Skrif: Johannes 5: 19-29

Die grootste lewensbeslissing waarvoor ‘n mens ooit in jou lewe te staan kan kom is ongetwyfeld die beslissing oor wie Jesus van Nasaret werklik is.

Die verre meerderheid mense vandag vind Jesus irrelevant en vervelig. Minder as 10% van SA se bevolking sal vandeesmaand één maal ‘n erediens besoek. Geen honger om te hoor wat Jésus te sê het nie. Dink maar in hoeveel van die gesprekke wat u die afgelope week gehoor of gevoer het met vriende, kollegas, familie – hoeveel keer het u gehoor dat mense sê hulle wil graag weet wat Jésus te sê het oor dit of dat. Ek raai – min of geen. In praktyk is Jesus vir die verre meerderheid mense irrelevant en vervelig. Daarom die flou begeerte (indien enige) om Bybelstudie te doen, geestelik besig te wees ens. ens. Veral omdat ons sien dat die lewe heel goed aangaan sónder Hom. Wáárvoor Hý nou juis so vreeslik nodig is, weet ons nie eintlik nie.

En tog: hierdie Man van Nasaret het absoluut verregaande radikale aansprake t.o.v. Homself gemaak. Só verregaande dat iemand wat sulke dinge van homself sê óf mal is óf die waarheid praat. Súlke verregaande aansprake ken geen middeweg nie. Of waarheid óf stapelgek.

Wanneer dit by Jesus kom, kan jy nie neutraal bly nie. Opvallend dat mense wat krities-afwysend teenoor die Christelike Geloof staan, daarvan terugdeins & wegskram om ‘n beslissing te maak oor die ongelooflike aansprake wat Jesus oor Homself gemaak het. Ja, hulle brom en mompel oor ‘n God-van-liefde wat soveel menslike lyding toelaat, hulle brom en mompel oor skepping & evolusie en die Bybel wat sogenaamd vol foute is en oor Christene wat droogmaak, maar by die essensie gaan hulle gerieflik verby.

En die essensie is: Is die Man van Nasaret dít wat Hy gesê het Hy is, of was Hy ‘n kranksinnige bedrieër? Want ás Jesus ís wat Hy gesê het Hy is, val al die goed waaroor mense brom en mompel outomaties weg!! Niks tussen-in is immers moontlik nie. Indien hulle sê Jesus is ‘n bedrieër, moet hulle ‘n hele NT se ooggetuieverslae van die tafel afvee, maar dit kan nie, want dan moet hulle baie goeie wetenskaplike en regsgeldige gronde hê om dit te kan doen.

Indien hulle Jesus se aansprake aanvaar, móét hulle hul lewe onherroeplik aan Hom toewy en juis dit wil hulle nie – juis daarom is hulle sogenaamd krities teenoor die Evangelieboodskap. Onthou: álle kritiek teen die Evangelie het ALTYD ten diepste te make met “Koning Mens” wat op die troon wil bly en nie aan die wáre Koning wil onderwerp nie!

Indien jy gaan kyk na wat Jesus oor Homself gesê het, besef jy dat daar geen neutrale grond moontlik is nie. Óf Jesus was kranksinnig óf Hy het die waarheid gepraat. Niks tussen-in is moontlik nie. Waarom nie? Omdat Jesus se aansprake so verregaande radikaal is!

Onthou Jesus het in die stofpaaie van Palestina gewandel as ‘n gewone mens. Gestel ‘n sekere man sou in die Kaapstad-omgewing rondgaan en daarop aanspraak maak dat hy God is. Dat hy die Seun van God is. Dat hy die gewer van ware lewe is. Dat hy die finale regter oor almal sal wees. Sou u nie dink dat hy totaal gek is nie? Sal u hom nie verag nie? U sien: iemand wat súlke aansprake tov homself maak is óf stapelgek/’n opperste bedrieër óf hy ís wat hy sê hy is. Daars geen goue middeweg nie. Hy is óf ‘n bedrieër óf hy praat die waarheid. Indien hy ‘n bedrieër is, moet jy hom ignoreer en vermy. Praat hy die waarheid MOET jy jou hele lewe aan hom onderwerp. Dis die een of die ander. Koud of warm.

Ons het egter grootgeword met Jesus se aansprake en dit van kleins af al honderde male gehoor & gelees en daarom hoor ons nie meer hoe radikaal dit is nie. Ons dink dit was maar normaal van Hom om só te praat. Ons het nodig om weer te hóór wat Jesus sê.

Meeste mense probeer die radikale aansprake van Jesus ignoreer en probeer neutraal bly teenoor Christus en die Christelike Geloof. Nóg vis nóg vlees. Tog is die Here Jesus Christus iemand wat jy nie kán ignoreer nie en teenoor wie jy nie neutraal kan bly nie. Indien Hy is wat Hy sê Hy is MOET jy jou totaal aan Hom onderwerp. Hy is nie maar net ‘n goeie Leermeester, perfekte voorbeeld of getroue profeet nie. Hy is die Seun van God en regter van hemel & aarde. ‘n Bedrieër kon Hy nie wees nie, want watter bedrieër sou gewillig wees om – vir wat hy weet bedrog is – as onskuldige na die dood vd kruis te gaan? Nee, Sy aanspraak oor Homself is dat Hy die HERE is. Daarom sal ek en u voor Hom staan op die jongste dag. Ja, ‘n mens kán voortgaan om neutraal of lou-warm te bly óf jy kan besef & bely dat jy ‘n verlore sondaar is en aan Sy voete val en Hom “Here, God en Verlosser” noem.

Joh 5: 19-29 is een van die mees diepsinnigste Skrifgedeeltes. Dit is nét die waaragtige Seun van God wat só iets kon sê. In verse 1-15 sien mens hoe ontstoke die Jode was met die man wat op die Sabbat sy matras dra – nadat Jesus hom by die Betésdabad genees het en dít nadat hy 38 jaar lank bedlêend was. “Hoe durf hierdie Rabbi iemand op die Sabbat genees én hom boonop sy bed laat dra!” Die ongeredde godsdienstiges is erg geskok.

Maar toe kom die grootste skok! Jesus antwoord hulle op hulle ontstokenheid deur te verklaar dat Hy en God die Vader GELYK is! Hy is die Seun van God. Hy is God sélf! Wat ‘n aanspraak om te maak – deur ‘n mens van vlees en bloed!!! Geen wonder dat hulle (van toe af) maniere gesoek het om Hom dood te maak nie. Soos óns ook sou gedoen het. Hy is tog van sy kop af! Hy laster! Hy sê Hy is God! Nie ‘n ánder God náás JAHWE – God die Vader nie – maar EEN met die Vader en tog ook van Hom onderskeie.

Ja, daar is net één God, maar Hy bestaan uit meer as een Persoon. Daarom is Jesus onderskeie van die Vader en tog een met Hom in een Godheid. Verstommend, is dit nie? Wat ‘n verstommende aanspraak om van jouself te maak? Verstaan u waarom ons Here Jesus op geen manier op een lyn kan staan met ander godsdienstige leierfigure nie – nie Mohammed nie, nie Boedda nie, nie ‘n Hindoe-ghoeroe nie – niemand nie. Hyself laat net eenvoudig nie só ‘n gelykstelling toe nie. Hy is algeheel uniek. Hy is nie nét ‘n mensgeworde wonderlike Man nie, Hy is God. Tewens, Hy is óf die Seun van God óf Hy is absoluut niks! Hy is óf…óf!

Hy is verder die Géwer van LEWE. Hy sê hierdie verbysterende ding vir die Jode: “Julle sal groter dinge sien as die genesing van hierdie man by Betésdabad. Dink julle sy genesing was groot? Groter as dit is die feit dat Ek LEWE géé – aan wie Ek wil (v 21). Julle het nog niks gesien nie! Ek sê vir julle die waarheid: Daar kom ‘n tyd – en dis nou – dat die dooies die stem van die Seun van God sal hoor. En die wat daaraan gehoor gee, sal LEWE.” (v 25).

Die “dooies” na wie die Heiland hier verwys is die geestelik-dooies. Alle mense is van nature geestelik dood – ú ook, ek ook. Efes 2: 1-3. Ons besit nie die ware lewe in onsself nie. Dit moet aan ons gegee word deur die Lewegewer. Slegs God alleen skep LEWE en – as Seun van God, deel Jesus daardie eienskap met die Vader. Hy het lewe in Homself en Hy beskik oor die soewereine mag om dit aan mensies te gee.

As ‘n mens mooi kyk sien jy hoe geweldig fyn die Here hier praat. In vers 25 praat hy van geestelik-dooies wat in hul doodsheid Sy stem hoor en lewend word. In vers 28 praat Hy van fisies-dooies, wie se liggame in grafte lê, wat Sy stem sal hoor en uit die dood opstaan en na een van twee finale eindbestemmings gaan: hetsy ewige LEWE of ewige VERDOEMENIS.

Is dit nie ‘n geweldige aanspraak om t.o.v. jouself te maak nie? Jesus beskik oor die mág om twee soorte dooies op te wek: Geestelike dooies én fisiese dooies. En Hy doen dit nét met Sy stem – met woorde. Daar is lewe in Sy Woorde. En die Heilige Gees werk deur daardie woorde.

Hoe werk dit prakties? Wel, terwyl Jesus op aarde was het Hy reeds beide soorte dooies opgewek. Sommige fisies-dooies het Hy opgewek met ‘n woord soos byvoorbeeld Lasarus (Joh 11), die seun van Nain (Luk 7), die dogtertjie van Jaïrus (Mrk 5). Dis die eienaardigste soort begrafnisse: Jesus praat nie met die naasbestaandes nie. Hy praat met die dooies self! En gevolglik reageer hulle en word lewendig. Dink aan Lasarus: “Lasarus kom uit”. (Joh 11:43). Dink aan die dogtertjie van Jairus: “Talita Koem!” (Mark 5:41). Dit was alles prentjies/video’s van wat by die wederkoms op universele skaal gaan gebeur.

Ook geestelik-dooies word met ‘n woord lewendgemaak! Wat beteken dit om geestelik dood te wees? Dit beteken om dood te wees terwyl jy liggaamlik perdfris is. Dit beteken om los van God te wees deur die sondeval asook jou eie sonde & skuld. Byna soos ‘n takkie wat van ‘n boom afgesny is: hy lýk lewend, want hy is nog sappig en blaartjies is groen. Maar in werklikheid is hy dood, want hy is afgesny van die boom. Op die kruis het Jesus hierdie afgesny-wees van God beleef (Mat 27:46), maar dit was in geestelik-dooie mense se plek (Jes 53:5) en sodoende het Hy hulle lewend gemaak met Sý afgesny-wees van God.

En sedertdien – tot vandag – laat verkondig Hy Sy lewendmakende woorde aan geestelik-dooie mense d.m.v. Verkondigers/predikers. En die Gees praat daardeur. En diegene aan wie Hy die lewe wil gee (v 21b) (heerlike soewereine uitverkiesing gaan altyd voorop), HOOR Sy stem binne-in hul doodsheid en kom tot ontwaking en begin glo. Kyk na daardie asemrowende vers 24: “Wie ookal my Woord hoor én Hom glo wat my gestuur het, hét die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het kláár oorgegaan uit die dood ná die lewe.” (let op die volgorde: “dood na lewe” en nie andersom).

Die derde aanspraak van Jesus van Homself maak: Verse 22 & 27: Jesus sê: “Die Vader het die volle outoriteit-om-te-oordeel aan mý gegee. Daarom: wie die Seun nie eer nie, eer ook nie die Vader nie.” Magtige & geweldige woorde.

Tussen hakies: hier sien ons waarom ‘n godsdiens soos bv. die Islam volstrek NIE dieselfde God as die God van die Bybel aanbid nie – want hulle verwerp Jesus as Seun van God! Wie dit doen – vlgs vers 23 – verwerp ook die Vader – en dus die enigste ware lewende God van die Woord. Sommige mense sê: “Ek glo 100% in God, maar ek weet nie lekker waar Jésus inpas nie.” Volgens Jesus se eie woorde glo só ‘n persoon glad nie in God nie! Maar let op verse 22 & 27: die volle gesag om te oordeel is aan ons Here Jesus gegee.

Kyk, van drie dinge kan ons seker wees: van ons eie dood, van die koms van Christus en van die oordeel. Interessant hoe ons as mense is: ons beplan & begroot & beveilig soveel dinge wat ónseker is. Ons is nie seker óf ons huis sal afbrand en óf daar by ons kar ingebreek sal word nie … en tog neem ons ten duurste versekering uit.

Seker die meeste mense begroot egter glad nie vir dít wat absoluut seker is nie: naamlik – die dood, die koms van Christus en die oordeel. Eintlik hou ons glad nie daarvan om van “oordeel” te praat nie. Noem dit ‘n bietjie in ‘n gesprek en kyk wat mense se reaksie is. Glad nie ‘n populêre onderwerp nie. En tog is die ganse Skrif daaroor glashelder duidelik dat absoluut ALLE mense wat ooit gelewe het, daar sal wees. Jy kan nog ‘n tandartsafspraak kanselleer indien jou moed jou begewe, maar nie hierdie afspraak nie. Kyk na die woordjie ALMAL in vers 28. Eintlik is dit baie goeie nuus, want stel jou voor ‘n wêreld waar daar geen verantwoordbaarheid is nie. God gee nie om nie. Niks sal ooit reggestel word nie. Reg en geregtigheid geskied nie. Daarom is Jesus se woorde eintlik ‘n groot troos vir die wedergebore gelowige – die mens wat lewendgemaak is – opgewek uit ‘n geestelike narkoseslaap.

Op die jongste dag sal daar nie ‘n verskeidenheid van opsies wees nie. Byvoorbeeld: Moslems sal in Kamer 1 voor Allah verskyn en sal op hulle eie manier die ewige lewe ontvang en Ateïste sal in Kamer 2 verskyn en verskoon word omdat hulle nie van beter geweet het nie. Post-moderniste sal in kamer 3 verskyn en die ewige lewe ingaan omdat hulle sulke voorbeeldige lewens geleef het en so akkommoderend was!

Nee, dit is juis die grootste verrassing wat op biljoene armsalige misleide mense wag – mense wat gedink het Jesus is ‘n god en ‘n verlosser en het ‘n stukkie waarheid beetgehad – maar dat ander opsies ewe goed was en dat daar teen niemand gediskrimineer mag word nie en dat waarheid relatief is.

Die aakligste verrassing wag op miljoene van sulke misleide mense wanneer hulle (en ons elkeen) ontdek dat Jesus se aansprake oor Homself al die tyd die waarheid was!!! Lees Joh 5: 16-30 aandagtig en sien hoe absoluut eksklusief Jesus se aansprake is: Hy is DIE Seun van God. Hy is DIE Gewer van lewe. Hy is DIE Verlosser. Hy is DIE Regter van hemel & aarde. Óf ‘n Man wat só praat is kranksinnig óf Hy praat die waarheid. Niks tussen-in is moontlik nie. Indien Jesus slegs ‘n supermens is of ‘n groot boodskapper, sou dit godslastering wees om Hom te aanbid. Indien Jesus die Seun van God is, is dit godslastering om Hom NIE te aanbid nie! Verwerp jy die uniekheid van Jesus van Nasaret, verwerp jy God en verwerp jy jou eie saligheid.

Dit is waartoe Joh 5: 16-30 ons almal (onder aandrang van die Gees) dwing: Is die unieke Christus Jesus – sóós Hy Homself bekend gemaak het in die heilige Skrif – in die sentrum van ons bestaan? Luister aandagtig na vers 24: “Ek sê vir julle die waarheid: Wie my woorde hoor én Hom glo wat my gestuur het, hét die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan van die dood na die lewe.”

Ons het netnou gesê dat ons almal van 3 dinge seker kan wees: dood, Jesus se koms en oordeel. Maar daar is ‘n 4de: Jy kan seker wees dat jy nou reeds die LEWE besit en dat jy die ewigheid by die ware God sal deurbring!

Hoor u die aandrang van God Gees – deur Sy Woord?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00