TAFELBERG GEMEENTE

DAWID-REEKS NO 10: Barmhartigheid triomfeer oor die oordeel

 

1 SAMUEL 28

Ons het verlede jaar begin met ‘n reeks boodskappe oor die lewe van koning Dawid – wat eintlik maar net ‘n hoofstuk-vir-hoofstuk studie van die boeke 1 & 2 Samuel is. Ons het reeds 10 boodskappe in hierdie reeks hanteer en tot by 1 Samuel 27 gevorder – die gedeelte waar Dawid hom tot die Filistyne gewend het. Hoofstuk 28 handel streng gesproke nie direk oor Dáwid as sulks nie, maar indirek wél as gevolg die reuse rol wat Saul in Dawid se lewe gespeel het. Hier sien ons wat die uiteinde van Saul se lewe was en hoe dit die pad oopgemaak het vir Dawid se koningskap.

 

Lees ‘n mens die geskiedenis van koning Saul, kom die vraag altyd weer na vore: Hoe kan dit wees dat so ‘n veelbelowende lewe so vreeslik te gronde kon gaan? Hoe kan ‘n verbondsmens so diep sink? Saul was spesiaal verkies om koning te wees, maar aan die einde soek hy desperate uitkoms by ‘n towerheks.

 

Eintlik roep 1 Samuel 28 ‘n hele klomp vrae op. Vrae soos: Kan ‘n mens ‘n kind van die Here wees en dan weer só afvallig word dat jy uiteindelik nié meer ‘n kind vd Here is nie?  Hoe werk spiritisme en die oproep van afgestorwenes? Is dit ‘n realiteit? Is dit bedrog? Is dit ‘n illusie? Kon hierdie towerheks werklik vir Samuel terugbring? Is die spiritistiese oproep van geeste die Here se wil? Dit lyk dan of Hy dit in hierdie geval geseën en gebruik het?

 

Op al hierdie vrae gaan ons vanoggend antwoorde probeer vind.

 

Maar kom ons begin by die begin.

 

Kom ons kyk eers na die konteks van 1 Samuel 28:

 

Die Here het vir Saul reeds as koning verwerp en selfs Samuel het, tot voor sy dood, nie meer met Saul gepraat nie. Die Here antwoord nie meer vir Saul nie. Nou is hy in baie groot nood, want die Filistyne is weer gereed om teen hom op te trek – hierdie keer ‘n massiewe offensief om die Here se volk uit te wis. En onthou: Dáwid was by die Filistyne. Saul weet sy kanse op oorwinning is nul. Intussen bid hy, maar die Here is stil. Die belangrikste plek waar hy altyd die Here se stem gehoor het, was deur Samuel. En nou is Samuel dood!

 

Daar is die drie dinge wat vir Saul in ‘n krisis gehad het: Samuel is dood, die Filistyne wil Israel uitwis en die Here het van hom gewyk.

 

Saul se sonde & hardnekkige ongeloof het dus met die onontwykbare vuur van God se liefdesvlam gekonnekteer. En waar sonde en ongeloof met God se liefdesvlam konnekteer word Sy liefde as oordeel ervaar. En die oordeel het ten doel om tot inkeer en bekering en herstel te lei (vgl Rom 11:32: God gee almal aan ongehoorsaamheid oor sódat (die doel) Hy Hom oor almal kan ontferm).

 

Daardie drie dinge: Samuel se dood, God se stilte en die Filistyne se oorlogsplanne – was tekens van God se oordeel. God het vir Saul oorgegee aan dít was hy so graag wou gehad het, naamlik om sélf god te wees. Lees maar Romeine 1:18,24,26,28 en sien hoe God se oordeel dáárin manifesteer dat Hy mense oorgee aan dít wat hulle graag wil hê. Nie omdat God ‘n wraaksugtige monster is nie, maar dit is juis Sy liefdesvlam wat op só ‘n manier manifesteer wanneer ‘n mens se sonde binne in Sy liefdesvuur beland. Onthou die God van liefde ís ‘n verterende vuur (Hebr 12:29). Dis waar Saul hom bevind het. Hy is in die greep van volmaakte heilige Liefde en daarom beleef hy die intense konsekwensies van sy sonde. God laat hom in die spieël van die waarheid oor homself kyk! Die vlamme van God se liefde brand vir Saul.

 

‘n Mens wat die Here liefhet en Sy evangelieboodskap van verlossing omhels – wanneer só mens in die vlamme van Gods verterende liefde val, verwelkom so ‘n mens dit. So ‘n mens wil graag in hierdie vlamme gedoop word om totaal vry te kom van die sondige natuur. Dis vir so ‘n mens hemel.

 

Maar wanneer die ongelowige – wat draaitjies om die Blye Boodskap van verlossing loop en selfgesentreerd leef – in presies dieselfde vlamme van Gods verterende liefde val, ervaar so ‘n mens daardie liefde as loutere hel en wil met alle mag daarvan wegvlug omdat so ‘n mens voel of daardie volmaakte liefdesvlam sy/haar bestaan verteer. So ‘n mens ervaar God se perfekte liefde as oordeel & wraak! Want wanneer God se heilige liefde met die lewensvernietigende magte van sonde konnekteer, dan beleef die mens dit as oordeel. Maar dit is ‘n oordeel wat wil herstel/genees. Maar Saul wil met alle mag daarvan wegvlug.

Daarom besluit Saul om hom na ‘n “dodebesweerster” te wend. Hy gaan ‘n “seance” bywoon. Hy raadpleeg iemand wat met die dooies kan kommunikeer. In ons dag ‘n “medium” genoem: iemand wat kamma die afgestorwenes kan oproep. Saul bereik die toppunt van desperaatheid. Geestelik-desperate mense doen dikwels erg-sinnelose en dwase dinge!

 

Saul het hierdie mense vroeër uit die land verban omdat hulle praktyke gruwels voor die Here was (vgl Lev 20:27; Deut 18:1-12), daarom moet hy homself nou vermom en onherkenbaar maak. Hy gaan in die nag, soos ‘n mens dikwels doen as jy weet jy doen verkeerd! Hy waag dit om vir die vrou selfs “by die Here” te sweer dat sy niks sal oorkom nie. Saul is desperaat om met Samuel, wat al dood is, te praat! Dis sy enigste hoop. Hy moet net weer vir Samuel hoor! Hoe ontsettend dat ‘n verbondsmens so ver kan wegdwaal. Toe Samuel geleef het, het Saul sy prediking geminag. Nou smag hy om weer vir Samuel te hoor.

 

Dit laat my dink aan ‘n sekere vrou – ‘n NG lidmaat – wat die meeste Sondae in haar bed gelê en slaap het wanneer die kerkklok lui. Sy was te moeg om op te staan en na die erediens te gaan. Sondae was ál tyd wat sy bietjie later kon slaap en rus.

 

En toe – op haar sterfbed, vra sy dat die leraar na haar moet kom. Selfverwyt het haar oorweldig. Met haar laaste asem smeek sy die predikant: “Gaan sê asseblief vir die mense: Wanneer die kerkklok lui, moet hulle gaan.”

 

Toe dit vir haar te laat was, het hierdie arme mens na die prediking van Gods Woord verlang. Maar toe sy kón gaan, was sy te moeg.

 

En toe laat die Heks van Endor vir Samuel uit die dood opkom. Uit haar beskrywing van hoe Samuel lyk, lei Saul af dat dit Samuel moet wees. Samuel vra: “Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom?”

 

Hoe moet ‘n mens dit alles verstaan? Was dit werklik Samuel? Is die praktyk van geeste-oproep ‘n Bybelse praktyk? Is dit van die Here? Besit hierdie mense wat op televisie namens jou jou oorlede oupa kontak en sodoende inligting ontvang, ‘n gawe van God? Of is hulle mediums wat in diens van bose geeste is?

 

Die Skrif verklaar homself. Die Skrif is daaroor duidelik dat die Here alle vorme van waarseêry en oproep van dooies belet en veroordeel. Eksodus 22:18: “Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.” Ook Levitikus 19:31, 20:6, 27. Ook Deut. 18:9-14 en Jes. 8:19.

 

Jesus self het ‘n duidelike uitspraak hieroor gegee. In Lukas 16 gee Hy die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Daar word verklaar dat Lasarus NIE uit die doderyk na die aarde kan gaan om met die broers, wat nog lewe, te gaan praat nie. Die geeste van afgestorwenes kan NIE met mense gaan kommunikeer nie. Die mensdom het slegs die Woord om na te luister.

 

Hoe werk die spiritisme dan? Mediums hou hulle sonder twyfel met bedrog besig en die werk van bose geeste. Bose geeste lei die mense om die bos wanneer hulle die afgestorwenes naboots. Daarom skreeu hierdie vrou toe Samuel verskyn! Sy het iets reggekry wat sy nooit regtig kon regkry nie! God het in hierdie geval ingegryp en werklik vir Samuel na Saul gestuur. Dit is nie die medium wat dit hier regkry om vir Samuel “op te roep” nie, maar God self wat hom stuur in Sy soewereine vrymag. Daarom is beide die vrou en Saul so verskrik.

 

Dit lê in God se vermoë om vir Samuel sigbaar te kon maak. Dink aan die berg van verheerliking waar Moses en Elia sigbaar verskyn het sodat Petrus hulle selfs kon eien – baie eeue ná hulle dood.

 

Helder en duidelik is die waarheid dat ‘n mens ná jou sterwe nie dood is nie! Samuel was nie! Moses was nie. Elia was nie! Hierdie was nie ‘n bose gees wat vir Samuel nageboots het – soos dit altyd gebeur (tot vandag toe) wanneer sogenaamde “dooies” geraadpleeg word nie. Dit was die ware Samuel sélf – deur God gestuur. Samuel was nie dood nie. Ú sal ook nie dood wees ná u dood nie.

 

Die feit is egter dat Saul se deelname aan hierdie “seance” net sy ellende vererger het. Die volgende dag sou hy op Gilboa sterf.

 

‘n Mens kan nie aan die gevolge van jou sonde ontkom deur na ‘n ander sonde te vlug nie. Pleks van in wanhoop na ‘n spiritistiese medium te vlug, moes Saul hom tot die Here gekeer het! Hy moes toelaat dat die heilige vlamme van Gods liefde sy opstandigheid en eiegeregtigheid skoonbrand.

 

Nadat ons dit alles gesê het, mag ons egter nie die massiewe verrassing in 1 Samuel 28 miskyk nie. ‘n Mens kan so maklik oorweldig word deur die dinamika van alles wat in hierdie hoofstuk gebeur, dat jy iets baie groot miskyk. ‘n Klein sinnetjie in Samuel se woorde aan Saul in vers 19: “Môre hierdie tyd sal jy sterf en dan sal jy by my wees.” En waar was Samuel? Samuel was ewiglik aan die voete van die Here.

 

Ek weet byna nie hoe om dit onder woorde te bring nie.

 

As ‘n mens Saul se verhaal lees, kom die volgende vraag onwillekeurig by jou op: Kan ‘n mens ‘n kind van die Here wees en dan weer só afvallig word dat jy uiteindelik by jou dood nié meer ‘n kind vd Here is nie? Kan jy jou kindskap verloor?

 

Samuel se sinnetjie in vers 19 spreek boekdele en die grootste troos denkbaar. Die volgende dag sou Saul sterf, maar dan sou hy by Samuel in die Here se boesem wees! Sy verlossing waarmee die Here hom verlos het, het nie tot niet gegaan nie, want God self het daarvoor ingestaan! Na álles wat Saul aangevang het. God is beter as wat ons ooit kan dink!

 

Die feit dat die Here vir Saul as koning verwerp het en hom nie meer geantwoord het nie. En die feit dat die Here Saul se dood op Gilboa sou bewerkstellig was al die tyd NIE ‘n aanduiding dat Saul die ewigheid buite die Here sou ingaan nie!! Dit was toe al die tyd NIE ‘n aanduiding dat God hom ewiglik verwerp het nie! Ja, dit was wel ‘n aanduiding dat Saul se sonde met God se heilige liefdesvlam gekonnekteer het en dat Saul dit as oordeel beleef het. Maar genade triomfeer oor die oordeel (Jak 2:13). Dis die groot verrassing in 1 Samuel 28: Saul is vir ewig veilig. Saam met Samuel.

 

Hoe kan dit ooit wees?

 

Die NT gee die klinkklare antwoord: Omdat Iemand anders in Saul se plek iewers op ‘n kruis Godsverlatenheid sou beleef. Dit was Jesus van Nasaret. Sý plaasvervangende dood het so ‘n massiewe ondenkbare krag en mag.

 

Dikwels voel ons opstandig teenoor die Here omdat Hy dinge toelaat wat oënskynlik bots met Sy liefde. Siektes en dood. Ongelukke en rampe. Ons dink dit is baie erg en dit spreek die laaste woord. En kyk hoe aaklig is God. Terwyl ons nie besef dat Sy oordele eintlik die vlamme van Sy heilige liefde is nie. En ons nie besef dat Sy barmhartigheid die laaste woord spreek nie. Nie Sy oordeel nie. Sy barmhartigheid! Op grond van ons Here Jesus se kruis en opstanding. Halleluja. Amen!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00