DIE GROOTSTE SKAT WORD GEVIND.

SKRIFLESING: 2 KRONIEKE 34:1-28

 

TEKS: 2 KRONIEKE 34:14.15

 

En toe het hulle die geld uitgehaal wat in die huis van die HERE gebring was, het die priester Hilkia die wetboek van die HERE gevind wat deur die diens van Moses gegee is. Daarop het Hilkia aan die skrywer Safan gese: Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind! Toe gee Hilkia die boek aan Safan.

 

Die verhaal word vertel van die seun wat net n Bybel by sy Miljoener pa geerf het. Hy was woedend, wat al wat in die Testament gestaan het was “Hierin le al die skatte wat ek vir jou nagelaat het. Toe hy oud en afgeleef was het hy die Bybel van sy vader oopgemaak, en in die Bybel was die Testament waarin hy al die miljoene van sy vader kon gaan opeis. Hy het die skatte in die Bybel gevind na al die jare se ongehoorsaamheid en bitterheid.

 

Daar was baie kosbare skatte in die tempel wat Salomo gebou het, onder andere die geld in 2 Kronieke 34 :14 En toe het hulle die geld uitgehaal wat in die huis van die HERE gebring was, het die priester Hilkia die wetboek van die HERE gevind wat deur die diens van Moses gegee is. van ons gelese gedeelte.

 

Die geld was nodig vir die uiterlike herstel van die tempel wat met hande gebou is. Die grootste skat is nodig vir innerlike herstel van die tempel wat nie met hande gebou is.

 

Lees in 2 Konings 22:8-20 dieselfde gedeelte wat handel oor Koning Josia wat as Koning regeer na sy pa Amon.

 

Kyk vir n oomblik na hierdie nuwe Koning op die toneel. Sy oupa was die goddelose Koning Manasse wat wel later hom voor God verootmoedig het.

 

2 Kronieke 33:6

 

Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg.

 

Sy pa was Amon  2 Kronieke33:22,23. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oe van die HERE , soos sy vader Manasse gedoen het; en aan al die gesnede beelde wat sy vader Mansse gemaakhet, het Amon ywerig geoffer en hulle gedien. Maar hy het hom nie verootmoedig voor die aangesig van die HERE soos sy vader Manasseh om verootmoedig het nie; maar hy, Amon, het die skuld vermeerder.

 

Hierdie goddelose pa wat geensins n rolmodel vir sy jong seun Josia was nie.

 

Josia het gewandel in die wee van Dawid van wie hy net gehoor het, en nie self persoonlik geken het nie. Josia het selfs beter as Dawid gedoen. Kyk wat word van hom geskryf:

 

2 Konings 23:25 

 

En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie.

 

Dit se baie!! Kan ons Josia as voorbeeld gebruik met vrymoedigheid vir jongmense?

 

Luister nou mooi kinders en jongmense, hy was maar net 8 jaar oud toe hy koning word lees ons in vers 1 van 2 Kronieke 34:1 JOSIA was agt jaar oud toe hy koning geword het, en een-en-dertig jaar het hy in Jerusalem geregeer.

 

Hy het nie links of regs afgewyk nie lees ons in 2 Kronieke 34 :2. En hy het gedoen wat reg was in die oe van die Here en gewandel in die wee van sy vader Dawid en nie regs of links afgewyk nie.  2 Konings 22:2 se hy het “geheel en al” in die wee van sy vader Dawid gewandel.

 

Hy was op die nou pad al die pad! Hy het die woorde van Dawid onthou.

 

Psalm 119:9-11

 

Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. :10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. :11  Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

 

Psalm 1:1-3  Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

 

Hy het die bose kringloop van Exodus 20:5,6 gebreek. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

 

Op die ouderdom van 16 jaar het hy die Here ernstig gesoek lees ons in :3

 

2 Kronieke 34:3

 

En in die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy vader Dawid te soek, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die hoogtes en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde.

 

Wat het na vier jaar gebeur toe hy die Here begin soek?

 

Wie werk dit in die hart van die mens om die Here te soek?

 

Filippense 2:12,13  Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

 

Toe hy 20 jaar oud was, het hy leiding geneem om die Jerusalem te reinig van al die afgode in: 2 Kron. 34:3  

 

As jy dit vandag doen, dan dink mense jy is “koekoes”

 

Hy het dit ook 6 jr later dit op hom geneem om die Tempel en die huis van die Here te herstel toe hy 26 jaar was. Vir 18 jaar lank was die Here nou al besig om hom te vorm. Die Here vat Sy tyd as Hy iets kosbaar vorm.

 

Ons het jongmense op Kweekskole nodig vandag wat sal opstaan teen die geleerdes wat die Skrif verdraai en in vertwyfeling bring en goddeloos lewe.

 

Dit is nie n emosionele ervaring wat skielik van jou n super Christen maak nie.

 

2 Kronieke 34:8

 

En in die agttiende jaar van sy regering, toe hy besig was om die land en die tempel te reinig, het hy Safan, die seun van Asálja, en Maäséja, die owerste van die stad, en Joag, die seun van Jóahas, die kanselier, gestuur om die huis van die HERE sy God te herstel.

 

Al hierdie dinge het oor n tydperk gebeur, nie alles in een oomblik nie. “Neem tyd o verlostes, word heilig en rein……”

 

In hierdie proses vind hulle die grootste skat in die Tempel.

 

Waarna soek die mense vandag in die kerk?

 

Wat is dit wat mense verander?

 

DAAR WAS NET EEN WETBOEK

 

2 Kronieke 34:14 

 

En toe hulle die geld uithaal wat in die huis van die HERE gebring was, het die priester Hilkía die wetboek van die HERE gevind wat deur die diens van Moses gegee is.

 

Waar het hulle dit gevind?

 

Dit was iewers onder die stof waar iemand dit jare gelede gesit het nadat dit vir die laaste keer gelees is.

 

Hierdie kosbare skat le onder die stof in die temple?

 

Vandag le daardie skat langs baie mense se beddens. Dit is nie skaars en onverkrygbaar. Dit word daagliks in liefhebbers van God se hande gevind as hulle dit oopmaak en God met hulle praat.

 

Dit word deur die Gideons versprei en duisende in alle tale deur die Bybelgenootskap gedruk.

 

Prys die Here daarvoor. Die grootste skat is nie vir ons verlore, en hoef nie gesoek te word nie.

 

Dit is soos juwele wat orals beskikbaar is, prys die Here dit is nie skaars in ons land soos in sommige lande.

 

Ek onthou die getuienis van Dr Bertus van Niekerk toe hy saam met die Gideons die voorreg gehad het om in Equador Bybels te gaan versprei toe die man sy vuil stukkende hand deur die gat in die muur van die tronk se sel druk om die Bybel te neem. Hoe lank het hy gesoek na dit wat hy daardie dag gevind het?

 

Hoe wonderlik is dit nie om te kan getuig da tons as Gemeente die afgelope tyd meer as 2000 Bybels versprei het per hand aan mense in verskillende tale.

 

Hierdie Boek is kosbaarder as wat ons as bevoorregte mense ooit sal besef. Ons het die grootste skat. Die fontein is nie toegesluit, of toe gestop, dit is tot ons beskikking om te drink. Strome van lewende water wat my dors kan les. Hoor hoe mense praat wat die Here vir hulle gedoen en gese het deur die lees van die Woord.

 

So le die skatte die wereld vol om die mense, en hulle sien dit nie eers meer raak nie. Skatte het net vir my waarde as ek besef hoeveel dit werd is. Dan sal dit gevind word.

 

Daar is nie n tekort aan die grootste skat hier op aarde nie, dit moet net gevind word.

 

As dit gevind word:

 

DIE SKAT VIND DIE MENS WAT DIT VIND

 

2 Kronieke 34:21 

 

Gaan raadpleeg die HERE vir my en vir die wat in Israel en in Juda oorgebly het, oor die woorde van die boek wat gevind is; want groot is die grimmigheid van die HERE wat oor ons uitgestort is, omdat ons vaders die woord van die HERE nie gehou het om te handel volgens alles wat in hierdie boek voorgeskrywe is nie.

 

Ek sien hoe jong mense dit vind in Nederland as ek daar preek terwyl die ou mense in n vorm godsdiens verval het en nie die Here soek nie.

 

As dit gevind word, raak dit die hart van die mens. Dit openbaar dinge wat maak dat die vrees vir God terugkeer.

 

Die Gideons vertel die verhaal van die vrou wat die wereld aan haar voete gehad het met haar Country sang maar ongelukkig was totdat sy die Bybel in haar hotel kry. Toe sy dit oopmaak vertel sy hoe “Die Outeur opdaag” en haar hele lewe verander, en die om haar.

 

So lank het sy gesoek, toe vind die Bybel haar.

 

Hebreers 4:12 

 

Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

 

Dit openbaar die onheilige en goddelose werke van die mens. (Psalm 119:105; 1 Joh.1:7)

 

Wat het Josia gedoen toe hy dit lees? Dit het sy hart geraak, en gemaak dat hy sy klere skeur.

 

2 Kronieke 34:19

 

En toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy klere geskeur,

 

Ek sien die tekens van ware berou! Hy het nie n koringkorrel vroeg in die oggend getrek met n belofte op nie. Hy het ook nie n gewone boek gelees wat hom motiveer nie.

 

God het dit raak gesien, dit gaan nie ongesiens by God verby, want dit is immers Hy wat praat deur die Woord. 

 

2 Kronieke 34:27 

 

omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van God verneder het toe jy sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners hoor, en jy jou voor my aangesig verneder het en jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, spreek die HERE.

 

Die Woord keer nie ledig terug na die een wat die geskryf het nie.

 

Jesaja 55:11

 

so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

 

Daar is niks nuut in die Woord as ons dit lees. Die vraag is of dit n nuwe indruk op my maak. Of dit lewendig is as ek dit lees. Dan vind ek die grootste skatte.

 

Lees Jeremia 29:11

 

Lees die Logos, en hoor die Rhema. Daarom sal dit my hart skeur as dit my vind, en ek nie my klere skeur as ek dit vind.

 

AS EK DIE SKAT MY VIND, VIND EK GOD.

 

As die Woord my vind, oortuig dit my van my sonde en die toorn van God oor sonde. As dit gebeur, is daar niemand om na te vlug as die Here self.  

 

2 Kronieke 34:21 

 

Gaan raadpleeg die HERE vir my en vir die wat in Israel en in Juda oorgebly het, oor die woorde van die boek wat gevind is; want groot is die grimmigheid van die HERE wat oor ons uitgestort is, omdat ons vaders die woord van die HERE nie gehou het om te handel volgens alles wat in hierdie boek voorgeskrywe is nie.

 

Dit maak dat ons soos die mense in Handelinge gevra het na Petrus se preek op Pinkster dag. Handelinge 2:37 

 

Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

 

Of soos die tronk bewaarder Handelinge 16:30 

 

En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?

 

Wat gebeur as mense God vind?

 

AS MENSE GOD VIND RAAK DIT N WAARSKUWING AAN ALMAL WAT HOOR.

 

Hulle oe gaan oop, en hulle verstaan! 2 Kronieke 34:24,25 so spreek die HERE: Kyk, Ek bring ‘n onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die vervloekinge wat geskrywe staan in die boek wat hulle aan die koning van Juda voorgelees het. Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande, daarom sal my grimmigheid oor hierdie plek uitgestort en nie uitgeblus word nie.

 

Die waarskuwing dat sonde verwoesting bring oor mense. Maar mense wild it nie hoor vandag nie. Dit openbaar die onheil wat mense oor hulleself bring as hulle God verlaat.

 

Daar is selfs baie wat jou sal spot as jy daaroor praat. 2 Kronieke 36:16 Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het,

 

DIT LAAT DIE WAT DIT HOOR HUL VOOR GOD VEROOTMOEDIG.

 

2 Kronieke 34:27

 

omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van God verneder het toe jy sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners hoor, en jy jou voor my aangesig verneder het en jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, spreek die HERE.

 

Soos wat Josia gedoen het toe hulle die wetboek gevind het en dit hoor.

 

Waarom praat die Here deur sy Woord?

 

DIT LAAT DIE WAT HUL VEROOTMOEDIG DIE GUNS VAN GOD ERVAAR.

 

 2 Kronieke 34:28

 

Kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal met vrede in jou graf versamel word, en jou oë sal al die onheil nie aansien wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners bring nie. En hulle het die koning antwoord gebring.

 

Die dood hoef nie gevrees te word as jy die skat gevind het nie.

 

Die dood vat jou weg van al die onheil en goddeloosheid op aarde. “ sal met VREDE versamel word” OM GOED TE EINDIG!

 

Baie ken al die ironiese verhaal van die koning wat na een besondere duur skildery gesoek het. Hoe hy miljoene sou betaal vir dit en baie gestuur het om dit te gaan soek. Totdat iemand kom en hom laat weet hy het dit gevind. Waar, en hoeveel kos dit? Dit kos niks agbare koning, dit is in jou eie solder.

 

Hoe eindig die verhaal van Koning Josia?  Nee dit eindig nie, dit gaan voort in Hoofstuk 35.

 

Die pasga word gehou. Waarna verwys die pasga?

 

Vorentoe na die Kruisiging! Vandag vier ons die nagmaal wat terug wys na die kruisiging. Waarna verwys die Lam wat geslag word en die ongesuurde brode wat gebreek word saam met die wyn wat nie gegis het.

 

Waarom skeur die Koning sy klere? Die Vader wat Sy seun offer dat ons kan lewe.

 

As jy die Bybel oopmaak, sal jy die gekruisigde Here Jesus vind.

 

As jy die gekruisigde Here Jesus vind kan jy nie meer die Bybel toemaak.

 

Dan sal jy verstaan waarom Jesus gesterf het.

 

Lees Lukas 24:27 En Hy het begin van Moses en al sy prefete af en vir hulle uitgele in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.  en verder.

 

Lees Lukas 24:30 En toe het Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood  en dank; en Hy brrek dit en gee dit aan hulle.

 

Het jy al die Bybel gevind, of die Bybel vir jou?

 

Ek kan net na Jesus gaan as ek Hom hoor roep “Kom”

 

Het jy al omgedraai na Hom?

 

Ek kan Hom net leer ken en by Hom bly as ek die Woord in my hart bewaar as ek dit lees.

 

Hoor jy Sy stem as jy die Bybel oopmaak?

 

Ek kan net vir Hom gaan as ek die Woord ken wat ek vind. Wat vertel jy vir mense van Hom?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00