ISAK, JOU BESTE
Vroeg in die môre hoor Abraham Sy stem
Deur al die jare het hy dit goed leer ken
“Jou seun wat jy lief het, gaan offer hom nou
Jou Isak, jou beste- jy kan hom nie hou.”
Sonder ‘n klagte of gees wat murmureer –
Maak hy gereed, hy het God se wil begeer!
Sy esel, sy dienaar en Isak neem hy
Maar diep in sy hart moes hy sekerlik ly…
Toe hy die plek sien het Abraham verstaan
Hy en sy seun moes alleen verder gaan
“Maar waar is die offer?” het Isak gevra
Die hout vir die altaar het hyself gedra.
Abraham het net soos ‘n kind sy God geglo
“Hy sal die Lam voorsien as ons kom daarbo
Self bou hy die altaar vir Isak sy seun
Op God se belofte het hy swaar gesteun.
Net soos die Lam op die hout lê Isak daar
Die mes wou net slag toe sy vader gewaar
Die stem roep sy naam, moenie slag nie, maar weet
Gehoorsaam aan God, so word liefde gemeet.
Hoe kan jy Hom weier as God van jou vra
Om Isak, jou beste, na die altaar te dra
Want daar op die berg wag die Heer wat voorsien
Hy seën die wat Hom sonder voorwaardes dien.