INLEIDING TOT ‘GOD SE AARD’ – DIE GESINDHEID WAT IN CHRISTUS WAS ....
Pieter Scholtz
Uit die tronk in Rome het Paulus, kort voor sy tereggestelling sy laaste, baie kosbare brief aan die Fillipense geskryf. Die hooftema is Christus Jesus. Alles vd vier hoofstukke gaan oor Hom … oor Jesus Christus! Dit kan ingedeel word as: Christus my lewe … Christus my gesindheid … Christus my wins en … Christus my krag! Paulus se gebed vir hulle is baie belangrik …’n dankgebed en ook van voorbidding.
Eers dank hy God elke maal as hy aan hulle dink en bid in al sy gebede vir hulle almal met blydskap, want hierdie is die één brief waarin hy nie nodig het om te bestraf, ernstig te vermaan of teen dwalinge te waarsku nie. Die woord sonde kom glad nie hierin voor nie. Sy intieme verbintenis met hulle word in v3-8 en 4:1 weerspieël deur uitdrukkings wat nêrens anders voorkom nie soos – omdat ek julle in my hart dra (omdat julle my ná aan die hart lê) … want God is getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus … my geliefde broeders, na wie ek verlang, my blydskap en kroon.
Dit was geen wonder nie dat daar so ‘n tere, intieme en wedersydse verbintenis van liefde en agting geheers het want hulle het onthou hoe Paulus, hulle geestelike ‘vader’ die eerste keer gely het toe hy en Silas daar in die tronk gegooi en geslaan, geboei en in die binneste deel van die tronk gegooi was! Daar was hulle met die berugte Romeinse ysterjuk op hulle nekke vasgepen! Toe, in hulle donkerste uur, het hierdie 2 getroue ambassadeurs vir Christus, presies om middernag gebid en begin sing … ongelooflik!!! Die duiwel skrik daarvoor, want dan ervaar hy weer dat hy klaar verslaan is! Toe begin wonderlike dinge in en om daardie tronk gebeur – ’n aardbewing – seker omdat God met sy voet tyd gehou het toe hulle daár binne so gesing het! Almal se boeie het afgeval en tronkdeure het oopgespring! Maar dit was nie al nie! Die wonderlikse was dat die tronkbewaarder ‘sy as af’ geskrik, na binne gespring en bewende uitgeroep het: Menere (skielik repek?) … wat moet ék doen om gered te word? ‘GLO in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huis!’ Toe het ook die engele begin saamsing! Verséker, want Jesus self sê mos: ‘As één sondaar hom bekeer, is daar blydskap onder die engele in die hemel!’ Die wrede tronkbewaarder en sy hele huis is daardie nag gered! Daardie nag is daar ook ’n unieke gemeente van God gebore! Hulle was dinamies, aan die brand en deur al die jare getrou, tot selfs hier teenoor hulle geliefde geestelike ‘vader’ waar hy as ’n martelaar sou sterf! Vir hom was hulle opreg lief, diep dankbaar en lewenslank lojaal! Hulle het hom ondersteun, vir hom gebid en altyd hartlik ontvang.
Paulus se gebed van voorbidding vir hulle is vyfvoudig en ook geweldig belangrik:
1. LIEFDE (v.9) wat groei en toeneem in kwantiteit – ‘meer oorvloedig’ – maar ook in kwaliteit … ‘en in kennis (om te weet wát dit is) en alle ervaring (ook om te weet hoe dit werk)’. Goddelike liefde (agapéo) is iets baie hoër, edeler en kragtiger as die hoogste vorm van menslike (phileos) liefde. Dis ’n liefde wat persoonlik, ewig, onveranderd, onbeperk, onpartydig, prakties en spontaan is. Dit wil GEE, eerder as om te ontvang. Dit is die liefde van God self wat Hy in ons harte uitstort deur die Heilige Gees (Rom 5:5) en gaan nie altyd gepaard met ekstase, emosie en verhewe gevoelens nie, maar met pligsgetrouheid en opoffering, en ’n passie om God te behaag … en altyd NEDERIG DIENSBAAR.
2. ONDERSKEIDING (v.10): Die vermoë om vas te stel wat die beste is, die swaarste weeg en ewig sal voortbestaan. Dis nie net die vermoë om goed van kwaad te onderskei (Heb.5:14), of om ‘geestelike dinge’ met sondige of ‘vleeslike dinge’ te kan vergelyk nie, maar ook om ‘geestelike dinge, met geestelike’ te vergelyk; m.a.w. om selfs die hoogste en beste nogeens te weeg en te toets en dan dáárvan God se ALLERBESTE uit te kies! In ‘n tyd soos vandag – wanneer Christene die vermoë van ‘onderskeiding van die geeste, of hulle uit Gód is’ of nie, moet hê (1 Joh 4:1; 1 Kor 12:10) – kan die kennis van dieper geestelike waarhede die BESTE op die volgende twee maniere geleer word: Eerstens – SIT aan Jesus se voete soos ’n Maria (Mat.26:12). Tweedens – die prys van goddelike openbaring is deur gehoorsaamheid, NIE deur blote kennis of wêreldse geleerdheid of wysheid nie! (Joh.7:17).
3. VIR NIEMAND ‘N AANSTOOT NIE (N.Vert. ‘sonder blaam’): Vers 10b verklaar dat die Christen GEEN MENS wat die Here nodig het en na Hom soek, deur sy voorbeeld of optrede mag laat struikel nie! Dit is ‘n baie ernstige saak wat God swaar sal straf!
4. IN DIE REGTE VERHOUDING MET GOD v.11: ‘Vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Christus Jesus’. Ons word nie gered en tot die regte verhouding met God herstel deur enige geregtigheid van ons eie, van werke wat ons doen nie, maar slegs deur geloof in Christus (Rom.3:21,22). Die ‘vrug van geregtigheid’ is egter ons praktiese en spontane werke as bewyse van ons liefde vir Hom.
5. REINHEID (v.10): ‘Sodat julle rein (‘83 Vert. ‘onberispelik’ Eng. vert. ‘sincere’) mag wees … Die Grieks vir rein is ‘heilikrines’ en saamgestel uit twee woorde. ‘Heile’ beteken die glans van die helder sonlig. ‘Krino’ beteken ‘beoordeel’ of ‘die wet gee uitspraak’… of, ‘dit wat die wet vereis’. Waarskynlik sinspeel dit op die besonder fyn en delikate porseleinware wat die Romeine vervaardig het, wat gewoonlik maklik in die bakproses kon gebars of gekraak het. Sommige bedrieërs het dan al die fyn barsies met ‘n sekere soort was toegesmeer wat dit onsigbaar gemaak het en slegs ontdek kon word as dit na buite geneem en teen die helder strale van direkte sonlig opgehou was!
Die unieke woord ‘rein’ (N.V. onberispelik) word dan hier geestelk toegepas en beteken dus dat ons hele lewe ‘buite’ teen die sterkste, helderste lig van God, soos van direkte sonstrale opgehou kan word sonder dat dit één enkele barsie of krakie uitwys! Hierdie woord word NET hier in die N.T. en in 2 Pet.3:1 gebruik waar dit daar met ‘suiwer’ vertaal word. Daar praat Petrus van ’n suiwere gesindheid.
In sy gebed vir die Filippense gebruik Paulus dus hierdie woord ‘rein’ wat ‘n toestand beskrywe wat die strengste toets van die helderste sonlig kan deurstaan! Wanneer iets gemerk was met die Latynse woorde, ‘Sini Cera’ waarvan ‘sincere’ afgelei is, het almal geweet dit is eg, heel, deurskynend en suiwer. Hierdie is God se standaard vir gereedheid by die wederkoms van Christus vir elkeen van Sy kinders!