TAFELBERG GEMEENTE
PSALMS-REEKS NO 19

 

Psalm 19
Tema: Om God te ken

“Om God te ken”.
Vir óns klink dit heel vanselfsprekend.
Maar vir der biljoene mense op aarde nié!
 
Hou in gedagte dat vir alle ander godsdienste, kultusse, filosofieë, denkrigtings, “God” ‘n veraf entiteit is – iemand/iets wat nie regtig persoonlik geken kan word nie. Dink aan die Hindoes. Hulle het 132000000 gode van wie nie één gekén kan word nie. Of dink aan miljoene Rooms-Katolieke wat die leer van die Roomse Kerk só interpreteer as sou dit impliseer dat daar altyd iemand ánders tússen jou en God staan en jy Hóm dus nooit werklik met sekerheid kan ken nie en jy nooit absolute sekerheid kan hê dat jy in Sy omhelsing leef nie.
 
Vergelyk dit met die Bybel wat na sekere mense verwys as “vriende van God”. Jy kan nie ‘n vriend wees van iemand wat veraf op ‘n afstand is of wat maar net een of ander onpersoonlike krag is nie! Nee, die Bybel stel Hom aan ons voor as ‘n Persoon wat allerlei eienskappe en karaktertrekke besit. Hy is in Sy wese niks anders nie as onselfsugtige liefde (vgl 1 Joh 4:8). Hy is ‘n verterende vuur van onuitbluslike suiwere liefde (Hebr 12:29). En die wonder bo alle wonders is dat sondaarmense Hom persoonlik kan en mag kén. Dit bevry ons totaal van die tipe ellende en duisternis waarin ander godsdienste en denkrigtings vasgevang sit.
 
Hierdie groot bevryding word vir ons in Psalm 19 saamgevat. Wat ‘n onbeskryflike bevryding is dit nie!
 
Om Psalm 19 te verstaan, kan ons net drie woorde onthou: “God” (vv 1-7), “Here” (vv 8-12) en “My Verlosser” (vv 13-15).
 
U sal sien dat die woord “God” (Elohim) in verse 1-7 slegs een maal genoem word. In verse 8-12 verander dit skielik na “Here” (Jahwe) wat 6 keer ter sprake kom. En in verse 13-15 die persoonlike kén soos uitgedruk in “My Verlosser”, “my Rots”.
 
Deur bloot net die skepping te aanskou, kan alle mense in die algemeen vir God as “God” ken. Maar deur die Skrif maak Hy Hom as Jahwe, die God van die verbond/verhoudings bekend – die God wat Hom aan mense verbind. Wie Hom só ontdek, leer Hom ken as “My Verlosser.” Dit is die ontwikkeling in Psalm 19.
 
Kom ons fokus nou ‘n bietjie hierop in:
 
Verse 1-7
Alle, alle mense leef dag en nag onder die hemelkoepel. Niemand kan dit ontwyk nie. Almal wat fisies siende is, kan die uitspansel – die hemele – sien, want dit praat met almal. Dit getuig van Elohim – God se Naam, in die meervoud geskryf. ‘n Meervoudige woord vir één Persoon – wat wys op Sy diversteit ín Sy eenheid. En presies daarvan getuig die uitspansel ook. Die diversiteit van die skepping getuig van die majesteit en heerlikheid van één Persoon.
 
Jy kyk na die hemele, jy sien hoe die wind die wolke voortdryf, jy sien die orde in die hele skepping, die wetmatighede, die opeenvolging van die dae en die seisoene, die draai van die aarde, die beweging, die super intelligente ontwerp, die oormag van die son in sy krag – álles getuig van net een ding: Dat Elohim ís. En dat Hy glorieryk is.
 
Dag na dag spreek die hemele een en dieselfde boodskap uit. Vandag se boodskap is presies dieselfde as gister s’n. Dit hou net nooit op nie. Oor en oor en oor sonder end, práát die skepping sonder hoorbare woorde en maak iets bekend – helder en duidelik: Elohim se ewige krag. Al is Hy onsigbaar, maak Hy Homself sigbaar bekend aan almal wat bereid is om net maar te kýk.
 
Al praat die skepping sonder enige hoorbare taal/grammatika, kan letterlik álle mense verstaan wát gesê word. Kommunikasie sonder woorde en tog verstaan alle mense van alle tale dit! Dis ‘n boodskap wat oor die héle wêreld uitgaan. Dis ‘n taal wat die uithoeke van die aarde bereik. Dit sluit alle mense in. Oral waar die son gesien kan word. Niemand kan sy gloed ontkom nie, daarom kan almal die boodskap hoor wat die son – sonder woorde – kommunikeer: Elohim ís en Hy is majestieus. Die son opsigself is só majestieus dat sommige mensegroepe dit as ‘n god aanbid. Alle lewe is immers van die son afhanklik. Sonder die son sou almal en alles sterf. Tog dra die son net ‘n boodskap oor wat na Iemand ánders wys: Elohim in Sy krag. Die son praat van Hom.
 
In Romeine 1 sluit die Apostel Paulus by Psalm 19 aan as hy sê dat daar ‘n self-getuienis is van God se bestaan: slegs die uitspansel is genoeg. Nie eens die res van die skepping of die wonder van die mensdom is nodig nie. Slegs die bestaan van die hemele laat elke mens sonder enige verskoning. Elke mens wéét, maar onderdruk met opset die waarheid, want hy hou nie van wat hy sien nie.
 
Maar, in ‘n sekere sin ken alle mense vir God – deur net onder die hemelkoepel te staan en op te kyk. In híérdie opsig “ken” almal Hom, want almal hoor die boodskap van die skepping – dat Hy ís en dat Hy majestieuse krag besit.
 
En tog het die mens iets méér nodig. Want u sien: die mens wat vir God deur die boodskap van die skepping ken, kén Hom nog nie. Nie persoonlik nie. Ken nie verlossing en aanvaarding-as-kind nie. Om te ontdek hoe Hy jou verlos het, jou sondeskuld afgeskryf het en om Sy omhelsing te ontdek, het jy iets meer as die boodskap van die uitspansel nodig. Jy het iets meer nodig as onhoorbare woordelose kommunikasie. Jy het verstaanbare wóórde nodig.
 
En dit neem ons na verse 8-12 – van “God” (Elohim) na “Here” (Jahwe). Verse 8-12 neem ons van die skepping na die Skrif – die Bybel. Van die nátuur na die Skríftuur.
 
Waarom verander God se Naam “Elohim” in verse 8-12 na “Jahwe” toe? Omdat Jahwe Sy spesiale verbondsnaam is, waarmee Hy Homself reeds aan Moses bekendgemaak het. Die Naam wat aandui dat Hy die God is van ‘n spesiale verhouding met mense. Nie in die algemene kopkennis sin van die woord soos mense van Hom dinge kan ken/weet deur na die skepping te kyk nie, maar in die sin van persoonlik ken – as kind van God. Binne ‘n verbondsverhouding met Hom leef. En om daardie verhouding aan ons bekend te maak en ons by daardie verhouding te betrek, praat Hy deur die Skrif – die Bybel.
 
Let op die verskillende woorde waarmee die Woord genoem word (OAV): Wet vd Here (v 8), Getuienis vd Here (v 8), Bevele vd Here (v 9), Gebod vd Here (v 9), Vrees vd Here (v 10), Verordeninge vd Here (v 10).
 
Al hierdie begrippe wil net een enkele ding sê: Die Woord/Skrif gee onderrig en dit maak aan die mens iets bekend wat die mens daarsonder nooit sou weet nie. Hierdie onderrig en bekendmaking bring gevolglik Godsvrees in die mens se lewe tot stand. Nie vrees in die sin van bangwees nie, maar in die sin van eerbied – soos ‘n kind teenoor sy/haar aardse pa veronderstel is om te hê. Onthou net hierdie drie woorde: Onderrig (teaching), bekendmaking, eerbied.

Die inhoud van hierdie Godswoord is volmaak en dit is seker & betroubaar (v 8). Dit beteken nie dat elke grammatikale sinskonstruksie in die Bybel perfek is nie, want dan sou geen Bybelvertaling moontlik wees nie – dan sou alles in die oer-oorspronklike Hebreeus en Grieks moes bly. Maar die INHOUD is volmaak. Dit wát gesê word, is volmaak. En dit is absoluut 100% betroubaar. Dit gee sekerheid. Dit is reg en suiwer (v 9). Dit is rein. Die inhoud vd Skrif is rein. En dit is absolute Waarheid (v 10). En dit bestaan tot in ewigheid (v 10). Dit is nie tydsgebonde nie. Dit sal niemand halfpad in die steek laat nie.
 
Hoe belangrik is dit om hierdie dinge te hoor in die tyd waarin ons leef waar die Bybel as Woord van God om elke hoek en draai verdag gemaak word en betwyfel word?
 
Die inhoud van die Skrif is nie volmaak en betroubaar en waar omdat enige méns so besluit het nie. Ook nie omdat die kerk so besluit het nie. Maar, omdat die Skrif dit van homself getuig! Die selfgetuienis van die Bybel is dat hy volmaak/betroubaar/waar/seker is!
 
En ons mag en kan nie ons eie oordeel bó die selfgetuienis van die Skrif stel nie (vgl 2 Petr 1:20) – gewoon omdat ons nie van beter weet nie! Geen mens beskik oor die kennis en insig om beter te weet as wat die Skrif van homself getuig nie.
 
Ons het net een van twee opsies: óf ons aanvaar die selfgetuienis van die Skrif (en dit blyk uit ons daaglikse liefde vir en omgang met die Skrif) óf ons aanvaar dit nie (en dit blyk uit ons daaglikse opsyskuif en minagting van die Skrif)! So eenvoudig soos dit.
 
Indien ‘n mens dít wat die Skrif van homself getuig aanvaar, dan sal dit ‘n magtige effek/uitwerking op jou lewe tot gevolg hê. Kyk net hoe pragtig word dit in die tweede helfte van Psalm 19 uitgespel.
 
‘n Ses-voudige effek:
 
Dit verkwik die siel (v 8) – dit gee lewe! Dit gee wysheid (v 8). Dit verbly die hart (v 9). Dit verlig die oë (v 9). Dit waarsku betyds (v 12) – soos ‘n mens van liefde kan verwag. Dit bied groot beloning (v 12).
 
As jy dít wat die Skrif van homself getuig aanvaar en dit liefkry, ontdek jy iets méér as wat jy net na die uitspansel sou kyk en sekere eienskappe van God eien. Jy ontdek Hóm persoonlik. Jy ontdek dat Hy met jou ‘n verbond opgerig het – sonder dat jy daarvoor gevra het. Christus het as jou plaasvervanger gesterf. Jou skuld is betaal. Jy is vrygemaak. Nooit weer reken Hy jou jou sonde toe nie. Jy ontdek jou waarde. Jy ontdek hoe jou waarde as beelddraer van God op die kruis herstel is. Jy ontdek hoe jy onvoorwaardelik liefgehê word. Hoe jy aanvaar word. Hoe die sondes wat jy doen in werklikheid glad nie meer bestaan nie – dis ‘n illusie. Hoe jy absoluut kan opstaan en begin léwe!
 
Niks hiervan sou jy ooit kon ontdek sónder die Skrif nie. Die uitspansel kan jou dit nie wysmaak nie. Jy het die Skrif nodig om Hom as HERE (Jahwe – God wat in verhouding met jou staan) te ontdek.
 
En dít verkwik jou siel en gee vir jou ware innerlike lewe en ware wysheid. Die lewende verkwikkende vreugdevolle wysheid – die verligting van die oë – wat die mensdom so naarstigtelik op al die verkeerde plekke soek, kry jy sommer pasella deur net te ontdek wat die Skrif regtig sê en hoe die Skrif jou volkome insluit in die verlossing wat die Here bewerkstellig het. Jy sluit nie jouself in nie. Die Skrif vertel vir jou hoe ingesluit jy ís. Die Skrif veroorsaak nie sweet nie, dit droog trane af! Die Skrif is die sakdoek van die Heilige Gees.
 
Dit bring ons by verse 13-15 > “My Verlosser” – Hoor hoe persoonlik word dit nou. Persoonlike kén.
 
Wanneer koning Dawid in die Skrif die Here van die verbond ontdek – die Here wat met hom (wat Dawid is) in ‘n verhouding getree het, dan lei dit tot spontane gebed. Hy praat met die Here.
 
In die lig en teen die agtergrond van wat die Skrif leer, ontdek ‘n mens spontaan jou eie mankoliekheid en sondes. Dis wat met Dawid gebeur. Maar jy sit nie op moedverloor se vlakte nie. Want die Skrif leer vir jou iets wat die uitspansel nie vir jou kan leer nie: en dit is dat jy ‘n Verlosser het… hét! Iemand wat jou met Sy eie bloed losgemaak het. ‘n Verlosser maak immers los. Hy maak vry. Hy is die groot Vriend van sondaars – nie van sondeloses nie.
 
Dawid bid nie om vryspraak (v 13) en bewaring (v 14) en aanneming (v 15) sódat die Here sy verlosser kan wórd nie. Hy bid dit omdat die Here sy verlosser ís (v 15)! Het u dit raakgesien in Psalm 19? Dit klink soos onnodige haarklowery, maar dit maak die wêreldse verskil.
 
‘n Mens kom tot draai-na-die-Here-toe ómdat jy die ontdekking gemaak het dat jy aangeneem ís! Jy kom eers tot die ontdekking dat Jesus jou Verlosser ís, dan dank jy Hom daarvoor. As dit nie só werk nie, is die verbond van bloedweinige betekenis.
 
Wanneer Dawid bid om vryspraak, bewaring en aanneming is dit ‘n reaksie op wat hy in die uitspansel en in die Skrif ontdek het. Want wat hy daar ontdek het, het léwe in hom geskep (vgl Jak 1:18; 1 Petr 1:23). Hy het ontdek dat hy deel is van die verbond, dat die Here hom aan Hom verbind het. Hy het lewe ontdek, onderrig ontvang, wysheid ontvang, blydskap beleef, insig in die evangelie gekry. Hy het hom láát leer. Hy het in die Woord die goud ontdek, die heuningdruppels uit die heuningkoek. Daarom noem Hy die Here “mý Verlosser”. Op grond dáárvan bid hy ‘n gebed van geloofsvertroue. Want hy wíl nou binne-in die vryspraak van die Here leef en hy wíl nie meer as slaaf van sonde leef nie en hy wíl dat selfs dit wat hy dink en praat binne sy aanneemlikheid voor God staan. Sy hart en gesindheid het ongetwyfeld verander.
 
Dalk wil u ook die vrymoedigheid neem en die volgende gebed saam met my bid:
 
“Here Jesus, dankie dat U ook vir mý ingesluit het by U verhouding met die Vader en die Heilige Gees en die skepping. Dankie dat U mý waarde as beelddraer van God verlos en herstel het toe U op die kruis gesterf het. Dankie dat U my vrygespreek het. My begeerte is nou dat my hele lewe sal inpas binne die feit dat U my ten volle aangeneem het.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00