TAFELBERG GEMEENTE
PSALMS-REEKS NO 23: PSALM 23

 

Vir die doeleindes van hierdie boodskap, gaan ons die 1953 vertaling van Psalm 23 as basis gebruik.
 
Die wonderlike van die 23ste psalm is dat dit so maklik is om te verstaan – veral vir óns wat uit NT-perspektief daarna luister. Ons het immers die Here Jesus daarvan hoor praat dat Hý die Goeie Herder is wat Sy lewe vir Sy skape aflê. Ons het Hom hoor sê: “Ek is die Goeie Herder en ek ken my skape en hulle ken My stem. Ek lê my lewe af vir die skape.” (Joh 10: 11-15)
 
Deur die eeue het gelowiges aan die 6 kort verse van Psalm 23 gekleef. En daar is ‘n onmeetlike krág aan die woorde. Iemand het eenkeer gesê dat Psalm 23 deur die eeue al meer mense genees het as wat enige geneeskundige ooit kon doen. Miljoene gelowiges het al telkemale hul toevlug tot Psalm 23 geneem. Want die psalm skets ‘n Herder wat alles gee en skape wat totaal afhanklik is.
 
Dawid weet waarvan hy praat omdat hy self ‘n herder was voordat die Here hom geroep het om koning te word. Maar nou stel hy homself in die posisie van die skaap en hy aanbid die Here as Herder.
 
In ‘n neutedop sê die Heilige Gees in Psalm 23 vir ons dat ons geestelike versorging, saligheid en veiligheid nié afhanklik is van wie ons is nie, maar van wie God-drieënig is.
 
Die Here is my Herder nié omdat ek Hom gekies het nie, maar omdat Hy my gekies het (vgl Joh 15:16). Geen skaap kies sy herder nie. Dit werk net mooi andersom.
 
Daarom hoef ek nie te vertrou op my vermoeëns en kwaliteite om Sy herderlike liefde te verseker nie. Ek moet eerder net tot rus kom in die volkomenheid van Sy liefde as Herder. Daardie rus kan ek behou te midde van die dinge van elke dag. Selfs in die aangesig van die doodskaduwee.
 
Ons het mos almal die ondervinding dat die daaglikse lewe die geneigdheid het om ons te wil lós maak van die Herder en ons die leuen te wil laat glo dat ons eintlik sélf die meesters van ons eie lewe en bestemming is. Dis egter ‘n leuen en illusie.
 
‘n Mens het soms net nodig om tot rus te kom en net weer nugter te dínk en te mediteer oor die waarheid van Psalm 23 – net om tot die besef te kom dat ‘n skaap nóóit onafhanklik kan funksioneer nie.
 
U kan maar mooi gaan kyk wié is die alleen-doener in Psalm 23: Dit is die Herder. Ter wille van Sy éie Naam, dra en versorg Hy die skaap. Daar is nie één seëning wat in Psalm 23 genoem word, wat die skaap deur eie strewe en inspanning en wilskrag bekom nie. Nie één nie. Letterlik alles wat genoem is, is gegewe seëninge. Dit werk alreeds.
Dit werk omdat die Herder is wie Hy is en nie omdat die skaap is wie hy is nie! Al wat die skaap moet doen is om tot rus te kom. Die skaap moet iets ontdek en tot rus kom in dit wat hy ontdek het.
 
‘n Mens ontdek onder andere hoe teer die Herder is. Hy is teerhartig en liefhebbend. “Die Here is my Herder.”
 
Die God van die Bybel, die Vader van ons Here Jesus Christus, is ‘n onpeilbaar-heerlike Wese. Hy is majestieus. Hy is die gans andere (Barth). Hy is Vader, Seun en Heilige Gees.
 
En dan sê Dawid van híérdie geweldige God: Die Here is my Herder. Hierdie geweldige Wese, het ‘n hérdershart! Dis wie Hy is. Daar is geen afstand nie. Hy is nie onbereikbaar nie. Die Here IS (totale sekerheid) MY (persoonlike relasie) HERDER. Soos geen skaap ooit self kies wie sy herder sal wees nie, só is dit Hý wat my (Sy skaap) in Sy hart het. Dis nie die skaap wat teermoedig is teenoor die herder nie. Dis net andersom. Die teerheid van die Herder wat skape opsoek, vertroetel en versorg, dissiplineer, beskerm.
 
Is daar enige plek in die wêreld ‘n skaap wat sy herder versorg en lei? Beslis nie. Dit werk andersom. Sien u die prentjie? Dis ‘n prentjie van verbondsliefde. Dis ‘n prentjie van Sý intieme omgee en verhouding met Sy skaap. Die skaap behoort aan Hom, want Hy het Sy hart op die skaap geplaas. Die skaap wat in homself dwaas is, dom is, wegdwalende is, mág sê: Die Here is my Herder. Want die skaap se dwaling en dwaasheid is nie in die fokus nie. Die teder hart van die Hérder is in die sentrum. Dít maak al die verskil.
 
Die Here is teer.
 
Op Eendekuil was daar ‘n boer wie se skape naby die huis geloop het. Hy kon by sommige vensters uitkyk en die skape sien. Sommige naby ander verder weg. Maar tog was daar heeltyd distansie tussen hom en die skape want daar was ‘n muur tussen hulle. Die huis se muur en vensters.
 
So werk dit egter nie met die Oosterse skaapboere nie. Daardie mense woon saam met die kudde. Die kudde is klein en die man is daar by hulle. Hy ken hulle gesiggies. Hy ken hulle by die naam. Hy stap vooruit en hulle volg. Hy jaag hulle nie van agter af met ‘n hond nie. O, nee – dit is ‘n intieme omgee. Die herder en die skape leef hul lewens te same. Die herder is altyd daar.
 
Soos die Heilige Gees hom beweeg, is dít die beeld wat Dawid hier gebruik. Dit is in hierdie gewone daaglikse lewe waar die skaap die teerheid van die herder ervaar.
 
Kyk daarna: “Niks sal my ontbreek nie”. ‘n Ware en goeie herder sal nóóit toelaat dat sy skape aan enigiets gebrek ly nie. Dít is hoe die Here met Sy mense omgaan in hierdie lewe. Nee, alles wat ons wil hê is nie altyd toelaatbaar nie. As ‘n skaap die kans kry om sy eie wil en kop te volg sal hy wegbreek uit die trop na gras wat groener lyk aan die ander kant van die draad. En dit kan rampspoedige gevolg hê. Nie alles wat die skaap wil hê is noodwendig wat hy nodig het nie. Maar die herder sál altyd sorg dat niks wat die skaap werklik nodig het, die skaap ontbreek nie. Dit is hoe die Herder met ons omgaan in hierdie lewe. Daarom kan ons altyd vergenoeg/tevrede wees. Die Apostel Paulus het hierdie sorg van Sy Herder geken, daarom skryf hy in Filippense 4:11 dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede te wees.
 
Die Herder is teer teenoor ons deurdat Hy ons “laat neerlê”. Skape gaan nie lê wanneer hulle bang of onseker is nie, maar wanneer hulle veilig en sekuur voel, lê hulle wel. As die Herder dus Sy skape laat neerlê, is dit ‘n teken van beskerming en sekuriteit. Niks kán die skaap uit die Herder se hand wegruk nie (vgl Joh 10:28). Die skaap kan nie in die duiwel se hand beland nie.
 
Verder LEI die Herder Sy skape. Hy stap voor. Hulle ken Sy stem en is lief vir Sy stem. Hulle volg dit. As ‘n mens ‘n skaap is, wórd jy gelei. Dit is deel van skaap-wees. Die wat kinders van God is, wórd deur die Gees gelei (Rom 8:14). Al vóél jy nie of jy gelei word nie, jy WORD gelei!

Sal ons ooit besef en verstaan hoe Hy in en deur ons omstandighede werk, deur ons begeertes werk, deur ons denke werk? Hy is die God van voorsienigheid. Wáár jy ookal is, is die beste moontlike plek vir jou. Ja, watter skaap sal nie nou en dan met ‘n kritiese gees rondkyk en wonder of daar nie beter opsies is nie. Om op die ou end te besef dat die herder sélf die beste opsie is! Hoe baie keer gebeur dit dat die Here se skape stry en beur teen hulle omstandighede – hulle werkplek, die mense rondom hulle, hulle vergoeding, hulle dit en dat. Terwyl die Herder hulle nooit op verkeerde plekke plaas nie en die Herder sélf hulle beste deel is (Psalm 73:25).
 
Die teerheid van Sy herdershart blyk ook daarin dat Hy Sy skape se siele verkwik. Hebreeus: Om te laat herleef/herstel die moeë. Net die lewe as sulks het die vermoë om ‘n mens uit te droog – geestelik, emosioneel. Soms wil ons handdoek ingooi en opgee. Soms loop ons deur onder die genadeloosheid van die lewe. En dan kom die sterkte en krag net weer. Die Heilige Gees is nader aan die skaap as sy/haar eie lewe. Die verkwikking is nader aan jou as wat die natuur jou kan verkwik. Of musiek jou kan verkwik. Of ‘n wegbreek vakansie jou kan verkwik.
 
Verder lei Hy ons op die paaie van geregtigheid (reg-wees). Wanneer hierdie Herder ‘n mens lei, lei Hy jou tot ‘n besef van (en fokus op) hoe reg/heilig/onskuldig/mooi/goed jy in Hom is. ‘n Gelowige lewe nie met ‘n voortdurende besef van sondaar/sondig-wees/sleg-wees nie, maar ‘n besef van geregtigheid, van reg-wees omdat jy Christus se reg-wees besit en Hy jou verkeerd-wees besit. Daar het mos ‘n salige omruiling plaasgevind (vgl 2 Kor 5:21)!
 
Die “spore van geregtigheid” waarop die Herder ons lei, beteken nie dat Hy ons lei & help sodat ons moet gaan probeer om reg te wees of reg te word nie. Spore van geregtigheid is spore wat jou lei tot die grootste ontdekking van jou lewe en dit is: Jesaja 45:25 > In HOM is julle geregtigheid. En Jeremia 23:6 > Die Here is ons geregtigheid (vgl 1 Kor 1:30).
 
As u na hierdie psalm kyk, sal u sien dat alle lewenservarings daar saamgevat word: behoeftes, gevaar, keuses, afdwaling en verdwaling, lewensreis, moegheid, verwarring. In álles – is Hy daar. Hy ís. Hy gee vrede, maar nie ontvlugting. Mense wat nie die Herder ken nie, ontvlug – maar het nooit vrede nie. Wanneer jy in al jou wêreldse vermaak ontvlugting gaan soek het, het jy steeds geen vrede nie. Maar die Herder gee jou nie altyd ontvlugting nie, maar wel vrede.
 
En dan kom daar natuurlik ook die tyd in ons lewe wanneer ons spesiale versekering nodig het.
 
Ons kom almal een of ander tyd in die doodsvallei.
 
Die doodsvallei is egter nie vir die Herder ‘n struikelblok nie. Dit vang Hom nie onkant nie. Hy ken die doodsvallei baie goed omdat Hy dit self deurgegaan het. Kyk mooi wat daar staan: “sal ek nie bang wees nie.” Dit is slegs die Herder wat daardie woorde moontlik maak.
 
Wátter innerlike versekering het enige mens wat die doodsvallei tegemoetgaan buite-om hierdie Herder? Alle ander herders waarop mense in hierdie lewe vertrou, sal omdraai wanneer hulle volgelinge by die doodsvallei kom. Daardie herders sal hulle in die steek laat. Kyk wat sê Dawid in vers 4: “Ek vrees nie, want Ú is by my.” In die vorige verse praat hy die heeltyd van “Hy, Hy, Hy..” maar nou “U” en so bly dit vir die res van die Psalm.
 
Daar is ‘n groot vertroosting waarin die skaap hom verlustig: Die Herder het ‘n stok en ‘n staf in Sy hand (OAV). Dit is simbole van sorg: ‘n Knuppel en herderstaf. Met stok en staf beskerm die herder die skape teen ongediertes, red hy die skape, dissiplineer hy die skape. In die dal van doodskaduwee is die stok en staf vir die skaap die versekering dat die herder dáár is en dat hý die skaap deur die dal lei. Hy het nie omgedraai sodat die skaap self moet sien en kom klaar nie. Die skaap kon die herder se teenwoordigheid tasbaar voel. Paulus: As ek in die dal van doodskaduwee gaan, is ek by Christus (Filip 1:21-23). Die Here is teer teenoor Sy skaap in die dal van die dood en sterwe.
 
Die Christelike lewe is om ‘n gas in ‘n wonderlike huis te wees. ‘n Gas in die teenwoordigheid van die Herder. By Sy tafel. By Sy feestafel. ‘n Tafel wat Hy gereed gemaak het – wat uiteindelik die bruilofsmaal van die Lam sal wees.
 
In die Ou Nabye Ooste was dit die gebruik dat ‘n gasheer sy gaste se hoofde met olie salf – as teken van welwillendheid en gasvryheid. Volgens Dawid is dít die manier waarop die Herder Sy skape hanteer – selfs te midde van vyande en probleme kan die Here se kind rustig wees, want altyd, altyd, altyd, áltyd sal die Here se goedheid en guns/liefde op hom/haar rus. AL die dae van jou lewe. AL die dae. Daar is nie één dag uitgesluit nie. Geen wonder dat Dawid se beker oorloop nie.
 
Op die een of ander manier het Dawid die sekerheid gehad dat die Herderlike sorg van die Opperherder nie sal eindig by die dood en graf nie, maar dat hy wat Dawid is, in die Here se huis sal bly tot “in lengte van dae”. Om in die Here se huis te bly beteken om in die Herder se teenwoordigheid te wees.
 
Ná die woorde “tot in lengte van dae” moet daar eintlik ‘n klompie kolletjies wees. Want dit dui op onbeperkte lengte. Wat Dawid nie gesien het nie, sien Johannes in Openbaring 21: “Die woonplek van God is nou by die mense en Hy sal by hulle wees as hulle God. En Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. En die dood sal daar nie meer wees nie. Smart pyn en leed sal daar nie meer wees nie, want die dinge van vroeër het verbygegaan”.
 
Wat Dawid nie gesien het nie, sien Paulus in 1 Kor 2:9: “Wat die oog nie gesien het nie en die oor nie gehoor het nie en wat in geen mens se verbeelding opgekom het nie, dít het God berei vir die wat Hom liefhet.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00