TAFELBERG GEMEENTE

DAWID-REEKS NO 17: Toorn tot behoud

 

2 SAMUEL 6

‘n Mens lees 2 Samuel 6 en dink sjoe, wat ‘n klomp drama net oor die verskuiwing van ‘n boks!

 

Die Ark was niks anders nie as ‘n boks, ‘n groot kis/houer. En hierdie boks moet nou verskuif word. En daar is baie mense teenwoordig. 30 afdelings! ‘n Hele leër. En daar is priesters. En ‘n orkes en koor. Die Ark word op ‘n nuwe wa vervoer. En dis ‘n groot jolyt. Klink effe oordadig.

 

Tot jy besef dat hierdie houtkis die tasbare simbool was van die lewende soewereine almagtige verlossende genadige teenwoordigheid van God. Dit is wat die Ark was. Dit was die houtkis waarin onder andere die kliptafels met die Wet was. Dit was God se Verbondsark, die simbool van God se verbondsinsluiting van Sy mense by Homself.

 

As mens dit so sien, verstaan jy dat die toneel wat daardie dag daar afgespeel het eintlik ‘n bekendmaking was van wie God is.

 

Verlede Sondag het ons gesien dat Dawid toe uiteindelik koning geword het van één verenigde koninkryk. Dis nou nie meer Juda (suid) en Israel (noord) nie. Dis een volk onder een koning: Dawid. Met ‘n nuwe hoofstad: Jerusalem.

 

Geen wonder dat Dawid die Ark na Jerusalem wou bring nie. Die Ark was jare tevore in ‘n stoorruimte geplaas a.g.v sekere dinge wat gebeur het. Dawid wou egter hê dat die Ark die sentrale plek in die volk se lewe moes hê.

 

Dit lyk dus soos ‘n blote roetine aksie – om die Ark te verskuif. En tog blyk dit glad nie roetine te wees nie. Uit wat hier gebeur het leer ons iets geweldig oor God self. Oor wie Hy is.

Hoe belangrik dat die Here se mense sal verstaan dat die Here se lewende teenwoordigheid in die sentrum van hulle bestaan is. In die hart van hulle bestaan – is Hy!

 

Die Ark was “die troon van die Here by die Cherubs”! Sy troon moet in Jerusalem teenwoordig wees.

 

Numeri 10 > Baie belangrik: Die werklike betekenis van die Ark. Verse 35-36 > Die gebed van Moses. “Elke keer wanneer die Ark vertrek het Moses gesê: Trek op Here en verstrooi U vyande. En wanneer die Ark weer neergesit word het Moses gesê: “Kom terug Here na die ontelbare menigtes van Israel toe.” Dis wat hierdie houtkis beteken het. Die simbool van die konkrete teenwoordigheid van die Here tussen Sy mense. By Sy mense.

 

1 Kronieke 28 > Ark is Sy voetstoel. As die Ark Sy voetstoel is beteken dit Hy is Koning.

 

Die Ark versimboliseer ook versoening: dat God Sy mense versoen met Homself, dat Hy hulle sondes uitwis en hulle red. Want wat was bo-oor die Ark gemonteer? Die Versoendeksel. Daardie plaat was die plek waar die Hoëpriester die bloed van die offer gesprinkel het. Die bloed skuif tussen God en die Wet (wat binne die ark was) in en daar rus derhalwe geen veroordeling op die mense nie. (Sien Levitikus 16). Sonder bloedvergieting is vergifnis onmoontlik (Hebr 9:22).

 

Maar nou gebeur daar iets:

 

Terwyl Dawid besig was om die Ark met groot feestelikheid te vervoer, struikel die osse wat die wa trek. En die Ark dreig om af te val. Daar is niks meer normaal en natuurlik dat die persoon wat naaste aan die Ark is sal wil keer dat dit op die grond val. Ussa was daardie persoon. Hy het die wa bestuur. Hy vat aan die Ark om te keer dat dit val.

 

Toe vlam die toorn van die Here teen Ussa op en Hy slaan hom morsdood. Op die plek.

 

Stel jouself dit voor: Die een oomblik is daar nog feestelikheid. Die volgende oomblik lê een van die feesgangers dood op die grond. Omdat hy uit die goedheid van sy hart vir die Ark omgegee het en slegs maar wou help.

 

Dan lees ons van Dawid se diepe ontsteltenis omdat die Here vir Ussa getref het. En hy noem die plek “Ussa se skeur”. En Dawid het bang geword vir die Here en gesê “hoe kan die Ark na my, na die Dawidstad toe kom?” Daarom het Dawid beveel dat die Ark na die huis van Obed-Edom – ‘n Filistyn – geneem word. En dit was 3 maande daar. Opvallend dat dit ‘n Filistyn was! En die Filistyn het onder die Here se seën deurgeloop gedurende daardie 3 maande.

 

‘n Mens voel om te vra: “Wat op aarde het Ussa gedoen wat so erg kon wees om so ‘n uitbarsting te regverdig? Wou die man dan nie maar net help nie?” Dis asof Ussa se handeling en die Here se reaksie totaal buite verhouding is.

 

Wat ons nie mag vergeet nie is dat wat hier gebeur het binne ‘n konteks staan. Die konteks van wat God se geskrewe wil was oor spesifiek hóé die Ark vervoer moet word indien dit vervoer word. En Dawid het dit geweet.

 

Omdat die Ark God se direkte teenwoordigheid versimboliseer het kon geen mens dit na eie wil hanteer sonder om te sterf nie. Direkte kyk na die Ark of vat aan die Ark was ontoelaatbaar omdat geen sondaar binne God se direkte teenwoordigheid kon bly leef tensy daar offerbloed betrokke was nie! Die sondaar kon in God se direkte teenwoordigheid leef slegs indien daar ‘n plaasvervangende offer in die plek van die sondaar gesterf het. Vantevore het Aäron se twee seuns ook gesterf toe hulle in God se direkte teenwoordigheid gegaan het sonder dat offerbloed hulle met God versoen het (Lev 10:1-2).

 

Daarom was dit die Here se wil dat – wanneer die Ark vervoer word – slegs ‘n sekere soort priester dit mag aanraak, naamlik priesters uit die Kehatgroep (Num 3:30-31; 4:15; 7:9). En die Ark moes bedek word met velle. En sekere soorte pale moes deur die ringe wat op die Ark gemonteer was gesteek word en dan moes die Ark aan die pale gedra word (Eksodus 25:12-15). Geen sprake van op ‘n wa vervoer nie. Wie hierdie voorskrifte oortree sou sterf – volgens Numeri 4:15 – want dan kom onversoende sondaars in God se direkte teenwoordigheid – deur op verkeerde manier met die Ark om te gaan.

 

Sien u dat die Here se werking met Ussa glad nie willekeurig was nie. Niks van ‘n brommerige oom wat onbeheerste woede-uitbarstings kry nie. Juis omdat die Here nie wou hê dat iemand sterf nie, gee Hy Sy duidelike wil – uitgespel in Sy Woord.

 

Toe Dawid die Ark begin vervoer het, moes hy geweet het: Geen wa, geen kyk na, geen raak aan. In Sy groot liefde het die Here dit vooruit gesê. Sy herdershart het gesê: Wanneer julle met die Ark werk, dra sorg dat niemand sterf nie – so en so moet julle die Ark hanteer.

 

Maar Dawid volg sy eie kop in hoe hy die Ark sal vervoer. Sommer van die staanspoor af laai hy die Ark op ‘n wa. Net daar moes hulle almal reeds gesterf het, maar die Here doen dit nie, want Hy is GROOT van liefde en jammerhartigheid. Hy gee vir hulle speelruimte. Eers toe die osse struikel en Ussa direk aan die Ark vat, gebeur dit. En Dawid het net homself gehad om te blameer.

 

Toe Dawid uiteindelik – 3 maande later – die moed het om die Ark na Jerusalem te bring, doen hy dit op ‘n totaal ander manier.

 

Eerstens: geen wa. Tweedens: elke paar tree stop die prosessie en hou hulle eers ‘n aanbiddingsdiens wat diere-offers insluit. Pleks daarvan dat ‘n mens weer sterf, sterf die plaasvervangende offerdiere.

 

Vreugde: Dawid dans voor die Here met alle mag. Hy dra ‘n linne efod. Soos ‘n priester. Speel instrumente. Baie luide, vreugdevolle aanbidding. Dis duidelik dat hulle nie die Here beleef het as ‘n wrede monster wat onskuldige mense doodslaan nie. Sy hele wese is liefde. Juis daarom wys Hy die manier waarop die Ark hanteer moet word sodat almal in Sy teenwoordigheid kan leef en feesvier.

 

Ussa het dus gesterf sodat almal kon leef – by die Here. Ussa se dood was ‘n genadedaad van God. Ja die Here se toorn het ontvlam, maar Sy toorn was in diens van Sy liefde. Dit was Sy liefde in aksie – sodat almal kon leef.

 

Ons mag nooit die Here se toorn op dieselfde manier sien as wat menslike woede werk nie. God se toorn is nie iets naas Sy liefde nie. God is nie liefde EN toorn nie. God is slegs liefde (1 Joh 4:8). Hy het nie lief nie. Hy IS liefde. Maar Hy IS nie toorn nie. Sy toorn is Sy manier om alles wat in die pad van Sy liefde staan, uit die weg te ruim sodat Sy liefde kan seëvier. Jesaja 4:4 – “Die Here sal julle skoonmaak van julle wandade DEUR die Gees wat oordeel en verteer.” Sy toorn vernietig nie. Sy toorn red en bevry.

 

Kyk maar weer na 1 Sam 6: In Sy liefde gee die Here vooraf presiese voorskrifte hoe die Ark hanteer moet word SODAT almal kan leef. Dawid verontagsaam dit – Ussa sterf sodat almal (wat moes sterf) kan leef. Daarna word plaasvervangende diere-offers gebring – sodat almal kon lewe. En die blydskap en vreugde waarmee Dawid verder gaan, bewys dat hy nie die Here as ‘n wispelturige brompot beleef het nie, maar die VADER van ware lewe.

 

Dit is hierdie presiese beginsels wat van toepassing is op ons Here Jesus se kruisdood. Een sterf sodat almal kan leef. Eintlik sê die Skrif nie “kan” leef nie, maar “leef”. 2 Kor 5:14 > “As Een vir almal gesterf het, dan HET almal gesterf.” Bedoelende: Die ou sondige Adam-mens het gesterf. God se toorn bevry die hele mensdom. Almal wat die werklikheid van hierdie bevryding ontdek en omhels kan en mag onmiddelik in die volheid daarvan leef.

 

Dawid sing en juig omdat Ussa gesterf het sodat hy (Dawid) en almal saam met hom kan LEWE!

 

Maar sy vrou Mikal – beleef dit nie so nie. Sy verag vir Dawid omdat hy – as koning – homself so onwaardig gedra voor die mense. Dink net: hy hou nie by die reëls nie. Hy dra nie sy koninklike gewaad nie. Hy spring op en af van blydskap. Wat moet die mense dink?

 

Mikal sien nie eens die Ark nie. Sy verstaan nie waaroor die vreugde gaan nie. Vir haar was waardigheid en uiterlike voorkoms alles. Uiterlike doen en prosedures en reëls. Maar sy ken nie die blydskap van die Here nie. Mikal = die tipiese Fariseër wat dink: “ek is darem seker in God se goeie boekies, want ek probeer by die reëls bly”. Die Fariseër wat na die mense wat God se genade ontdek het kyk en hulle minag.

 

Kyk na die radikale verskil tussen Dawid en Mikal.

 

Mikal: “Ek probeer uiterlik doen wat reg is. En ek dink ek kry dit nogal reg. Ek dink nie ek het ‘n plaasvervangende offer nodig om my reg te kry nie. Ek kan nie eintlik verstaan waaroor Dawid so bly is nie.”

 

Dawid: “Ek het die reëls oortree. Ek was nie in staat om te doen wat reg is nie. Maar kyk, ek LEWE want Ussa het gesterf! Die besef hiervan maak my so nederig voor Hom. Ek is so bly. Ek wil net rondspring. En ek wil so graag hê Mikal moet dit ook verstaan.”

 

Sien u die reuse verskil tussen die religieuse Fariseër en die sondaar wat deur God se toorn bevry is en in genade aangeneem is?

 

Deur die eeue loop hierdie twee lyne deur die kerk. Tot vandag toe.

Het ú al ontwaak?

Het jy al die realiteit besef dat God se toorn u werklik bevry het?

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00