Skrif: Johannes 6: 1-21
Dit is opvallend hoe die struktuur van hfst 6 ooreenstem met hfst 5: In hfst 5 doen Jesus ‘n wonderteken en dan lei dit tot ‘n gesprek met die Joodse leiers oor Jesus se Godheid. Weer so in hfst 6: Jesus doen ‘n wonderteken en dan lei dit tot ‘n gesprek met die Joodse kerkleiers oor Sy ewige Godheid.
Een van die verskille tussen hfste 5 & 6 is dat hfst 5 in Jerusalem in die suide van die land afspeel, terwyl hfst 6 in Galilea in die noorde vd land afspeel. In die suide het die Jode Hom toe reeds totaal verwerp en Sy dood beplan. Daarom (vlgs 7:1) gaan Hy na Galilea in die noorde waar Hy ‘n hele aantal maande (tussen 6-12 maande) bedien. Sy bediening in Galilea word nie in Johannes-evangelie beskryf nie, maar wel in Matteus 4-14, Markus 1-7, Lukas 4-9.
Dus: tussen hfste 5 & 6 pas die beskywings van Jesus se maandelange bediening in Galilea – soos Matteus, Markus en Lukas dit beskryf – in. Die “daarna” in 6:1 verwys dus nié na dit wat pas in hfst 5 gebeur het nie, maar dit verwys na die maandelange Galileese bediening, wat nie in Johannes-evangelie beskryf word nie! Met ander woorde: Wat in hfst 6 beskryf word (wonderteken van die vermeerdering van brood & vis) het dus eintlik aan die einde van Jesus se maandelange bediening in Galilea plaasgevind. Dit verklaar waarom daar so ‘n groot menigte was wat Hom agtervolg het.
In hfst 6 is ons nou op die plek waar die Meester net wil eenkant wees met Sy dissipels. Nie net dat Hy moeg was nie, maar uit die ander Evangeliebeskrywings weet ons dat Hy pas die tyding ontvang het dat Johannes die Doper onthoof is. En ons weet hoe geheg aan en lief Jesus & Sy dissipels vir Johannes die Doper (die laaste OT profeet) was.
Hoe dit ookal sy, daar was nie tyd vir stilte en afsondering nie, want die Galileese skare het Jesus gevolg. Jesus-hulle is met ‘n boot oor die stukkie see van Galilea, maar die skare het net padlangs óm gestap. Ná die Heiland se lang bediening in Galilea, was die mense verknog aan Hom omdat (v 2) hulle Sy wondertekens gesien het. Hulle was nie aan Hom verknog omdat hulle behoefte aan redding & verlossing gehad het, of omdat hulle onder sondebesef & sonde-oortuiging was nie. Hulle was nie aan Hom verknog omdat hulle Hom as hulle Heer wou volg nie. O nee, hulle wou iemand hê wat hulle kon bedien en na hulle sorge omsien. Hierdie Man, wat vir hulle so lekker verniet kos gee, Hý moet hulle koning wees! Só iemand kan mos al hulle probleme oplos. “Wat kan Hy nie als vir my doen nie!?”
Hierdie mense het Jesus liefgehad vir Sy wondertekens, maar hulle het Hom gehaat vir Sy wóórde! Kyk na vers 15: Nadat hulle die wonderteken van die vermeerdering van die brood gesien het, wou hulle Hom koning maak! Maar, vanaf vers 22 begin Hy vir hulle verduidelik wie Hy werklik is en wat Hy van hulle eis, en wat gebeur? Kyk vers 66 wat doen dieselfde mense wat Hom wou koning maak: Hulle het weggeloop en Hom nie meer gevolg nie. Toe hulle hoor wat ‘n appél Hy op hulle lewens maak, toe vlug hulle en bedank uit die gemeente!
Ons moet dus glad nie so opgewonde wees oor hierdie massas wat Jesus volg nie. Dit lyk byna soos ‘n makrogemeente. O nee, eintlik is dit pateties. Hulle wou iemand volg wat vir hulle iets kon doen. Maar toe hulle hoor wat Hy eis, toe is die kerk meteens leeg! Talle mense loop vandag nog van die Here Jesus af weg wanneer hulle voel Sy dienslewering is nie na wense nie. Hulle besef nie dat hulle lewens van Hom afhang nie. Hulle besef nie dat Hy gevolg moet word, al antwoord Hy in 20jr nooit enige gebed nie & al tref al wat ‘n ramp is jou lewe! Hy moet gevolg word omdat Hy Here en God en Koning is en ons verdoemde sondaars wat slegs by die grasie van Sy genade die ewige lewe ontvang het! Hy word nie gevolg omdat Hy sulke goeie dienste lewer nie!
‘n Groter wonder as die vermeerdering van die brood & vis, is die Here Jesus se liefde vir die massas wat Hom nie regtig wil volg nie. Hy weet hulle wil méér wondertekens sien. Hy weet hulle gaan Hom binnekort verlaat en verwerp. Hy weet hulle gaan aandadig aan Sy dood wees. En tog…. tog gee Hy soveel om. Want hulle is soos skape wat geen herder het nie. Sy liefde is so geweldig dat, ten spyte van hulle verkeerde motiewe, Hy steeds in hulle behoefte voorsien. Nooit stamp Hy iemand weg wat na Hom kom nie (6:37). Hy maak tyd. Hy is nie geïrriteerd nie. Matteus, Markus en Lukas vertel vir ons dat dit reeds aand was en dat die dissipels wou hê hulle moet van die skare ontslae raak. Maar die Here was nie van plan om van hulle ontslae te raak nie! Hy het totaal ander planne gehad.
Maar hou nou dop wat gebeur. Jesus vra vir Filippus: “Waar sal ons in hierdie wêreld brood kan koop sodat hierdie mense kan eet?” Joh 1:44 sê dat Filippus van daardie area af kom en dit dus goed ken. Hy sou weet waar brood gekoop kon word. Maar, die eintlike rede waarom Jesus hom die vraag vra, was om hom te toets/ op die proef te stel (v6). Dit was nodig dat Filippus se geloofsvertroue op die proef gestel word. Soos in die geval van Abraham wat Isak moes offer (Gen 22). Dit is iets wat van tyd tot tyd met alle ware gelowiges gebeur. Tye van toetsing & beproewing.
Kyk mooi hoe werk die Heiland met Filippus: Hy plaas die toets net buite (nie so ver dat hy ontspoor nie) Filippus se vertroue. En dan neem Hy Filippus se vertroue en trek dit op tot by die plek waar die toets is. Dis die wonderlikste werksmetode. Op daardie manier trek Hy vir Filippus op in ‘n groeifase. Sien u dit? Ja, Hy plaas die toets net buite Filippus se bereik. Maar dan berispe Hy nie vir Filippus nie. Hy trek Filippus op tot by daardie plek! Hy beproef/toets hom dus met die doel om hom op te trek! Dit is waarom Jakobus sê dat beproewing níé ‘n egte gelowige ontspoor nie, maar.. juis laat groei!
Wat is die eerste ding wat ons almal doen in ‘n beproewing/toets-situasie? Wel, kyk wat doen Filippus. Hy begin sommetjies maak. Kyk hoeveel mense daar min of meer is. Kyk hoeveel geld hy het. Nee, gaan dit nie maak nie. Sien die onmoontlikheid vd situasie. Hy val dus onmiddelik terug op sy eie bronne. So maak ons, nie waar nie? Ons bereken die onmoontlike haglikheid van ons situasie. Ons kyk na ons eie reserwes. Dan raak ons opgewerk. As ons baie opgewerk is, dan bid ons uiteindelik.
Filippus verloor sy fokus en konsentreer op wiskundige formules. Wanneer dit nie werk nie, konkludeer hy dat die situasie onmoontlik is. Pleks dat hy van die begin af op die lewende Jesus fokus, want dít is wat geloof per slot van sake is. Ja, Jesus kon wel ‘n blinde laat sien, maar om duisende kos te gee….. nee wag, dis bietjie vergesog. U sien, die toets lê net buite die sirkel van sy vertroue. Maar, nou gaan Jesus hom optrek tot waar die toets is. Mens hoor nie dat Hy sê: “O, jou kleingelowige” nie. Nee, Hy neem vir Filippus op die plek waar hy is, en Hy trek hom op. Kyk nou hoe gebeur dit.
Andreas kom en sê vir Jesus: “Hier is ‘n seuntjie wat 5 broodjies en 2 vissies het, maar hoe sal dit vir hierdie massas genoeg wees?” Daar moes meer as 10000 mense gewees het, as die mans alleen 5000 was. Die broodjies was nie – soos óns dink aan brode nie. Dit was klein, byna soos klein pannekoekies – net hard. Klein en dun. En die vissies was klein vissies, wat baie bekend was in daardie gebied, wat gebruik is om op die brood te sit. Byna soos ‘n tipe smeer, om smaak te gee.
Kyk nou hoe word die wonderteken beskryf. Geen sensasie. Johannes noem dit nie eens ‘n wonderteken nie. Hy sê nie iets soos: “En Jesus het die brood vermeerder” nie. Nee, Jesus breek net eenvoudig die brood. Weer en weer en weer. Die skare weet nie eens wat aangaan nie. Doodgewoon begin Jesus die brood en vis uitdeel. Hý dank Sy Vader en breek dit, maar die dissipels moet die uitdeelwerk doen. Want die wonderteken is nie vir die skare bedoel nie, maar vir húlle. Húlle moet opgetrek word. En wat doen hulle? Hulle gehoorsaam. Hulle kan glad nie verstaan wat aangaan nie, maar hulle gehoorsaam. Hulle geloofsvertroue het gefaal, maar nie hulle gehoorsaamheid nie. En juis die gehoorsaamheid, bou die geloofsvertroue op! Gehoorsaamheid is die kanaal waardeur geloof vloei. Geloofsvertroue sal nooit groei solank ‘n mens ongehoorsaam aan die Here is nie. Maar, aan die ander kant, as jou geloofsvertroue flou is, gehoorsaam Hom met ‘n wilskeuse en sien hoe jou geloofsvertroue vlam vat! Daarom koppel Romeine 1:5 die twee: Geloofsgehoorsaamheid!
En al wat die Meester doen is: Uit niks skep Hy net. Oor en oor en oor en oor. Uit niks, skep Hy brood en vis! Hy vermenigvuldig dit net eenvoudig. Dis asof die oerskepping van Genesis 1 in die kleine (op mikrovlak) herhaal word. Hy doen dit so, sonder basuingeklank, so eenvoudig. Sag-weg, tog magtig. En die dissipels deel uit.
Vir my so aangrypend dat daar soveel kos oorgebly het. Dit mag nie vermors word nie, daarom versamel word. TWAALF mandjies mag dalk simbolies na die 12 dissipels in Jesus se binnekring verwys. Hy noem hulle “die Twaalf” (vv 67, 70). Die 12 mandjies is simbolies van Jesus sélf wat hulle Brood & voorsiening sal wees. Al gee hulle hulself in diens vd koninkryk, sal Hý sélf hulle voorsiening wees.
U sien, wanneer ons dink dat ons God se genade uitgeput het, dit nog nie naastenby uitgeput is nie! Wat ons ook weet is dat die Here geneig is om nie nét presies dít te voorsien wat ons nodig het nie, maar ook méér. Hy is so onbeskryflik goed. Ons kan nooit bedink hóé goed Hy is nie. Natuurlik weet ons Hy is goed en bely ons dit ook, maar hóé goed, kan ons nie bedink nie.
En natuurlik, toe wil die mense Jesus koning maak. Só ‘n tipe koning wil hulle hê – wat hulle kan bedien en wonders kan doen. Dis die tipe Messias wat die Jode wou hê. Hulle het nie eens gedink aan bekering en návolgingskap van die Here nie. Hulle het nie gedink aan geestelike herlewing nie. Die Here Jesus laat Hom egter nie inpas by hulle idee nie. Niemand maak Hom koning nie. Hý is die een wat die koninkryk naby bring. Met bekering as opdrag. Hy sou nie koning wees op húlle terme nie.
Weet u hoe baie mense is daar vandag nog steeds wat só ‘n tipe Jesus wil hê soos hierdie massas wou hê. En hulle wil hê só ‘n Jesus moet Sondae vd kansel af gepreek word. ‘n Jesus wat vir hulle kan bedien. Wat dáár is vir hulle. Terwyl die Jesus vd Bybel sê “as jy nie gewillig is om jou lewe af te lê nie, kan jy my dissipel nie wees nie. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor. Wie sy lewe om my ontwil verloor, sal dit vind.” Ons sal nog later sien hoe verreweg die meeste van hierdie massas weggeloop het toe hulle Jesus se eise hoor. Skielik is Hy nie meer die koning na hulle smaak nie.
Om die een of ander rede het Jesus se dissipels toe alleen op die skuit geklim om oor te vaar na Kapernaum. Jesus het alleen agtergebly. Waarskynlik om op die berg te bid soos v 15 suggereer. Matteus en Markus sê dat Jesus hulle beveel het om te gaan. Weer eens sien ons hulle onmiddelike gehoorsaamheid. Dit was reeds aand, maar omdat dit byna tyd vir die Paasfees was, sou dit so te sê volmaan wees. Dus was dit nie pikdonker nie. Maar die see was onstuimig vanweë ‘n sterk wind.
Al was dit 5-6 km ver die see in (vanwaar Jesus op die berg was) het Hy geweet hulle word bedreig en het Hy na hulle gegaan. As daar nie ‘n skuit is nie (dit sou in elk geval te lank neem en die weer was stormagtig), dan loop Hy op die water. Weer eens beskryf Johannes dit in vers 19 sonder enige sensasie, omdat die Heilige Gees hom inspireer presies hoe hy dit moet neerskryf.
U sien, dit gaan hier oor die Heiland wat weet van Sy kinders se nood en na hulle snel – selfs sonder dat hulle vooraf bid of roep. Hý neem die inisiatief. Soos Deut 33:26 sê “niemand is soos God, wat oor die hemel ry om jou te help nie!” Hy ry letterlik “oor die hemele”.
Tog het ons – wat ná Jesus se opstanding leef – ‘n voorsprong bo daardie dissipels, want ons het die belofte dat Hy altyd BY ons is. Dit is nie eens nodig om oor die hemel te ry nie. Lees dit maar in die heel laaste vers van Matteus.
U sien al wat ons nodig het, is Sy teenwoordigheid. Hysélf is ons brood wanneer ons versmag, en Sy teenwoordigheid is ons redding in die storm. So was dit ook met hierdie mense op die skuit. Daardie goue woorde: “Dit is Ek, moenie bang wees nie.” Hulle het hulle immers gedaan geskrik toe hulle ‘n man op die golwe sien loop. Dit kon net ‘n gees wees. Maar ag, hoe gerusstellend is die Here se woorde: “Dit is Ek”. Slegs maar Sy teenwoordigheid, dis al wat saakmaak.
En toe gebeur nog ‘n wonderteken: Die oomblik toe hulle gewillig is om vir Jesus in die skuit te neem, arriveer hulle onmiddelik by die plek waarheen hulle geroei het! Sien vers 21. Ons mag nie hierdie wonderteken miskyk nie. Die oomblik toe Jesus grondvat in die skuit, toe arriveer hulle aan land. Binne sekondes, lê die skuit ‘n paar kilometer af! Hyself is ons bestemming, die einde van ons soeke. As Hy met jou ontmoet het, wéét jy dat jy gearriveer het.