Skriflesing: Maleagi 3:14 - 4:3
Titel: Is dit die moeite werd om die Here te dien?

Gestel ’n engel sou bulderende uitroep – só dat alle mense op aarde hom kan hoor – “God is so pas dood – die hemele is leeg”. Wat dink u – hoe sou só ’n aankondiging ons mense se lewens raak? Die mens wat nog nooit tot daadwerklike geloof in Jesus Christus gekom het nie en wie nie werklik lééf met die Here nie, se lewe sal waarskynlik rustig voortgaan. So ’n persoon sal miskien maar weer kerktoe gaan die volgende Sondag en nie eens agterkom dat daar ’n verskil is nie. Maar, die mens wie se lewensasem CHRISTUS is, se lewe sal totaal tot stilstand kom.

Natuurlik sal/kan God nooit sterf nie, maar dit gebeur wél dat daar vele dinge in die lewe gebeur wat vraagtekens oor Hom opwerp. ’n Mens se ERVARING is soms: Hy bestaan nie. Hy hoor nie. Hy gee nie om nie. Baie dinge rym nie met Hom nie. DAN ontwikkel ’n mens groot probleme met Hom. Noodkreet: Vers 14: “Is dit die moeite werd…”

Hier is iets eienaardig: ’n Mens sou verwag dat dit die ongeredde/ongelowige mens is wat dit vra. Interessant: Dit is die teenoorgestelde. Dit is juis die ernstige gelowige wat aan die woord is in Maleagi 3. Dit is die Here se eie volk. Dit is die gehoorsame gelowiges wat uit die Ballingskap teruggekeer het na Jerusalem. Dit is húlle wat nie verstaan wat die Here besig is om te doen nie. Daar is veronderstel om ’n herlewing plaas te vind – ná die terugkeer uit ballingskap. Maar, wát ERVAAR hulle? Misoeste/ plae/ armes verdruk/ priesters en geestelike leiers is in patetiese toestand/ geestelike afvalligheid. Hoe op aarde rym ’n mens DIT met geloof in die Here God??? BAAT dit hulle nou nog enigsins om die Here ernstig & toegewyd te dien?

Sien u? Wanneer jou geloofsoortuiging skynbaar nie strook/klop met dít wat jy beleef nie – ontwikkel jy ’n probleem met God. Wanneer die werklikheid van die lewe jou fondamente rondskud. Dán begin jy vra: IS kind-van-die-Here-wees régtig só die moeite werd soos wat so baie Christene so vroom getuig? Want, KYK, dit gaan nie régtig soveel beter nie. Ek sukkel nog steeds met ’n klomp hardnekkige sondes. My lewe is nog altyd so kragteloos vir die Here. Ek sukkel eintlik nóú baie meer as toe ek nie die Here geken het nie. Ook wanneer ek na die wêreld kyk, lyk dit asof Hy nie eintlik bestaan nie. Hoofsaaklik chaos. BELEEF nie Sy krag en teenwoordigheid nie. Soveel ánder godsdienste wat voorgee dat húlle reg is. Wat is die waarheid? Mense op TV – wat in sonde leef – en tog lyk hulle so gelukkig en tevrede. Daarteenoor LYK die mense rondom my in die kerk nie eintlik altyd so waffers nie. Is die mense wat goddeloos leef nie dalk beter af nie?

Dit was die groot probleem van die gelowige kinders vd Here in Maleagi 3. Kyk maar net na vers 5. Die mense wat die Here nie ken nie, LYK so fantasties gelukkig. Die ongelowiges is ’n 1000 maal beter af. Hulle leef in sonde. Hulle maak/doen net wat hulle wil. Hulle sê wat hulle wil. Hulle gaan net kerktoe wanneer hulle die dag lus voel of behoefte het —- EN —- dit gaan met hulle goed. Hulle lyk doodgelukkig. Is dit nou vir MY enigsins die moeite werd om die Here te dien en om vas te kleef aan die kruisdood en opstanding van Jesus Christus?

’n Mens sien ’n soortgelyke stryd in Psalm 73. Dáár is dit Asaf wat aan die woord is. Hy getuig hoedat sy voet byna gestruikel het toe hy die ongelowiges se voorspoed sien. Geen kwellings. Onbesorgd. Vers 13: “TEVERGEEFS dat ék die Here dien.”

’n Mens sien dit ook in Jeremia 44: 17-18. Daar getuig die volk: “Toe ons offerrook vir die hemelkoningin laat opgaan het (afgode gedien het) was ons gelukkig en het ons genoeg brood gehad, maar vandat ons daarmee opgehou het en die ware lewende God begin navolg het, ly ons gebrek op gebrek. Nou kom ons deur die swaard om.”

Weer eens: WIE is dit wat hierdie tipe worsteling het? Dit is die mens wat iewers in sy lewe die genade van die Here leer ken het. Die mens wat deur die Here gegryp is. Die mens wat probeer om ernstig met die Here te leef. ’n Mens sien dit dwarsdeur die Bybel. JOB: dink aan die ernstige worsteling in sy hart nadat sy hele lewe omgedop is in een oogwink. HOE PAS GOD DAAR IN? Dink aan PAULUS: Kon nie maar net berus by die doring in sy vlees nie. Hoe rym hierdie doring met die liefde van Christus? Die gelowige kan hom nie die lewe indink sonder Jesus Christus nie.

Het ú ook al gewonder of dit regtig die moeite werd is om die Here te dien? Ja, ons praat so maklik allerlei vroom praatjies met mekaar, maar wat leef diep in u hart – daar waar niemand kan sien nie? Het u ook al gewonder óf geestelike sake régtig sóveel baat – soos mense sê? Is dit nie maar net storietjies wat predikante praat sodat mense nie moet dros uit die gemeentes nie? BAAT dit regtig soveel?

Weet u – hoor nou die goeie nuus – niemand kan eerlik voor die Here worstel sonder om van Hom ’n antwoord te kry nie. Die Here antwoord daadwerklik Sy mense in Maleagi 3. Asaf vind ’n antwoord in Psalm 73. Paulus en Job het antwoorde gekry.

Maar, om ’n antwoord te kry, help dit nie dat ons na hierdie lewe kyk nie. Dit help ook nie jy vergelyk jouself met die ongelowiges nie. Dit help ook nie jy fokus net heeltyd op die SIGBARE nie, want die sigbare is net tydelik ( 2 Kor 4:18). Nee, Maleagi 3 en Ps 73 sê: Dit IS 1000 maal die moeite werd om die Here te dien, MAAR om totaal ander redes as wat ’n mens normaalweg sou dink. Om die Here te dien – sê die Gees deur Maleagi – het voordele vir ewig & ewig & ewig & ewig. Die ongelowige verlore mens wat God se kruisredding minag, se “geluk en vrede” hou slegs vir 60/70/80 jaar. Daarna: Pikdonker NAG. Maar, die ewigheid is effens langer as 80 jaar. Net so min as wat ’n voëltjie ’n oseaan kan leegdrink, kan die ewigheid ooit ophou. Die Heilige Gees sê in Maleagi 3 dat die mens wat die Here dien, ’n klomp voordele het – wat dalk nie NOU so belangrik lyk nie – maar wat saakmaak tot in ewigheid.

Die Gees noem VIER ewige voordele:

1) Die Gees sê in Mal 3:16 – GEDENKBOEK MET NAME IN: Daar is regtig só ’n boek voor die Here se aangesig. Lees weer van hom in Openb 20:12. Al wat uiteindelik saakmaak: My naam wat daarin geskrywe staan van voor die grondlegging van die wêreld af.

2) FINALE DAG VAN OORDEEL wanneer daar ONDERSKEID gemaak sal word – vlgs Mal 3:18. Dán sal dit bekend gemaak word wie die Here geken het. Jy sal vir ewig daaroor dankbaar wees. Jou vreugde sal geen einde ken, wanneer die lewende God – voor alle mense wat ooit gelewe het – bekend maak dat jý Sy uitverkorene was en dat jý met Jesus se bloed op Golgota gewas is nie.

3) SOOS KAF sal die ongelowiges – wat die Here se kruisredding geminag het – verbrand word. So sê Mal 4:1. Die ongelowige het werklik géén hoop ná hierdie kort aardse lewetjie nie. Laat ons dit maar deeglik hoor: GEEN HOOP. Job 11:20: Die ongelowige se énigste toekomshoop is om sy laaste asem uit te blaas. Nie eintlik iets om oor opgewonde te raak nie.

4) BORDJIES SAL OMGERUIL WORD: Mal 4:2. Gelowiges – wat miskien in hierdie lewe swaar gehad het – sal dan bokspring soos kalwers omdat die son van redding op hulle geskyn het – die son wat genesing in sy strale het. Hierdie Son is natuurlik Jesus self. Die ongelowige – wat miskien net lekker tye op aarde gehad het – sal die stof wees onder die kind van God se voete – vers 3.

Wat régtig saakmaak: Nie wat NOU gebeur nie, maar wat DAN gebeur – omdat die Here met my volhard het en daarom het ek volhard.

Daaroor sal geen gelowige ooit berou hê nie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00