Skrif: Johannes 5: 1-18

In hfst 5 verskuif die fokus weer na Jerusalem, want die Here Jesus is daar vir ‘n Joodse fees. Ons weet nie watter fees dit was nie. Dit maak ook nie saak nie. Feit is, vlak by die tempel was daar ‘n bad wat in Hebreeus Betésda genoem is. Hierdie bad is blykbaar deur die Romeine in 70nC saam met die tempel verwoes sodat ons vandag bitter min daarvan weet. (Opvallend dat Johannes die teenwoordige tydsvorm gebruik: “daar IS in Jerusalem ‘n bad” – wat vir ons wys dat die Johannes-Evangelie vóór die jaar 70 geskryf moes gewees het – dus baie baie oud en outentiek. Dit net tussen hakies).

Johannes 5 is belangrik in ‘n paar opsigte, onder andere die feit dat die genesing van die man by die Bad van Betésda die beginpunt was van die hele proses wat sou lei tot Jesus se kruisiging. Die Joodse leiers wás reeds kwaad en opgewerk. Jesus het immers vantevore die tempel met ‘n sambok skoongemaak en dit het nie juis die verhouding tussen Hom en die Jode bevorder nie.

Maar, die genesing by Betésda het ‘n domino-effek gesneller, want nou het Jesus duidelik en helder 1) die Sabbat gebreek en 2) Homself met God gelykgestel (wat afskuwelike godslastering was in die Joodse denke en met die dood strafbaar was). Dus, van nou af sou die Joodse leiers gedetermineerd na ‘n geleentheid soek om Jesus dood te maak. Van nou af sou die een ding na die ander lei. Dus kan u sien watter belangrike skakel hierdie genesing by Betésda Bad in werklikheid is.

In elk geval, die hele manier hoe die genesings by Betésda-bad gewerk het, is vir ons wat in 2012 leef, ietwat van ‘n misterie, want ‘n groot menigte siekes het dag en nag by die bad gewag op die “roering van die water” (v 3). Wat dit presies was, weet ons nie, want díé “vers 4” (wat dit verduidelik) wat in sommige Bybels voorkom, was eintlik ‘n latere byvoeging wat nie in die oorspronklike teks gestaan het nie. Daarom het die 1983 vertaling nie ‘n vers 4 nie! U sien dit hang af watter grondmanuskrip gebruik is in ‘n bepaalde Bybelvertaling. Die heel oudste (en dus mees betroubaarste) manuskripte bevat nie ‘n vers 4 nie. Dit beteken vers 4 is later met goeie bedoelings bygevoeg deur ‘n onbekende persoon ter verduideliking van wat die roering vd water beteken het. Dit lui so:

“Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ookal gely het.”

Dis ‘n pragtige verduideliking, en heel waarskynlik die waarheid, maar ons kan nie met sekerheid sê dát dit só was nie, omdat vers 4 nie in die oudste manuskripte voorkom nie!! Daarom weet ons eintlik nie wát daar in die water was wat die mense laat glo het dat dit genesende en terapeutiese waarde het nie. Ek moet u dus teleurstel : niemand weet nie. Die een se opinie is so goed soos die ander s’n. Dit kón wees dat ‘n engel vd Here die water geroer het en dit wás waarskynlik so, maar ons weet nie. Gelukkig maak dit ook nie regtig saak nie, want wát by die bad gebeur het is van meer belang as hoe die roering van die water gewerk het!

Wat ons moet raaksien is dat – tussen die menigte ellendiges – daar ‘n man was wat reeds 38 jaar lank aan sy siekte gely het & bedlêend was en niemand gehad het wat hom kon help om betyds in die water te kom wanneer die water begin roer & kolk nie.

En dan – vanuit ál die siekes wat daar lê – fokus die Heiland op hierdie een man. Hy mag en Hy kan dit so doen, want Hy is soewerein. Hy is God. En Sy missie toe Hy na aarde gekom het, was nooit om álmal kop-vir-kop gesond te maak van siektes nie. Vandag nog doen Hy dit nie. Sy missie was om deur dié wat Hy wél genees, ‘n video te vertoon van hoe die Nuwe Aarde uiteindelik gaan wees. Dáár sal álmal genees wees, maar nie nou reeds nie. Die genesings wat Hy gedoen het, was net voorsmakies van die Nuwe Aarde, die wêreld wat kom. Van álmal wat langs die Bad gelê het, fokus die Here Jesus net op hierdie een man.

En Hy vra hom ‘n eienaardige vraag: “Wíl jy gesond word?” Is dit nie half ‘n oorbodige vraag nie? Is dit nie vanselfsprekend dat hy gesond wil word nie? Dit klink so, maar onthou ná 38 jaar is daar by hom geen hoop meer nie. Hy is totaal moedeloos. Jesus se vraag wil hoop in sy hart skep. Dink net met hoeveel bitterheid en neerslagtigheid het die man daar gelê. En onthou hy het nie geweet wie Jesus is nie. Dit was maar net ‘n gewone man wat daar oor hom gebuk het. Maar Jesus ruk hom as’t ware uit sy hooploosheid.

Mens kan sommer hoor hóé hooploos hy was: “Ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie. Iemand anders spring my elke keer voor. Vir 38jr lank gaan dit so aan…”

En dan kom die magtige skeppingswoorde: “Staan op, neem jou bed en loop.” Soos by die oerskepping in Genesis 1, skep Hy eenvoudig deur Woorde uit te spreek. Ek dink nie ons kan ons voorstel wat hier gebeur nie. Jy lê vir 38jr verlam. Rondom jou krioel dit van kreunende steunende siekes. ‘n Wildvreemde man wat jy van geen adam ken nie kom buk oor jou en sê: “Neem jou bed en loop”. Is dit nie lagwekkend nie? Is dit nie genoeg om so iemand te laat giggel nie? Maar u sien, dis juis die punt: Wanneer die Here Jésus gepraat het, was daar ‘n onweerstaanbare outoriteit (vgl Joh 18:6). Dis vir ons onmoontlik om dit te kan indink, hóé dit moes wees. Daar was net íéts in die Persoon van Christus wat ‘n respons geëis het! Die drie opdragte: “Staan op, tel jou matras op en loop” het net eenvoudig hierdie man se lyding losgeskud en hom bevry tot nuwe gesondheid. Dit was sódanigh, dat die man onmiddelik reageer en opstaan!! Hy is plotseling genees en hy gehoorsaam sonder aarseling. Vers 9: DADELIK…

Wat moet ons daarvan sê?? Dáár is nou ‘n pragtige video van hoe almal op die Nuwe Aarde sonder siektes gaan rondloop en die lewe geniet, vrý van lyding, siektes en kettings wat bind.

Dit is ook ‘n video van hoe God reg aan die begin alles geskep het. Soos Hy hier met ‘n magswoord – binne sekondes – die weefsel in hierdie man se liggaam herskep, so het Hy aan die begin met ‘n magswoord alles uit niks (ex nihilo) geskep.

Maar dit is óók ‘n video van hoe die Here in die mens se verlossing werk. Uit ál die massas mense wat geestelik siek en verlore is (uitgebeeld deur die massas wat daar by die Betésdabad was), kies Hy vrymagtig wanneer en by wie Hy wil kom stilstaan en Hy skep die geloof by so ‘n mensie – net uit vrye genade alleen.

U weet vandag hoor ons hoe daar vir mense gesê word: “Jy moet net genoeg geloof hê, dan sal die Here jou genees/aanraak”. Weet u wat? Hierdie man het nie eens geweet wie met hom praat nie, wat nog te sê genoeg geloof hê!! Hy het absoluut NIKS gehad nie, wat nog te sê genóég van iets. Hy vra niks, hy roep nie na die Here nie, hy gryp nie die Heiland aan die kleed nie, hy soek nie die Here se hulp nie. Wat ons hier sien is God se soewereine genade in aksie. Dis Hý wat die inisiatief neem, wat uitkies, wat genees met ‘n magswoord. As die Here vir hierdie man moes wag om eers vroom te raak, sou hy waarskynlik nooit op sy twee voete gestaan het nie. Nee, dit was sy genesing wat by hom geloof geskep het en nie sy geloof wat genesing gebring het nie!

Sien u hoe alles net mooi andersom werk as wat ‘n mens deesdae by sommige predikers hoor? ‘n Mens hoor vandag dat gesê word dat die Here almal voor die voet wil genees, solank daar net die voorwaarde van genoeg geloof & vroomheid by almal te vinde is.

Maar in Johannes 5 sien ons hoe Jesus – pleks van om in die Bad van Betésda te klim en álmal voor die voet te genees (hoe maklik kon Hy nie!?) – slegs op een man fokus en hom genees sonder dat daar by hom enige geloof te vinde was. Hoe wonderskoon en volmaak is die Woord v God nie!

Ons glo dus van harte in goddelike genesing, ons glo van harte in die wonderwerkende mag & krag van God, ons bid dus ook graag vir siekes met volle vertroue dat die Here genees, MAAR ons weet dat Hy nie almal genees nie omdat ons nog nie op die Nuwe Aarde is nie. Ons wil nie nóú reeds dít op-eis wat Hy eers vir dán beloof het nie! Die Apostel Paulus se doring in die vlees is níé genees nie (2 Kor 12). Vir Trofimus moes Paulus siek in Milete agterlaat (2 Tim 2:20). Ons berus dus ten diepste by die soewereine wil van God.

Terug by Johannes 5: ‘n mens sou dink dat die Joodse kerkleiers verheug sou wees oor die man se genesing. Ek meen, die man is verlos van 38jr se lyding. Daar was egter net een probleempie: Die genesing het op die Sabbat plaasgevind. En as ‘n mens ‘n ongeredde godsdienstige is, is reëls en regulasies vir jou baie belangrik, want dit gee vir jou ‘n gevoel van sekuriteit en ‘n gevoel dat jy God behaag wanneer jy al die reëls nakom.

Só was dit met die Joodse leiers. Hulle sien glad nie die geneesde man nie. Hulle het talle mensgemaakte sabbatsreëls onderhou en al wat hulle nou sien is dat die man sy matras dra. Dis afskuwelik, want op die Sabbat mag jy skaars asemhaal! Volgens die Jode se mensgemaakte reëls mag jy nie in ‘n spieël kyk op die Sabbat nie, want dit mag daartoe lei dat jy ‘n grys haar wil uittrek en dit mag nie, want dis wérk! As ‘n hoender op die Sabbat ‘n eier lê, kon jy die eier eet op voorwaarde dat jy die volgende dag die hoender doodmaak.

Die Joodse leiers sien dus nie eens dat die man gesond is nie. Al wat hulle sien is dat hy die matras dra! Sien u hoe blind kan Christuslose godsdiens jou maak? Godsdiens sonder die wedergeboorte, die ware léwe in Christus. Dis dodelik. Sulke godsdiens kan jou laat dink dat jy vir God ‘n guns doen deur met vliegtuie in toringgeboue in te ploeg. Sulke godsdiens was in die geskiedenis en is tot vandag verantwoordelik vir baie ellende in die wêreld – ook vir die vervolging en marteling van baie Christene. Dis hierdie tipe godsdiens wat selfs ook talle NG lidmate gevange hou onder ‘n geestelike narkoseslaap. En dit was sulke godsdiens wat tot Jesus se kruisiging gelei het – ‘n proses wat presies hier in Johannes 5 begin. Want Hy het nie net die Sabbat gruwelik geskend met die genesing nie, maar Hom boonop met God gelykgestel! Hy praat van God as Sy “eie Vader”. Hy sê God werk dwarsdeur Sabbatsdae. Hy rus nie. En Hy sê Hy (wat Jesus is) werk net soos Sy Vader dwarsdeur Sabbatsdae. Nooit! Gruwelik! Doodstraf vir só iemand. Hoe kan so iemand die langverwagte Messias wees? Die Messias sal tog binne die reëls bly! Hy sal tog vanuit die sisteem kom en die sisteem gehoorsaam. Hy sal tog één wees met die kerkleiers se visies en missies!

U sien, die geneesde man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jésus was wat hom genees het. Hy het aanvanklik nie geweet wie hom genees het nie, want Jesus het soos ‘n skim verdwyn toe daar ‘n skare saamdrom. Hy was nie ‘n prediker wat skares wou lok nie. Hy het geen ambisie gehad om gewild te wees nie. Hy wou nie in die oog wees nie. Hy het nie genesingsdienste gehou waarna die wêreld kon stroom nie. Sou Hy by die bad bly, sou daar onmiddelik ‘n skare wees wat wonderwerke wil sien. Dit is nie waarvoor Hy na die aarde gekom het nie. Waarvoor het Hy dan gekom? Wat is hoofsaak op Sy hart en agenda? Hou nou dop wat verder gebeur, dan kry u die antwoord:

Toe alles rustig raak, kry die Here die geneesde man in die tempel. En daar vind ‘n kort, maar kragtige gesprekkie plaas. Uit hierdie gesprekkie sien ons wát hoofsaak op Jesus se agenda was. Dis bykans onmoontlik om te sê hóé diepsinnig en belangrik daardie paar woorde van Jesus was.

“Kyk, jy het gesond geword. Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

Die doel van die man se liggaamlike genesing, was sy geestelike genesing! Jesus het hom genees tot heiligheid! Jesus sê vir hom: “Die doel waarom ek jou liggaam genees het, was om jou siel te genees. Ek het jou ‘n geskenk gegee. Dis absoluut verniet. Vóórdat ek enigiets eis, géé ek eers. Jy kan dit nooit verdien nie. Dis ‘n vrye gawe. Jy was nie vooraf goed genoeg om dit te kon kry nie. Jy was nie beter as al die ander by die bad v Betésda nie. Ek het jóú uit vrye genade gekies. En ek het jou genees. Nou dan: gaan lééf in hierdie krag. Laat my geskenk van genesing daartoe dien dat jy mý volg, dat jy heilig leef. Doen jy dit nie en draai jy jou rug op my en maak jy ‘n afgod van jou gesonde liggaam en omhels jy sonde as lewenstyl, sal jy verlore gaan en dit sal baie erger wees as die 38jr van lyding wat jy agter die rug het. Daarom dan, laat my gawe aan jou dien tot ‘n toegewyde lewe aan My en die koninkryk van God.”

Die boodskap is so duidelik soos daglig: Tydens die eerste koms van die Here Jesus na die wêreld, ontvang ons slegs voorsmakies van Sy genesende krag. Die volle genesing van ál Sy mense & álle kwale gebeur eers by Sy tweede koms na die aarde. Tans is ons nog in die tyd van voorsmake. En die voorsmake wat ons huidiglik ontvang (die honderde geskenke), roep ons tot geloof, bekering en heiligmaking. In die tyd van voorsmake, is dít die belangrikste sake op God se agenda.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00