Die golwe wat met egaligheid breek en uitspoel op ons strande veroorsaak ure se genot vir ons kinders en almal wat lief is vir die see. Die krag van die golwe verskil egter heelwat van mekaar tydens hoogwater en laagwater. Die verskil tussen hoogwater en laagwater is duidelik sigbaar, maar selfs wanneer die water laag is kan ons nog steeds heerlik swem, baljaar en selfs visvang.
Tydens ’n reeks dienste waar ek moes optree in Wallis het ek opgemerk dat daar ’n duidelik opmerkbare verskil is tussen die hoogwater en laagwatergety van die see in die noordelike halfrond (sien foto’s van die hawe by Tenby, Wallis). In die hawe lê die vissersbote plat op die grond en sommige het selfs diep in die sand weggesak soos wat die wisseling van die gety wrywing in die sand veroorsaak het.
Die seelewe is tydens laagwater beperk tot klein organismes, enkele paddavissies in sommige van die poele en krappe wat soms sigbaar is. Die vissersbote is onaktief en geen visserman is sigbaar nie. Die seelewe keer weer terug na die hawe tydens hoogwater, vissersbote word weer aktief en mense begin selfs weer visvang vanaf die hawe muur. Die wisseling van die getye is ’n pragtige en praktiese voorbeeld van ons eie geestelike lewe en selfs ons plaaslike gemeentes.
’n Laagwater gety in ons eie lewe beteken bloot dat die Lewe van Christus in ons beperk is en nie altyd so duidelik sigbaar is vir andere om waar te neem nie. Dit is wel daar en ons is selfs baie aktief in die kerk, maar die wonderlike lewe en krag van Christus nie sigbaar is deur ons nie. Ons is in of oppad na laagwater as:
Ons nie meer bid nie.
Ons nie meer die Woord lees nie.
Ons nie meer tyd saam met Hom spandeer nie.
Ons Hom nie meer gehoorsaam nie, maar onsself eerder verskoon.
Ons geen krag het om weerstand te bied teen sonde of versoekings nie.
Ons geen bekommernis of las vir siele wat verlore gaan nie.
Ons eerder vinger wys, kritiek gee as om te vergewe.
’n Laagwater gety in die plaaslike gemeente en gemeenskap beteken verder dat die Lewe, Krag en Invloed van die Nuwe Testamentiese Kerk, soos wat dit voorkom in die boek Handelinge, begin taan en selfs geen invloed uitoefen nie. Ons kan dit duidelik sien in:
Kerkdienste wat swak bygewoon word.
Bidure wat afgestel of glad nie bygewoon word nie.
Geen of swak evangelisasie program en uitreike na verlorenes.
Onderlinge kritiek en verskille met mekaar en geen eenheid nie.
Lidmate wat openlik in sonde leef, sonder om aangespreek te word.
Liberalisme en humanisme wat voor die outoriteit van die Woord geplaas word.
Geen bekerings wat plaasvind nie.
Geestelike en morele verval in ons samelewing.
God het Hosea gestuur na die noordelike koninkryk van Israel in ’n laagwatertyd en in ’n tyd van voortdurende geestelike en morele verval wat geëindig het met die inval van die Assiriers in 722 BC. Israel het vir baie jare God se seëninge beleef- op materiële gebied,’n sterk militêre mag, ’n vredesverhouding met die buurlande en geestelike seëninge, maar tog hulle rug op die Here gedraai. Hulle het egter vir God vergeet as die enigste bron van hulle Krag en Seëninge en vervang met hulle eie afgode, wêreldse plesier en rykdom.
Die toestand van die Westelike Kerk is vandag ooglopend en selfs kenmerkend dieselfde as in Hosea se tyd. Ons het in baie gevalle God verlaat en vervang met ons eie afgode en pro-gramme. Aktiwiteite is dikwels die enigste teken van lewe in die kerk. Lewe word dikwels verwar met lewendigheid, aktiwiteite en die aanbied van programme.
Dr Henry Blackaby het tydens sy onlangse besoek na Suid-Afrika genoem dat een van die grootste redes waarom daar nie vandag Herlewing (of Hoogwater) is nie, is omdat die kerk ’n intieme liefdesverhouding met Christus vervang het, met die beoefening van ‘Godsdiens en Kerk’.
Daar is egter hoop en goeie nuus. Die gety wissel en verander en bou weer op na hoogwater. Ons kan weer naby aan God leef. Ons kan weer Sy teenwoordigheid elke dag ervaar en in Sy oorwinning leef. Herlewing (Hoogwater) is moontlik, hetsy Persoonlik, of vir my gesin en gemeente. Dit is moontlik, as die gety draai. Ons kan die gety help draai.
Dr Billy Graham het per geleentheid aan ’n professor gevra wat die grootste behoefte van ons tyd is. Nadat hy goed nagedink het, was sy antwoord: “Ek sou ’n verskeidenheid van ant-woorde kon gee wat wissel van belastingverligting tot ontwapening. Dit mag jou verras, want ek is nie ’n gelowige mens nie, maar ek glo dat die grootste behoefte van ons tyd ’n geestelike ontwaking is, wat die individue en gemeenskaplike moraal en integriteit van ons land kan herstel.”
Hosea 10: 12-13: “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreen-stemming met die liefde; braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën. Julle het goddeloosheid ingeploëe, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geeët, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde”.
Kom laat ons terugkeer na Hom en Intimiteit met God ervaar, Sy stem hoor en gehoorsaam.
Kom ons aanvaar God se genade, vergifnis en vergewe ook andere wat ons seergemaak en te na gekom het.
Kom ons laat God toe om opnuut ons harte te breek en te verander, veral in die areas waar ons buite Sy wil beweeg het.
Kom ons ween oor ons sonde, veral waar ons Hom bedroef het en bekeer onsself daarvan.
Kom ons aanvaar verantwoordelikheid vir die gevolge van ons dade.
Kom ons maak ’n soeke na God weer die hoogste prioriteit in ons lewe.
Kom ons swaai die gety in Suid-Afrika.
Here, gee weer vir ons ’n hoogwatertyd waar die Lewe van Christus in ons hart, ons kerk en in ons mooi land Suid-Afrika weer sigbaar word.
Artikel verwerk uit
Herlewing! Die Heerlikheid van God