TAFELBERG GEMEENTE

DAWID-REEKS NO 22: Sondevergifnis en sondebelydenis

 

2 SAMUEL 12 asook Psalm 51

’n Seuntjie bou – met groot moeite – iewers by die see – ’n sandkasteel. Maar, toe kom daar ’n brander wat die kasteel wegvee. Met groot geduld begin die seuntjie weer bou – maar toe kom daar weer ’n brander …

 

Is dít hoe u & ek ons daaglikse lewe-met-die-Here ervaar? Dan is ons by Hom, dan weer ver van Hom. Vind die Here, verloor die Here. By mekaar, uit mekaar. Want ons dink dit is hoe die geloofslewe werk: ’n Mens voel jy het uiteindelik naby die Here gekom, maar dan sondig jy weer en dan is jy ver (eenkant) vd Here omdat Hy teleurgesteld en kwaad is. Dan moet jy weer die Here soek en vind d.m.v. ’n proses van opbou – jammer-sê, bid & probeer om te verbeter … Wanneer jy voel jy is weer naby aan Hom, dan val jy weer. Naby, ver, naby, ver. Vind, verloor, vind. Eintlik is dit niks anders nie as ’n proses van stelselmatige verval. Geestelike slawerny. Frustrasie op frustrasie.

Die wonder van dit wat die Here Jesus Christus kom doen het is: Hy het hierdie tipe sandkasteellewe radikaal verbreek en finaal stopgesit. Hy het ons geheel en al bevry van hierdie VIND-KRY, NABY-VER lewe. Hy het vir ons ’n lewe kom gee, waar selfs ons sondes deel word van ons geestelike groei, in plaas van ’n proses van verval.

 

Dit het gebeur deurdat God die Vader ons verenig het met Sy Seun. God die Vader het ’n enorme magsdaad verrig. Hy het ons ingebind in Christus se geboorte, lewe, lyding, kruisiging, sterwe, begrafnis, opstanding, hemelvaart, troonsposisie. Verenig en ingebind.

 

Bestudeer maar die NT en kyk na al die kere wanneer daar gesê word dat ons IN CHRISTUS is. Wie het ons in Hom ingesluit? Enigiets wat óns gedoen het?? Gaan lees Romeine 6:4-5. Met Hom verenig in Sy dood en opstanding. Iets wat God die Vader man-alleen gedoen het.

 

En omdat Gód my met Jesus verenig het, kan ek nie uitval nie. Ingebind. Nou word selfs my sondes geïnkorporeer by my geestelike groei. Pleks daarvan dat my sondes my laat uitval, laat dit my juis inval – in Christus in, want ek is verenig met Sy lyding, dood, begrafnis, opstanding en dáárom blý ek by Hom en groei ek in Hom verder! Nou kan selfs iets soos die aanklagte van Wetsoortreding my en jou nie meer laat verval en vergaan nie!!

Dit is die beginsel wat alreeds in die OT gesien word en wat ’n mens in Psalm 51 & 2 Samuel 12 moet raaksien. Dit is natuurlik koning Dawid wat hier aan die woord is – een jaar nádat hy owerspel & moord gepleeg het.

 

Tradisioneel lees ons gewoonlik die Psalm só asof dit die bittere stryd van berou beskryf – waardeur Dawid weer probeer nader kom het na die Here toe en Hom probeer vind het. Asof Dawid die Here bitterlik smeek om hom genadig te wees. En die Here toe uiteindelik toegee en hom vergewe. Die sandkasteel-lewe…

Dit is egter so opwindend en bevrydend om raak te sien dat Psalm 51 juis die teenoorgestelde doen. Psalm 51 beskryf hoe Dawid se sonde hom in die Here laat inval /indraai het! Nie uitval nie, maar inval. Nie ver nie, maar naby. Nie uitmekaar nie, maar bymekaar. Psalm 51 beskryf hoe Dawid gegroei het ten spyte van sy sondes.

 

Psalm 51 beskryf NIE hoe Dawid geworstel het om vergifnis te KRY nie. Dit is juis andersom! Ons lees hier van Dawid se ervaring NADAT hy vergifnis ontvang het! Vers 1: NADAT Natan na Dawid toe gekom het.

 

In 2 Sam 12:13 lees ons wat daar gebeur het. Natan het vir Dawid gesê: “Die Here het jou vergewe”. Natan het eintlik uit die staanspoor na Dawid toe gekom met die vryspraak. Toe Dawid erken dat hy skuldig is, sê Natan onmiddelik: “En die Here het jou vergewe”.

 

Dawid worstel (jammer-sê) m.a.w. nie in Psalm 51 om weer die Here te vind nádat hy geval het nie, maar hy sê jammer nadat hy alreeds vrygespreek is.

 

Daarom is die tema van vanoggend se boodskap “sondevergifnis en sondebelydenis” en nie “sondebelydenis en sondevergifnis” nie!

’n Mens kan dit byna nie glo nie, maar dit staan net so in die Woord. In Psalm 51 smeek Dawid: “Wees my genadig o God” en “wis my oortredinge uit in U groot barmhartigheid” en “was my skoon van my skuld”. En tóg was hy alreeds vrygespreek! Só het Natan hom verseker.

 

Want dit is presies hoe die evangelieboodskap werk.

 

Dit is nie óns “jammer-sê” wat dinge tussen ons en die Here regmaak nie. Ons besit geen magsgreep op God dat Hy ons jammer-sê moet aanvaar en dáárom vergewe nie. Dis Hy wat ’n magsgreep op ons het deurdat Hy dinge tussen ons en Hom regmaak deurdat Hy ons in Christus ingebind het.

 

En dit is wanneer ons dit besef, wat ons eers regtig besef watse gruwelike sondaars ons is. Dán breek ons. Wanneer ons besef dat God ons vryspreek voordat ons jammer-sê, dán sê ons jammer! Dan vermurwe ons! Wanneer ons besef dat God ons met Jesus verenig het ten spyte van ons sonde en terwyl ons nog in ons sondes was, dán kom ons tot berou – diepe berou!

Dit is presies wat met Dawid gebeur. Toe die Here deur Natan vir hom sê: “Ek het jou vergewe” – en dit terwyl hy gruwelike goed aangevang het – toe vermurwe hy. Toe begin sy sondebelydenis.

 

Dit is asof koning Dawid sy sonde bely omdat hy die Here as só asemrowend pragtig beeldskoon lieflik gróót in barmhartigheid sien, dat hy homself as verfoeilik sien. Verfoeilik dat hy dit kon durf waag om só ’n Here te gaan bedroef. Verfoeilik omdat hy teen ’n Here gesondig het wat hóm reeds vrygespreek het en wat hóm steeds aanvaar binne-in sy goddeloosheid. Kyk, om te besef dat Hy jou in ‘n omhelsing van onvoorwaardelike liefde en vryspraak vashou binne-in jou sonde, en jy dan nog steeds sondig….. dit laat jou baie sleg voel, nie waar nie?

 

Verstaan u dat Dawid nie worstel om weer naby die Here te kom nie, maar dat hy worstel omdat dit vir hom só asemrowend onbeskryflik is dat die Here hom d.m.v. Sy vryspraak naby aan Hom hou – maar hy worstel omdat hy sy sondes in die verblindende lig van dáárdie roekelose genade sien. En sodoende groei Dawid geestelik – selfs deur sy sonde!!

 

Wat in Psalm 51 beskryf word is ’n getuienis van geloofsgroei. Wat in Psalm 51 beskryf word is ’n getuienis van (in NT-taal) hoe ’n mens se sondes jou in Christus laat inval en nie uitval nie, omdat God jou ingebind het in Sy Seun se geboorte, lyding, dood, opstanding en hemelvaart.

 

Voorbeeld: Hier is ’n bout en moer. Waarom kan die moer so styf indraai? Hy loop in ‘n groef. Die eintlike geheim: Dit is nie net ’n groef nie, maar ’n spiraal. Die wonder van ’n spiraal is: Die wegdraai is ’n indraai. Terwyl die moer wegdraai, draai hy in. Want, die groef is ’n spiraal en dit is hoe ‘n spiraal werk.

Dit is die wonder van die suiwere evangelie: Wanneer ek wegdraai vd Wet, draai ek in Christus in, want ek is in Hom ingebind deur God die Vader. Wanneer ek wegdraai vd Wet en ek sondig, draai ek in Christus in – en omdat ek met Hom verenig is, en in Hom indraai, weet ek dat ek onskuldig is, want Hy het my onskuldig gemaak deurdat Hy as onskuldige voor Pontius Pilatus veroordeel is. Ek draai in Christus in en ek weet dat ek heilig is, dat ek ingebind is by Sy lyding en daarom nie sal ly vir my sondes nie. Ek is ingebind in Sy sterwe en daarom word ek nie gestraf nie. Ek is ingebind in Sy opstanding en daarom kan ek ’n nuwe lewe lei.

 

Wanneer ek indraai in Christus in, draai ek ook weer uit. Staan ek op om die Here te gaan dien. Vol verwondering oor só ’n Here. Dit is wat in Psalm 51 beskryf word. Toe Dawid besef dat sy sonde hom in die Here laat indraai het, toe breek alles in hom. En toe kon hy opstaan om die Here voluit te gaan dien (einde van die psalm).

 

Kyk maar na die moer: Dit is nie maar net ’n sinnelose geronddraaiery (soos ’n wasser) nie. Die moer beweeg. Daar is progressie. Beweeg vorentoe.

 

Dit is die nuwe pad wat die Here geskep het binne-in die sonde wat ons doen. Hy het die sandkasteel-lewe verbreek. Hy het van die wegdraai ’n indraai gemaak sodat selfs ons gebrokenheid deel kan wees van die pad vorentoe omdat ons in Christus indraai, want ons is ingebind in Christus – en God het die insluit-werk gedoen!

Dit is die rede waarom ons nie elke keer weer die sandkasteel van voor af moet bou wanneer dit platgeval het nie. Want ons het nie teruggeval of uitgeval of afgeval nie. Ons het INgeval – in Christus se geboorte, lyding, kruis, dood, opstanding. Dit is Sy kruis, dood & opstanding wat ons laat opstaan in ’n lewe van toewyding aan Hom

Klink dit nou of sonde ’n goeie ding geword het? Moet ons meer sonde doen sodat ons in Christus kan indraai? Sal ’n mens wat hierdie genade leer ken het, nie nog meer wil sondig nie? Die wegdraai is mos ’n indraai. Jy draai mos in Christus in, so waarom nie meer sonde doen nie??

Wel, lees Psalm 51 en hoor hoe Dawid oor sonde praat. Hoor hoe ween hy nádat hy vrygespreek is. Hoor hoe beween hy dit dat hy só ’n onbeskryflike lieflike pragtige skitterende God kon bedroef het.

 

Nee, geen gelowige wil/mag sondig nie. ’n Gelowige haat dit en vlug weg en wil/mag nie die Here bedroef nie. Per slot van rekening: Hoe kan iemand wat saam met Christus gesterf het aanhou sonde doen?? Hoe kan ‘n lyk sonde doen? ‘n Gelowige wil nie die voorwerp van sy/haar liefde seermaak nie.

 

Dit laat my dink aan die dame wat in trane by die paneelklopper kom omdat haar kar gekrap is. Te oordeel aan hoe ontsteld sy is, verwag die man ‘n reuse duik in die kar. Maar nadat hy twee keer om die kar geloop het, kan hy geen skraap of duik sien nie. Toe wys sy vir hom die skrapie – so klein dat mens dit omtrent nie kan sien nie! Toe besef die paneelklopper: As ‘n mens se kar vir jou kosbaar en waardevol is, is ‘n byna onsigbare skrapie ‘n ernstige saak en dit moet onmiddelik reggemaak word.

 

‘n Christengelowige is iemand wat die kosbaarheid en waarde van die Drie-enige God ontdek het. Daarom is selfs die mees geringe opsetlike sondes onuithoudbaar.

 

Voeg daarby die feit dat sonde konsekwensies het wat soms lewenslange effek het. Al was Dawid vrygespreek, het die kind wat Batseba vir hom in die lewe gebring het, gesterf. Nooit sou hy weer daardie kind kon terugbring nie. Al was Dawid vrygespreek, moes hy met die konsekwensies van sy sonde saamleef.

Sien u hoe realisties die Bybel is? Ja, ons is dood vir sonde. Dis ‘n feit. Maar wat gebeur in die praktyk? Ons sondig wél. En daarvoor het God ’n meesterlike oplossing bewerk. ’n Uitweg. ’n Pad. Hy het die oplossing só meesterlik beplan, dat die sonde wat die gelowige tog wel doen, hom/haar nie laat platval nie. Nie laat uitval of afval nie, maar laat vorentoe beweeg in geloofsgroei. Want Hy het die gelowige ingebind in Christus, sodat die wegdraai ’n indraai word – in Christus in – in Sy geboorte, lewe, lyding, kruisiging, dood, begrafnis, opstanding, hemelvaart, troonbestyging in – dáár waar die vryspraak is – al verdien ons om die dood in te gaan.

 

Wanneer ‘n mens dit alles hoor is daar ‘n logiese vraag wat jy wil vra: Is sondebelydenis dan enigsins nodig? Wat presies is sondebelydenis dan?

 

Kom ons sê eers wat dit nie is nie:

 

Sondebelydenis is nie ‘n verklaring van hoe sleg dit tussen my en die Here gaan nie. Dit is nie boetedoening waarmee ek my sonde met die Here moet gaan deurworstel om my slegte verhouding met Hom weer goed gemaak te kry nie. Sondebelydenis bevat niks van ‘n houding van: “Ek kan nie die Here in die oë kyk nie, want ek voel te skuldig” nie. Sondebelydenis is nie ‘n mosie van wantroue in Sy trou waarmee Hy altyd die verhouding tussen my en Hom goed hou en Sy liefde handhaaf nie. Sondebelydenis maak nie van sonde ‘n skuldsituasie waarvoor daar om vryspraak gepleit moet word nie. Sondebelydenis is nie ‘n worstelstyd om lig in die tonnel te vind nie.

Sondebelydenis bevat nie die houding van: “Ek het hierdie diepe geloofsprobleem met die Here en ek beleef hoe swaar Sy oordele op my rus” nie. Sondebelydenis is ook nie ‘n belofte aan die Here dat jy nooit weer dit of dat sal doen nie. Want dan plaas jy jouself onder ‘n wet en die wet is juis die krag van sonde (1 Kor 15:56). Sulke beloftes verseker net dat jy dit beslis weer sal doen!

Wat is sondebelydenis dan wel?

Die woord “bely” is ‘n samevoeging van die twee Griekse woorde: HOMO (dieselfde) en LOGEOO (praat). “Om dieselfde te praat”. As ek my sonde bely dan stem ek met God saam – ek praat dieselfde as Hy.

 

Ek stem saam met God dat Hy my op die kruis ten volle vergewe het en dat Hy die sonde wat ek gedoen het vergeet het nog voordat ek dit gedoen het (Hebr 10:17).

 

Ek stem ook met Hom saam dat wat ek gedoen het, verkeerd is.

 

Sondebelydenis = U is reg en ek is verkeerd. Dit erken ek vanuit die sekerheid van U liefde en vergifnis. Vanuit die sekerheid dat jy ingesluit is in Christus se dood en opstanding. Vanuit die sekerheid dat jou sonde jou nie van Hom vervreem het nie. Vanuit die sekerheid dat jy nie gestraf sal word nie. Vanuit die sekerheid dat Sy onskuld jou onskuld is. Vanuit die sekerheid van Sy vergifnis en liefdesomhelsing. Vanuit daardie evangeliese sekerheid – bely jy dat jy verkeerd was.

 

Dit is onuithoudbaar om jou te bevind binne ‘n omhelsing wat jou omhels terwyl jy verkeerd is – en dan vals te wees en te maak of dit wat verkeerd is, eintlik reg is. Dis onuithoudbaar. Daarom praat jy saam met Hom (homo-logeoo). Jy bely jou sonde. Omdat dit nie anders kan nie. “Here U is reg en ek is verkeerd”.

 

En dit het ‘n terapeutiese waarde vir jouself. Dit maak nie Sy hart sag nie. Dit maak jou eie hart sag! Dit maak nie dat Hy vriendelik word nie. Dit maak jou vriendelik! God het nie my sondebelydenis nodig om my te bevry nie! Maar ek het dit nodig. Dit maak my kop skoon. Ek dink dit is presies wat met Dawid in Psalm 51 gebeur het. Maar dan moet ek my belydenis dat ek verkeerd was onmiddelik opvolg met ‘n verklaring van hoe reg ek steeds is. Dat ek – ten spyte van die sonde – nog steeds presies dieselfde geregtigheid en heiligheid besit as voorheen.

 

Hier is ‘n voorbeeld van hoe so ‘n gebed van sondebelydenis kan klink:

 

“Here baie dankie vir U wonderlike werk op die kruis en dat dit ‘n perfekte werk was wat ál my sondes verwyder het – ook hierdie sonde waarvan ek nou bewus geword het. Ja, selfs dit is deur U volmaakte offer verwyder. Ek is jammer oor daardie ding wat ek gedoen het – wat glad nie ‘n deel is van wie ek werklik is nie. Ek is ‘n nuwe skepping en wil nie sondig nie. Maar dankie Here dat ek nie morbied en soos ‘n verloorder hoef te voel nie. Ek mag my kop hoog optel omdat die bloed van Christus my vergifnis is. Dankie vir die Heilige Gees wat aanhou en aanhou om – veral wanneer ek faal – my te oortuig dat ek in Christus volkome reg is met God.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00