TAFELBERG GEMEENTE Tema: Ja, die kérk red! Skrif: Genesis 6: 12-22

Hoe waansinnig!! Baie kilometers van die naaste see af, bou ‘n man ‘n boot van 150m lank en 3 verdiepings hoog – met géén 300 wiel-vragmotor wat dit na die see kon vervoer nie. Natuurlik was Noag nie gek nie. Hy het bloot die Here se woorde geglo – al het dit hóé waansinnig geklink. Gedurende die járe wat Noag gebou het, het die mense hom aanhoudend gespot en gehoon. Maar, toe die boot klaar gebou was, het dit onophoudelik begin reën en het die Here die see na die ark toe gebring. Toe kon niemand meer gered word nie. Diegene wat IN die ark was, het egter behoue gebly en uitgestap op ‘n nuwe aarde.

‘n Mens moet uiters versigtig wees om op ‘n ligsinnige manier oor hierdie verhaal te praat – so asof dit ‘n sprokie is. Die hele vloedverhaal is immers ‘n vooruitwysing na Christus Jesus wat sou kom. In Matteus 24:37 maak Jesus self die vloed heenwysend na die finale oordeel en die wederkoms en in 1 Petrus 3:20 verklaar Petrus dat die redding-in-die-ark dui op die Opstanding van Jesus waardeur ons gered word – nie van ‘n watervloed nie – maar van die ewige oordeel van God oor sondeverlorenheid. Die watervloed in Noag se tyd, is dus ‘n prentjiesbeeld van die komende ewige oordeel. En die Ark – wat behoue déúr die vloed gegaan het en waarin ‘n klein groepie behou is – is ‘n vooruitwysing na Jesus self. Hyself is die éíntlike ark-van-behoud. In die dag van God se gerig, sal slégs Jesus behoue deurgaan én ook almal wat IN HOM was. Dit is almal wat Sy woorde geglo het en op Sy opstanding vertrou het. U sien: dis ‘n kwessie van God se woorde vertrou – nes die mense Noag se woorde moes gló toe hy hulle vertel het wáárom hy ‘n skip op droë grond bou.

Dit bring ons by die punt: Die mense kon slegs gered word deur BY NOAG versamel te wees, sy prediking te hoor en dít te glo. Dáár – waar Noag die ark gebou het en

waar hy gepreek het – moes die mense versamel word en hoor & glo wat hy in die Here se Naam sê. Al was daar geen see naby nie en geen wolkie in die lug nie, moes hulle Noag se woorde hoor & daarop vertrou DAT die Here Sy oordeel gaan stuur en dat die Ofirhout skippie die ENIGSTE behoud is. BUITE Noag se prediking aangaande die komende vloed en die goeie nuus van Ark-redding, was daar géén redding nie!

Sien u hoe die ark-redding ‘n heenwysing is na Christus self, maar óók na Sy kerk (nie gebou) – Sy gemeente, dáár waar HY verkondig word en gehoor word. Só gesien, red die kérk, want die kerk verkondig Christus wat red. In die gemeente word die heil bedien. Jy moet dáár wees waar Sy Woorde reg uitgelê word. Sy Woorde moet gehoor, geglo en geleef word. Want BUITE Sy Woorde is daar net ‘n watervloed van God se regverdige oordeel – so was daar ook BUITE Noag-en-sy-prediking, geen hoop vir die goddelose mense nie.

Maar, nes Noag, sy prediking en sy ark, ‘n aanstoot was vir die mense – net so is dit die geval met die Here se kerk in 2006. “Ag, die kerk is tog maar net ‘n menslike instelling! Dit gaan tog maar oor die predikant wat sy vertonings gee en praatjies praat. Ons hét dit tog al gehoor, waarom dan so geweldig ingeskakel wees? Wat eintlik saak maak is tog EK as individu! Solank EK maar net die Here ken. Die KERK is tog nie die ark van behoud nie! Ek IS mos gered – hier waar ek Sondagmôre in my bed laatslaap en in Christus glo! Wat is die kerk tog? Dis ‘n menslike instelling! Kyk maar net na al die sondes en tekortkominge in die kerk! Ag nee wat! Al waaroor dit gaan is oor MY as individu. Solank ek maar net weet ek is verlos en wanneer ek so voel sal ek ‘n bietjie aan die Here se gemeente aandag gee.”

Die kerk verkondig dat daar ’n finale oordeel kom. Maar die mense sê: “Ag, dit sê hulle al vir 2000 jaar en nog niks het gebeur nie.” Die kerk verkondig dat Jesus Christus die mense met Sy dood & opstanding gered het. Maar die mense sê: “Nee wat, die lewe is ’n wrede speletjie. Skink nog ’n dop – môre is ons dood.” Die kerk bedien die Nagmaal waar die brood en wyn die versekeringe is van Christus se liggaam & bloed. Maar die mense lag vir die outydse bygeloof. Die kerk doop kindertjies o.g.v. God se belofte van verlossing. Maar die mense hóór nie eens God se belofte nie. Hulle weet net vaagweg iets van ’n belofte wat húlle moes aflê. Die kerk roep op tot bekering en sê: “GLO tog dat Christus julle op die kruis gered het en draai om na God toe. Draai om van julle sinnelose paaie af en raak verkleef aan die gemeente waar die Herder se stem gehoor word. Wanneer die oordeel kom, sal die gemeente op die water dryf.” Maar die mense lag vir die verspotte boodskap.

Hoor u die praatjies van die mense daar rondom Noag? Ons leef in ’n tyd waar mense al hoe meer krities & sinies raak oor die kerk. ‘n Jaar of wat gelede het ’n boekie verskyn: “Ja vir Jesus, Nee vir die kerk.” So asof ’n mens in Jesus gered kan wees, maar buite die kerk kan leef. Baie mense word deur hierdie leuen op ’n dwaalweg gelei. Hulle dink geloof is ’n persoonlike saak. Dit gaan oor MY as individu. Hulle verstaan nie dat die Here IN Sy kerk/gemeente red en IN Sy kerk die gelowiges versorg soos ’n Herder Sy kudde nie, omdat Hy HOMSELF dáár laat verkondig nie. Dit gebeur nie op die Gholfbaan of voor die TV nie. Dit gebeur dáár waar Hy Sy Woord suiwer laat bedien – op ’n wettige, amptelike manier – deur wettig-geroepe dienaars. Daar waar Hy Sy sakramente gegee het en Sy tug en Sy wettige ampte en sy goeie orde. Daarom is ‘n mens ook nie buite gevaar in enige kerk nie, maar slegs dáár waar die skape wérklik die Herder se stem helder kan hoor. In SO ’n kerk is die gelowige buite gevaar. Net soos die mense BY NOAG versamel moes wees om IN DIE ARK behou te kon word.

Geen wonder dat Noag se naam GELUKKIGMAKER beteken nie! Tog was Noag maar net ’n baie floue skadu van die Groot Gelukkigmaker wat sou kom – ons Here Jesus. Noag was nog nie lank op die nuwe aarde nie, toe lê hy dronk voor sy eie kinders. Dronkgedrink roep die “gelukkigmaker” na die Groot Gelukkigmaker wat sou kom. En in die volheid vd tyd HET die volmaakte Noag toe gekom. Hy is aan Sy hout-kruis-ark-van-behoud vasgespyker en toe hulle Hom verdowende drank wou gee, wou Hy dit nie drink nie. Hy wou end-uit nugter bly. Hy wou die straf op die sonde end-uit nugter dra. Omdat HY in die kerk verkondig word, dáárom is die kerk die ark van behoud. Op só ‘n manier red die kerk.

En aan julle wat vandag belydenis aflê van julle geloofsverbondenheid aan die Here én Sy kerk – Janri, Jansen en Nelanie – mag die Here aan julle altyd die geopende oë gee om te sien hóé bevoorreg julle bó duisende is dat Hy besluit het om julle by Homself en by Sy kerk in te sluit. Julle kom lê nie belydenis af van júlle geloofsprestasies nie, maar julle kom bely iets van Hóm wat julle uit vrye guns alleen geroep het tot Homself en tot Sy kerk. Span julle dan in – tot by die einde van julle lewe – om Hom getrou te dien in Sy gemeente.

Kom ons sien nou hoedat die Formulier vir die Belydenis van geloof hierdie saak verder opsom…. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00