Geskryf deus THEUNIS

Geskryf deur THEUNIS, JOHANNES CLOETE  tjcloete@absamail.co.za

 

VRIESKAS VAN ‘N VROU?

 

Oorsprong onbekend.

 

Waarom is dit, as ons almal sekuriteit, liefde en intimiteit van ‘n lewensmaat soek, dat ons so sukkel daarmee?  Waarom moet ons dan so stoei om ons huwelik te laat werk?

 

Die meeste huwelike misluk nie net as gevolg van onopgeloste probleme uit jou kindertyd nie, maar as gevolg van teleurgestelde verwagtings.

 

Daar word baie hoë verwagtings aan die maat gestel – my maat moet meer kan gee as ek nie baie wil gee nie. Hoe harder ek bedags werk, hoe moeër ek saans huis-toe kom, hoe groter is die onus wat ek op die ander een kan plaas om my gelukkig te hou. Sy moet beskikbaar wees, ‘n stille hawe, ‘n uitgeruste minnares, ‘n wonderlike gasvrou met bakke vol kos, ‘n goeie ma en ‘n goeie geselser. Ek wil nie tuis gebodder wees nie. Maar al gedink wat gebeur as sy ook moet werk, net so moeg by die huis aankom, en dieselfde verwagtings van jou koester? Jou maat se eise, nadat jy klaar voel dat jy nie ‘n minuut vir jouself het nie, dreineer jou emosioneel so dat jy voel asof jy kan verdwyn.

 

Dit gebeur soms dat mense vir mekaar begin moeg word. Sekere gewoontes, maniere en houdings begin mekaar irriteer. Die waarheid is dat hulle mekaar en hulself begin verwaarloos het, en nie op hulle gewoontes en voorkoms gelet het nie.

 

Mans kla altyd dat hulle nie ‘n vrou verstaan nie, en vroue aan die ander kant kla dikwels dat hulle nie hul maats kan begryp nie. Mans voel maklik bedreig deur ‘n vrou wat altyd van beter weet. Hy vertolk dikwels voorstelle as kritiek, en staan dit heftig teen. Dit laat die vrou weer voel dat sy versigtig moet wees wat sy vir haar maat sê, dus weerhou sy sekere inligting van hom.

 

‘n Man word groot met die idee dat sy eiewaarde op sy prestasies gebou moet word. Hy moet ‘n goeie sportman wees, of ‘n goeie grap verteller, of ‘n goeie leier. As dit net vir ‘n man lyk of die vrou haar man se vermoë begin bevraagteken, kan sy vergeet om sy samewerking te kry. Dit is ook die rede waarom mans so moeilik sê hulle is jammer.

 

‘n Vrou wil graag hê haar man moet haar die hele dag van sy liefde verseker, terwyl liefdeswoorde die hele dag lank die man laat ongemaklik voel.

 

Diep in die man se wese is hulle geprogrameer om alle probleme wat dreig om hand uit te ruk, fisies op te los. Mans voel ook dat hulle fisies wil oorwin waar hulle met woorde misluk. Hulle glo goeie seks laat die meeste probleme soos mis voor die son verdwyn. Mans is geneig om huwelikskonflik met seks te probeer oplos.

 

Mans is ook dikwels aan die kyk vir ander vroue, om vir hulself te bewys dat hulle nog aantreklik is, en dat jonger vrouens hulle nog raaksien. Dit is ook dikwels ‘n noodroep van ‘n man om meer aandag en bewondering van sy eie vrou te kry.

 

Ten spyte van die man se fisieke krag en dikwels bruuske houding, is mans verbasend weerloos, en die meeste van hulle het ‘n diep gewortelde behoefte aan goedkeuring, gerusstelling, ondersteuning en lofprysing.  Een van die belangrikste plekke waar die man hierdie soort  “vertroostende”  behandeling verwag, is in die bed.

 

Baie vrouens maak die fout om ander dinge in die huishouding voorkeur te gee bo die man. Ons soek almal na liefde – om dit te gee en om dit te ontvang.

 

Vroue is geneig om eksosentries te wees. Sy is op andere ingestel en sien die behoeftes van andere raak. Sy gee gevolglik haar eie behoeftes en belange prys om in haar man en kinders se behoeftes te voorsien.

 

Mans is daarenteen geneig om meer egosentries te wees. Hy is vir homself belangriker as wat mense vir hom is. Sy selfbeeld word dikwels gevorm deur die manier waarop hy homself teenoor ander stel en met ander kompeteer. As gevolg van die ingesteldheid, staan die man sterker op sy standpunt, en wil hy reg bewys word. Dit veroorsaak dat dit moeiliker is om ‘n intieme verhouding te skep en te onderhou. Hy probeer sy eie behoeftes bevredig en kyk sy maat se behoeftes mis. Hy sal ook nie maklik raad of hulp van ander vra nie.

 

‘n Vrou het ‘n sterk behoefte aan persoonlike oop verhoudings. Sy wil graag emosioneel naby ander mense ( veral haar man ) wees. Sy raak maklik afhanklik van haar man vir liefde, aanvaarding en goedkeuring. Aan die ander kant beleef sy maklik eensaamheid, hartseer en angs wanneer haar man afsydig teenoor haar staan. Haar grootste vrees is dat haar man hom aan haar sal onttrek of haar sal verlaat. ‘n Man verkies om ‘n veilige afstand te handhaaf, omdat ‘n man net ‘n beperkte hoeveelheid nabyheid en intimiteit kan hanteer, en voel hy maklik deur sy maat versmoor. Gevolglik begin die man afstand hou deur sy maat afsydig te behandel.

 

In die intieme verhouding is die vrou geneig om jaloers te wees wanneer sy dink dat haar man psigies en emosioneel by ‘n ander vrou betrokke is. Sy gee uiting aan haar jaloesie deur te huil, te pleit, en te beskuldig. Die man is weer jaloers wanneer hy dink dat ‘n ander man fisiek aan sy vrou aandag gee. Sy jaloesie kom uit as aggressie.

 

Omdat die vrou op haar man ingestel is, soek sy onbewustelik die goedkeuring van haar man. Wanneer hy haar optrede goedkeur, versterk dit haar gevoel dat hulle aan mekaar behoort, maar wanneer hy haar optrede voortdurend kritiseer, verswak dit nie net haar selfbeeld nie, maar sy beleef ook dat hulle emosioneel van mekaar verwyder is.

 

‘n Man se gevoel word gebou op feite, besluite en idees en dinge wat hy doen. Hy het ‘n sterk behoefte om te presteer, en is ingestel op werksverrigting. In sy gejaag na prestasies verloor hy sy voeling met ander dinge soos vriendskap, liefde ens. Dit is vir hom belangrik om die respek en bewondering van ander mense af te dwing deur sy optredes.

 

Ons verwag dat ons maats ons behoeftes sal verstaan, maar wanneer ons behoeftes op ‘n negatiewe manier geignoreer word, maak dit baie seer. Ons begin mure om onsself bou om onsself te beskerm.

 

Die meeste van die probleme waarmee ons in ons huwelik sukkel is as gevolg van ons eie toedoen. Seksualtiteit is vir die vrou ‘n onafskeibare element van haar daaglikse bestaan. Vroue reageer op ‘n liefdevolle aanraking, tere omhelsing en ‘n sagte woord. Die man kan nie soggens vir sy vrou kwaad wees, en saans toegeneentheid van haar verwag nie. Seksueel reageer ‘n vrou stadig en kan nie seksueel reageer as sy emosioneel afgestomp voel nie.

 

‘n Vrou word hoofsaaklik aangeskakel deur hoe haar maat haar behandel en wat sy hoor. Sy het nie ‘n oombliklike begeerte nie, maar het ‘n stadige toename in emosies. Dit verg tyd om haar aan te raak en te streel, liefdeswoorde te fluister en haar te vertroetel. Dus begin seks met jou vrou al die oggend as jy jou oë oopmaak as sy vir jou koffie bring. ‘n Onbevredigende, onvervulde vrou het ‘n gebrek aan selfvertroue, en voel vir niks goed genoeg nie, wat nog om vir haar man te vermaak.

 

Vroue wil nie bemin word deur ‘n man met ‘n stink asem en natgeswete lyf nie. ‘n Man wat net party aande onthou hy het ‘n vrou, en dan vir haar lief word, sal enige vrou laat krimp. ‘n Man wat oor alles kla en kerm, sommer gou kaal in die bed spring, en begin vroetel, sal enige vrou wil laat huil van frustrasie. ‘n Man – lam gewerk, en neergeplak voor die TV – , wat skielik in die bed lewe kry terwyl hy fantaseer oor ‘n ander vrou by die kantoor, maak van sy vrou ‘n vrieskas.

 

‘n Man wat nie sy vrou se behoefte raaksien nie, en haar lewe vir haar organiseer, die vrou dwing tot gemeenskap, en klaarmaak voordat dit nog begin het, kan nie sy vrou blameer as sy heeltemal van hom vervreemd raak nie.  Behandel jou vrou soos ‘n pragtige roosknop, vertroetel en beskerm haar, en kort voor lank sal jy yswater nodig hê om haar vuur te blus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00