IS DIE KERK ’N DIERETUIN?

Dit is so dat sommige kerkgangers so hardkoppig is soos ’n muil om enige werk in die gemeente te doen. Ander is so skelm soos ’n jakkals wanneer hulle hul besigheid se transaksies doen, ja, en ander is soos bye besig om die laaste en nuutste skinderstorie te vertel terwyl daar weer talle is wat so stil soos ’n muis is om die Evangelie te getuig. In die kerk kry jy ook die wat so blind soos ’n vlermuis is om die nood van ander raak te sien maar die oë van ’n valk het om die foute van mense waar te neem. Daar is ander wat so ywerig soos ’n bewer is om ’n braaivleis geleentheid by te woon en ander weer so lui soos ’n hond om in die gebedstye te wees. Ander sal soos ’n leeu brul indien die dinge in die kerk nie volgens hulle sin gaan nie, maar hulle is soos lammetjies wanneer hulle die predikant van die gemeente nodig het. Dan kry jy weer die wat so raas soos ’n uilskuiken wanneer hulle die kerk nodig het vir advies maar so skaam soos ’n katjie om met die verlore siele te praat en so stadig soos ’n slak om die behoeftiges te besoek. Baie is naguile Saterdagnag maar bedluise Sondagoggend en so skaars soos hoendertande op ’n Woensdag.

 

Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak ons kom ons pligte in die gemeente na. Ons moet dit duidelik verstaan dat jy NIE die Here kan dien maar die Christendom kan bedank nie. God het juis die gemeente daar vir ons as mens gestel om mekaar te dien en Geestelik te groei.

 

1 PETRUS 4:10 “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.”

 

KOL. 1:18 “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.”

 

GEBED

 

Baie dankie dat ek deel kan wees van U gemeente in die hemel sowel as op die aarde. Here gebruik my en stel my instaat om U werk te doen? AMEN

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00