TAFELBERG GEMEENTE

DAWID-REEKS NO 14: Ons innerlike stryd

 

2 SAMUEL 2-3

“Ek verstaan self nie wat binne-in my aangaan nie. Want wat ek wil doen, dit doen ek nie. Maar wat ek haat, dit doen ek. Ek wíl wel die regte doen, maar ek doen dit nie. Die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom 7:18-24)

 

Of luister hoe klink Galasiërs 5:

 

“Wat die vlees begeer is in stryd met wat die Gees wil en wat die Gees wil is in stryd met wat die vlees wil. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar…”

 

Toe koning Saul uiteindelik sterf, het Dawid níé onmiddelik oor die héle Israel koning geword nie. Daar was 7 jaar van stryd en burgeroorlog. Saul se huis – bedoelende die res van sy nageslag – was nog steeds daar en het weerstand gebied teen Dawid se koningskap. Daar was ‘n voortdurende konflik tussen Dawid en Saul se huis. Maar stelselmatiglik het Saul se huis swakker geword en Dawid sterker.

 

Ek sien hierin ‘n duidelike prentebeeld van die manier hoe God se koninkryk binne-in ‘n individuele Christusgelowige se lewe gevestig word.

 

Op ‘n stadium in jou lewe hoor en verstaan jy die Evangelieboodskap, die Blye Boodskap dat jou sondes reeds op Golgota uitgewis en vergewe is. Dit klink aanvanklik te goed om waar te wees, maar jy waag om dit te begin glo. Jou lewe begin verander deur die krag van die Gees. Baie duidelik regeer ‘n nuwe Koning nou jou lewe.

 

En tog is daar steeds stryd.

 

‘n Christusgelowige beleef ‘n innerlike stryd/konflik wat ‘n ongelowige glad nie ken nie. Soos ‘n nuwe koning (Dawid) wat aan bewind gekom het teenoor die reste van ‘n gestorwe koning (Saul) wat in konflik is binne-in jou lewe. Die NT noem dit Gees teenoor vlees. ‘n Smal pad teenoor ‘n breë pad. Skaap teenoor bok. Maar eintlik is dit niks anders nie as geloof teenoor ongeloof.

 

Nou moet u baie goed luister:

 

Wát is ongeloof (vlees/breëpad/bok) en wát is geloof (gees/smalpad/skaap)? Jy moet dit verstaan om te verstaan watse stryd in jou binneste woed.

 

Ongeloof (wat álle mense van nature en outomaties doen = alle mense se “default”) = ónafhanklik te wil wees. Afhanklik net van jouself. Selfgenoegsaam. Bou op dit wat jy sien/waarneem. God reageer op dit wat ek Hom aanbied. As Hy my aanvaar dan is dit omdat ék glo/bekeer/keuse maak. Dis ongeloof. Ongeloof beteken om te dink dat God se seëninge joune word as ‘n beloning vir jou geloof. Dat God jou aanvaar omdat jy glo. Afhanklik net van jouself. Dis ongeloof. Dis die vlees (bok-wees/breë-pad binne-in ons) wat só redeneer.

 

Geloof = Afhanklik. Bankrot in jouself. Christus is in die fokus. Nie die sigbare/waarneembare, maar dit wat God in Sy Woord sê. God aanvaar my slegs omdat Jesus in my plek gesterf het en nie omdat ek glo of enigiets reg doen nie. Ware geloof daarteenoor maak ‘n lewensveranderende ontdekking: Ek is deur Christus se offer vergewe, geliefd, aanvaar en geseënd – nie deur my geloof nie. Ware geloof = om niks van jou gelóóf te verwag nie, maar alles van Christus.

 

Dit is twee totaal teenoorstaande “mindsets”.

 

Die interessante is dat, nádat jy die Blye Boodskap begin glo het, die ongeloof nie weggaan nie. Jy stry voortdurend daarteen. Dis hierdie stryd wat Paulus in Romeine 7 en Galasiërs 5 beskryf.

 

Ek sien ‘n prentebeeld van hierdie stryd in 2 Samuel 2-3 in die konflik tussen Dawid, Abner en Joab (Abner en Joab het dieselfde gees). Die “gees” van Dawid-se-koningskap en Saul-se-geslag sit binne-in elke kind van die Here se sisteem.

 

Want onthou: ONGELOOF bring sekere sigbare vrugte voort. GELOOF bring sekere sigbare vrugte voort.

 

Kyk na Dawid, Abner en Joab en jy sien daardie sigbare vrugte. Dawid-se-koningskap se vrugte lyk só. Saul-se-geslag se vrugte lyk só.

 

Die kenmerke van die Dawid-gees is geduldige afhanklikheid van die Here, ‘n opsien na Hom, ‘n verlange dat Hý moet werk in stede van eie krag en geweld gebruik. Dis die gees van iemand wat sy/haar ware identiteit ontdek het as

vergewe/bevry/geliefd/aanvaar deur Christus se offer.

 

Maar hoe lyk die gees van iemand wat vertrou op eie waarneming van hom/haarself en dink dat geloof en eie doen die voorwaarde vir God se seën is? Ons sien dit in Abner en Joab.

 

Die kenmerke van die Abner-gees is: Staan die Here se duidelike wil teë. Eie wil belangrikste. Lief vir konflik & stryd.

 

Die kenmerke van die Joab-gees is ‘n stuk sluheid. Die sluheid van vóórgee om ‘n passie vir die ware koning te hê, maar dit eintlik net gebruik om eie belang weg te steek. Eintlik verskil Joab en Abner nie. Dis dieselfde gees van ongeloof

 

Ek wil nie die hele storie oorvertel nie, want ons het dit gelees. Ek wil net die basiese lyn vir u wys.

 

KYK EERS NA DIE DAWID-REGERING (vrug van geloof)

 

Toe Dawid in Hebron tot koning gesalf word, streef hy daarna om die koninkryk te vestig volgens God se leiding – eerder as om sélf sy regmatige plek as koning op te eis. God se wil en leiding is vir hom belangriker as sy eie posisie op die troon en sy eie regering oor al 12 stamme.

 

Is dit nie opvallend nie? Die EERSTE ding wat Dawid doen toe hy op die troon gaan sit, is om die Here se aangesig te soek! Hy het niks veronderstel nie. Hy wil by die Here weet of hy moet dít en dát. Hy wil die Here se wil volg. “Sal ek na Juda gaan? Is dit nou die regte tyd?” Dawid weier egter om sy eie oordeel te vertrou. Sy hart gaan na die Hére uit.

 

In hierdie geval besef Dawid dat die Here hom na Hebron stuur. ‘n Belangrike plek. Die plek waar Abraham, Sara, Isak, Rebekka begrawe is. Hebron = terug na Abraham en God se verbond.

 

En dan reik Dawid uit na die noordelike stede. Hy wil die ander 11 stamme ook onder sy koningskap bring. Hy weet dit is God se wil. Daarom reik hy uit.

 

Eerste na Jabes-Gilead omdat hulle so pró-Saul was. Maar hoor hóé reik hy uit: “Julle is geseënd. Julle is geseënd vir julle liefde vir Saul en hoe julle sy liggaam gaan begrawe het, vir julle liefde en omgee. Ek sal vir julle goed wees. Maar weet: Saul is dood en ék is nou koning.” Dawid gee hulle dus die geleentheid om hom as koning te erken. Tog kies hulle om hom nié te erken nie.

 

Dawid het egter nie uitgegaan om hulle met geweld te gaan oorwin en dwing nie, maar hy het probeer om hulle met genade te wen. Vir sy vyande sê hy: “Geseënd is julle..”

 

KYK VERVOLGENS NA ABNER & JOAB (vrug van ongeloof – wat teen die vrug van geloof strý)

 

ABNER (Saul se neef) neem Saul se seun Isboset en verklaar hóm koning. En so begin burgeroorlog. ABNER vergestalt teenstand teen die Here se wil en teen Sý Koning-wees. Abner vergestalt die magte en kragte wat gekant is teen die Heilige Gees se werking om Sy koninkryk te vestig. Abner vergestalt die houding van “wat is daar vir my?” Hoe kan ek kry wat ek wil hê? Gebruik die Here vir eie gewin.

 

Volgens 3:9 het Abner geweet dat dit God se wil was dat Dawid koning moes wees. En tog maak hy Saul se seun koning. Waarom? Want hy het geweet wat God se wil is, maar het nie daarvan gehou nie. Hy verwerp dit. Openlik.

 

Wáárom wil Abner die noordelike-mag op Dawid se Juda afforseer? Hy weet dan dat die Here die koninkryk aan Dawid beloof het. Hy weet hy kan nie wen nie. Antwoord: dis presies hoe ongeloof werk. Dis logies-absurd. Altyd dwaas om God se wil uit te daag. Alle sonde openbaar dieselfde dwaasheid. Sonde = om op te marsjeer téén God se gesalfde koning (Jesus). Rebellie. Kies eie wil teenoor Syne. Eie agenda. Daag Hom uit. Dis dwaasheid. Sal dit nooit wen nie. Kan nooit suksesvol wees nie.

 

Hoe suksesvol was Abner? Dit lyk aanvanklik of hy suksesvol is, want hy steek vir Asael dood. Maar hy verloor 360 manskappe. Later verander hy sy taktiek en probeer vir Dawid laat verstaan dat hy eintlik sý belange wil dien. Hy gaan onderwerp hom nou aan Dawid: “Ek sal die 11 stamme onder u koningskap inbring.” Abner stel slegs in ABNER belang. Hy werk sy planne uit om self die mag te verkry. “Ek bring vir u die ander 11 stamme… op voorwaarde…. dat ék in ‘n posisie van mag gestel word”. Net sy eie welstand was vir hom belangrik.

 

Het hierdie planne van Abner geslaag? Vers 27. Nee. Joab het vir Abner gaan doodmaak.

 

Ongeloof/vlees/breë-pad/bok-wees eindig nooit op ‘n hoë noot nie.

 

HOU NOU – DERDENS – VIR JOAB DOP

 

Dit lyk asof hy anders is as Abner. Dit lyk asof Joab werklik oor God se koninkryk begaan is en oor Dawid se ryk begaan is. Hy wys immers vir Dawid uit hoe korrup Abner is. En alles wat hy vir Dawid oor Abner sê, is die reine waarheid.

 

Maar in der waarheid verskil Joab nie ‘n haar-breedte van Abner nie. Vir Joab gaan dit ook slegs oor JOAB. Hy bedek dit net. Hy steek sy ware motiewe weg agter ‘n bravade van sogenaamde lojaliteit aan Dawid. Hy wil vir Abner dood hê. Want dalk kry Abner ‘n hoë posisie. Dan moet Joab ónder Abner werk. Dit sal hy nie toelaat nie.

 

Gees van Joab: Uiterlik lief vir die Here maar innerlik bekommerd oor sy eie posisie en of hy die erkenning sal kry wat hy voel hy verdien.

 

Wel, hoe het dinge vir Joab uitgewerk? Was hy suksesvol? Verse 28-29. Die koning spreek ‘n vloek oor Joab en sy familie uit.

 

‘n Vloek rus op Joab – dit is hoe suksesvol hy was. Dit is hoe suksesvol ongeloof is.

 

Maar Dawid was suksesvol. Dawid sterker en sterker en Saul swakker en swakker.

 

Daardie kort geslagsregister van die seuns wat vir Dawid in Hebron gebore is, is die bewys dat Dawid sterker en sterker geword het.

 

En daar sien u nou die innerlike stryd (en die vrug daarvan) wat elke Christusgelowige beleef.

 

En die goeie nuus wat ons nie mag miskyk nie is: Die koningskap van Dawid word sterker en sterker en meer en meer suksesvol en die invloed van Saul swakker en swakker en is verdoem en vervloek.

 

Die Evangelieboodskap is só kragtig en die Heilige Gees werk so kragtig, dat die ongeloof/vlees nie kan staande bly nie. Onthou: die ongeloof IS alreeds oorwin met Jesus se offerdood. Deur dit wat Jesus gedoen het in ons plek & ons ingesluit-wees by Hom, is ons NIE veroordeeld nie, selfs al het ons hierdie op-en-af stryd binne-in ons. Jy is BINNE-IN jou stryd onskuldig en vry van alle veroordeling!

 

Die rede waarom die stryd so hewig is, is omdat ons dink dat – wanneer ongeloof inkom en die vlees homself laat geld, dat God ons dan veroordeel en ons in Sy slegte boekies is. En dan voel ons verwyderd van Hom en dink Hy is kwaad. En dan gaan ons in ‘n afwaartse spiraal.

 

Maar luister watter ontdekking het Paulus in Rom 7 gemaak waar hy so kla oor die stryd wat hy binne-in homself beleef. Hy roep uit: “Wie sal my verlos van die innerlike stryd?” En dan sê hy: “Aan Gód die dank: daar is GEEN veroordeling vir my nie, want ek is ingesluit by Christus!”

 

Omdat ek ingesluit is by Christus, vat Hý al die veroordeling vir my ongeloof/vlees op Homself en Hy laat my deel slégs in Sy onskuld en vryspraak en aanvaarding en omhelsing.

 

Wanneer ek die ontdekking maak dat ek binne-in Sy omhelsing is TERWYL Saul-se-geslag in my woed, dan kan ek opstaan en daaruit lééf dat Christus die ongeloof oorwin het. ‘n Krag vul my lewe wat bonatuurlik is. Die Groter Dawid se koningskap word sterker en sterker gevestig.

 

Wat ‘n dinamiese avontuur om die Blye Boodskap te kan glo! Ons wil die krag daarvan vir niks in die wêreld misloop nie!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00