TAFELBERG GEMEENTE

Kinderdiens: Ingeënt teen goggas
Skrif: Galasiërs 4: 3-5, 5: 16-25

Kinders, watse soort goed is dit wat veroorsaak dat ons koors, lyfseer, kopseer, naarheid kry (Griep)? Een oggend kyk jy in die spieël en jy sien sulke blasies regoor jou lyf (Waterpokkies). Of jou wange is opgeswel (Pampoentjies). Wie van julle het al Masels gehad? Aaklige rooi kolle oral waar jy kyk. Wat veroorsaak sulke ellendes? Antwoord: Dit is rêrige GOGGAS wat dit veroorsaak. Goggas in die bloed. Ons noem hulle kieme/virusse/bakterieë. (Wys sketse van ‘n paar virusse soos deur mikroskoop gesien). Hulle is onsigbaar, maar hulle laat jou simpel voel en simpel lyk.

Die Bybel praat baie reguit oor die goggas wat in ons geestelike bloedstroom is en wat ook allerhande nare simptome veroorsaak. Dink maar aan Galasiërs 5: 19-21 wat die goggas noem. ONSEDELIKHEID: Wanneer mans en vrouens met mekaar lelike goed doen – wat teen die Here se wil is. Die TV probeer om ons weg te dryf van die Here af deur hierdie goed te vertoon. Dink maar aan die sepies in die middae wat meesal só ver van die Here se wil is. ‘n Mens sien onsedelikheid ook aan mense se kleredrag. Byvoorbeeld waar mense in die openbaar goedjies dra wat eintlik net in ‘n badkamer gedra kan word. LOSBANDIGHEID: Wanneer mense doen waarvoor hulle lus het en wat in hulle kop kom om te doen. Bandeloos. Dit is wanneer ‘n man in sy vrou se oë niks goeds meer kan doen nie, maar sy is vreeslik opgewonde wanneer sy by ‘n ánder oom kuier. RUSIE: Wanneer mense mekaar beskuldig en verwyt en mekaar slegsê. Hy noem ook nog goggas soos VERDEELDHEID, JALOESIE, DRONKENSKAP, HAAT.

Hoe kan ‘n mens ‘n oplossing kry vir al die goggas in jou bloed? Die maselsgoggas en waterpokkiesgoggas en griepgoggas en geelsuggoggas? Dit sal seker help as jy met hulle streng is en met hulle raas, nie waar nie? Dit sal mos baie help as mamma vir jou sê: “Oppas vir waterpokkies! Sorg dat jy nie waterpokkies kry nie!” Sal sulke streng voorskrifte en bevele julle help? Sal dit help jou mamma raas met jou as jy masels het? “Jy mag nie masels kry nie! Doen iets met daardie rooi kolle op jou lyf! Hou op om jou te krap!” Sal dit help? Nee, jy kan maar raas en streng wees, maar dit help niks. Die goggas luister glad nie na reëls en raas en strengheid nie.

Die Bybel leer dat strenge reëls ook niks help vir die geestelike goggas nie! Die geestelike goggas luister glad nie na wette en reëls nie. Al is ons hóé streng met onsself om nie weer sondes te doen nie – ons kry dit net nie reg nie. Al raak ons rooi in die gesig soos wat ons onsself probeer oorgee aan die Here om bevry te word, dit help niks. Want ons inspanning is net ‘n wet. En goggas luister nie na wette nie.

Hoe raak ‘n mens bestand teen goggas wat in jou liggaam inkom – só dat jy weerstand het daarteen? Só dat jy nie waterpokkies of griep of masels kry wanneer ander mense dit kry nie? Antwoord: Jy moet ingeënt word. Dít is die gogga-medisyne wat ons nodig het.

Wat is inenting? Dit is ‘n gogga wat lamgemaak is. Die slim mense vat ‘n gogga – wat siektes veroorsaak – en dan maak hulle hom lam sodat hy nie baie sterk is nie. Dan spuit hulle vir jou die lamgemaakte gogga in jou bloedstroom in. Op so ‘n manier bou jou liggaam ‘n weerstand op teen die sterk goggas sodat hulle jou nie so maklik kan siekmaak nie. As jy nie ingeënt is met die lamgemaakte gogga nie, móét jy leef en maak soos die sterk goggas vir jou sê: Hoofpyn, koors, slegvoel, naarheid ensovoorts. Maar, as jy met die lamgemaakte gogga ingeënt is, het jy weerstand teen die sterk goggas en kan jy LEWE, al probeer die sterk goggas om jou siek te maak!

God die Vader, het sélf die inentwerk gedoen deur Jesus. Jesus het ál die goggas wat ons kry, in Homself lamgemaak! Hoor hoe stel Paulus dit in Galasiërs 4:4: “Op die regte tyd, het God Sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en was aan die Wet onderwerp, om óns los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.”

Jesus het méns – soos ons – geword. Hy is van dieselfde bloedtipe as ons. Wat gebeur toe? Toe laat God die Vader ál die sterk goggas wat óns kry, op Jesus afkom en die goggas maak Hom dood op die kruis. Maar, Hy blý nie dood nie. Die Vader laat Hom opstaan uit die dood. En só breek Hy die goggas se krag. Hulle is oorwin. Hulle het nie meer ‘n sê nie. Jesus het die goggas binne-in Homself lamgemaak. Hoe? Deur alles wat Hy gedoen het. Hy dra al ons goggas binne-in Homself. Dan ly Hy en sterf. Maar staan weer op uit die dood. Só vermorsel Hy die goggas se krag binne-in Homself.

Maar, God die Vader het nog méér gedoen. Hy het óns ingeënt met Jesus se werk. Dit wat Jesus gedoen het, toe Hy die goggas lamgemaak het, staan nie doer ver buitekant ons nie. Nee, God die Vader het ons geneem en ons ingesluit by ALLES wat Jesus vir ons gedoen het. Hy het ons ingesluit sónder om eers ons toestemming te vra. Net soos julle mammas nie julle toestemming gevra het om julle te laat inent teen masels en waterpokkies nie. Net so het die Vader ons deur Sy Gees ingesluit by Jesus. Net omdat Hy wou. Dit is ons inspuiting en inenting. So word Jesus se lyding, dood en opstanding óns s’n. Só word die goggas heeltemal lamgemaak. Só kry ons binne-in ons ‘n weerstand teen die goggas.

Ja, ons kry nog steeds baie goggas. Maar, daar is ‘n groot verskil. Ons is ingeënt teen die goggas wat ons kry. Al krý ons goggas, LEWE ons (Gal 5:25). Die goggas kan ons nie meer doodmaak of siekmaak nie. Dit is mos wat ‘n inenting doen. Dit breek die krag van die goggas en maak dat ons kan LEWE – al kry ons goggas. Ons LEWE want ons word NOOIT meer deur God gestraf vir die goggas nie. Ons LEWE want die Gees maak ons innerlik ánders met liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing IN DIE PLEK van al die gevaarlike goggas. Dit is wat met ons gebeur indien ons ingesluit is by Jesus se lyding/dood/opstanding – waar Hy die goggas in Homself lamgemaak het. En ons IS ingesluit!! Gód het die inentingswerk klaar gedoen. Dit is mos juis die onbeskryflike wonderlike boodskap wat die Bybel ons kom meedeel. Terwyl ons so stry teen die goggas en terwyl ons leef soos die goggas wil hê ons moet lewe, kom die Gees deur die Bybel en sê vir ons: “STOP!! Wáárom sukkel jy so? Weet jy dan nie dat God jou ingeënt het by Sy Seun nie? Gló jy dan nie dat JY ingeënt is nie? Glo jy dan nie dat Sy inenting regtig WERK nie? Dink jy dit is sommer net storietjies? Ag nee, ek kan my nie verbeel dat júlle dink dit is storietjies nie!

Indien ons gló dat die Here se inenting regtig die waarheid is en dat dit werk: dan hoef ons glad nie meer te leef soos die slegte goggas wil hê ons moet leef nie, maar dan kan ons leef soos mense wat weerstand teen goggas het en kan ons LEWE – met hoofletters. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00