IS JY DIE NAASTE?
Die verhaal word vertel van die rekenmeester wat ’n werk gesoek het. Hy het die koerante deursoek en toe ’n advertensie gesien waar ’n groot en bekende maatskappy adverteer vir ’n rekenmeester.
Die onderhoud het goed verloop en die man is weer genooi vir die finale onderhoud. Hy was dan ook die laaste een wat in gegaan het vir die onderhoud. Hierdie onderhoud het ook goed verloop en op die einde het die voorsitter hom gevra:-“Wat is drie maal sewe?” Hy het vir ’n oomblik gedink en geantwoord:- “Twee-en-twintig.”
Buite die kantoor het hy dadelik sy sakrekenaar uit gehaal en toe gesien dit is een-en-twintig. Hy het geweet hy sal nie die werk kry nie.
Twee weke later is hy die pos aangebied deur die maatskappy. Hy was baie verbaas. Hy het toe die voorsitter gevra:- “Waarom is ek aangestel as ek dan die verkeerde antwoord gegee het op jou laaste vraag?” Die voorsitter se antwoord was:- “Jy was die naaste.”
In die tyd waarin ons lewe is daar so baie mense wat dieselfde idee het van God, net soos die voorsitter in die verhaal. Hulle dink dat dit maak nie saak wat jy glo nie, solank jy net naby die Waarheid is.
Is jy ook een van hulle? Jy probeer jou bes, jy gaan kerk toe, af en toe lees jy jou Bybel en bid, jy tree so ver as moontlik volgens die wette van die Bybel en die land op en oor die geheel gesien is jy mos nie ’n slegte mens nie.
Graag vra ek jou om die volgende drie vrae eerlik te antwoord?
1. Het jy al ’n leuen vertel? Ja? Dan is jy ’n leuenaar, né?
2. Het jy al gesteel? Ietsie klein? Ja? Dan is jy ’n dief, né?
3. Het jy al owerspel met ’n vrou /man bedink? Ja? Dan is jy ’n egbreker, né?
4.
Is jy skuldig of onskuldig voor die Here? Ok – skuldig!
Nou – JAKOBUS 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.
Besef jy dat jy sondig is en die verlossing van Jesus Christus nodig het? Besef jy dat indien jy vandag sterf – maak nie saak hoe naby jy aan die Waarheid is nie – jy hel toe gaan? Is dit waar jy wil beland?
Hier is God se plan vir jou lewe:-
1. Erken teenoor Hom dat jy sondig is.
2. Vra Christus om jou sonde weg te was?
3. Nooi Christus Jesus in jou lewe in.
4. Sê dankie dat Hy jou sonde weg gewas het en nou in jou lewe woon.
NOU IS JY NIE NABY DIE WAARHEID NIE MAAR HET JY DIE WAARHEID!
GEBED
Here , dankie dat ek vandag U in my lewe ingelaat het. Dankie dat ek die Waarheid het en U kind is. AMEN
JOH 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, (Wie het jy aangeneem?) –Jesus Christus – aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, ( Indien jy Jesus aangeneem het wat is jy?) – ‘n kind van God – aan hulle wat in sy Naam glo; ( Wie se Naam glo jy?) – Jesus Christus.
NS. Indien jy jou saak met God reg gemaak het en basiese Bybelstudies verlang
om Geestelik te groei, kan jy my e-pos en ek sal dit vir jou aanstuur.