20.

Wat beteken dit wél? Kom ons kyk na die tweede een eerste: “Werk vir voedsel wat blý”. In vv 28-29 gee die Here Jesus self die antwoord. Want die mense vra toe: “WAT moet ons DOEN om die werke v God te volbring?” Tipies mens. Wil op grond van meriete/werke gered word.

Toe antwoord Jesus: “Wat julle moet doen, is om niks te doen nie. Dis wat julle moet doen. Julle moet leer om met leë hande te ONTVANG. Julle moet GLO in Hom wie die Vader gestuur het. Dit is hoe julle moet werk vir die voedsel wat blywende is. Die voedsel wat blywende is, is Ekself! Julle moet Mý in julle lewens ontvang. Dis wat dit beteken om te glo. Neem my op my Woord en ontvang my. Maar weet dat dit presies die teenoorgestelde is van om my te probeer verdien met wat julle doen/ nie doen nie. “Glo” is die teenoorgestelde van werk/doen/verdienste/prestasie/beloning. “Glo” beteken “ontvang”. Om ‘n geskenk in ontvangs te neem. Dit is wat dit beteken “om te werk vir voedsel wat nooit vergaan nie.”

Wat beteken: “Moenie werk vir voedsel wat vergaan nie”? Wel, wat veránder nie alles wanneer jy die blywende voedsel geëet het nie? Dan kom die voedsel-wat-vergaan in ‘n ander lig te staan. ‘n Ander dimensie word toegevoeg aan jou werkery-vir-voedsel-wat-vergaan, naamlik die ewige lewe asook ‘n nuwe skat/rykdom wat ‘n miljoen keer meer waarde het as verbygaande dinge! Mat 6:21 > “Waar jou skat is, sal jou hart wees.”

Wanneer jy Jesus Christus die Seun van God deur geloof geëet het, dan hou jy nie op met jou aardse werkery-vir-voedsel-wat-vergaan nie (sien 1 Kor 7:24), maar jou werkery (en jou tydelike lewe as sulks) kry ‘n totaal ander dimensie. Jou besittings, geld, werksituasie, ambisies, beheers nie meer jou hart nie. Christus – as jou nuwe skat & rykdom – beheers nou jou hart. En wanneer dinge rof gaan, weet jy: “ek gaan vir ewig leef. Dis nie meer lank nie….” Ja, ek werk vir voedsel-wat-vergaan, maar sonder ‘n obsessie om méér te maak óf ‘n vrees vir wat ek kan verloor. Ek is totaal bevry!

En tog word ek nie lui of traag of lusteloos in my werkery-vir-voedsel-wat-vergaan nie, maar ek styg meer uit as ooit tevore en uit my geld wat ek genereer word die koninkryk van God magtig gebou, want ek géé & géé & géé sonder om links of regs te kyk! Ek kán gee, want ek leef nie meer vir voedsel wat vergaan nie. My sienswyse het verander. Ek is vry.

Sien u die briljante skitterende krag van Jesus as Brood vd Lewe? Dis hoe Hy alles verander. Ek word nie meer gedryf deur ‘n obsessie om “bo” uit te kom, of om meer & meer geld te maak nie. Ek word nie meer beheers deur ‘n verslawing aan “naweke” of ‘n ewige uitsien na aftrede nie. Want ek voed oomblik vir oomblik op die voedsel-wat-nie-vergaan-nie: Jesus my Here, die Brood vd lewe, halleluja. Ek werk nie meer vir voedsel wat vergaan nie!

En wat antwoord die mense dan vir Jesus? “Dis reg so, ons sal in U glo, maar dan moet U aanhou wondertekens doen asseblief. Ons mae is al juis weer honger. Ons voorvaders het ook brood uit die hemel gekry – die manna – maar dit was aanhoudend dag vir dag, nie net eenmalig nie. So watter wonderteken gaan U ons vandag gee sodat ons in U kan glo?”

Waarop Jesus antwoord: “Onthou dit was My Vader wat daardie manna gegee het (nie Moses nie), maar die manna as sulks was nie die eintlike kern waaroor die wonder gegaan het nie. Daardie manna het na WARE (v 32c) brood heengewys. Vergeet die manna en sien dít waarna dit gewys het. Die ware brood wat uit die hemel neerdaal en lewe aan die wêreld gee, is Ek wat hier voor julle staan. KOM net na My toe en julle sal nie weer honger kry nie. Dis absoluut gratis. My Vader GEE Mý as Brood vd hemel. Dis ‘n geskenk. Neem en eet. So eenvoudig soos dit.”

En onthou: SIEN is nie GLO nie. Dis net andersom: GLO is SIEN! Kyk na vers 36: “Julle het My gesien en tog glo julle nie.” Die manier waarop ‘n mens daagliks op hierdie Brood voed, is nié deur te SIEN nie. Nie deur primêr dinge te voel/ervaar/sien/beleef nie. Maar deur te GLO, dit beteken om Sy swart-op-wit woorde ter harte te neem en jou vertroue daarop te plaas. Die mens wat die meeste sien/voel/ervaar, is die mens wat ernstig met die woorde van Christus omgaan – die Skrif. En wat die Here se eie woorde terugbid en vervul is daarmee. Die mens wat die meeste sien & ervaar is die mens wat nie op die sien/ervaar konsentreer nie, maar op die Skrif en gebed. Want Skrif & gebed voed geloof, nie sien nie.

Dit is moeilik om in gewone Afrikaans te sê hoe belangrik hierdie paragraaf in Johannes 6 is. Veral vers 35: “EK IS die brood vd lewe. Wie na My toe kom, kry nooit weer honger nie.” Dit is die kern van waaroor die Christelike Geloof gaan. En vir ‘n ware Christen is dit die lewe self. Om daagliks versadig te word met alles wat die lewende God vir jou in Jesus Christus is. Die ware Christen is iemand wat heeldag deur, bewustelik en onbewustelik, dwarsdeur alles waarmee jy besig is, honger en dors na die Here Jesus Christus. Dis ‘n bewustelike honger & dors wat jou uitdryf na ‘n omgaan met Hom, verhouding met Hom, ‘n begeerte om met Hom te praat, ‘n begeerte om Hom te hoor praat, ‘n soeke na Sy Gees in jou innerlike mens. Dit beheers jou, letterlik. Dit dryf jou in die oggende na Hom. Dit dryf jou deur die dag na Hom. Dit dryf jou in die aand na Hom. En as jy nie bevredig is nie, voel jy dat dit ‘n slegte dag was.

Dit gaan nie eerstens oor ‘n etiese morele kode waarvolgens geleef moet word soos by die nie-Christelike godsdienste nie. Die Bybel is nie primêr ‘n Boek wat vir jou sê só moet jy maak en só moet jy nie maak nie. Die Bybel is ‘n openbaring van wie Jesus is! Dit openbaar ‘n Persoon! Dit gaan oor HOM. Dit gaan oor ‘n innerlike honger en dors na Hom en ‘n versadiging in Hom. Dit gaan oor Christus Jesus, die lewende opgestane Here. Die mens wat dit ontdek het, se lewe is net nooit weer dieselfde nie.

Ter afsluiting verse 37-40: ‘n Mens kan tereg vra waarom sommige mense hierdie lewe & versadiging in Christus ken en ander dit nie ken nie. Is dit omdat sommige mense beter/ouliker as ander is en in staat is om (met hulp van Bo) so ‘n goeie keuse maak? Maar, dit kan nie wees nie, omdat die Skrif leer dat almal van nature in presies dieselfde sondedood is (Efes 2: 1-3; Rom 3:10). Daar is letterlik nie EEN mens op die aardbol wat enigsins in staat is of enigsins die goeie keuse wíl maak nie! Nou waarom ken sommige mense dan die lewe & versadiging in die Brood vd hemel en ander ken dit nie?

Ons moenie ons eie menslike wysheid gebruik om hierdie dinge te ontrafel nie. Laat ons na die wysheid van die Skrif luister. Verse 37-40:

God die Vader neem die inisiatief en Hy gee mense aan die Here Jesus Christus. Hý gee en Hy gee wie Hy wil gee (v 37). En die mense wie die Vader aan die Seun gee, sál na die Seun toe kom. Net maar kom. KOM: so eenvoudig soos dit. En die Seun verwerp nie een enkele een wat na Hom toe kom nie (v 37). Hy verstoot niemand. Elkeen wat die Vader aan die Seun gee, kom na Hom, sien Hom en glo Hom en ontvang onmiddelik die ewige lewe (v 40). En nooit maar nooit verloor Jesus enige een van hulle wat die Vader aan Hom gegee het nie (v 39). Deur dik en dun. Deur klowe en oor berge, hou Hy almal vas. En op die laaste dag wek Hy almal op uit die dood.

Sien u die skakels in die ketting? Skakel nr 1: Almal is ewe dood in sonde en verlorenheid. Niemand wil roer of beweeg na die Here se kant toe nie. Maar, die Vader neem die genade-inisiatief (skakel nr 2). Hý gee mense aan die Seun, ons Here Jesus (skakel nr 3). Almal wie Hy aan Jesus gee sál na Jesus toe kom (skakel nr 4), Hom sien (skakel nr 5), Hom glo (skakel nr 6) en die ewige lewe oombliklik ontvang (skakel nr 7). En nie een van hulle sal verlore gaan nie, want Jesus verloor nie een van hulle langs die pad nie (skakel nr 8). Ja, hulle skommel maar baie rond, maar HY verloor hulle nie. En uiteindelik, by die voleinding, wek Hy elkeen van hulle op uit die dood (skakel nr 9).

Eintlik moet ons die aksent reg plaas:

Diegene wie die Vader aan Jesus gee, sál na Hom kom, sál Hom sien, sál Hom glo, sál die lewe ontvang, sál end-uit behoue bly & sál uiteindelik opgewek word uit die dood. Dis die korrekte aksent.

Sien u die onbeskryflike sekuriteit & vastigheid wat die ware kind vd Here het? En dit word alles vir ons gewaarborg in hierdie een beloftewoord uit die mond van die Here Jesus in verse 37-40.

Dit is hierdie krag wat manne & vroue deur al die eeue bereid gemaak het om na die brandstapels te stap, om marteldode te sterf, om dekades in tronke deur te bring, om smaad & hoon te verduur t.w.v die Here Jesus & Sy Woord. Die krag van hierdie belofte in 6: 37-40 is ‘n geweldige krag. Dit verander lewens. Dit stel mense in staat om hul lewens in belang van die koninkryk af te lê.

Mag Hy elkeen wat hierdie woord gehoor het, bekragtig, help en seën.

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00